Читать книгу Die einde van die reënboog - Annelize Morgan - Страница 3
1
ОглавлениеColette en oupatjie Jerôme de Villiers staan met hulle trommels en sakke om hulle gestapel op die wit strand van die Kaap van Goeie Hoop. Hulle lyk ietwat verlore te midde van die bedrywigheid om hulle. Die koue, onvriendelike voorkoms van die kasteel en die klein huisies en ander geboutjies daaromheen, is glad nie wat hulle verwag het nie.
“Ja,” sug oupatjie Jerôme, “dis nou ’n gebodder.”
Colette kyk na hom.
“Ons kan nie die hele dag hier bly staan nie. As Oupa nou hier sal bly by die bagasie, dan gaan soek ek iemand om ons hier weg te neem.”
Jerôme vryf sy ken ywerig.
“En waarheen sal hy ons neem?”
“Na ’n herberg of Kasteel toe. Iewers moet ons tog ’n begin maak.”
“’n Begin!” hik die ou man. “Op mý ouderdom moet ek ’n begin maak! Ek en jou oorlede ouma het ons begin sestig jaar gelede gemaak! En drie-en-dertig jaar gelede moes ek wéér ’n begin maak! Nou is ek twee-en-tagtig en ek wil nie wéér ’n begin maak nie!”
“Wag nou, Oupa! Dit sal nie help om hier op die strand te staan en kla nie. Ek gaan nou eers iemand soek om ons na ’n herberg toe te neem. Môre kan ons kyk wat ons kan doen om aan die lewe te bly.”
Toe Colette wegstap, skud die ou man sy kop en gaan voort om hardop met homself te praat.
“Liewe deug! Waarin het ek my hiérdie keer laat beland? Onse klein Colette gaan nog my einde beteken.”
Twee jongmeisies kyk nuuskierig na hom en Jerôme vergeet ’n oomblik van sy penarie. Met ’n skelm kennersoog betrag hy die vietse lyfies en grinnik. “Ek is nog g’n oud nie, Moedertjie,” gesels hy ingenome met sy oorlede vrou. “As ’n man nog kyk en wéét hoekom hy nog kyk, is hy glad nie oud nie.”
Die strand raak vinnig verlate. Na ’n ruk is dit nog net Jerôme wat eensaam op een van die trommels gaan sit het en sy lot bekla. Elke nou en dan snuif hy hard omdat sy hart baie seer is. Die trane bly ook nie weg nie.
’n Bebaarde man staan hom op ’n afstand nuuskierig en bekyk. Na ’n ruk stap hy kopskuddend nader.
“Het hulle jou vergeet, Oompie?” wil hy simpatiek weet.
Jerôme staan stram op.
“Ek is Jerôme de Villiers en niemand vergeet vir Jerôme de Villiers nie, seunie!”
Die man grinnik.
“Nou wat maak Oompie dan so alleen hier? ’n Mens sit mos nie sommer net en grens vir niks nie.”
“Ek het nie gegrens nie!” bars oupatjie Jerôme in sy dun stemmetjie los. “Dis die seelug wat my oë laat traan en my neus laat water. Dis die see, sê ek jou. Ek kon nog nooit naby die see bly nie!”
“Dan moes Oompie nie na die Kaap gekom het nie. Hier is ons altyd naby die see.” Hy lag sag. “Ek is Jacques de Ville, en as ek Oompie van enige hulp kan wees, moet u maar net sê.”
Oupatjie Jerôme is in ’n tweestryd. Die man lyk vir hom heeltemal betroubaar en dit lyk nie asof hy enige kwade bedoelings het nie.
Uit die hoek van sy oog sien hy Colette aangehardloop kom en sug verlig.
“Hier is my kleindogter nou net.”
Colette bereik hulle uitasem.
“Ek kon nie vervoer kry nie, Oupa, maar ons kan verblyf kry in die Goue Kat.”
Jacques maak ’n buiging.
“Ek kan julle soontoe neem, mademoiselle.”
Sy kyk agterdogtig na hom.
“En wie is u?”
Oupa lig sy hande afwerend.
“Hy is nie ’n slegte man nie, chérie.” Hy kyk na De Ville. “Dankie, monsieur, ons sal dit waardeer as u ons met vervoer kan help.”
Colette frons liggies.
“Oupa …”
“Stil nou, meisiekind! ’n Mens moet ’n guns met waardigheid kan aanvaar.”
Sy sug liggies en kyk agterdogtig na die bebaarde man.
“Nou maar goed. Dankie, monsieur.”
Madame Roubaix, die hospita van die herberg, is ’n vriendelike maar ietwat baasspelerige soort vrou. Sy rammel die reëls van die herberg vir die twee mense af.
“Geen drank in die kamers nie en geen gesnuif in die bed nie,” eindig sy. “As julle iets wil hê, moet julle mý daarom vra. Aangename verblyf, monsieur en mademoiselle.”
“Wel!” sê Colette verlig, “nou kan ons aan môre begin dink.”
“Môre … ag, Moedertjie, waarin het ons ons begewe?” kla Jerôme.
“Selfbejammering gaan ons niks in die sak bring nie,” sê Colette beslis. “Oupatjie was vroeër ’n goeie tuiemaker en ons het die gereedskap saamgebring. Môre gaan ons iewers ’n werkie vir Oupatjie soek!”
“Tuiemaker … jy weet nie wat jy sê nie! Dit was twintig jaar gelede! Ek sal my vingers vol gate steek met die els en hoe sal ek daardie skerp messe nog kan hanteer?” Hy hou sy knopperige hande voor hom uit. “Hulle bewe al van die ouderdom! Ek sal nooit weer ’n tuig kan maak nie!”
“Oupatjie,” sê Colette kwaai, “daardie hande bewe niks. Hulle bewe nie eens ’n ou bietjie nie.”
Jerôme kyk af na sy hande asof hy dink dat sy hande hom verraai het. Sy verstand werk in die hoogste versnelling. As hy nou net so ’n ou klein, skadelose siektetjie kan optel, sal sy hande begin bewe en sal Colette hom met rus laat.
Colette bekyk hom agterdogtig. Sy weet dat hy weer iets in die mou voer. Jerôme het nog nooit ’n ding sommer net so aanvaar nie. Hy is altyd vol planne oor hoe om homself uit ’n situasie te wikkel waarvan hy nie hou nie. Hierdie keer, neem sy haar voor, gaan sy vir hom ’n werk kry. Wanneer hy ledig is, doen hy altyd die een of ander onbesonne ding en dan moet sy agterna gaan probeer om hom weer daaruit te kry.
Van die tuiemakery kom daar egter niks. Jerôme kan werklik nie meer ’n tuig maak nie. Die steke van die stikwerk is onegalig. Of hy dit moedswillig gedoen het, weet Colette nie. Dat die ou man al ’n bietjie oud is vir dié soort fyn werk, ly egter geen twyfel nie en sy is ietwat bekommerd toe hulle na die herberg terugkeer.
Sy ingenomendheid laat haar egter op haar tande byt. Só maklik gaan hy nie wegkom nie. Sy kan hom onmoontlik bedags alleen los om te gaan werk. Hy sal net weer in die moeilikheid beland en sy wil dit tot elke prys verhoed.
Madame Roubaix keer Colette voor toe sy en haar oupa na hulle kamer wil gaan.
“Ek het iemand nodig in my eethuis,” sê sy en beskou die skraal meisie van kop tot tone. “As jy nog nie werk het nie, sal ek jou huur teen twee riksdaalders per week met gratis inwoning en kos.”
Colette aarsel. Met só ’n karige salaris sal sy nie juis ’n ordentlike bestaan kan maak nie en sy het ook nog vir Oupa om te versorg. Dis egter ’n begin en terwyl sy hier is, kan sy ’n beter werk soek.
“Dankie, madame, maar ek moet ook nog vir my oupa ’n werkie kry.”
Madame Roubaix lag hardop.
“En wat kan dié ou bokram doen?”
Colette bloos verleë terwyl Jerôme soek na woorde om die astrante hospita te antwoord.
“Hy was altyd ’n tuiemaker, madame.”
Madame Roubaix snork.
“Ek het nie werk vir ’n tuiemaker nie. As hy bereid is om te werk, kan hy groente in die kombuis kom skil. Ek sal hom ’n riksdaalder per week betaal en dieselfde voordele as vir jou gee. Hy kry dan ook kos en verblyf gratis.”
Voordat Jerôme van sy verontwaardigde verbasing herstel het, sê Colette: “Dankie, madame. Dit sal ons baie help.” Sy sleep Oupa van die hospita af weg voordat hy iets sê wat sal veroorsaak dat madame Roubaix haar aanbod terugtrek.
In die kamertjie druk sy die ou man op die bed neer.
“Nou, Oupa, u gáán in die kombuis help totdat ons iets beters raakloop en ek sal nie ’n teëpratery duld nie.”
“Sy is ’n rower, daardie vrou!”
“Sy gee ons kos en slaapplek, Oupa. Met die paar riksdaalders kan ons ander noodsaaklikhede koop.”
Jerôme druk sy ken vorentoe.
“In die kombuis! Ek sal al my waardigheid kwyt wees!”
Sy kyk kwaai na hom.
“Oupa kón ’n tuiemaker gewees het.”
Die ou man bly tjoepstil. Hy is nou spyt dat hy so ’n gemors van die tuie gemaak het. Hy kon dit beter gedoen het, maar hy was nie lus om op sy oudag te gaan werk nie. Nou het Colette hom netjies in ’n hoek gedryf.
“Ek sal die wêreld vir daardie ou merrie moeilik maak,” brom hy.
Colette skud haar kop.
“O nee, Oupa sal nie. Ek kan onmoontlik vir albei van ons sorg met twee riksdaalders per week. Oupa sal wil snuif hê, en pruimtabak en dit en dat, en ek sal alles moet koop met twee riksdaalders.”
“Mý geldjie gaan ek bêre vir myself. Ek gaan ’n nuwe paar skoene koop en ’n nuwe kierie laat maak.”
Colette haal haar skouers op.
“Net soos Oupa wil, maar dan sal u die snuif en pruimtabak moet prysgee.”
Hy korrel met sy waterige ogies na haar kant toe. “Jou ouma sou álles vir my gedoen het.”
Colette glimlag liefies.
“Dit is juis die probleem, Oupa. U het nooit geleer om saam te werk nie.”
Hy wip asof sy hom met ’n speld gesteek het.
“Jou klein snuiter! En hoekom het jy my in elk geval hierheen saamgesleep? Hier sal ons doodgaan van ellende.”
Colette draai weg.
“Het Oupa dan regtig al van alles vergeet? Pappa is deur die soldate doodgemaak en Mamma het net verdwyn. Hulle het gesê dat sy ook dood is. Ek is ’n Protestant en ek kon nie in Frankryk bly nie.”
“Ek is Katoliek! Hoekom moes ek saamkom?”
“Omdat ek Oupa nie alleen in Frankryk wou los nie. U weet dit tog.”
Hy bly stil en herkou lank aan sy gedagtes. “Wanneer ’n mens oud word, wil jy in jou vaderland wees.”
Colette knik. “Ek verstaan dit, Oupa, maar daar was niemand wat bereid was om na Oupa om te sien nie. Ek het oral gevra, maar niemand wou u versorg nie.”
“Omdat ek ’n ou korrelkop is?” wil hy weet. “Het hulle dít van my gesê?”
Colette sug. “Nee, dis net dat dit moeilike tye was. Oupa weet self hoe agterdogtig almal was. Oupa was ’n Katoliek, maar my ouers was albei Protestante.”
Hy grom onderlangs.
“Dit was ’n dom ding van jou pa en ma om so iets te doen. Wat is die verskil tog?”
Sy skud haar kop stadig.
“Ai, Oupa, is u geheue dan só kort? Die mense het swaar gekry terwyl die kerk ryk geword het. Vir elke klein dingetjie moes ons betaal en ook nie sommer klein bedraggies nie. Nee, dis goed dat ons weggebreek het. ’n Mens kan nie jou pad na die hemel koop nie.”
Daar is ’n lang stilte en dan brom Jerôme: “Kombuis! Verbeel jou!”
Colette glimlag net. Hy sal wel gou aan die gedagte gewoond raak, maar sy wil ook nie hê dat hy tot sy dood groente moet skil nie. Sodra sy iewers ’n werk gekry het waar sy meer verdien, sal sy vir hom sorg.
Colette word aangestel as kelnerin in die eethuis. Die vorige kelnerin het net kennis gegee en verdwyn. Colette is ’n groot aanwins vir die plek. Sy het welige swart hare en heldergroen oë. Haar vel is leliewit met sagte rooskleur op haar wange. Wanneer sy glimlag, kreukel haar neusie bekoorlik.
Oupa Jerôme het brom-brom met die skillery begin. Die kok, Anna, is ’n moeilike, beduiwelde mens en sy duld geen traagheid nie. Vir Oupa het sy gou in ’n hoek geboender met ’n berg aartappels voor hom en kort-kort kom sy loer hoe dit met die skillery gaan. As hy te stadig na haar sin skil, skel sy hom lustig uit.
Die ou man bly ook nie stil nie en elke nou en dan maak hulle hewig rusie. Sy dreig om hom met die braaipan oor die kop te moker en dan skud hy sy vuis waarin die vlymskerp mes is in haar rigting. ’n Rukkie lank is daar dan ’n wapenstilstand en gaan dit rustiger.
Colette se werk is vermoeiend. Van soggens vroeg tot saans laat is sy op haar voete en draf sy heen en weer tussen die kombuis en die eetkamer.
Die einde van die eerste dag het sy al net so in haar klere op die bed neergeval en aan die slaap geraak. Sy het nie eens haar oupa se gekla oor die kok gehoor nie. Haar gedagtes was net by die volgende dag en die harde werk wat daar vir haar voorlê.
Teen die einde van die week ontvang sy haar twee riksdaalders en gaan sluit dit in haar juwelekissie toe. Dié juwelekissie bevat andersins net ’n klein miniatuurfoto’tjie van haar moeder en vader. Juwele het sy nog nooit besit nie. Die kissie het sy van haar ouma geërf.
Die dae word een lang stuk harde werk. Selfs Sondae word sy en oupa Jerôme nie gespaar nie. Daar is geen geleentheid om na ’n ander werk te soek nie. Colette kry ook baie min die geleentheid om ’n ordentlike bord kos te eet en sy verloor gewig. Sy word tam en moeg en dit begin na twee weke reeds op haar gesig wys.
Die hospita frons toe Colette by haar verbyskuifel na die kombuis.
“Jy raak traag,” sê sy ontevrede. “Jy laat die gaste te lank wag.”
“Ek kan nie vinniger nie, madame,” sê Colette dof.
“In die begin het jy goed gewerk. Wat makeer nou? Niks het verander nie.”
Colette gaan staan en kyk na madame Roubaix. “Ek werk sewentien uur per dag elke dag, madame. Ek kry nooit die geleentheid om ook iets te eet nie.”
Madame Roubaix se frons verdiep.
“Kla jy miskien?”
“Nog nie, madame.”
“Jou astrante klein niksnut! Hierdie week kry jy net een riksdaalder!”
Colette aanvaar die straf met ’n skouerophaling. Sy sal vinnig ’n plan moet beraam om hier weg te kom.
Met oupa Jerôme gaan dit darem beter. Hy kla net oor die berge groente, maar hy is nie so uitgeput soos sý teen die aand nie. Solank hulle hom net spaar, sal sy kan voortgaan.
Jerôme is geen idioot nie. Hy kan sien hoe dit met sy kleindogter gaan en hy is vas van plan om iets daaromtrent te doen. Buitendien is hy moeg daarvan om deur die kok rondgejaag te word.
Sy plan slaag nie. Die kok staar fronsend na die string worse in die spens. Daar hang ’n duisternis van die goed, maar sy het ’n paar valkoë as dit by dié worse kom.
“Hier is twee weg!” sê sy skerp.
Oupatjie Jerôme versit sy maer lyf effens sodat hy die worse behoorlik onder sy elmboë onder sy baadjie kan vasknyp.
“En hoe weet jy dit? Daar hang dosyne van die goed!”
“Ek sê jou hier is twee weg! Dink jy ek is so dom om hulle nie elke dag te tel nie? Met uitvaagsels soos jy waag ek geen kanse nie!”
Jerôme hik van verontwaardiging. “Ek is ’n eerbare man!”
“Dit sal ons moet sien,” sê Anna en kom dreigend na hom aangestap. “Staan op!”
Jerôme kom onseker orent. As sy nou net nie wil bodder om hom te deursoek nie, dan kan hy dalk nog wegkom met die worse, en sal Colette vanaand weer iets in haar maag kan kry.
Anna bekyk hom van kop tot tone.
“Lig jou arm op.”
Jerôme skud sy kop heftig.
“Ek lig g’n my arms op vir ’n maer ou bokooi soos jy nie!”
Bokant haar arendsneus gloei haar donker oë woedend.
“Ek sal jou ’n les leer!” Sy raap ’n swaar houtlepel van die tafel af op en raps die ou man ’n gevoelige hou teen die nek.
Hy lig sy arms om die hou af te weer en die twee worse plof op die houtvloer neer.
Anna grinnik tevrede toe sy dit optel.
“So ja, dis beter! In die vervolg sal ek jou behoorlik dophou. In hierdie kombuis word daar niks gesteel nie!”
Jerôme byt op sy tande. “Dan sal jy moet begin sorg dat Colette haar deel van die kos kry! Dit was deel van die ooreenkoms toe sy hier begin werk het!”
Anna haal haar skouers op en gaan bêre weer die worse in die spens.
“Die gaste kom eerste. As daar teen sluitingstyd niks meer oor is nie, dan is dit net jammer.”
Jerôme wip agter die tafel uit. “Daar was gisteraand nog genoeg oor!”
Anna sluit die spensdeur en hang die sleutel weer om haar nek.
“Ek het die oorskiet vir vandag se middagete nodig gehad.”
“Jy kan dit nie doen nie!” skreeu Jerôme in sy dun stemmetjie. “Waar is Colette se kos?”
Anna kyk ’n oomblik lank fronsend na die woedende, maer ou mannetjie.
“Miskien sal ek vanaand iets kan bymekaarskraap,” sê sy sonder veel belangstelling.
“Jy sal dit doen as jy weet wat goed is vir jou!”
Jerôme gaan sit weer agter die tafel en begin die groente skil. Uit ondervinding weet hy dat hy niks meer as daardie vae belofte uit die kok gaan kry nie. Maar as daar vanaand wéér nie kos vir Colette is nie, gaan hy ’n herrie opskop wat tot anderkant die blou berge gehoor sal kan word.
Colette bedien die gaste werktuiglik. Sy loop soos ’n slaapwandelaar tussen die kombuis en die eetkamer en luister geduldig na elkeen se klagte of bestelling.
Toe sy weer een keer van die kombuis af terugkeer met borde in albei hande, kyk sy toevallig op en sien die lang, donker vreemdeling in die eetkamer se deur staan. Sy ligbruin oë rus ’n sekonde lank op haar voordat hy deur die vertrek begin kyk, skynbaar op soek na iemand.
Colette deel die borde haastig uit. Daar is ’n roering in haar hart wat haar laat vergeet van haar leë maag en haar seer voete. Hy is ’n edelman, dink sy opgewonde en ignoreer die waarskuwende stemmetjie wat haar die hele tyd daaraan wil herinner dat sy net ’n gewone meisie is. ’n Man soos hierdie kruis maar een keer in elke meisie se lewe haar pad.
Madame Roubaix is uit en dus is Colette die enigste een wat die vreemdeling kan help. Mense soos hy kom baie selde na die eethuis. Dis meesal gewone werkers wat hierheen kom vir ’n bord goeie kos en dus word die goed geklede heer aangestaar.
Colette plak die laaste bord kos voor ’n man neer en drafstap na die deur waar die vreemdeling nog wag. Haar moeder het haar geleer dat ’n mens altyd ’n kniebuiging voor ’n edelman maak en dit is die eerste geleentheid wat Colette kry om dit te kan doen.
Sy maak haar kniebuiging presies net soos haar ma haar geleer het en kom dan stadig orent.
“Kan ek u help, monsieur?”
Die geamuseerde uitdrukking in sy oë verwar haar effens.
“Is madame Roubaix hier?” wil hy weet.
“Nie op die oomblik nie, monsieur, maar as u vir haar wil wag, kan ek u na haar sitkamer neem. Sy sal nie lank wees nie.”
Na ’n oomblik se aarseling knik hy. “Goed, ek sal op haar wag.”
“Volg my, asseblief, monsieur,” sê sy met gloeiende wange en draai haastig om sodat sy die man nie te lank laat wag nie.
Nuuskierige blikke volg hulle na die deur wat na die sitkamer lei.
“Is daar iets wat ek vir u kan bring, monsieur?” vra Colette toe die lang man in ’n gemakstoel gaan sit.
Hy skud sy kop.
“Nee, dankie, mademoiselle.”
Colette staan ietwat bedremmeld rond. Daar moet tog iéts wees wat sy vir hom kan doen.
“Daar … daar is wyn daar op die tafeltjie, monsieur,” sê sy en is bly dat sy aan iets kon dink.
Hy glimlag effens.
“Dis te vroeg in die oggend daarvoor, mademoiselle.”
“Sou u dan tee of koffie verkies, monsieur?”
“Nee, dankie.” Die antwoord kom ietwat kortaf en Colette voel baie verleë.
“Ek sal madame Roubaix na u stuur sodra sy terug is,” sê sy haastig en maak haar uit die voete.
Madame Roubaix kom ’n paar minute later terug en drafstap haastig na die sitkamer toe Colette haar vertel dat die belangrike gas daar op haar wag.
Colette gaan voort met haar werk. Sy draf heen en weer tussen die kombuis en die eetkamer en haar blik dwaal telkens na die sitkamerdeur wat toe bly. Sy wens die man wil uitkom sodat sy net nog een keer na hom kan kyk. Dalk sal dit die laaste keer wees dat sy hom sal sien.
Eindelik gaan die deur oop en die lang man kom uitgestap. Madame Roubaix lyk ietwat bekommerd toe sy hom na die buitedeur vergesel.
Colette sluk hard en kyk hulle agterna. Hy het nie eens in haar rigting gekyk nie, dink sy teleurgesteld. Hy het al klaar vergeet dat daar ’n eenvoudige kelnerinnetjie bestaan.
O wel, dink sy en haal haar skouers liggies op, ek kon seker niks anders verwag het nie. Dit was net ’n lawwe droom.
Madame Roubaix en die vreemdeling praat nog met mekaar. Madame lyk baie bekommerd en die lang man se gesig is hard soos graniet. Dit laat die gaste in die eethuis onder mekaar fluister. Hulle kan nie hoor wat die twee gesels nie, maar hulle kan raai dat die vreemdeling se besoek nie juis vriendskaplik was nie.
Colette deel die borde swyend uit. Toe sy weer een keer vlugtig opkyk in die vreemdeling se rigting, sien sy hoe sy sysakdoek val. Hy is onbewus daarvan dat hy dit verloor het. ’n Oomblik lank aarsel sy en dan stap sy vinnig soontoe en tel dit op.
“Monsieur?”
Hy kyk ietwat geïrriteerd om.
“Ja?”
“U het dit laat val.”
Net een sekonde lank ontspan sy gesig in ’n effense glimlag.
“Merci, mademoiselle.” Dan draai hy om en met ’n kopknik in madame Roubaix se rigting verlaat hy die eethuis.
Colette is byna seker dat sy hom nooit weer sal sien nie.