Читать книгу Tot siens, koning Arthur - Annelie Ferreira - Страница 7

Оглавление

Mens leer vinnig

Genade, dis warm in die Plaaskombuis. Ek sit dadelik die dakwaaiers aan, sal netnou vensters oopmaak. “Liewe Lulu” weergalm deur die plek, ek sal dit ook netnou binne wettige perke stel. Matthew is doof, hy het gehoorapparate in albei ore. Ek sou dit nie geweet het as Hein nie vir my gesê het nie, sy hare krul bo-oor. Hy praat wel ’n bietjie stadiger as ander mense, so asof hy sy woorde moet beplan (en elke liewe een suiwer Afrikaans, flippit!). En hy loop ook met ’n snaakse stappie, asof hy mank is of iets. Na my beskeie mening nie heeltemal jou eerste keuse vir restaurantbestuurder nie, maar blykbaar besit sy neef die plek.

Die tafellampe is nog nie aangesteek nie, maar dis darem nog lig. In die somer word dit later eers donker.

Partykeer irriteer Matthew my. Dit laat my skuldig voel, want eintlik behoort mens spesiaal nice te wees met iemand wat ’n gestremdheid het, dan nie? Dis net dat hy in ander opsigte ook … wel, gestremd is. Soos styl. Hy dra elke aand ’n das (uhm, dit is die Plaaskombuis, maar goed, as dit hom gelukkig maak …) saam met die soort strepieshemp wat mens by ’n pak dra, saam met ’n jean.

Ons almal is seker weird op ons eie manier, dalk gel sy soort weird maar net nie met my soort nie.

En op sy af aande speel hy brug saam met sy oupa. I rest my case.

Daar’s ’n gewerskaf in die kombuis. Iets ruik lekker, soos … gebraaide skaapboud? Met ’n geurtjie van patats? Maandagaande is dit altyd stil, dan is ek gewoonlik alleen. As dit nodig is, spring Matthew sommer in en help bedien. Sondagaande is ons toe en Donderdagaande is ek af. Die res van die week is ons drie kelners – ek en Hein en Pieter. Pieter het gedurig boyfriend-probleme en probeer permanent gewig verloor. Hy’s baie entertaining. Die laaste twee weke het ’n meisie tydelik in Hein se plek uitgehelp, Matthew sou hierdie week iemand anders kry.

Toe ek my handsak in die kassie agter die toonbank indruk, verskyn Matthew van die kombuis se kant. Hy het ’n lappie in sy hand.

“Guten Abend, Mädchen,” sê hy. Ag hemel, is ons nou weer op dáái storie? Dis een van Matthew se planne om oorsee te gaan backpack, nou leer hy meisies opchat in soveel tale as moontlik. Hy kyk my vraend aan. “Was ist los?”

Sy Spaanse en Franse pick-up lines is meestal verlore op my, maar ek het darem graad 9-Duits. En ek is nie lus vir simpel grappies nie, hy weet goed “was ist los” in my lewe. “Jy bedoel behalwe dat ek uit die skool geskors is en nie ’n clue het waar ek volgende jaar matriek gaan doen nie? Behalwe dit – nee wat, verder is als awesome.”

“Oi, Sylvia.” Matthew vryf oor die lappie in sy hand. “Moeilike tye. Maar jy behoort nie te sukkel om by ’n ander skool in te kom nie, sal jy?”

Op watter planeet bly jy, dude? Ek rangskik die wit voorskoot vererg oor my swart rompie en strik dit agter my vas.

“En as die skool maar al was.”

Ek tel ’n wynglas van die naaste tafel op en bekyk dit. Daar is ’n duidelike lipstiffiemerk op die rand. Check niemand hier die goed voor hulle tafel dek nie? “Actually wou ek nog altyd medies gaan swot het. Nou’s my kans verby, geen universiteit sal my toelaat nie.”

“Medies? Dis wonderlik! Hoekom sal jy nie toegelaat word nie?”

Duh?

“Hulle keur vir medies, Matthew! Hulle soek nie net jou punte nie, hulle soek jou hele pedigree.” Nog ’n vuil glas. “Ek vat die glase terug kombuis toe, hulle het vuil merke op, ek weet nie wie’t hier gedek nie.” En dan sommer die musiek sagter sit. Ek hou self van iets met ’n lekker beat, maar regtig – Liewe Lulu? “Wat’s vanaand se specials?”

Matthew begin die skryfbordjie bo langs die toonbank energiek afvee.

“’n Smullekker nuwe voorgereg van nat biltong en geroosterde beet op ’n vars groenslaai,” sê hy. “Vir hoofgereg gebraaide skaapboud met roosmaryn-en-knoffel-aartappels en oondgeroosterde groente.” Hein sê altyd Matthew sal selfs ’n kriek soos kreef kan laat klink. Hy tel die wit kryt op. “En heerlike outydse hoenderpastei met geurige rys, soetpatats en …”

Ek mis Hein. Ek mis hom al twee weke.

Hy was hier die heel eerste aand toe ek by die Plaaskombuis begin werk het. Dit was my eerste waitressing job – voor dit het ek by die troeteldierwinkel gewerk – en amper my laaste.

Dit was ’n aand om te onthou.

Alles het heel oukei gegaan tot die man met die rooi gesig en bles saam met sy vrou hier aangekom het.

Hy was van die begin af irriterend, het idiotiese aanmerkings gemaak oor die nuwe talent en wat sal ek bereid wees om te bedien vir ’n ekstra groot tip en sulke strooi. Sy vrou – ek het aangeneem dis sy vrou, dalk het mens nie baie keuses as jy ’n vierkantige lyf, kort grys hare en ’n te prominente kakebeen het nie – se enigste bydrae tot die happy chatter was dat sy ’n glas huisrooiwyn wou hê, en ’n T-bone steak.

Dis toe ek oorleun om die bord beesstert voor hom neer te sit dat ek sy hand voel, soos ’n kakkerlak al op teen my binnebeen.

En oepsie, waar verloor ek tog my balans en tip die hele bord beesstert net daar om in sy skoot.

Natuurlik uitgefreak vir Engeland. Eers gedreig om koerant toe te gaan (yeah, right), toe om al sy vriende te vertel, en toe wil hy hê ons moet vir hom ’n nuwe broek present gee. Shame. Matthew het hom gekalmeer en help skoonkry (eow) en ’n nuwe bord beesstert op die huis aangebied, wat hy self vir Mister Charming gevat het. Sy vrou het sonder ’n woord aan haar T-bone weggeval en geëet tot haar gesig geblink het.

Elke keer as ek verby Hein geloop het, kon ek sien hy wou bars van die lag. Ná die tyd het hy my ’n paar tips gegee oor hoe om mans uit te check en buite vroetelafstand te staan indien nodig. Hy het my laat belowe dat ek hom sou sê as een van my tafels rêrig uitrafel, dan sou hy oorvat. Niemand sou met hom probeer lol nie. (Daar was wel eenkeer ’n insident met ’n damesleeskring ná drie bottels rooiwyn, het ek later gehoor.)

’n Paar aande later het Ma my by die Plaaskombuis kom aflaai, want my poegie wou nie vat nie. Met toemaaktyd het Hein my ’n lift huis toe gegee in sy antieke Toyotatjie. Hy het gevra of ek al motor kan bestuur, en ek het gesê tel ’n Corsa vir ’n motor, want ek kan Ma s’n bestuur. Hy het gelag en gesê as ek sy Toyota kan bestuur, sal ek enige ding kan bestuur. Ons het afgespreek dat hy my die naweek sou kom oplaai vir ’n oefenrit.

Ek het hom nooit gevra om ’n tafel te kom oorvat nie. Mens leer vinnig. Maar niemand waiter so goed soos hy nie, hy kry altyd die grootste tips.

Die deurklokkie dieng-dong. Dis vroeg vir ’n Maandagaand. Dalk mense met klein kindertjies? Ek rek my nek.

Toe nie. Dis ’n middeljarige paar met ’n handvol kinders omtrent my ouderdom, ’n dude met ’n dapper poging tot facial hair en twee meisies wat …

Oooh boy.

Ek kyk benoud rond. Matthew is terug kombuis toe.

Chill, Sylvia, dit was onvermydelik. Die wêreld is vol graadelfs en die kanse was goed dat een van hulle die een of ander tyd by die Plaaskombuis sou opdaag. Die meisie was nou wel nie in my klas nie, maar sy sal weet. Almal sal teen dié tyd weet, dis die soort storie wat niemand so gemeen sal wees om net vir homself te hou nie.

Die groepie kyk afwagtend na my. Hein is in Durban, Matthew is in die kombuis, jy het jou bed gemaak en nou moet jy daarop slaap, sussie. Dis wat Ma altyd sê. Dis wat die Van der Merwe-vroue doen.

Ek stel my gesig op verwelkomend en stap nader. Moet nou net nie begin bloos nie. Moet net nie …

Ek voel hoe ek begin bloos.

“Hallo! Tafel vir vyf?” Ek kan omtrent voel hoe raak my glimlag aan my ore. Ma sê altyd sy’t nie verniet al daai geld vir draadjies betaal nie, wys jou tande!

“Rook of nie-rook?”

Ek lei hulle na ’n tafel toe, dit voel of hulle oë gate deur my rug steek.

“Iets om te drink solank?”

Toe ek wegstap met hulle bestelling, is daar vir ’n paar oomblikke stilte agter my. Toe hoor ek die graadelfmeisie. Sy fluister, maar ek kan elke woord uitmaak. “Dis die girl wat geskors is oor …”

Ek loop so regop as wat ek kan, heelpad kombuis toe.

Binne sit ek glase en drinkgoed bymekaar, gesels met Matthew, als is cool, cool.

As Hein net hier was.

Tot siens, koning Arthur

Подняться наверх