Читать книгу Tot siens, koning Arthur - Annelie Ferreira - Страница 4

Оглавление

Wat min mense van my weet, is dat …

… ek ’n seun se voortande uitgeslaan het in Graad Een. Dis nie heeltemal so ’n prestasie as wat dit klink nie – hy was in elk geval besig om te wissel.

Om eerlik te wees, was ek nie jammer daaroor nie. Eintlik dink ek nie een van die meisies in die klas was jammer daaroor nie, en die meeste seuns ook nie. Hy het met almal gesukkel, hulle rondgestamp of hulle goed afgevat of gebreek.

Maar daardie dag het hy die verkeerde girl se potloodblikkie op die vloer uitgegooi. My hou was vol op sy mond. Hy het soos ’n muis gepiep, toe rek sy oë – en toe spoeg hy twee bloederige tande uit. Toe moes jy hom hoor skree.

Die juffrou het ’n briefie vir my ma gestuur. Ek het vir my ma verduidelik wat gebeur het en sy het gesê wel, as die onderwysers te useless is om te help … Maar ek moes probeer om dit nie weer te doen nie.

Die ander ding wat min mense van my weet, is dat dit my droom is om ’n dokter te word. Dis hoekom ek my in ’n koma in werk vir wiskunde, skeinat en biologie. Ek is nie die slimste student nie, maar ek wil probeer om ’n beurs te kry.

Dis ’n droom wat begin het min of meer dieselfde tyd as wat die ou se tande gewaai het.

Ek was by ’n verjaardagpartytjie. Ek onthou nie veel van hoe die plek gelyk het nie, behalwe dat die mense ’n moewiese tuin gehad het. Vir my was dit omtrent soos ’n park, ’n miljoen keer groter as Ma se pot met die lelie in ons woonstel.

En verder onthou ek die harde slag waarmee die voël teen die glasdeur agter my op die stoep vasgevlieg het. Ek het my amper nat geskrik, maar toe ek die klein groen voëltjie op die klipteëls sien lê, het ek dadelik gehardloop en hom opgetel. Hy het perfek in my hande gepas, sag en warm. Sy ogies was oop.

Die tannie het oor my gebuk. “Ag nee,” het sy gesê, “hy’s dood, kyk hoe slap is sy nekkie. En ’n ou glasogie nogal. Hy sal nie weer vlieg nie.”

Toe ek eindelik ophou huil het, was dit nie oor die yslike stuk verjaardagkoek wat die tannie in my hand gedruk het, of die simpel hanswors se grappies, of my ma wat gedreig het om my ’n helse pak slae te gee as ek nie nou stilbly nie.

Dit was omdat ek besluit het ek sal eendag ’n dokter word. Sodat ek nooit weer iets so pragtig soos die gebreekte glasogie sal hoef te sien en te weet ek kan niks daaraan doen nie.

(468 woorde)

Sylvia van der Merwe

Graad 11A

Tot siens, koning Arthur

Подняться наверх