Читать книгу 'n Kameel, 'n sprinkaan en 'n vrot tamatie - Annelie Ferreira - Страница 5

Оглавление

3

Nuwe Facebook-vriend

Anneke kom aangehardloop. “Ek’s nou Facebook-friends met daai ou daar anderkant! Hy’s ook dertien.” Sy druk haar selfoon onder ons neuse. “Kyk! Nou het ek ’n Chinese friend, kyk hoe cool skryf hy sy naam! Dis net krulletjies, niemand kan dit lees nie!”

“Anneke, die mense is nie Chinees nie! Hulle kom uit die Sahara.” Ek kyk op. Teen die heining staan die ou, omtrent net so lank soos Anneke. Hy is besig om iets te kou en hy lyk presies soos Anneke as ons iewers is saam met Pa en Ma en sy nie daar wil wees nie.

“Nou is die vraag,” sê Pa stadig, “hoe kry ons hulle te­rug in die Sahara?”

Die vrou begin weer praat, nog vinniger as Ma. “Gro­mika GPS Latoeba GPS Soepsiepaap GPS!”

Die man se skouers hang.

Ek dink miskien gaan hy sy GPS nie gou weer gebruik nie.

Tussen die gepraat deur klink daar ’n nuwe geluid op, iets wat piep.

Sj-sj-sj.” Die vrou steek haar hande onder haar klere in en haal ’n bondeltjie uit. Die gepiep word harder. Dis ’n baba!

Ma gee ’n lang sug. “Wel, ons kan nie die mense net hier laat staan nie, kan ons?” Dis vreemd hoe stadig sy praat. Sy vee oor haar hare. “Kom saam,” beduie sy vir die vrou. Dan kyk sy vir Pa. “Sorg jy dat die kamele iewers vasgemaak word, weg van my rose. Daar by jou braaiplek is die beste plek.”

“My braaiplek?” vra Pa benoud.

“Ja, hulle gaan nie my tuin verder verniel nie! Anneke, gaan sit jy solank die ketel aan vir tee en Gerrie, begin jy kinders bymekaarmaak. Dit lyk my hier is omtrent vyf . . . sewe.”

Rolfie het ophou blaf. Voor die bos waar hy laas weg­gekruip het, staan ’n seun omtrent so groot soos ek en steek sy hand uit na ’n swart snoet.

“Hei! Pasop daar!” Ek draf soontoe.

Die seun trek sy hand vinnig terug. Onder die kopdoek kyk twee donkerbruin oë versigtig na my.

“Rolfie kan partykeer gevaarlik wees,” verduidelik ek. Wel, hy kan, as jy ’n blaar is, of ’n dooie muis. Rolfie het een­keer gehap na ’n dooie muis.

Nou lyk Rolfie darem nie te kwaai nie. Sy stert swaai en sy pienk tong flap vrolik. Ek krap sy bors.

“As jy wil, kan jy hom ook ’n bietjie vryf,” sê ek vir die seun en wys na Rolfie.

Die seun steek sy hand uit en begin ook Rolfie se bors te krap. Voor ek kan keer, spring Rolfie vorentoe en lek die ou se gesig sopnat! Hy lag te lekker en wikkel sy neus.

“Ons moet ingaan huis toe,” sê ek. “En al jou broers en susters saamvat.”


Die seun hou aan om Rolfie te vryf.

“Gerrie!” roep Ma.

Ek stamp liggies aan die seun. “Dude, my ma roep,” wys ek na Ma. “Jy weet, ma? Kwaai? Jap-jap-jap?”

Dit lyk of ’n liggie aangaan in die ou se oë. “Jabbejab,” sê hy.

“Presies. Kom, Rolfie!”

Pa is by Ma se kaal roosbome, besig om te stoei met ’n kameel. “Ho nou, ho nou . . . Eina! Dit was my groottoon, oukei!” Hy spring eenkant toe.

Die man loop na Pa toe. “Spieroenpiekel,” sê hy en vat die kameel se teuels.

Die kameel skud sy kop en rem terug, maar dit help niks, die man het hom stewig beet. Ek wonder hoe dit sal wees om op die kameel te ry, tussen sy twee boggels. Dit moet nog meer pret wees as op ’n fiets.

“Hierdie kant toe,” wys Pa vir die man. “Na my braai­plek toe.”

In ons huis is dit so deurmekaar soos nog nooit tevore nie. Oral is kinders in wit klere, wat soos voëls kwetter in hulle vreemde taal. En die baba se gepiep het nou in ’n gebrul verander.

“Mieliepap,” sê Ma. “Julle eet seker mieliepap? Kyk, so lyk die meel?”


Ek hoor water loop in die badkamer, en draf soontoe. Daar staan drie kinders en draai die krane oop en toe. “Wag, julle! Los die krane! Kom saam kombuis toe.” Ek wys in die gang af. “Kombuis toe.”

Ek kon net sowel deurskynend gewees het, die kinders steur hulle niks aan my nie.

“Gierakoe!” sê een van die seuns agter my.

Die kleintjies brom, maar volg hom die gang af. Ek draai die krane agter hulle toe.

In die kombuis gaan dit nog doller as netnou. Anneke en haar nuwe vriend staan en glimlag breed terwyl een van die kinders hulle met haar selfoon afneem.

Pa is nêrens te sien nie, maar ’n kind bring ’n lapsak vir die vrou.

“Poejab,” sê die vrou en maak die sak oop dat Ma kan sien.

“Hm,” sê Ma. “Interessant, ’n soort gemaalde graan. Ons kan hiervan ook kook.”

Pa kom ingehink by die deur. “Die kamele is vas by die braaiplek,” sê hy. “Hulle kan skop ook. Hard,” en hy vryf sy been.

“Anneke! Gerrie!” sê Ma skielik. “Dis amper agtuur. Julle gaan laat wees vir skool!”

“Ma, duh, ons kan nie vandag skool toe gaan nie!” sê Anneke. “Ons moet help met die mense.”

Ons moet!

“Nee a, so werk dit nie,” sê Ma. “Toe, vat die fietse, as julle vinnig ry sal julle nie te laat wees nie.”

“Maar Ma!” kerm ek en Anneke saam.

Dit sal nie die eerste keer hierdie kwartaal wees wat ek laat gaan wees nie – of die tweede, of selfs die derde keer nie. En juffrou Pieters verstaan nooit dat daar altyd ’n baie goeie rede voor is nie.

Ons kan net sowel met ’n kameel praat. “Hier’s julle kosblikke. Toe-toe, weg is julle!” sê Ma.

Ek sleep my voete kamer toe om my tas te gaan haal.

'n Kameel, 'n sprinkaan en 'n vrot tamatie

Подняться наверх