Читать книгу 'n Kameel, 'n sprinkaan en 'n vrot tamatie - Annelie Ferreira - Страница 4
Оглавление2
Die beste Maandag in jare!
Ma se stoel kletter om, so vinnig spring sy op. Ons storm na die agterdeur toe.
Ek rek my nek om verby Ma en Anneke te sien. ’n Yslike kameel met ’n groot pakaas op sy rug krul sy lippe om een van Ma se rooi rose.
“Hei! Kom weg daar van my rose!” skree Ma en swaai haar arms terwyl sy na die kameel toe hardloop.
“Ma! Pasop!” gil Anneke en stamp Ma uit die pad, net betyds weg van ’n ander kameel wat honger na haar oorringe hap.
Bo-op die kameel sit ’n vreemde man, toegewikkel in lae wit materiaal en ’n kopdoek. Agter hom sit ’n kind ingeprop.
“Goeie hemel,” fluister Pa.
Ek knip my oë.
Die agterplaas wemel van kamele en mense in wit klere toegewikkel! Daar is ’n vrou ook, maar die meeste moet kinders wees, van verskillende groottes.
Rolfie gaan mal.
“Dit,” sê Anneke terwyl sy wild begin klik op haar selfoon, “gaan die coolste foto’s ooit op my Facebook page wees.”
“Luister, Meneer.” Pa loop na die kameel met die man op. “Dis privaat eiendom hierdie. Ek weet nie waarvandaan julle kom nie, maar julle sal moet . . . Hei, hei, hou die kameel van my af!” Pa spring eenkant toe, maar die kameel kom reg op sy das afgepyl. “Hei, skoert jy!”
Blaf-blaf-blaf!
Waar is Rolfie? Ek kyk rond. In die verste hoekie van die tuin kan ek ’n snoet bewerig agter ’n bos sien uitsteek.
“My tuin!” kerm Ma. “My pragtige tuin!”
“Alles is reg, Rolfie!” roep ek.
Klik! Klik! Anneke swaai haar selfoon. “Ek gaan dit op YouTube sit! Ek gaan beroemd wees!”
Iets raas nog meer as Rolfie. Ek kyk om. Dis die vrou in wit klere. Dit klink of sy besig is om te skel op die man op die kameel wat besig is om Pa al om die tuin te jaag.
“GPS! Horwoentoe GPS! Bommiekats GPS!”
GPS? Dis mos wat jy gebruik om vir jou te sê watter pad jy moet ry as jy na ’n vreemde plek toe gaan?
“Pa?” Ek gryp Pa aan die arm toe hy voor my verbyhardloop. “Ek dink hulle het verdwaal! Die vrou sê GPS!”
Pa ruk los. “Moenie byt nie, asseblief!” roep hy benoud. “Skoert!”
“Ma? Anneke?” Niemand hoor my nie. Ek hol die huis in, na die boekrak in die woonkamer. Op die middelste rak trek ek die groot kinderatlas uit, en draf weer terug tuin toe.
Die man het nou afgeklim en hou sy kameel vas aan sy teuels. Pa staan langs die man en hyg. “Sirkus?” vra hy. “Het julle dalk uit ’n sirkus ontsnap?”
“Nee!” gil Ma.
Ek swaai om. ’n Kameel het pas ’n yslike hoop bollie gemaak – reg op Ma se beste pers petunias.
“Of uit ’n dieretuin?” vra Pa.
“Kwantolong!” sê die man. “Kwantolong!” Hy gooi sy hande in die lug. “GPS!”
“Pa, ek dink hulle kom van ver af,” sê ek en maak die atlas vinnig oop, by Afrika. “Hier’s ons nou in Suid-Afrika, sien Oom?” sê ek vir die man. Ek druk my vinger op die bladsy. “En hier is Koedoesdorp.” Dan wys ek rondom ons, in die tuin. “Koedoesdorp.”
Ma kom nader gesteier.
“Koedoewop?” vra die man.
“Ja, ja!” sê ek opgewonde.
Die man skud sy kop. “Hieng Koedoewop. Hieng.”
Iets stamp verby my, een kind jaag ’n ander een met ’n roostak dat jy net wit klere sien flap.
Ma lyk grys.
Pa druk op ’n entjie hoër op die atlas. “Zimbabwe?”
Die man frons en skud weer sy kop.
“Zambië?” Pa se vinger beweeg al hoe hoër op in Afrika, maar elke keer skud die man sy kop. “Kenia? Tanzanië? Die Sahara-woestyn?”
“Sahhro?” Die man glimlag breed en knik sy kop. “Sahhro! Sahhro!”
Pa fluit tussen sy tande deur en loer na Ma. “Goeiste, ou Swaer, julle is so verdwaal dis nie snaaks nie.”
Ma lyk nog gryser.
Ek grinnik. Dis die beste Maandag-oggend wat ons in jare gehad het.