Читать книгу Lydia en die loodgieter - Anita du Preez - Страница 4
Оглавление2
Lydia slaap die nag min. Sedert haar pa haar aandag gevestig het op die feit dat die pyp onder die wasbak steeds lek, het sy bewus geraak van die gedrup-drup-drup wat later soos geweerskote in haar slapelose ore begin klink. Veral nadat sy die plastiekemmer onder die lekplek gaan sit het. Nou tip-tip-tip dit weergalmend deur die huis terwyl sy stoei en woel met haar beddegoed.
Sy’s sommer kwaad. Kon die ellendige skepsel nou nie maar die pyp ordentlik gelas het nie? Hy is tog immers ’n loodgieter en om ’n pyp onder haar wasbak te las, behoort tog seker nie breinchirurgie te wees vir so iemand nie? Maar dis eintlik geen wonder nie. Die verdomde vent se hande lyk mos juis asof breinchirurgie eerder sy beroep moes gewees het.
Eintlik is sy op ’n heel ander vlak omgekrap. Haar pa het vir haar die naam van ’n loodgietersfirma neergeskryf. Dís wat haar eintlik wakker hou. Die feit dat sy eerder lus is om einste die eerste loodgieter met die mooi hande te laat terugkom om sy knoeiwerk reg te maak. Dit maak tog sin, nie waar nie, probeer sy haarself oortuig tydens hernude gevegte met haar pap kussings.
Tip-tip-tip hou die gedrup ongestoord aan. Haar senuwees is rou. Dis eers toe sy eerlik aan haarself erken dat sy om ’n heel ander rede dieselfde man wil laat kom, en besluit dat sy hande so skoon lyk omdat hy gedurig in water werk, dat sy soort van tot ruste kan kom. Uiteindelik gaan draai sy ’n lap om die lekplek. Sy raak eers aan die slaap toe die voëltjies buite haar kamervenster begin tjirp.
Terwyl haar koffiewater later die oggend kook, bekyk Lydia self die skade. Die emmer is omtrent kwart vol water. Dit is dus nie so dringend nie. Sy kyk op haar horlosie. Halfelf. Saterdag. Sou die firma oop wees op Saterdae? Dalk moet sy wag tot Maandag. Nee. Dit sal lol, want dan het sy klas, en sy kan tog op stuk van sake nie tyd af vra oor ’n pyp wat drup nie.
Sy sal maar moet bel. Nie haar pa se loodgieter nie, die ander een. Hy moet immers sy gemors kom regmaak. Hoekom sal sy iemand anders daarvoor betaal? Niks minder as reg nie, redeneer sy, maar sy kom ook nie aan die bel nie. Eers ná nog ’n koppie koffie vat sy die foon en soek die nommer.
“Ferreira Loodgieters,” praat ’n oorgemoduleerde vrouestem in Lydia se oor. Wat het sy ook nou eintlik verwag? Dat háár loodgieter self die telefoon sou antwoord? Haar loodgieter, nogal! Lydia skrik eintlik vir haar verspottigheid.
“Hallooo! Ferreira Loodgieters!” sê die vrou en Lydia vererg haar sommer. Kan die mens nie hoor sy sukkel nie! Sy kon nog nooit regkom met sekretaresses nie. Vreemde spesie. Haar dokter se ontvangsdame maak haar net so mal. Praat met jou asof sy die dokter self is en namens hom besluite mag neem.
“Hallooooo, kan ons help?”
“Ek is op soek na my ... e ... ’n loodgieter,” sê Lydia uiteindelik.
“Watter een, dame?”
“Is daar dan meer as een?” vra Lydia.
“Ja, dame, daar is meneer Ferreira senior en meneer Ferreira junior.”
“O,” sê Lydia.
“Dis Ferreira senior van Ferreira Loodgieters, en ek antwoord oor naweke ook die foon vir Joshua Ferreira Plumbing and Sanitation, wat behoort aan Ferreira junior.”
“Dis hy, ja. Daardie een!” sê Lydia harder as wat nodig is, en sy bloos al weer. Ruk jou reg, Lydia le Fleur, betig sy haarself, jy is amper veertig, nie veertien nie, maar die ongehoorsame tiener in haar voeg skielik uitasem by: “En dis ’n noodgeval!”
“Wel, al die tegnici is al uit, maar ek sal kyk wat ek kan doen.”
Vaderland. Lydia is skoon oorstuur toe sy die foon dooddruk nadat die dame ewe geduldig vasgestel het wat haar nommer is en waar sy woon. Die vrou wonder seker hoe enigiemand só opgewonde kan klink oor ’n loodgieter. Aan die ander kant ... As die loodgieter lyk soos wat hierdie een lyk, is die vrou heel waarskynlik gewoond aan meisies met probleme met hul pype. Sy sit sekerlik daar en grinnik oor nog een van hulle terwyl sy haar lang rooi naels bestudeer.
Hoewel sy weet sy gaan die ritteltits kry van al die kafeïen, maak Lydia sommer nog koffie, vat twee stukke beskuit en gaan sit daarmee teen die stapel kussings op die diep vensterbank in haar sitkamer. Dis haar dinkplek, waar sy kalmte en rus kry.
Sy ruk wakker toe haar voordeurklokkie lui. Vir ’n oomblik wonder sy waar sy is. Sy vryf oor haar slape, druk haar bos hare met een hand plat en wag dat die persoon weer moet lui. Dalk sal sy kan uitmaak wie dit is voor sy oopmaak. Sy is immers half deur die slaap en in haar flenniepajamas.
Die klokkie lui weer. Nee, sy ken nie die lui nie. Sy gaan net hier bly sit en liewer nie oopmaak nie, besluit sy, en vou haar arms.
Sy val byna van die vensterbank af toe iemand agter haar teen die loodglasruit tik. Toe sy omdraai, steek haar asem in haar keel vas. Dis die loodgieter. Háár loodgieter! Hoe op aarde het hy so gou daar gekom? In Kaapstad wag jy maklik dae, weke, nee, maande vir so iemand, en hier staan hy! En hy glimlag spierwit en breed en beduie hy is jammer, maar sy antwoord dan nie die deurklokkie nie?
Lydia vat haastig haar hare agter in haar nek vas. Sou haar flennies se knope almal vas wees? Sy is nie decent nie, sou haar ma gesê het. Lydia haal diep asem. Haar ma is nie nou hier nie en die kalf is in die put. Die man kom sy knoeiwerk regmaak, nie om haar uitrusting te beoordeel nie. En dis háár huis en hier kan sy lyk soos wat sy wil, en buitendien is hy die een wat hom behoort te skaam oor sy halwe werk, nie waar nie?
Sy trek haar skouers agteroor, beduie vir hom hy moet voordeur toe en marsjeer in die gang af op haar kaal voete om die man te gaan vertel waar Dawid die wortels gegrawe het.
“Mevrou Le Fleur?”
“Dis ek, ja, wie het jy gedink is dit? Cruella de Vil?” Lydia skrik vir haar eie onbeskoftheid en vat-vat na haar hare.
Die man frons. “Hmm ... meer Daisy de Melker, sou ek sê.”
Lydia se oë rek en sy aarsel. Dis nie aldag dat iemand haar aanvat nie. Haar studente beslis nie. Sy skraap haar selfbeeld van die vloer af op.
“Uhu ... Ten minste staan ék nie hier om my brouwerk te kom regmaak nie.”
“Touché,” sê die vent en sy een wenkbrou lig effens.
“Miskien moet jy liewer konsentreer op loodgietersterminologie eerder as Franse terme, meneer ... e ...”
“Joshua Ferreira,” bied hy met ’n stout uitdrukking in sy blou oë aan, maar om haar eie private redes plaas sy liewer nie haar hand in sy uitgestrekte handpalm nie. Sy staan net bot opsy en beduie hy kan instap.
Die gang is skielik te nou vir haar toe hy verbykom, want sy blou T-hemp span net reg oor sy bors en hy ruik na man en iets soos vars sitrus. Dalk skeerroom? Is dit haar verbeelding of tel haar neus ’n sweempie sexy muskusgeur op? Gedra jou, Lydia, beveel haar brein. Konsentreer. Fokus. Hoekom? vra haar kunstenaarsiel, daar is mos niks mee verkeerd om na iets moois te kyk nie! Sy het oë ...
Lydia sluk swaar. Sy donker hare vou klam om sy agterkop asof hy pas uit die stort kom, en sy loop heeltemal onnodig agter hom aan kombuis toe.
“Daar,” wys sy, “dit lek al heelnag.”
“Nou wat sou die probleem dan wees?” vra hy in die lug in, want hy het reeds begin vroetel in sy gereedskapkis en kyk nie eens na haar nie. Tog bloos Lydia al weer diep uit haar nek uit, want die manier waarop hy dit sê, laat dit vir haar klink asof hy presies weet wat háár probleem is. Sy wonder of sy liewer moet gaan sit, maar sy bly staan daar met haar arms oor haar bors gevou. Sy loop nie, want sy reuk is die hele kombuis vol.
Toe hy rats orent kom, vang hy haar heeltemal onkant. Hy kan tog nie al klaar wees nie? Hy het dan skaars iets gedoen? Sy tree vorentoe om te sien of dit nog drup en skielik is hy ontsettend naby.
Sy sien haarself weerkaats in albei sy irisse en sy kyk nie weg nie. Toe sy mond oor hare vou, tree sy nie agteruit nie, want sy lippe voel of hulle op hare hoort. Lydia maak haar oë toe en sy arms sluit haar warm teen sy bors vas. Dis nie reg nie, gil haar kop. Kan nie wees nie, roep haar hart, en dis haar hart wat wen, want iets so heerlik en perfek kan nie verkeerd wees nie. Jy het nog nie gebad nie, praat haar ma in haar gedagtes, óf tande geborsel nie. Lydia beur effentjies weg.
“Ek ...” fluister sy teen sy hemp.
“Ek weet,” sê hy en vat haar aan haar skouers, “jy ruik soos sjampoe en klein hondjie.”
Lydia se oë rek en sy vou haar hand oor die mond wat pas op syne was.
“Klein hondjies se asems ruik mos soos koffie en beskuit, weet jy nie?”
“Wat? Jy ... Ek is nie ...”
“Ek weet,” sê hy en druk haar weer teen hom vas, “dis so vreemd, maar ek weet presies wat jy voel en dink.”
“Van nou die dag af al?”
“Uhu,” sê hy en bring sy mond weer nader aan hare.
Die soen neem haar weg. Sy gee nie om wie, waar of wat sy is nie, solank hy net nie sy lippe van hare wegneem nie, want dit maak dinge in die soetste dele van haar lyf wakker. Haar bene wil haar skielik nie regop hou nie en haar mond kelk spontaan oop, want sy kan duidelik deur sy jeans voel dat die soen dieselfde uitwerking op hom het.
Hy woel sy hande deur haar hare en sy mond word heftiger, hongerder, dringender op hare. Toe lui die voordeurklokkie.
“Jis, ma? Het ma iets gerook, of wat?” vra Tania oomblikke later en druk by Lydia verby, tas in die hand.
“Hoekom?” vra Lydia so nonchalant as kan kom terwyl sy haar hare platstryk en haar mond afvee asof die spore van die soen nog sigbaar daar lê.
“Ma lyk woes.”
“Bietjie min geslaap, dis al.” Lydia vryf oordrewe oor haar oë.
Tania plak haar tas neer, stryk reguit aan kombuis toe en praat eenstryk deur. “Is hier iets om te eet? Ek is behoorlik starving. Koshuiskos suck big time!” In die kombuisdeur gaan sy oopmond staan. “En dié?”
Sy swaai om en wys met ’n beskuldigende duim – met ’n swartgeverfde vingernael – na die oorsaak van haar verbasing. Lydia se asem stol in haar keel en sy beur by Tania verby.
“Ferreira Loodgieters,” sê die man verby ’n waster wat hy tussen spierwit tande vasknyp. Hy vee kamtig sweet van sy voorkop af. “Jou ma het probleme met haar waterpype.”
“Ag, damn,” sê Tania en sak op een van die bentwoodstoele neer, “en ek wás so vrek lus vir koffie.”
Lydia merk op dat Tania al weer haar pikswart hare gesny het. Oneweredig, stomp oor die een oor en lank oor die ander. Sou dit doelbewus so asimmetries wees? Moet wees, geen mens sou tog ...
“Nee, die water is nou weer aan,” sê die man doodluiters, “en ek sal self nie nee sê vir koffie nie, as dit oukei is met die mevrou?”
Lydia blaas haar asem stadig uit en vermy sy laggende blou oë. Sy skakel die ketel aan en kom agter dat haar hande liggies bewe.
“So, wat hoor Ma van Pa?” vra Tania nadat Joshua weg is.
“Nie veel nie,” skerm Lydia, “en jy?”
“Hy het my nou die aand flippen laat gebel,” sê Tania, met haar mond vol van die oorskietvulsel van haar oupa se omelet, wat sy met ’n lepel uit die pan eet.
“Om te?”
“Ag ... Ma weet mos ...”
Lydia is verbaas dat Tania hoegenaamd met haar oor haar pa praat. Jare lank het sy Lydia erg kwalik geneem omdat sy Bernard gelos het, en haar ten volle aan sy kant geskaar. By hom gaan bly en, siestog, haar bes probeer om die dinge te doen wat Lydia destyds vir hom moes doen. Uiteindelik het dit vir haar te veel geword en toe sy amper graad twaalf gedop het daaroor, het sy geleidelik begin verstaan waarom Lydia nie meer kans gesien het nie. Dis toe dat sy besluit het om liewer op Stellenbosch te gaan inskryf vir ’n graad in drama eerder as iets by die Universiteit van Kaapstad. Om weg te kom.
“Ek is bly jy is hier, my kind.” Lydia vou haar hand oor Tania se fyn bleek vingers, nes haar pa s’n.
“Ag,” sê Tania kouend, “toe Boykie en sy girl vra of ek ’n lift wil hê, toe dog ek, what the hell ...”
“En Sam?” vra Lydia huiwerig, want tot die vorige week was Sam nog heel boaan Tania se prioriteitslys.
“Sam? Ag, Sam is history, Ma.”
“Maar julle was dan ...?”
“Kan ons asseblief nie daaroor praat nie, Ma?”
Lydia kan sien hoe die kind toeslaan. Sy wat Lydia is, kon sien dat die mannetjie nie goed was vir Tania nie, maar sy kon niks sê nie: Alles wat sy wou sê, sou as rassisme beskou geword het. Sy het niks teen sy velkleur gehad nie, maar niemand sou haar geglo het as sy verduidelik het dat daar heeltemal ander dinge was omtrent dié briljante student wat haar nie aangestaan het nie. Soos byvoorbeeld sy arrogansie of sy voorliefde vir dodgy klubs en ’n paar ander ongure tydverdrywe.
“Werk Ma se stort, of moet ons weer die plumber laat kom?” vra Tania met die skelm tikkie nydigheid wat sy altyd as verweer gebruik wanneer sy weet wat Lydia dink.
Die kind mis niks, besef Lydia, en sy staan liewer op voor Tania die hitte sien wat oor haar wange begin sprei.
“Niks fout met die stort nie, my liefie, vat jou tas kamer toe en gaan stort lekker.”
“Kan ons dan dalk weer bietjie gaan shop? Ma vat my mos altyd vir ’n bietjie retail therapy ná ’n break-up?” Tania pruil haar lippies soos toe sy klein was en Lydia ontspan. Die kind kan darem nog met haar grappies maak, al is haar motiewe suiwer kapitalistiese manipulasie.
Die inkopies verloop nie honderd persent glad nie – daarvoor is Tania se smaak hopeloos te duur en uitheems – maar albei van hulle geniet dit tog. Lydia is weereens bly dat sy die finansiële onafhanklikheid het om nie aan Bernard te hoef te verduidelik waarom sy al weer haar kredietkaart se limiet oorskry nie.
Dis eers nadat hulle al hul inkopies uitgepak en bevoel en bewonder en aangepas het, en Tania voor die TV gaan uitkamp het met ’n pizza, dat Lydia alleen kan wees. Eers toe kan sy vir haar ’n skuimbad tap en die wonder van die oggend se gebeure oor haar laat spoel. Het dit werklik gebeur of het sy haar verbeel? Die gedagte aan die soen laat haar vingers instinktief na haar mond gaan. Ja, dit het! Sy kon haar nie daardie dringende lippe op hare verbeel het nie.
Sy kyk af na haar lyf in die water. Ja, daar is al tekens van die lewe se stormskade op haar vel, maar sy is nog mooi. Haar hande voel in die skuimerige water oor haar vol borste, haar ferm maag, en kom koesterend tot rus op die bultjie van haar geslag. Toe sy haar vingers verder laat verken, voel sy die sagte romerigheid binne-in haar wat sy mond reeds die oggend in haar lyf losgemaak het.
Sy sug en speel met haar tone oor die krane. Die mens is darem wonderlik geskape. As haar liggaam net vir voortplanting ontwerp was, waarom gaan dit dan gepaard met soveel heerlikheid? Want een ding weet sy voor haar siel: Sy wou hom hê en hy vir haar. In haar lewe wou sy nog nooit so graag die klere van ’n man se lyf afstroop sodat sy haar vel op syne kan voel nie. Sy wou ... Sy wou ...
“Maaa,” roep Tania uit die sitkamer, “bad nou klaar en kom, Ma se pizza raak koud en hier begin ’n oulike movie met Nicolas Cage wat Ma sal wil sien.”
“Ek is nou daar,” roep sy terug, klim uit en droog haar vinnig af.
Die film verveel haar gou, maar sy laat niks blyk nie. Die blote genot om so knus op die bank saam met Tania te sit, is so kosbaar dat sy bly kyk. Op ’n stadium piep haar selfoon ongeduldig om aan te kondig dat daar ’n SMS deurkom. Toe weet sy sommer. En dit ís toe hy.
Daisy Daisy, weet jy dat jy die mooiste voete met die rooigeverfde toontjies het?
Lydia lees dit twee keer skelm in die halfdonker en die warmte om haar hart sprei deur haar hele lyf.
“Secret admirer?” vra Tania ewe nuuskierig en Lydia maak die boodskap dood sonder om op te kyk.
“Sommer Cat,” sê sy ligweg, maar haar hart maak vreemde spronge in haar borskas. Bedaar, Lydia, bedaar, maan sy haarself. Dis jou lóódgieter, onthou? Jy is besig om jou skuldig te maak aan die grootste cliché in die boek oor byna-middeljarige, verveelde vrouens met te min seks in hul lewens. Gedra jou!
Toe spring sy liewer op en gaan maak vir hulle Milo sodat hulle tot rus kan kom.
Lydia wonder waarom haar pa skielik in hul ou huis se geel kombuisdeur staan. Maar Braam is nog jonk en skraal en Caroline is ook nog daar. En die spanning tussen die twee is weer die hele vertrek vol. Lydia maak haarself so klein as moontlik daar waar sy by die kombuistafel met die blou blokkiestafeldoek sit en huiswerk doen. Sy teken blommetjies in haar huiswerkboek met haar balpuntpen en probeer konsentreer op die ou yskas se gerusstellende gebrom eerder as op haar ma en pa se dreigende, stygende stemme.
Toe sy weer kyk, spuit daar ’n stroom water onder die wasbak uit, maar hulle kom niks agter nie. Net sy sien dit. Sy sien hoedat die water die gestreepte kelim onder die tafel bietjie vir bietjie donker vlek totdat dit effens begin dryf. Haar skoolskoene se punte hang later in die nattigheid. Nog later raak-raak die water aan haar skooljurk se soom. Toe sy uitroep, vra Braam en Caroline soos ’n ergerlike koor vir haar waarom sy dan nie die loodgieter bel nie, en skielik is sy alleen in die stygende water.
Toe Lydia wakker skrik, lê sy eers ’n hele ruk lank doodstil. Sy sukkel om die ontstellende nasleep van die droom van haar af te skud en terug te keer na die werklikheid. Toe verlang sy skielik na Bernard, want hy sou dadelik vir haar die absurde droom kon uitlê. Of dalk liewer nie, want sy kan self dink wat die laaste deel aangebring het, en dit sou sy beslis nie aan hom kon oorvertel nie.
Sy vervies haar sommer vir die loodgieter-gedeelte. Liewe genade. Tot in haar droom het sy nou met waterpype te doen, asof dit nie bedags genoeg moeilikheid veroorsaak nie. Sy moes nooit die gesoenery met die wildvreemde man toegelaat het nie. Met Tania onder haar dak voel dit skielik vreeslik goedkoop en kinderagtig. So ook die SMS van vroeër wat Tania amper lont laat ruik het.
Sy besluit om liewer op te staan. Eers luister sy by Tania se kamer na haar meisiekind se rustige asemhaling voordat sy met die trap boontoe gaan na haar ateljee.
Dis duidelik dat sy lanklaas daar was. Bolle verf het opgedroog op haar palet. Sy onthou dat sy laas van plan was om verder te kom werk en toe nooit daarby uitgekom het nie. Die halfklaar blomstudie op die esel staan haar glad nie meer aan nie en sy sit dit gesig agtertoe teen die muur onder die dakvenster.
Sy haal haar grootste skoon doek van die rak af en begin dit langsaam voorberei vir ’n nuwe skildery, en al weet sy glad nie wat dit gaan wees nie, voel sy ’n opwinding daaroor wat sy lanklaas gevoel het. Terwyl sy werk, val haar oog op haar kaal voete. Sy hét nogal ’n netjiese paar vier-en-’n-half-voete waarop sy heimlik baie trots is, en daarom is haar toonnaels altyd perfek versorg. Joshua is nie die eerste man wat dit oplet nie.
Dalk was die SMS darem nie heeltemal so onaardig nie. Dis tog bloot ’n oulike kompliment, al kom dit nou van haar loodgieter, besluit sy en glimlag liggies terwyl sy ’n stewige hopie koejawelrooi olieverf op die palet uitdruk.
Dis eers toe ’n sonstreep deur die dun wit moeseliengordyne voor die dakvenster op haar skilderdoek val, dat Lydia besef sy het heelnag geskilder. Dit gebeur soms dat sy so wegraak in ’n stuk werk. Bernard wou die horries kry.
Sy tree terug van die esel. ’n Halfklaar kaal vrouelyf lê gesprei oor die een helfte van die yslike doek. Bokant haar omlyn die eerste dowwe sketsagtige verfhale ’n man se torso. Wat sou in haar gevaar het?
Sy vee fronsend haar kwaste skoon en los hulle haastig in een van Caroline se ou vrugteflesse vol terpentyn, want sy hoor Tania onder in die kombuis vroetel. Dis beter as die kind nie dié nuwe skepping kom bekyk nie. Dalk sal sy dit later moet kom doodverf, want iets, dalk die vreemde, uitbundige, Matisse-agtige kwashale en helder kleure, maak selfs vir haar onrustig.