Читать книгу Die einde van die reënboog - Annelize Morgan - Страница 5

3

Оглавление

Colette het baie bleek geword. Sy en oupa Jerôme het daaraan gedink om ’n verandering te maak, maar nie op dié manier nie. Sy is te bang om na die vreemdeling te kyk. Sy is bang dat sy afkeer in sy oë sal lees en dit sal sy nie kan verduur nie.

“Oui, madame,” sê sy eindelik hees.

Sy maak ’n bewerige kniebuiging voor die deftige heer en hardloop dan by die vertrek uit.

Colette gaan nie terug na haar werk in die eethuis nie. Sy gaan reguit na haar kamer waar sy op die bed val en huil asof haar hart wil breek.

Na twintig minute gaan die kamerdeur oop en kom madame Roubaix in.

“Jou werk is nog nie klaar nie,” sê sy skerp. “Jy kan nie nou hier lê en grens nie …”

Colette byt op haar tande.

“Dit was ’n ongeluk, madame.”

“Dit was nie ’n ongeluk nie! Dit was nalatigheid! Jy het die man skaamteloos gestaan en aanstaar en daarom het die glas op sy skoot beland! Weet jy in watter verleentheid jy my geplaas het!”

“Ek is jammer, madame.”

“Dit gaan jou niks help nie! Gaan werk nou!”

Colette staan op en droog haar oë af.

“Gaan ek nog betaling vir hierdie week kry, madame?” vra sy onseker. Elke riksdaalder tel nou.

“Nee. Ek kan jou nie betaal na wat jy aangevang het nie!” Die vrou draai om en verlaat die vertrek sonder ’n verdere woord.

Colette aarsel. Dit sal nie help om te weier om te gaan werk nie. Die hospita sal haar en haar oupa dan vir die nag laat betaal.

Oupatjie skop ’n herrie in die kombuis op toe die kok met die nuus by hom kom. Hy raas en skel totdat die kok hom met ’n groot vurk dreig om sy mond te hou.

“En hoekom moet my Colette oor ’n edelman se nukke ontslaan word? Hulle is niks beter as ons gewone mense nie!”

“Jerôme,” sê Anna waarskuwend, “nog een woord uit jou mond en ek slaan jou harspan met ’n pan in! Jy mag dink wat jy wil, maar jy mag nie sê wat jy wil nie!”

Teen sluitingstyd het Jerôme al bedaar en Colette se afdanking aanvaar. Hy neem hom egter voor om voordat hy en Colette môre weggaan, ’n woordjie met die hospita te wissel.

Vanaand lol Anna ook nie met hom nie. Sy skep self Colette se kos in en voeg selfs twee versuikerde vye by. Toe Jerôme haar daarvoor bedank, jaag sy hom by die kombuis uit.

Colette is in die bed toe hy die kos bring. “Skaapniertjies en gebakte patat.”

“Ek weet wat op die spyskaart was, Oupa,” sê sy dof. “Ek is nie honger nie.”

Hy sit die bord op die tafel neer.

“Die ou merrie het vir jou twee versuikerde vye gegee.”

Colette glimlag effens.

“Oupa verstaan Anna net nie. Sy is eintlik ’n goeie ou siel.”

“Goeie ou siel se voet! Ek moes baklei om jou kos uit haar te kry.”

“Wat maak dit tog saak, Oupa? Môre is ons nie meer hier nie.”

“Danksy daardie twak van ’n edelman van jou! As ek sy nek beetkry, sal dit my groot vreugde verskaf om dit te breek.”

Sy sit regop. “Dit was nie sý skuld nie! Dit was mý nalatigheid!”

“Hy kon jou verdedig het!”

“Hoekom sou hy? Hy ken my nie!”

“Jy moes jou vinger in die ou vrou se oog gedruk het!”

Colette skud haar kop.

“Dan was ons vanaand al op straat.”

Daardie nag lê Colette nog lank wakker. Tien riksdaalders en ’n goue muntstuk … hoe lank sal dit hou as hulle losies moet betaal en kos koop? Sy sit nou weer eens met die probleem dat sy haar oupa nie aan homself kan oorlaat nie. Hy is byna soos ’n kind wanneer dit by kattekwaad kom. Môre sal sy aan ’n oplossing moet dink.

Die volgende oggend staan Colette en Jerôme se goedjies vroeg reeds gepak. Die ou man is verbasend stil en praat nie oor die weggaan nie. Hy brom net af en toe onverstaanbaar onderlangs en skud sy kop stadig.

Colette dra die trommel na onder en kom dan terug om die twee sakke te kom haal. “Kom nou, Oupa.”

Hy kyk op en knipper sy ogies.

“Ek het nie sleg gevaar met die groente nie. Ek sal die ou bokooi se rusies mis.”

“Daaraan kan ons nou niks meer doen nie,” sê Colette beslis. “Kom nou.”

Jerôme neem een van die sakke by haar en volg haar met die trap af na onder.

Anna staan in die kombuisdeur.

“Gaan verpes iemand anders, jou ou treurniet!” skel sy op Jerôme.

“Nie eens ’n greintjie dankbaarheid vir die berge aartappels wat geskil is nie,” brom Jerôme vies.

“Dit sal die dag wees!” roep Anna terug.

Madame Roubaix maak haar verskyning. “Hier het ’n boodskap vir jou gekom,” sê sy en oorhandig ’n brief aan Colette.

Colette sit die sak neer en neem die brief by die hospita.

“Vir my? Maar ek ken dan niemand in die Kaap nie.” Haar blik val op die seël en sy frons. “Dis dan van ’n edelman!”

Madame Roubaix glimlag minagtend.

“Monsieur die markies Armand de Chatelaine.”

“En wie is hy dan?”

“Die man op wie se skoot jy die konjak uitgekeer het,” antwoord madame Roubaix kortaf en stap weg.

Colette snak na haar asem. ’n Markies … sy het die konjak op ’n markiés se skoot gestort. Sy is bang om dit te lees.

“Toe nou,” por Jerôme haar aan terwyl Anna ook nuuskierig nader staan.

Sy maak die seël los sodat dit nie breek nie en vou die brief oop. ’n Sekonde lank staar sy nikssiende na die boodskap en dan dwing sy haarself om dit te lees.

Mademoiselle De Villiers

Kom spreek my om tienuur vanoggend in die Kasteel. Bring hierdie brief saam sodat u toegang kan verkry. Enige persoon in die Kasteel sal u na my kan bring.

Armand de Chatelaine.

“Ek moet die markies vanoggend in die kasteel gaan spreek!”

Anna slaan haar hande saam. “Wil jy nou meer! Het jy genoeg geld om vir die broek wat jy geruïneer het te betaal?”

“Ek weet nie … ek glo nie ek het nie.”

“Luister, jy moet jou oudste en mees verslete rok aantrek. Dit sal hom dalk sag maak en dan hoef jy miskien nie die hele som geld te betaal nie.”

Colette kyk af na die tabberd van ligte linne wat sy aanhet. Dis haar enigste mooi tabberd, al is die kant om die soom nie meer wat dit behoort te wees nie. Hier in die herberg het sy altyd ’n swart rok gedra met ’n wit voorskoot en kappie. Niemand het eintlik geweet hoe min klere sy in werklikheid het nie.

“Ek gaan net soos ek is,” sê sy eindelik. “Ek kan tog nie voor ’n edelman in toiings verskyn nie.”

Jerôme knik instemmend.

“Dis reg. Jy moet liewer goed lyk vir die afspraak.” Hy bekyk haar skewekop. “Dalkies raak hy nog op jou verlief.”

Colette sug diep. “Asseblief, Oupa, dis nie nou die regte tyd vir grappies nie. Wat gaan ons maak as hy vra dat ek hom vir die skade moet vergoed?”

“Dan betaal ons dit maar,” sê hy onbekommerd. “Iewers sal ons ’n werkie kry.”

“Jou onnosele skepsel!” roep Anna uit. “Wie sal jóú nou eintlik in diens neem?”

“Gaan blaas doppies,” brom Oupatjie.

“Die werk wag, Anna,” onderbreek madame Roubaix se koel stem hulle gesprek.

Anna kies haastig koers na die kombuis en Colette en Oupatjie steier na buite met hulle karige besittings.

Omdat dit reeds laat word, kry hulle koers na die Kasteel. Daar bly hulle ’n rukkie in die skaduwee van die groot klipmure wag totdat dit tyd word vir Colette om in te gaan.

Jerôme gaan op die trommel sit en haal sy pruimtabak uit. Versigtig sny hy ’n kouseltjie af en prop dit in sy kies.

Colette ondervind geen moeite om by die Kasteel in te gaan nie en spoedig word sy deur ’n onbekende man na die markies se kwartiere geneem.

Voor ’n groot deur van blink gepoleerde swarthout laat die man haar en stap weg. Colette haal diep asem voordat sy versigtig aanklop. Op die markies se uitnodiging maak sy die deur onseker oop en bly dan in die opening staan.

Hy kom orent uit sy stoel toe sy haar verskyning maak.

“Bonjour, mademoiselle.”

Sy maak ’n diep buiging terwyl haar hart woes in haar te kere gaan.

“Bonjour, monsieur le marquis.”

Hy glimlag effens.

“Dis nie nodig om so verskrik te lyk nie. Kom binne en maak die deur toe.”

Colette gehoorsaam terwyl die bloed in haar ore suis. Sy wil hierdie onderhoud so gou moontlik agter die rug kry. Toe sy omdraai om weer na hom te kyk, haal sy haar geldkissie te voorskyn en maak dit oop.

“Ek sal u die moeite spaar om daarvoor te vra, monsieur le marquis. Ek het net tien riksdaalders en die goue muntstuk wat u my gegee het. As dit nie genoeg is vir die skade nie, sal ek die res graag wil afbetaal.”

’n Oomblik lank is hy uit die veld geslaan. “Skade?” vra hy onbegrypend en dan onthou hy van die konjak wat sy op sy klere gemors het. “Dis nie hoekom ek jou laat kom het nie.”

Sy maak die kissie met sy armoedige inhoud onseker toe.

“Ek begryp nie, monsieur …”

“Het jy al werk gekry?” wil hy weet.

Sy skud haar kop stadig.

“Daar was nog nie kans om te gaan soek nie. Eintlik … weet ek nie waar om te begin nie.”

“Jy was ’n goeie kelnerin, mademoiselle,” sê hy en voeg glimlaggend by: “Ten spyte van die blaps in die sitkamer. Is daar iets anders wat jy geleer het om te doen?”

“My moeder en ouma het my albei geleer om naaldwerk te doen, monsieur. Ek kan kant maak en borduurwerk doen.” Sy bly verleë stil. “My moeder is dood voordat sy my ander dinge kon leer.”

Hy knik stadig en terwyl sy wag dat hy weer moet praat, hou sy hom onderlangs dop. Hy is lank en aantreklik. Sy gesig is effens deur die son bruin gebrand. As sy ’n raaiskoot kan waag, sou sy sê dat hy iemand is wat dikwels in die buitelug is, hoewel sy swierige voorkoms dit op hierdie oomblik weerspreek.

Skielik draai hy om en kyk weer na haar. “Ek gaan jou en jou oupa saamneem na La Belle Montagne. Dit is my plaas in die Wamakersvallei en ons het op die oomblik ’n tekort aan hulp. Wat is jou oupa se ambag?”

“Hy was ’n tuiemaker, monsieur,” sê sy met kloppende hart. Die dag lyk skielik nie meer so vreugdeloos nie. As sy die markies reg verstaan, bied hy haar ’n werk aan.

“’n Tuiemaker,” herhaal hy en sê dan: “Dié kan ek goed gebruik. Hy sal ook genoeg geleentheid hê om iets ekstra te verdien deur werk vir die ander mense van die omgewing te doen.” Hy glimlag oor die gelukkige blos wat in haar hals opstoot. “Ek bied jou die werk aan omdat ek voel dat ek skuld het aan die penarie waarin jy jou bevind.”

“O nee, monsieur!” roep sy uit. “U het geen skuld daaraan gehad nie. Ek was onvergeeflik nalatig, maar ek bedank u nogtans vir u goedheid.”

“Jy moet my nie te gou bedank nie,” sê hy droog. “My moeder, die markiesin De Chatelaine, kan ’n baie moeilike vrou wees om tevrede te stel. Ek kan maar net hoop dat julle oor die weg sal kom.” Hy aarsel en hervat dan: “Dis belangrik dat jy moet weet dat die vorige meisies wat jou werk gehad het, nie baie lank daar gebly het nie. Die laaste een was net een week daar voordat sy kennis gegee het. Jou taak sal allesbehalwe maklik en aangenaam wees.”

Colette skud die twyfel van haar af. Sy het die werk nodig en sy sal wel aan ’n oplossing dink wanneer sy eers op die landgoed is.

“Ek waardeer u waarskuwing, monsieur le marquis. Ek kan net hoop dat ek u nie sal teleurstel nie.”

Hy lag sag.

“Jy hoef jou nie oor mý te bekommer nie. Dis my moeder wat jy tevrede moet stel. Sy is ’n baie puntenerige vrou wanneer dit kom by huishoudelike sake en etiket.”

Colette sluk hard. Van etiket weet sy net mooi niks. Dalk sal oupa Jerôme haar iets daaromtrent kan leer.

“Ek sal my bes doen, monsieur.”

Hy knik. “Dis goed genoeg. My koets vertrek oor ’n uur en jy en jou oupa sal daarmee moet reis. Ek sal te perd volg.”

Toe Colette later weer by Oupatjie aansluit, vertel sy hom opgewonde van haar gesprek met die markies.

Sy ogies blink.

“Ek was my lewe lank ’n tuiemaker,” sê hy in sy dun stemmetjie wat nóg dunner word van opgewondenheid. “En om te dink dat ons nou vir ’n edelman gaan werk!”

Sy lag gelukkig. “Ek dag Oupa hou nie van die man nie.”

Die weelde van ’n koetsrit is vir Colette en die ou man iets ongekends. Hulle vergaap hulle aan die fluweelkussings en die koperlampe. Op die vloer van die koets is ’n handgeweefde mat en dis asof Colette selfs die geur van geparfumeerde ryk vroue nog kan ruik. Sy onthou weer haar kinderdrome en ’n oomblik lank kan sy haar verbeel dat sy uitgedos is in ’n allerfraaiste tabberd.

Oupa loer na haar.

“Jy mag nie begeer nie,” betig hy haar.

“Ag, daar is niks mee verkeerd om net te droom nie, Oupa.”

Toe hulle vir die tweede keer moet perde ruil, kom die markies na hulle.

“Ons sal lank genoeg stilhou sodat ons iets kan eet. Aandete op La Belle Montagne word vroeg bedien en ons sal te laat daar aankom.”

Colette loop op wolke toe die markies haar uit die koets help en na die herberg neem. Oupatjie skommel agterna.

De Chatelaine eet alleen. Af en toe glimlag hy oor die hongerigheid waarmee die bebaarde ou man aan die kos wegval en dan wink hy weer die kelner nader om vir die meisie en haar oupa nog iets voor te sit.

Oupa verorber alles binne sy bereik. Uiteindelik spoel hy die laaste mondvol met ’n glas wyn af en sit terug.

“Nou is ek so dik dat ek kan bars,” sê hy tevrede.

Colette kyk geskok na hom.

“Dis nie goeie maniere om só te praat nie, Oupa,” betig sy hom.

“Basta met die goeie maniere,” brom hy. “’n Man eet mos nie elke dag so nie!”

Colette skud haar kop. “Moet net nooit weer so eet nie,” sê sy vies. “Die markies het die hele tyd vir Oupa gekyk.”

“Laat hom maar kyk! Hier is sommer ’n groot klomp riksdaalders in my maag in en as hý daarvoor wil betaal, laat hom dit maar gerus doen!”

Die markies help die slingerende oupatjie by die koetsdeur in. Colette probeer haar verleentheid verberg, maar ’n gloed stoot bekoorlik in haar wange op.

“Ek is jammer, monsieur,” sê sy sag toe hy omdraai.

Hy lag. “Die oubaas het ’n gesonde eetlus vir sy ouderdom.”

Hulle bereik die landgoed teen vroegaand. Oupa het die hele ent pad van die herberg af geslaap. Colette was alleen met haar drome en ook met haar bedenkinge oor wat op haar wag.

Die eerste persoon wat sy op die landgoed ontmoet, is die huishoudster, Agnes Gréville. Agnes is ’n oujongnooi van vyf-en-veertig met ’n stywe bolla agter in haar nek en twee skerp, blou oë. Met ’n uitdrukkinglose gesig bekyk sy Colette en dis duidelik dat sy nie hou van wat sy sien nie.

Die markies het reeds by die huis in verdwyn en laat die reëlings vir verblyf in die bekwame hande van sy huishoudster.

Oupatjie kry sy eie gerieflike kamertjie by die stalle. Dis nou wel baie klein, maar hy begeer niks meer nie. Die bed is sag genoeg en die dak lek nie.

Agnes neem Colette na ’n kamertjie op die boonste verdieping aan die agterkant van die huis. Dis ’n fraai vertrek met ’n gerieflike tafel waar sy naaldwerk kan doen. Op die vloer is daar selfs ’n tapyt en ’n vrolike deken van laslapwerk is oor die bed gegooi. In die hoek staan ’n sierklerekas met ’n wastafeltjie langsaan waarop ’n waskom en lampetbeker is.

“Dis ’n pragtige kamer,” sê Colette toe sy haar reissak op die bed neersit.

Agnes haal haar skouers op.

“Jy is voorwaar niks gewoond nie. Waar die markies jóú uitgegrawe het, sal niemand seker ooit weet nie.” Sy stap na die deur. “Ontbyt is om sewe-uur môreoggend. Ek sal jou om tienuur na madame De Chatelaine neem. Sy sal aan jou verduidelik wat jou pligte sal wees. Bonne nuit!”

Colette staar na die deur wat met ’n harde klap toegaan. Haar intuïtiewe reaksie is dat sy Agnes nie kan verdra nie. As die ou dame net so onaangenaam gaan wees, gaan sy baie swaar kry.

Sy gaan op die bed sit en begin haar goed uithaal. Sy sal almal eers ’n kans moet gee. ’n Mens kan nie te gou oordeel nie.

Madame De Chatelaine is ’n klein vroutjie met sagte grys hare. Sy moes vroeër baie mooi gewees het, maar nou in haar middeljare het die vel op haar gesig sakkerig en verrimpel geword. Net die bruin oë is nog lewendig en skerp.

Agnes het Colette se teenwoordigheid kortaf aangekondig en die meisie onmiddellik alleen gelaat met die ou dame. Colette staan nou half bedremmeld en wag dat sy aangespreek moet word. Haar hart bons van angs. As die markiesin nie van haar hou nie, sal haar verblyf op die landgoed van korte duur wees en sal sy en Oupatjie weer op straat wees.

Die tabberd wat sy die vorige dag aangehad het, is gekreukel en sy kon dit nie weer vandag aantrek nie. Die donkerblou rokkie van growwe sis het al beter dae geken, maar dit is haar tweede beste tabberd. Sy het darem nog in Frankryk die kant om die hals vervang, maar die growwe materiaal laat nie die kant tot sy reg kom nie.

Die ou dame kyk op en in een blik neem sy alles waar – die verslete tabberd, die ragfyn kant om die hals wat so onvanpas lyk, die welige bos swart hare en die senuweeagtige gevroetel van die meisie se hande.

“Daardie rok pas jou hoegenaamd nie,” sê sy en wink Colette nader.

“Oui, madame,” sê Colette en sluk hard.

Die ou dame staan op.

“Het jy dié kant self gemaak?” vra sy terwyl sy die kragie noukeurig beskou.

“Oui, madame. My ouma was ’n baie goeie kantmaakster.”

“Is dit ’n familietradisie?”

“Oui, madame.”

“Dit kry ons nie dikwels hier nie. Het jy enigiets anders geleer?”

Colette knik ywerig.

“Ek kan borduur en klere maak.”

Daar is ’n flikkering in die ou dame se oë. “Jy het onlangs uit Frankryk gekom. Sal jy nog die modes onthou?”

Colette glimlag. “Natuurlik, madame. Ek het al my sketse ook gebring.” Sy slaan haar blik neer. “Ek het gehoop dat ek iewers as kleremaakster aangestel sou word. Ek het nie besef dat die Kaap so klein is nie.”

Madame De Chatelaine gaan weer sit.

“As blote kleremaakster sal jy nie ’n bestaan kan maak nie. Kant is in aanvraag, maar dis ’n tydrowende werk en die meeste mense hier het nie baie geld nie. Die nedersetters moet bespaar waar hulle kan.” Sy kyk op na die meisie wat nog eenkant bly staan. “Ek kan nie self meer borduur nie en dus sal jy daardie takies moet verrig. Jy word ook aangestel as kombuishulp. Oor twee weke word hier ’n bal op La Belle Montagne gehou en dan sal jy die gaste moet help bedien. Jy het gelukkig reeds ondervinding daarvan.”

Colette glimlag. “Oui, madame.”

Madame De Chatelaine tel weer haar teekoppie op. “Gaan nou eers kombuis toe en vra die huishoudster of daar iets is waarmee jy kan help. Die tabberd wat ek na die bal gaan dra, sal vanmiddag na ete na jou kamer geneem word. Teken ’n paar ontwerpe en dan bespreek jy dit eers met my voordat jy begin borduur.”

Colette maak ’n kniebuiging.

“Oui, madame.”

Dis duidelik dat die onderhoud verby is en Colette maak haar suutjies uit die voete.

“Jy sal in jou spoor moet trap,” sê Agnes toe Colette haar verskyning in die kombuis maak. “Die markiesin is vanoggend in ’n goeie bui, maar bewaar jou siel wanneer sy die dag beduiweld opstaan.”

Colette haal haar skouers liggies op. “Sy lyk vir my baie gaaf en buitendien is ek nie van plan om haar kwaad te maak nie. Ek sal nie graag hierdie werk wil verloor nie.”

Agnes glimlag suur.

“Ek hou nie daarvan dat meisies soos jy op die landgoed kom werk nie. Dit hoort nie so nie. Niemand hier weet iets van jou nie en dis ongehoord. Maar ons sal gou genoeg uitvind hoekom jy in werklikheid bereid was om hierheen te kom. Vir mý kan jy niks wegsteek nie.”

Die einde van die reënboog

Подняться наверх