Читать книгу Marlene en die macho man - Anita du Preez - Страница 3

1

Оглавление

“Sy soek Afrikaans,” beduie konstabel Zondwa en hou die landlyn se gehoorbuis op ’n afstand uit asof dit aansteeklik is.

Luitenant-kolonel Marlene Burger kan haar ongelukkig hoor, want iemand het die binnedeure oopgelos en die irritererende gaping bied ’n onbelemmerde uitsig op alles wat in die aanklagkantoor plaasvind.

“So? Jy praat mos Afrikaans?” roep Marlene ergerlik in die gang af.

“No! No-no-no! I am very sorry … not before five in the morning. Haibo!” antwoord konstabel Zondwa en sy plak die foon net daar op die toonbank neer waar dit suisend lê en wag.

“Kan een van julle blikskottels tog asseblief net daardie oproep neem!” roep Marlene weer in die rigting van die wagtende foon. Niemand reageer nie. Sersant Lloyd fokus skielik verwoed op die verklaring van die vaak vrou oorkant hom by die toonbank. Die nag was lank en die stapel papierwerk wil nie krimp nie. Net die twee nat bergies en die beseerde gangster wagtend op die bankies vlak by die ingang kyk hoopvol op. Maar Zondwa is nêrens te siene nie.

“Julle weet die publiek dink alreeds ons doen nie ons deel nie,” knor Marlene al harder. “Zondwa! Antwoord daai foon!”

Maar konstabel Siphokasi Zondwa het skynbaar besluit haar baas sal maar self moet kom Afrikaans praat. Of dalk weet Zondwa bloot goed dat die een wat teen vyfuur in die oggend ’n vars oproep vat, nie vanmôre voor watter tyd in die bed kom nie. So die foon wag en Marlene se irritasievlakke neig gevaarlik na die rooi.

“As ek my sonde nie ontsien nie … Zondwa!”

Die persoon aan die ander kant van die lyn se ontevredenheid word voelbaar. Hoe ignoreer jy dit? Flippen hel! Papiere fladder en Marlene se stoel se pote skraap protesterend oor die vloer met die opstaan agter die lessenaar. Ergerlike voetstappe weerklink in die gang af.

“Luitenant-kolonel Burger wat praat. Hoe kan ons help?”

Al wat hoorbaar is, is die suising van die oop lyn.

“Hallo?” Genade tog. Sou die mens dan moed opgegee het?

“Hoe nou?” vra die vrou uiteindelik. Jy kan haar hoor frons.

Die gewone reaksie. Die verduideliking kom outomaties.

“Dit is luitenant-kolonel Marlene Burger van die Rondebosch-aanklagkantoor wat praat. Waarmee kan ons help?”

“E … ê … ê … ooo!”

Marlene kan behoorlik hoor hoe draai die ratjies in die vrou se kop. Na veertien jaar weet sy al. Sy gee kans dat die dame haar gedagtes orden. Kolonelle en luitenante moet mos mans wees, dan nie? Kliek … maar wat dan nou van feminisme en gelyke regte en al daai … kliek. En soos baie ander voor haar kom die tannie geleidelik tot die slotsom dat sy polities korrek en byderwets is en dus Marlene se posisie as luitenant-kolonel goedgunstiglik sal aanvaar.

“Dis oor my buurman,” sê sy, “eintlik oor sy honde. Dis sedert September … ê … nee, nee dit was voor dit al. Dit was Augustus …”

“Ek luister.” Marlene hervat haar greep op die gehoorbuis. Ag liewe genade! Honde? Kampusse brand en daar was dae lank geen rus of selfs tyd om te eet vir haar hele span nie en sy moet staan en luister na ’n klagte oor hónde? Sy verskuif die plastiekfoon na haar ander oor. Dis glibberig en koud. Dit reën al dae lank in die Kaap. Sy vryf hoopvol met die ander hand waar sy die kloppende honger-hoofpyn teen haar regterslaap voel ritme kry, want die huiwering lê nog vlak in die vervlakste vrou se stem, en alhoewel sy tog stoom optel en breedvoerig begin verduidelik van die buurman se blaffende honde, kan enige aap hoor sy sou baie beter gevoel het as sy haar probleem aan ’n man kon toevertrou. Verkieslik ’n regte macho man. Wat sommer lýk asof hy dinge kan doen. Soos die een wat Marlene op daardie presiese oomblik skuins deur die aanklagkantoor se oop voordeur van sy motorfiets kan sien afklim.

Vlootoffisier Thomas Jacobus Lourens. Onlangs bevorder tot luitenant-kommandoor Lourens. Háár Tom. Haar … lover? Hmm, nog nie, dink sy fronsend terwyl haar oë hom opsom soos hy naderkom. Daardie een onbesonne keer jare gelede by die matriekafskeid tel nie. Nie noudat hulle weer van voor af begin date en so halfbekend maar halfvreemd vir mekaar is nie. Vriend? Ja, dit was Tom nog altyd vir haar. Hulle het immers saam grootgeword. Maar hy is tog seker nou meer as dit?

“Uh-huh, uh-huh, ek luister,” sê Marlene outomaties vir die persoon in haar oor, maar haar kop bly dwaal op ver plekke en haar oë oor die lenige, sexy mansmens wat na haar toe aangestap kom.

Van laerskool af was dit sy en Tom en Renée en Celeste. Toe almal dié ongebalanseerde viermanskap “die drie rose en hulle doring” genoem het. Die agteraf gefluister was dat hulle al drie beenaf was op Tom, maar die algemene konsensus was dat sy die een was aan wie se vinger hy eendag die ring sou sit. En hy wou. O ja, hy wou. En as sy hom nou so staan en kyk, kan sy nie glo dat sý nie wou nie. Die man is manjifiek. Het sy skille op haar flippen oë gehad of wat? Nee. Sy het toe al geweet dat Tom Lourens vir haar gevaarlik mooi was. Veral van binne. Maar sy het mos ander, meer avontuurlike planne vir háár lewe gehad as om saam met haar skoolmaat iewers agter ’n white picket fence te gaan intrek! Daarom het sy haar blind gehou. Nee, dit was Celeste wat daardie voorstedelike droom waar gemaak het. En Renée? Dié het alles haarfyn van die kantlyn af dopgehou. En sy wat Marlene is? Ja, wel … sy het haarself mos oortuig sy bewys ’n punt toe sy vir Steven ingekatrol het. Dié befaamde enigmatiese entrepreneur Steven Hall nogal. Sy sug diep. Gmf. En al wat sy daarvan oorgehou het is Naas, Steven se uiters gefrustreerde budjie, wat sy sedertdien teen haar sin in ’n hokkie moet aanhou.

“Die allerverskriklikste lawaai …” dring die vrou se skril stem tot haar deur.

“Uh-huh. Uh-huh,” sê Marlene, maar haar denke bly agtertoe rol en rol.

Ja-nee, intussen het die meule hulle almal al bietjie rondgemaal en sedert Tom omtrent twee maande gelede weer met haar kontak gemaak het, is dinge anders. Toe hy daardie oggend, net soos vanmôre, onverwags uit die bloue verlede met sy nommerelfstewels by die aanklagkantoor en in haar lewe ingestap het, het sy dadelik geweet hier kom moeilikheid. Dat die wiel gedraai het en niks tussen hulle verander het nie, maar ook nooit weer dieselfde kon wees nie. En sedertdien is dinge … wel … ingewikkeld. Sy sou dit “friends with benefits” kon noem, behalwe dat daar tot op hede nog geen flippen benefits was nie. Dis moeilik om te glo as sy hom so kyk waar hy met lang, gespierde bene oor die plein gestap kom.

Met dié dat hy in Simonstad bly en sy hier in Rondebosch, en aangesien hulle sulke ongereelde ure werk, het hulle al sleutels uitgeruil sodat hulle in mekaar se huise kan wag terwyl die ander een nog by die werk klaarmaak. Hoekom dan nou nie? Hulle kuier immers van kindsbeen af in mekaar se huise – niks snaaks daaraan nie. En deesdae slaap hulle ook soms gerieflikheidshalwe oor, as dit te laat word of hulle te moeg is om terug te ry. Maar alles bly so kuis en kosjer soos koekiesbak. Asof hulle weet hoe om vriende te wees, maar niks verder nie. Asof hulle albei te bang is. Om weer ’n fout te maak? Soos daardie een keer na die matriekafskeid? Toe hulle mekaar agterna weke lank nie in die oë kon kyk nie? Toe sy draaie geloop het om hom te vermy totdat sy hom uit sy ooglopende ellende kon gaan verlos. Hom kon verseker dat daar nie verdere gevolge gaan wees van hul eenmalige, onbesonne, halfbesope vergryp aan mekaar nie. Haar keel trek na sewentien jaar nog steeds toe as sy aan daardie drie weke van onsekerheid dink. Dit was suiwer hel. Maar hulle is mos darem nou grootmense, dan nie?

Moenie ’n fout maak nie, dis nié asof sy weer wil trou nie. Nie na Steven nie. Nee. Gelukkig voel Tom, na Celeste, blykbaar dieselfde. Dit pas haar so. Sy blaai tog rêrig nie bruidstydskrifte deur in CNA soos Renée en veral Celeste destyds nie. Sy kry lag. Nee wat, die Sterns-binneblaaie se mooi kleurvolle glansfoto’s van verloof- en trouringe kom deesdae handig te pas om Naas, die budjie, se hokkie se vloer netjies uit te voer.

Maar dit beteken nie dat sy ’n non geword het nie.

“Ek weet nie wát hulle daar doen nie. Julle sal moet kom ondersoek instel …” gaan die vrou op die lyn ongestoord voort.

“Ja. Uh-huh. Uhm, dis reg so, mevrou,” sê Marlene in die gehoorbuis teen haar oor, maar haar gedagtes dwaal al agter haar oë aan.

Hoe sou sy hulle verhouding klassifiseer? Sy weet nie, maar wat sy wel weet is dat haar maagspiere, ten spyte van die uur en die oggendkoue, nog steeds dieselfde soetseer plukkie gee elke keer as sy Tom so onverwags sien. Met sy donker kuif effens nat en verwaaid oor sy voorkop en die blink klammigheid oor sy sterk wangbene en daardie persblou oë wat deur die aanklagkantoor soek en sekuur op haar te ruste kom terwyl hy sy dik leerbaadjie ooprits. Daar is min vroue wat sy ken wat sou bodder om so ’n forse man te probeer klassifiseer. Allerhande ander goed, ja, maar analise en klassifikasie? Nee. Buitendien lyk luitenant-kommandoor Tom Lourens nie asof hy hom weer ’n keer in ’n blik sal laat druk nie. Dit kan enigeen sien aan die permanente fronslyne en die hardegat houding waarmee hy enige vertrek binnekom. En domineer.

“… régtig onaanvaarbaar …” Die vrou op die foon werk haarself nou behoorlik op.

“Ek verstaan,” sê Marlene desperaat.

Die forse militêre tred kom vir Tom so natuurlik soos asemhaal. Hy weet dit nie eens nie. En die ergste is, al sou sy dit selfs onder intense interrogasie bly ontken, het sy stilletjies besluit om haarself daarvoor te vergewe dat dit haar nog altyd effens kortasem maak. En as hy in uniform is, word sy heeltemal lam. Sy sug. Omdat dit elke keer allerhande stoute verwagtinge by haar skep. Ongelukkig onvervulde verwagtinge. Dis darem nou al weke sonder enige … wel … noem dit dan nou maar vuurwerke. Iets wat haar dronkslaan, maar waarvan die liewe konserwatiewe Tom skynbaar salig onbewus is. Of is hy?

“Maak tog net jou baadjie toe, man!” sê Marlene toe hy voor haar staan. Sy stut haarself met een hand op die toonbank tussen hulle. “Dis ysig daar buite!”

“Ekskuus?” vra die arme vrou, steeds aan’t uitwei op die lyn terwyl Tom so half terloops, saggies met sy wysvinger oor Marlene se duimnael vryf. Sy voel die effek daarvan tot anderkant haar naeltjie en skielik kan sy glad nie onthou wáár in die oneindige gesprek met die klaagster sy was nie. Sy vervies haar sommer vir haarself. Gelukkig sien sy uit die hoek van haar oog dat Zondwa weer ’n verskyning gemaak het agter haar.

“So sorry, Ma’am. Please hold on for the duty officer in charge,” sê sy op die ingewing van die oomblik heel in die verkeerde taal en prop die foon in Zondwa se verbaasde hande.

“Eish!” sê Zondwa. Met rollende oë en ’n kopskud in Tom se rigting lig sy die gehoorbuis om in perfekte Afrikaans te antwoord: “Goeiemôre, mevrou, konstabel Zondwa hier. Waarmee kan ek help?”

Marlene kan hoor die vrou is óf omgekrap óf opgewonde oor die feit dat sy kans kry om haar ellelange lewensverhaal weer oor te vertel. In Afrikaans.

“Moeilikheid?” vra Tom. Hy skud ’n paar druppels uit sy hare en sit sy blinknat motorfietshelm op die toonbank neer. Marlene moet effens opkyk na hom. Sy sien hoe sy lang swart ooghare in klam klossies aanmekaarklou rondom sy vraende, besorgde blou oë. Sy is al van kleins af jaloers op daardie wimpers.

Sy haal haar skouers op. “Nee wat, die gewone. Sonde met die bure. Padblokkades heelnag, ’n nuwe vlaag huisbrake en drie gevalle van motordiefstal. Ons vermoed ’n sindikaat is betrokke. Een kaping, en dieselfde voortslepende geval van huishoudelike geweld wat oor en oor opduik.”

Sy vryf oor haar oë. “Maar niks vergeleke met die oproer waarmee ons van gister af moes cope nie. Hier was hordes studente. Hulle wou die hekke afbreek. Ons moes die manne van Publieke Orde inkry. Met donderbuise, rookgranate en later rubberkoeëls. Maar die ergste was beslis die vier studente wat ons opgesluit moes hou vir die nag. Gelukkig is almal nou uit op borg. Dinge lyk effens rustiger. Ek wil dit nie oorhê nie. Dit was rof.”

“Hmm … The full catastrophe. Ek het so verstaan,” sê Tom. “Ek was bitter besorgd oor jou – en die slegste is, ek kon ook nie gister of vannag wegkom nie. Nie eens om jou te bel nie. Dinge daar by die vlootbasis was ook nie juis rustig nie. Is jy oukei?”

“Ja wat. Skynbaar is almal vir eers uitgewoed. Selfs die mees geharde protesteerder moet een of ander tyd gaan slaap en die reën blus nie net vure nie, maar entoesiasme vir die saak ook.”

“Jy lyk maar poegaai, Babe,” sê Tom.

Sien? dink Marlene, hoe moet sy nou weet wat is wat. Hy noem haar dan deesdae “Babe”.

“Ek bedoel, is dit dan nie tyd vir jou om van diens af te gaan nie?”

Marlene kyk op haar horlosie. “Amper. Die skofpersoneel sal nou hier wees vir ruilingsparade. Buitendien moet die lede so gou moontlik buite kom om patrollies te ry.”

“Jy gaan seker nie wag vir die kantoorpersoneel se parade halfsewe nie? Jy’s al van gisteroggend af hier.”

“Nee. Kaptein Mulder sal dit waarneem. Ek gaan so gou as moontlik probeer afteken. So sesuur se kant?”

“Raait,” sê Tom en stop die helm weer onder sy arm in, “dan vat ek jou eers vir brekfis as jy klaar is. Dis ’n verdomde wonderwerk dat ek en jy saam ’n paar uur af het. En dis ook maar net oor hierdie week lange seminaar in die stad vandag eers elfuur begin. So. Die reën het opgeklaar en daar’s genoeg tyd. Ek wag vir jou by die Harley, oukei?”

“Jong, ek weet darem nie! Dit kan dalk vandag weer erg raak na die arrestasies. Dis –”

“Babe, kom net. Ek kan sien jy’s dood van die honger. Ons kom haal netnou jou Nissan, dan kan jy seker maak alles is in die haak hier,” sê Tom beslis oor sy skouer op pad deur toe.

Marlene is te lam om te protesteer. Sy staan en kyk hom stom agterna, heeltemal te bewus van die feit dat Tom se indrukwekkende wegstap vir haar nog altyd net so aanskoulik is soos sy aankoms. Selfs die vrou voor die toonbank draai heeltemal om en haar oë volg sy netjiese denimgeklede sitvlak waarderend deur die aanklagkantoor se oop deur met die trappies af tot daar doer waar hy een gespierde been oor die Harley se sitplek gooi en die fiets brommend nader aan die ingang bring.

“Oeeee!” sê Zondwa en sit die foon neer. “Forceful! En mooi was nog nooit lelik nie, nè? I would get a ring on my finger as soon as possible if I were you, kolonel! Oeeee!”

“Gedra jou, konstabel. Asseblief. Hou jou in. Spaar jou krag. En maak seker jou papierwerk is een honderd en tien persent as jy netnou afgeteken wil wees. Sit asseblief ’n aantekening van die klaagster oor die honde se details op my lessenaar. Aangesien jy môre af is, sal ek dit dalk aan die Metropolisie moet oorgee. Ons het oorgenoeg om te doen. Oukei?”

“Jawohl, kolonel!” Uit Zondwa se spitsvondige mond klink die titel eerder soos dié van die kolonel van braaihoender-faam. As toegif salueer sy oordrewe en trippel tot by haar lessenaar.

Marlene weet sy behoort haar ondergeskikte daarop te wys dat sy stasiebevelvoerder is en dus dalk net effens meer respek verdien, maar sy is skielik eenvoudig te moeg. Eintlik is sy baie erg oor die klein konstabel van haar wie se bekkige aanmerkings al menige situasie ontlont het. Die afgelope nag weer was sy goud werd. Siphokasi Zondwa het haar vinger op die pols en laat haar deur niemand intimideer nie, en dis nie noodwendig ’n slegte eienskap in hierdie beroep nie. Marlene loop na haar kantoor en gaan pak gou haar laaste papierwerk reg.

Toe die dagpersoneel minute later begin opdaag en haastig, bibberend hul nat jasse gaan ophang voordat hulle vir oggendparade kom aantree, voel dit vir Marlene asof almal deur dik stroop beweeg. Maar toe sy die spul voor haar gadeslaan en omtrent die helfte van hulle uniforms onvolledig verklaar en haar bloed voel kook toe die een konstabeltjie onnodig lank vat om sy wapenlisensie te presenteer, weet Marlene dis tyd vir haar om rus te kry. Luitenant-kolonel Burger is bekend daarvoor dat daar nie met haar geneuk moet word nie en haar reputasie dat sy harde manne kan laat huil, is wyd bekend, maar openlik onregverdig en onnodig mislik is sy darem nooit. Uiteindelik kan sy haar skof afsluit, haar nagpersoneel groet en die leisels oorgee. Sy gaan maak vinnig ’n draai by die selle, maar al wat sigbaar is van die paar aangehoudenes is slapende bondels onder die grys komberse.

“Bye-bye, Big Boss!” roep Zondwa met wydgerekte ogies oor haar skouer nadat sy ’n blou lêer met kamtig oordrewe versigtigheid voor Marlene op die lessenaar kom neersit het. Toe bons sy die trappe af na haar goudgeel Mini Cooper wat haar pa vir haar gekoop het in ’n poging om haar te oortuig dat sy eintlik sy prinses is, nie ’n polisievrou nie.

“Dankie, Lloyd,” sê Marlene vir sersant Lloyd, wat soos altyd eers seker maak alles by die toonbank is netjies reggesit vir sy opvolger voor hy ook loop.

“Dit kan ’n moeilike oggend word, kaptein Mulder,” sê Marlene fronsend vir die man wat agter haar lessenaar ingeskuif het. Mulder lig sy wenkbroue en skouers.

“Ek is terdeë bewus van al die implikasies, kolonel.”

“Die ondersteuners van die vier gearresteerdes mag dalk nog ’n sterker aanslag op die kantoor beplan,” voeg Marlene by. “Ná die klagtes van saakbeskadiging móés ons hulle arresteer, maar hulle aanhangers sien hulle nou as martelaars.” Sy sug. “Ek verstaan dat baie studente geldelik swaarkry en daarom teen klasgelde protesteer, maar ’n kriminele rekord gaan nie hulle lewe makliker maak nie.”

Mulder lig sy hand effens afkeurend. “Jy’s reg, kolonel. Ons kan maar net ons werk doen. Onskuldige mense se eiendom is in die proses beskadig.”

Marlene huiwer. “Miskien moet ek liewer nog …”

Mulder rig hom op tot sy volle indrukwekkende lengte agter haar lessenaar. “Met respek, kolonel, as ek u nie beter geken het nie, sou ek kon dink dat u besig is om my vermoëns in twyfel te trek?”

Marlene besef dat sy te ver gaan. Kaptein Mulder het tog al baie waargeneem as sy van diens af is. Wat is dit met haar? “Flippen control freak!” is wat Steven haar toegesnou het. “Jy moet tog asseblief eendag self by jou verdomde begrafnis wees, hoor? Want niemand anders sal dit kan reg doen nie.”

“Natuurlik nie, kaptein Mulder,” sê sy, “jy is meer as bevoeg. Dis net … buitengewone omstandighede.”

Mulder gaan sit weer stadig. “Ek verstaan dit, kolonel, maar u is al meer as dertig uur onononderbroke aan diens. Niemand behoort so lank in bevel te bly nie. Weereens, met respek gesê, kolonel, u moet tog een of ander tyd rus kry.”

Marlene dwing ’n moeë glimlag uit.

“Buitendien lyk dit vir my daar wag iemand vir u, kolonel?” Daar huiwer ’n klein glimlaggie om Mulder se mond toe die geluier van die Harley se enjin buite hoorbaar word.

“Nou ja, kaptein,” knik Marlene, skielik ekstra formeel, “kophou en voorspoed vir vandag.”

Toe vat sy haar goedjies bymekaar, kry haar baadjie van die haak in die hoek van haar kantoor en stap die trappies af, verby die twee ewig wagtende bergies na waar Tom wag.

Marlene en die macho man

Подняться наверх