Читать книгу 'n Kameel, 'n sprinkaan en 'n vrot tamatie - Annelie Ferreira - Страница 3

Оглавление

1

Blaf-blaf-blaf!

Niks cools gebeur ooit op Koedoesdorp nie.

Elke dag is dieselfde, die een so vervelig soos die ander.

Veral Maandag-oggende.

Ons sit om die kombuistafel. Pa knars aan sy graan­kos terwyl hy aan sy hemp se kraag trek. Sewe-uur in die oggend sweet hy al. Hy haat dit om ’n das en pak aan te trek vir werk.

Veral op Maandag-oggende.

Anneke sit en staar na haar jogurt. Sy lyk soos ’n zombie, behalwe dat ek dink ’n zombie nie dood gesien sal wil wees met sulke deurmekaar hare nie.

Ek vat ’n slukkie lemoensap terwyl ek met Pa se pen sit en krap op Die Koedoesdorp Nuus. Dis te erg om so stil te sit, nou teken ek maar goeters, op enige stukkie papier. Nie dat dit help op Koedoesdorp nie.


Ma praat. Sy praat soos ’n trein. As sy roep: “Tyd om te kom eet!” is dit soos een van daardie treine wat toet voor hy reg deur Koedoesdorp jaag.

“. . . en dan moet ons hierdie week die rose spuit,” sê sy vir Pa, “hulle lyk pragtig al sê ek dit self ek dink ek sal die tuinkompetisie kan wen en my petunias het nog nooit so goed gelyk nie hulle is vol in die blom Hannes luister jy?”

“Hrmf,” sê Pa.

Iets roer teen my bene.

Ma trek weer los. “. . . maar oom Jan het al weer van sy vrot tamaties op my gras gegooi daai ou man se kop is nie lekker nie a nee a sussie ons het dan gesê geen selfone aan tafel nie waar’s jou maniere?”

“Een van my pelle SMS my dalk, Ma!” Anneke se kuif wip oor haar neus.

“Ja, om te sê sy het ’n nuwe puisie,” brom ek agter my lemoensap.

“Hei! Jy gaan ook puisies kry, wag maar!” sê Anneke.

Ma se oë flits na my. “Gerrie is jy besig met huiswerk daar?”

Ek sit die pen vinnig neer. “Nee, natuurlik nie, Ma. Ek het net . . .”

Huiswerk. Huiswerk? Ek onthou iets vaags. Eendag lank, lank gelede, toe dit nog Vrydag was, het ons somme en ’n opstel gekry om te doen vir vandag.

Ek begin sweet nes Pa.

“. . . en dan moet ek hierdie week koekies bak,” sê Ma, “ek het nou die dag gaan kyk by die bakkery maar die pro­bleem hier op Koedoesdorp is dat niemand behoorlik kan bak nie.”

Iets krap saggies teen my bene. Ek loer vinnig na Ma voor ek ’n stukkie kaas van my roosterbrood op die vloer onder die tafel laat val.

Hap! Slurp!” Ek hoes gou sodat Ma dink dis ek.

Dan gaan sit Rolfie weer teen my bene.

Rolfie is swartbont en harig. Pa sê hy lyk soos ’n kruis tussen ’n Rottweiler en ’n Yorkie.

Partykeer dink ek aliens het hom hier gelos toe hulle terug is na hulle planeet.

“En jou hare moet ook hierdie week gesny word,” praat Ma verder met Pa. “Koedoesdorp se bankbestuurder kan nie met sulke hare rondloop nie.”

Pa lyk treurig.

“Jy moet Gerrie sommer saamvat dat sy hare ook . . .”

Skielik is daar ’n gegrom onder die tafel en jy sien net ’n harige pyl oor die kombuisvloer trek. Uit by die agterdeur, blaf-blaf in die agterplaas.

Pa sit sy lepel in sy leë papbak neer. Anneke sug.

Niemand steur hulle aan Rolfie nie, natuurlik. Die ge­vaarlikste ding waarvoor hy ooit blaf is sy skaduwee.

“Eintlik moet jou hare ook ’n slag gesny word dis vreeslik slordig,” sê Ma vir Anneke.


Blaf-blaf!

“Ma! Ek het gesê ek laat dit groei vir die Graad Sewe-afskeid!”

Blaf-blaf-blaf!

“Aarde, daardie brak kan darem raas,” sê Pa terwyl hy opstaan.

Ek kan nie stry nie. Rolfie se skaduwee moet vanoggend baie groot wees.

Pa loop na die agterdeur toe.

“Rolfie!” roep hy. Toe steek hy vas. Sy oë rek. Hy kyk na Ma. “Daar’s ’n kameel in die tuin,” stotter hy. “Hy is besig om jou rose te vreet.”


'n Kameel, 'n sprinkaan en 'n vrot tamatie

Подняться наверх