Читать книгу Tot siens, koning Arthur - Annelie Ferreira - Страница 8

Оглавление

Dis goed om te weet

Dis dieselfde reuk. Gister het ek gedink dis kool. Hulle het kool gekook vir middagete, maar glory, hulle kan dit seker nie elke dag kry nie? Daar’s iets anders ook by. Ek kan nie agterkom wat dit is nie, maar dis nie lekker nie.

“Ons is agter vanoggend. Die helfte van die kombuispersoneel het nog nie opgedaag nie, seker weer probleme met die busse.” Fyn druppeltjies sweet blink op suster Pretorius se bolip. Ek skarrel agter haar af in die gang. Vir so ’n fris tannie kan sy laat wiel.

Sy gaan staan en kyk na ’n groen deur waarop Mev. H.G. Breed in swart letters staan. “Kry jy vir tannie Breed en bring haar eetkamer toe. Die verstand is nie te sleg nie, maar sy’s stadig, partykeer het sy hulp nodig.”

Sy klop aan die deur en maak dit oop sonder om op ’n antwoord te wag. “Tannie Breed?” Sy kyk binnetoe. “Hier’s ’n nuwe meisie, Guinevere, wat tannie gaan help klaarmaak.”

“Sylvia,” sê ek.

’n Geraas in die gang. Dieselfde omie van gister kom met sy loopraam aangejaag. Freaky. Het hy ’n oefenprogram of wat?

Suster Pretorius steek haar hand na hom uit. “Môre, oom. Kom ons stap gou saam eetkamer toe.” Sy knik vir my en wikkel weg.

Mev. H.G. Breed.

Ek stoot die deur versigtig verder oop. Binne aan die linkerkant is nog ’n deur wat na ’n badkamertjie lei, die res lyk soos ’n bachelor flat. Ek stap in. Voor my in die regterhoek is ’n yskassie en kombuisgoed, en voor die venster ’n tafeltjie tussen twee geblomde leunstoele. Aan die linkerkant is ’n enkelbed met ’n gehekelde beige deken en ’n outydse laaikas met portrette op.

Op die kant van die bed, soos ’n voëltjie, sit ’n fyn vroutjie met kort, skeefgeslaapte wit hare en ’n silwerraambril. Sy het ’n wit sybloesie aan met ’n navy oopknooptrui en romp.

Sy is kaalvoet.

Ek huiwer. Ma kraam as iemand vir háár “tannie” sê. Oukei, so sy’s net vyf-en-dertig, maar …

“Mevrou Breed?” probeer ek. “Ek is Sylvia. Ek kom mevrou net haal vir ontbyt.”

Mevrou Breed lyk verras. “Goeiste, is dit al tyd vir ontbyt?”

“Ja.” My oë dwaal na haar bene. Hulle is oortrek van pers aartjies, nes fyn tattoos, dig om haar enkels en voete. “Mevrou moet net gou skoene aantrek.”

Sy kyk af. “Goeiste, ja.” Sy kyk rond. “Nou waar het ek my pantyhose gesit?”

Pantyhose? “Hulle sê dit gaan warm word vandag,” waag ek dit.

“Ek trek altyd pantyhose aan, op my ouderdom kan ek nie meer kaalbeen loop nie,” sê sy vriendelik. “Dalk is dit nog in die laaikas. Wil jy nie vir my in die boonste laai kyk nie?”

Nie eintlik nie, nee – sê nou iemand kom skielik hier in en dink ek krap in ’n arme oumens se kaste rond?

Maar dit voel nie na die regte oomblik om my lewensgeskiedenis te deel nie.

Ek trek die boonste laai senuweeagtig oop. Fotoalbums in die een hoek, langsaan ’n haardroër en dan onderklere, onder meer ’n nessie beige pantyhose.

Ek trek een paar uit. Persoonlik pes ek pantyhose, dit sak af en laat my bene jeuk. Dan praat ek nie eens van die mission om in die blinking goed te kom nie – mens moet omtrent ’n Downward Facing Octopus uitvoer.

Mevrou Breed lyk nie of joga heeltemal haar ding is nie. Hoe kry sy die kouse aangetrek?

“Kan ek mevrou help om dit aan te trek?” vra ek terwyl ek my hand tot by die een been se tone insteek.

“Dankie.” Sy lyk weer verras. “Dis gaaf van jou.”

Ek hurk voor haar, lig een pers voet op. Flippit, haar toonnaels is gross! Hulle is bitter lank laas geknip. Kyk die mense by dié plek nie na sulke goed nie?

Ek druk my lippe op mekaar en trek die een sokkiedeel oor haar regtervoet, dan die ander oor haar linkervoet, op tot by haar knieë. Sy staan van die bed op en trek die kouse self verder op.

Ek kyk na die ingeboude kas. “Waar is mevrou se skoene? In die kas?”

“Dankie, hartjie, ja.”

Ek maak ’n kasdeur oop. Op die vloer aan die binnekant is ’n klompie skoene netjies in rye gepak: swart sandale met dik bandjies, plein bruin laehakskoene, plein navy laehakskoene … Green Cross is seker die Jimmy Choo’s van ouetehuise.

“Die navy paar?” vra ek.

“Die navy paar, dankie.”

Ek bring dit vir haar. Mevrou Breed hou aan die bedstyl vas terwyl sy stadig eers die een voet in ’n skoen wikkel, dan die ander.

“There you go,” sê ek.

Mevrou Breed glimlag vir my.

“Ek stap sommer saam eetkamer toe,” sê ek.

Ek wag dat sy uit is voor ek haar woonstel se deur agter ons toetrek. Dit voel amper asof ek saam met Fransie loop en kort-kort moet kyk of hy nog by is.

Die gang is donker. Daar is ’n paar venstertjies, maar dis aan die suidekant, weg van die son.

Die reuk raak sterker.

“My dogter kom vandag,” gesels mevrou Breed. “Dan vat sy my vir koffie by die Koffieboon. Dis baie naby, ons stap sommer soontoe.”

“O? Dit klink lekker. Ek ken nie die Koffieboon nie, maar ek weet hier naby is ’n plek met winkeltjies.”

Die reuk word sterker. Toe ons om die hoek stap, staan een van die skoonmakers langs ’n trollie met skoonmaakgoed en vryf die vloer met ’n mop. Sy tel ’n bottel met geel vloeistof op en spuit dit op die vloerteëls.

Dis ontsmettingsmiddel.

Ek gaan staan. “A, dan’s dít wat ek die hele tyd ruik,” sê ek vir die vrou. “Ek het gewonder.”

“Ja, ons gebruik die ekstra sterk ene. Hy’s goed. As iemand ’n ongelukkie kry, vat hy die reuk gou weg.”

Die reuk dryf op in my neus, gaan sit vas in my sinusse. Ek kyk vinnig rond vir mevrou Breed. Sy wag geduldig vir my.

“Dis goed om te weet,” sê ek. Ons begin weer loop.

Tot siens, koning Arthur

Подняться наверх