Читать книгу Marlene en die macho man - Anita du Preez - Страница 4

2

Оглавление

Tom laat luier die Harley skuins voor Lyra’s. Dis nog nie oop nie, beduie hy vir Marlene wat agterop sit en swaai dan die fiets behendig in die hoofstraat af. Net na die Baxterteater vat hy die afrit links op en gee vet oor De Waalpad. Soos altyd, weet Marlene sommer wat in sy kop aangaan. Arnolds in Kloofstraat bedien ’n spotgoedkoop ontbyt as jy voor sewe bestel. Sy het die swartbordjie met hierdie aanbod opgemerk toe sy en Tom laas daar gaan koffie drink het. Sy druk haar kop teen Tom se skouer, maak haarself oudergewoonte klein agter sy breë rug en gooi haar lyf dig teen syne om die draaie. Sy asem hom in. Sy ruik sy leerbaadjie, die bekende Tom-reuk van sy vel en die vars sitrusgeur van sy sjampoe en sy ontspan. Tom weet wat hy doen. Dalk is die rit net wat sy nodig het.

Dis onnatuurlik sonnig toe hulle in Kloofstraat voor Arnolds stop en ’n tafeltjie buite kry. Dis die Kaap: drie seisoene in een dag, dink Marlene toe sy haar baadjie uittrek. Dit gaan nie by haar verby dat elke vroumens in die plek asem ophou toe Tom van sy leerbaadjie ontslae raak nie. Selfs die bloedjong kelnerin se oë bly dwaal oor Tom se skouers en bruingebrande biseps in die swart kortmou-T-hemp terwyl sy die bestelling neem. Marlene neem hulle nie kwalik nie. Die mansmens ís ’n fees. Sy verkyk haar stilletjies aan sy voorarms op die tafel. Sy moet op haar hande sit om te keer dat sy oor die effense are en die sigbare speling van spiere onder die soepel vel streel. Net sodat hulle kan weet hy’s saam met háár. Onregverdig! Verdomde skepsel lyk nou selfs sexier as toe hulle studente was. Veral met die donker baardskaduwee wat deurslaan op sy wange en die vegie grys aan sy slape. Hoe moet ’n vrou dit dan nou hou? Serves you right, Marlene, sê die stemmetjie in haar kop, jy wou mos die man rondneuk daai tyd, geglo hy sal in die pad staan van jou kamtige planne en ideale. En nou?

“En nou?” vra Tom, “as jy my nou so sit en kyk?”

Ek soek jou lyf, Tom Lourens, pop die ongeoorloofde gedagte ongevraagd by haar op en sy grawe dadelik wanhopig na haar sonbril in haar skouersak. Hy sal hom seker lam skrik as hy dit moet weet. Of dalk nie?

“Net ingedagte.” Sy sit haar sonbril op en vat ’n versigtige slukkie van die cappuccino wat die kelnerin kom neersit het.

“Jy wroeg te veel,” sê Tom en leun oor om die roomsnorretjie op haar bolip met sy wysvinger af te vee terwyl hy praat. “En jy werk hopeloos te veel.” Sy blou oë is sonder skroom toe hy die vinger onverstoord in sy eie mond druk en stadig aflek. “Jy sal moet briek aandraai, Babe, jy gaan dit nie hou nie.”

Nee, ek gaan nie, dink Marlene en sy sluk effens verbouereerd aan die speeksel wat in haar mond opdam. Gelukkig verskyn die kelnerin met hulle ontbyt en leun vrypostig oor om die borde neer te sit. Skielik is Marlene rasend honger.

“Ek kom stort gou by jou plek,” roep Tom toe hy Marlene by haar voertuig voor die aanklagkantoor aflaai, want op pad terug oor De Waalrylaan het ’n onverwagse harde reënbui hulle onkant betrap. Toe sy in die Nissan klim, is sy sopnat en sy ry reguit huis toe.

In haar kamer stroop Marlene haar klam klere van haar lyf af en draai haarself toe in haar sagte wit kamerjas terwyl Tom stort. Sy gaan maak solank vir hulle tee.

“Jou beurt,” sê Tom skielik agter haar. En toe sy omkyk, het hy net ’n handdoek om sy onderlyf. Marlene verstik effens aan ’n sluk tee. Alles is skielik vreeslik huislik en intiem. En dit laat haar effens benoud voel.

“Waar’s jou klere?”

Hy hou die klam bondel na haar uit en skuur by haar verby na die tuimeldroër terwyl hy oorleun om sy tee met die ander hand aan te vat. Hy ruik na seep en sy moet ernstig daarop konsentreer om die naglappie van Naas se hokkie af te haal.

“Hy raak baie vies as ek hom so laat oopmaak,” verduidelik sy.

“Hmm,” sê Tom en vroetel met sterk vingers aan die droër se knoppies. Toe dit saggies begin dreun, kom hy dig langs haar regop en teug diep aan sy tee. Sy blou oë glinster geamuseerd oor die stomende rand van die beker. “Jy en jou budjie tog.”

“Dis nie –”

“Ek weet, Babe, ek weet.” Tom blaas oor sy warm tee. “Naas is nié jou tipiese oujongnooi-budjie nie. Hy is eerder wat mens sou noem ‘the spoils of war’.”

Marlene vervies haar so effens. Oujongnooi. Gmf. Hy moenie dink oor hy daar staan met sy gebeitelde bolyf en sy ou flippen six-pack en sy sexy blou ogies en sy … sy … hóúding …

“Ek gaan stort,” sê sy en voel omtrent so simpel soos toe hulle tieners was en hy alewig haar siel uitgetrek het. “En dan gaan ek slaap.”

Tog is daar iets aan vanoggend se spontane spelery, dink sy toe sy klaar gestort in haar ou lang T-hemp in die bed gaan klim en Tom in haar kamerdeur kom staan. Amper soos destyds. Dis miskien beter as hierdie vreemde semi-erotiese vibes wat daar deesdae tussen hulle is. Hy kom sit by haar op die bed en vou die duvet tot bo teen haar ken. Asof sy ses jaar oud en so breekbaar soos ’n porseleinpoppie is.

Hy frons. “Wat is dit met ons, Babe?”

Hy kan nog steeds haar gedagtes lees, dink Marlene.

“Ek het nie ’n clue nie, Tom,” sê sy, want as sy nou moet sê hoe sy werklik voel, slaap sy weer niks nie. So sy hou dit liewer lekker lig en loer onder haar wimpers deur na hom. “Seker maar die midlife crisis?”

Tom vlieg orent. “Speak for yourself, young lady.”

Maar hulle albei weet dat die spottery eintlik hul effense ongemak moet verbloem. Asof hulle skaam is vir mekaar. Bang vir die dinge wat hulle dink en voel.

“Nou toe, slaap jy nou maar lekker,” sê Tom effens skor toe hy buk en sy warm mond vir ’n oomblik teen haar voorkop laat rus. “Ek moet oor twintig minute by die seminaar wees en my sokkies is halfnat binne-in my stewels. Lovely.”

Gryp my vas, Tom, dink Marlene. Vergeet van die flippen stupid seminaar en klim hier by my in die bed en doen met my wat ek weet jy wil. Woes en wild. Ek sal nie breek nie en jy hoef nie heeltyd so super-hoflik te wees nie! Asseblief tog! Maar haar mond wil nie die woorde sê nie en sy lê grootoog en kyk hoe hy omdraai en wegstap.

By die deur gaan hy staan. Marlene hou haar asem op. Toe roep hy oor sy skouer: “Maar dalk moet ons môreoggend weer gaan brekfis?”

“Dalk,” sê Marlene.

Stupid, stupid, stúpid! kasty sy haarself in haar gedagtes. Hoekom het sy nie verdomp gesê wat sy wou nie? Nee, hoekom het hý nie? Die atmosfeer was so dik soos heuning tussen hulle, maar nee, hulle is albei te flippen stúpid! En nou lê sy hier soos ’n bleddie fool met begeertes wat haar gaan wakker hou wanneer sy rus moet kry.

Ergerlik vat sy die pakkie Zopivanes op die bedkas en sluk een af, gryp na haar iPod, besluit op voëlgeluide eerder as walvisparingsmusiek en druk die oorfone in haar ore. Toe skakel sy haar selfoon op vibreer en prop dit onder haar kopkussing in.

Sy verbeel haar sy hoor eers die dreuning van die Harley toe Tom stadig verby haar kamervenster wegry.

Toe sy wakker word van haar foon wat te kere gaan onder haar kussing, is dit sewe-uur en skemer buite. Sy het agt uur aaneen vas geslaap. Dit is ongewoon baie. Sy grawe die foon onder die kussing uit en skakel terug.

“Ek is bitter jammer, kolonel,” sê kaptein Mulder, “maar ons sit hier met ’n probleem.”

“In die haak. Ek luister,” sê Marlene en woel haarself los uit die beddegoed.

“Dis hierdie studente-oproeriges, kolonel. Hulle is hier met griefskrifte. En hulle eis om net met kolonel te praat. En met die pers. Hulle dreig om goeters aan die brand te steek hier in die straat. Skynbaar is daar joernaliste wat hierdie tyd van die aand bereid is om te kom kyk en hoor wat hulle te sê het.”

“Ek kom dadelik.”

Tom bel net toe sy wil ry.

“Ek kan nie nou praat nie, Tom. Daar’s drama by die werk.”

“Nou?”

“Uh-huh.”

“Pas jouself op, Babe. Laat weet my. Ek moet weer stad toe môre, maar die deel van die seminaar wat ek moet bywoon begin eers elfuur.”

“Sal probeer. Sien jou môreoggend, Tom.”

Daar is die hele nag geen rus of duurte of tyd vir enigiets nie. Sy stuur kaptein Mulder vroegaand huis toe om te gaan slaap en gee eers die volgende oggend na sewe weer die leisels vir kaptein Buzani oor. Dinge is weer redelik onder beheer by die stasie, maar dis na nege toe Marlene die Nissan onder haar prieel langs Tom se Harley intrek.

Toe sy by haar voordeur instap, is alles doodstil. Selfs Naas is nog tjoepstil onder sy doekie. Sy besluit om liewer nie slapende budjies wakker te maak nie. Naas kan nogal raas as hy opstaan en sy wil eers sien waar Tom is. Hy lê nie soos gewoonlik met sy lang lyf op die rusbank nie. Sy stap soetjies gangaf tot in haar slaapkamer.

Tom lê met sy rug na haar, halflyf onder die duvet, net in sy jeans. Hy slaap vas. Siestog. Hy het ook maar ’n paar tawwe dae agter die rug. Seker moed opgegee met die gewagtery en wou net gerieflik wees. Die bank is maar knobbelrig. Sy sit haar goed saggies op die leunstoel neer. Wel, nou hoef sy nie verskoning te maak oor sy laat is nie, besluit sy toe sy haar klere losknoop en van haar lyf afstroop asof sy van iets ontslae wil raak. Sy sluit haar dienspistool in die kluis toe, smyt alles wat vuil is in die wasmandjie, bêre die res op hul plekke en gaan draai die stort wyd oop.

Agterna prop sy haar selfoon in die laaier en skakel die klank aan. Net ingeval. Sy oorweeg vir een oomblik om die stasie te bel, maar besluit daarteen. Hulle sal bel as dit woes gaan. Marlene gaan sit eers ’n rukkie aan haar kant van die bed. Sy’s nie lus vir pajamas nie. Sy’s moeg en wil gemaklik raak. En dis mos nie die eerste maal in haar lewe dat sy saam met Tom Lourens op ’n bed is nie? Dit was elke vakansie toe hul families saam weggegaan het, se ding. Kampbeddens, stapelbeddens, opblaasmatrasse, karavaanbeddens, dikwels selfs agter in haar pa se Jeep op ’n dun sponsmatrassie. Noem maar op.

Dis net … hierdie lyk nou darem so half … anders.

Sy staan eers en wonder. Ag, bôgger dit, besluit sy en klouter agter hom op die bed, sommer net so in haar slaapbroekie en ’n skoon T-hemp. Sy nestel haar styf teen sy warm lyf en druk haar neus in sy nek om sy reuk in te asem. Alles aan hom is so bekend. En tog, noudat hy uiteindelik dalk net hare kan wees, ook nuut. En opwindend.

“Waar was jy so lank?” mompel hy en gooi sy arm agtertoe. Sy verwelkom die gewig daarvan oor haar lyf. Veral toe hy haar vaster teen hom aandruk.

“Opgehou,” sê sy, “jy weet hoe dit gaan.”

Toe Tom onverwags met ’n slaperige hand oor die sagte walletjie van haar maag tot laag onderkant haar naeltjie begin vryf, hou sy asem op. Onseker. Dit voel vreemd. Dis Tom. Noudat dit uiteindelik gebeur, weet sy nie of sy met hom daardie grens moet oorsteek nie. Sy lê doodstil. Sy voel tegelyk eienaardig skaam en opgewonde. Weet hy ooit wat hy besig is om te doen? Is hy heeltemal wakker? Verbeel hy hom nie dalk dat hy nog in sy huweliksbedjie is nie? Dat sy Celeste is nie?

“Tom?”

“Hmm?”

Sy hand raak ’n oomblik stil en hervat dan weer die streling. Marlene haal net vlakkies asem. Ag hemel, wanneer laas …? Mag sy? Sy roer nie, want half teen haar beterwete begin haar liggaam reageer op hierdie lieflike plesier. Haar vel is uitgehonger hiervoor. Die effense growwigheid van sy vingerpunte maak elke tere senuweepuntjie waaroor haar lyf beskik wakker. Wagtend. Asof daardie vingers die enigste iets in haar heelal is. Haar brein volg die spoor van sy streling asof haar lewensbestaan alles saamgetrek het tot daardie een deeltjie van haar wat smagtend roep na meer.

Uiteindelik, dink Marlene en sy glimlag salig in die loom skemerte. Sy gaan net vergeet van alles en haarself oorgee. Hoe lank wag sy nie al hiervoor nie? En toe hy omrol en sy warm mond hard oor hare vou, soen sy hom terug met ’n drif en ’n ongeduld wat selfs vir haar, as buitengewoon warmbloedige vrou, ongewoon is. Sy hoor hoe Tom na sy asem snak. Om hom so te hoor, maak lank verborge drifte en emosies diep in haar los. Dat sy en Tom hulle uiteindelik so aan mekaar oorgee, is amper te veel vir haar.

“Sjoe, Babe! Is jy seker?” vra hy hees. Hy kom orent op sy een elmboog en buig oor haar. Asof hy wil sien dat sy soos hy voel. Sy voel die deining van sy borskas. Sy lippe is effens vanmekaar en sy asem onegalig, rukkerig teen haar gesig. Sy lyf voel soos ’n snaar gespanne, sy blou oë vraend, besorgd in hare en sy stem laag.

“My Babe?”

“Ja, Tom,” fluister Marlene, “asseblief. Ons hoef nie langer te wag nie, nóú.” En hy luister vir haar. Hy leun swaar oor haar en vroetel na die eensame kondoom in haar bedkassie. Alles neem hopeloos te lank, maar toe al hul klere uiteindelik op die vloer langs die bed lê en sy hom daar digby haar voel, gereed vir haar, is hy vir haar op daardie oomblik meer dierbaar, meer begeerlik as ooit. Hy is bokant haar en sy sien die wit glim van sy tande in die oggendlig wat soos halfskemer deur die dik kamergordyne sypel.

“Asseblief, Tom,” pleit sy en slaan haar bene om sy lyf.

En net toe bars daar iewers ’n helse lawaai los. Sy voel hoe Tom se skouers ruk. Hulle los mekaar en rol onmiddellik weg soos twee skuldige tieners wat oor die tou wou trap. ’n Senuagtige giggel ontsnap uit Marlene se keel. Sy wonder vir een oomblik of die geluid in haar kop is. Of sy dalk terug is by die werk met die kakofoniese protesgedruis. Met ’n diep sug sak Tom met sy hele gewig op die matras langs haar neer.

“Waddehel?”

Marlene blaas haar asem stadig, bewerig uit terwyl sy luister.

“Weed eater,” sê sy, nog effens uitasem. “Langsaan. Tuindienste. Woensdagoggende. Klokslag 09:30.” Moedeloos sak sy terug in die kussing.

“Goeie bliksem,” sê Tom.

Marlene het nie woorde nie.

“Jammer, nie so nie. Nie met dáárdie lawaai nie. Jammer.”

“Ek weet,” fluister sy uiteindelik.

Hulle praat niks verder nie. Elkeen lê en stoei met hul eie gedagtes. Marlene kan letterlik voel hoe ’n vreemde soort skaamte oor wat hulle probeer aanvang het, weer tussen hulle kom lê, presies soos op die spons-springmat in die stoorkamer vir gimnastiekapparaat van Hoërskool Sonnekus, sewentien jaar gelede.

“Dis beter so,” hoor sy Tom sê en sy voel hoe hy sy hand in ’n troosgebaar swaar tot op haar heup laat sak. “Blessing in disguise. Ek voel ons eerste keer weer saam moet darem iets spesiaal wees. Nie sommerso terloops as ons albei moeg is nie – en veral nie met dáárdie byklanke daar buite nie. Oukei?”

“Oukei,” fluister Marlene gesmoord. Maar sy is glad nie seker of sy saamstem nie. Ook nie of sy hom glo nie. Blessing in disguise se flippen voet, dink sy, ons is grootmense! Iets voel glad nie reg nie. Ons behoort nou hieroor te praat, selfs te lag, dink sy wanhopig in die groeiende stilte. Dis tog nie die einde van die wêreld nie. Shit happens. Hulle kan ’n grappie maak, opstaan en gaan koffie maak of iets. Die lug suiwer. Hy kan sê dis nie so ’n big deal nie. Dis maar hul eerste probeerslag na soveel jaar. Dat dit sal regkom.

Hou my vas, Tom, dink sy. Maar hy lê net daar. Sy ook. En dit voel vir haar nou darem baie soos verwerping. Vernedering. Hy kan haar tog seker nie nou nog kwalik neem vir iets wat gebeur het toe hulle albei kinders was nie? Tom met sy romantiese idees oor hoe die eerste keer nou eintlik moet wees.

En toe Tom se asem na ’n ruk langs haar rustig raak, voel sy lus en huil saam met die onaardse gekerm van die masjien buite haar kamervenster. Hy kan darem slááp met die gedruis, al kan hy blykbaar nie doen wat sy graag wou nie. Met ’n nare hol kol op haar maag rol sy tot op die verste puntjie van haar kant van die matras terwyl sy voel-voel na haar iPod langs die bed. Gelate oorweeg sy haar slaap-opsies. Dolfyngeluide? Nee. Voëlgeluide? Huh-uh. Branders wat suis? Asseblief nie. Haar vinger gly af oor die lysie. Eintlik soek sy geen geluide ná wat so pas gebeur het nie.

Sy klik geïrriteerd op Mozart en draai die klank baie laag en sit haar foon half onder haar skouer sodat sy die vibrasie sal voel as dit lui. Maar toe sy na wat soos ure voel, nog steeds nie kan slaap nie, reik haar hand oudergewoonte na haar bedkas se laaitjie en haar vingers krabbel vieserig om die pakkie Zopivanes raak te vat. Want face it: As sy eerlik is, is dit nie die gedagte aan die ontydige weed eater of die onopgeloste misstap van hul kinderdae wat die meeste in haar kop lol nie. Nee, die ding wat haar slaap wegjaag, is die blote feit dat Tom basies nee dankie gesê het toe sy haarself so pas feitlik op ’n skinkbord vir hom aangebied het. Dís die ding wat sy nie afgesluk kan kry nie, dink sy toe sy die bitter slaappilletjie met nog ’n sluk water in haar keel probeer afspoel.

Toe sy wakker word, is die leegheid om haar oorverdowend. Marlene weet onmiddellik dat Tom weg is. Haar hand vind die oop spasie op die bed langs haar om seker te maak. Al wat sy voel, is die los oorfone wat sy in haar slaap moes uitgewoel het. Sy soek haar selfoon. Dis halfvier. Sy het byna veertien uur lank vas geslaap, besef sy toe sy dronkerig opstaan om vir haar oggendkoffie te gaan maak.

Marlene en die macho man

Подняться наверх