Читать книгу Die einde van die reënboog - Annelize Morgan - Страница 4

2

Оглавление

Jerôme volg die kok soos ’n hond. Sy probeer hom ignoreer, maar elke keer kom hy vierkant voor haar staan sonder om ’n woord te sê.

“Jy is in my pad, jou ou stuk sening!” sê sy skerp.

“Ek wag vir Colette se kos.”

Sy beduie na die tafel.

“Daar lê twee appels!”

“Hulle is vrot!”

“Dis al wat ek haar kan gee!”

“Jy sal vir ’n ordentlike bord kos sorg!” skree Jerôme in sy skril stemmetjie.

Anna staan en gluur die ou man aan. “Van die bredie wil ek môre pastei maak en van die aartappels gaan ek sop kook!”

Jerôme wip op en af.

“Dan vat ek dit self!”

“Jy sal dit nie waag nie!”

Hy drafstap om die tafel na die groot es waar die potte kos nog staan. Anna probeer hom voorkeer, maar hy het reeds ’n lepel in die pot bredie toe sy hom bereik.

“Los dit uit!”

“Probeer my keer!” jil die ou man plesierig en skep ’n groot lepelvol in ’n bord.

Sy probeer die bord by hom gryp, maar hy raps haar venynig met die lepel oor haar kneukels.

“Ek sal madame Roubaix hiervan sê!” skree Anna en vryf haar seer kneukels.

“Doen dit gerus!” kap hy terug en maak die bord vol met die aartappels. “Sy sal dalk regtig graag wil weet hoekom Colette elke dag uitteer en al moeër word. Sy sal graag wil weet hoekom haar kelnerin nie so goed kan werk soos in die begin nie!”

Anna gluur hom aan.

“Jy sal dit nog berou, Jerôme de Villiers!” sis sy woedend. “As ek teen die einde van die week nie meer genoeg kos het om vir die gaste voor te sit nie, sal madame Roubaix wil weet wie dit opgeëet het!”

Oupatjie lag net plesierig en skink ’n groot beker vol melk.

Anna bal haar vuiste van frustrasie toe Jerôme met die bord kos en die beker melk by die kombuis uitstap. Hy is net by die deur uit toe die lepel by die kombuis ingevlieg kom en teen die oorkantste kas val.

Oupatjie gaan by die trap op na die klein kamertjie wat hy en Colette deel.

Colette het reeds gewas en haar nagrok aangetrek toe hy inkom. Haar blik val op die bord stomende bredie en sy sluk hard.

“Waar kry Oupa dit?”

“Ek het die kok so ’n bietjie vasgevat,” sê hy opgewek en sit die bord en beker versigtig op die tafel neer. “Toe, eet nou. Môreaand bring ek weer vir jou kos.”

Terwyl Colette eet, praat hulle nie veel nie. Toe sy die bord eenkant toe stoot en die melk nader trek, grinnik die ou man.

Sy glimlag. “Daar was vandag ’n edelman in die eethuis, Oupatjie. Ek het ’n kniebuiging voor hom gemaak en hy het selfs met my gepraat!” Haar oë blink.

Hy loer agterdogtig na haar.

“Het die kos nou jou verstand aangetas? Ek is nie blind nie, meisiekind! ’n Vroumens se oë blink net so wanneer sy smoorverlief is.”

Sy lag sag.

“Ag tog, Oupa, ek sal hom nie weer sien nie. Dit was net wonderlik om met so iemand te kon praat. Sy klere was van fluweel en egte sy. Daar was ’n smarag in sy dasspeld en hy het nie sy hare gepoeier soos hulle in Frankryk doen nie. Op sy skoene was daar silwer gespes en die knope van sy baadjie was ook van silwer.” Colette se blik raak dromerig. “Ek het sy sakdoek vir hom opgetel en vir hom gegee. Hy het gesê: ‘Merci, mademoiselle.’”

Jerôme gee ’n hiklaggie.

“’n Mens sou dink hy het gesê: ‘Jy is die mooiste vrou in die wêreld, mademoiselle!’ Genade, meisiekind, dit was blote goeie maniere.”

Colette kyk vies na haar oupa.

“Moet Oupa altyd so ’n ou pretbederwer wees?”

Hy snork verontwaardig. “Ek wil jou voete op moederaarde hou, dis al. Vergeet van daardie pierewaaier. Ons moet liewer beplan hoe ons ’n ander blyplek en werk kan kry. Hier sal ons krepeer van ellende.”

Sy sug liggies.

“Oupatjie sal die kok nie elke keer kan afdreig nie. Nou maar goed, ons moet weer begin. Ons gaan woon in ’n ander herberg en soek ander werk.”

Jerôme vryf oor sy baard. “Moet ons nou sommer alles net so los?”

Sy kyk skuins na hom. “Oupa kan hier bly, maar ek dink dit sal beter vir my wees om na ander werk te gaan soek.”

“Ek bly nie alleen hier agter nie.” Hy vryf sy neus ingedagte. “Hierdie kok wil ek eers terugbetaal. Ons hou nog so ’n week of wat uit.”

“Nou maar goed dan, maar net ’n week.”

Colette klim in die bed nadat sy haar oupa ’n goeie nagrus toegewens het. Sy hoor hom nog ’n ruk lank in die donker agter die skerm voor sy bed vroetel en dan raak hy ook uiteindelik stil.

Colette wonder of hulle die regte ding gedoen het deur na die Kaap te kom. Dis al vir haar asof hulle hier nog meer sukkel as in Frankryk. Daar het hulle nog hulle eie huisie gehad, maar dit het ook nie veel beteken toe die Protestante vervolg is nie. Hier is hulle darem veilig buite die bereik van Lodewyk en sy soldate. Hier kan sy tog miskien ééndag ’n ordentlike bestaan voer.

In die eethuis word daar baie gepraat en Colette hou haar ore maar gedurig oop. Die mense praat van Franschhoek en die Wamakersvallei. Dis ver van die Kaap af, maar dit is waar die Franse woon. Hier in die nedersetting is daar nie baie Franse nie. Dit sal beter gaan wanneer sy en Oupatjie eers ander mense ken.

Die volgende oggend teen tienuur stuur madame Roubaix Colette met ’n skinkbord vol warm pasteie na die markplein.

Vir Colette is dit welkome afwisseling. Meer as ’n maand lank is sy en Oupatjie nou al in die herberg en hulle sien die son net deur die eetkamer- en kombuisvensters.

Dis ’n sonnige oggend in die vroegsomer. Oral is daar deftige dames in klere van Japanse sy, gewaterde sy, fyn katoen en Brusselse kant. Hulle dra fyn sambreeltjies van moeselien wat met kant en syblomme versier is. Daar is ook boerinne met tabberds van growwe, donker katoen en wit gestyfde voorskote. Party van hulle dra kopdoeke en ander het fraai kappies op.

Die vryburgermans dra ook klere van grof geweefde stof in teenstelling met die kleurvolle drag van die dragonders. Colette verkyk haar aan die deftige mans in hulle fyn geweefde linnebaadjies en kuitbroeke. Tussen al hierdie mense moet daar tog ook iemand soos sy en Oupatjie wees. Dis ondenkbaar dat hulle twee die enigste is wat eensaam is in die nuwe land.

Die pasteie verkoop vinnig. Teen twaalfuur is daar nog net een oor. Dit het al koud geword en dis onwaarskynlik dat iemand dit nog sal koop.

Colette drentel tussen die stalletjies deur. Sy verkyk haar aan die pragtige materiale wat uit die Ooste kom. Daar is ook kruie uit Oos-Indië, kokosolie uit ’n vreemde land, parfuum uit die woestynlande, vars groente en vrugte van die plasies van die vryburgers. Daar is fyn porselein uit Engeland, en allerhande goed van tin en hout.

Sy bly ’n oomblik lank staan by ’n waentjie waarop ’n smous sy ware uitgestal het. Haar blik val op ’n chatelaine en sy glimlag. Haar moeder het ook een gehad en dit is nou in haar besit. Haar moeder het dit altyd aan haar tabberd gedra wanneer sy besig was met naaldwerk. Daar is ’n klein skêrtjie in die een houer, naalde in ’n ander, ’n maatband en ’n miniatuur-speldekussinkie.

Toe sy weer opkyk, gaan sy botstil staan. Hier reg voor haar sien sy die aantreklike vreemdeling wat die vorige dag in die Goue Kat was. Hy staan half met sy rug na haar gedraai. Colette se hart bons in haar keel. Sy weet dat sy skoon verspot is, maar sy kan dit nie verhelp nie.

Die beste sal wees, besluit sy, om haarself uit die voete te maak voordat hy haar raaksien, maar sy is traag om dit te doen. Toe sy eindelik besluit om tog maar liewer pad te gee, kyk hy onverwags op en sien haar raak.

Colette bloos liggies en draai vinnig weg. Ek maak ’n gek van myself om so na hom te staar, dink sy vies.

“Bonjour, mademoiselle,” hoor sy hom tot haar verbasing groet. Sy steek vas en draai om.

“Bonjour, monsieur,” groet sy verleë.

Hy steek sy hand in sy binnesak en haal ’n muntstuk uit. “Ek sal jou laaste pastei koop sodat jy kan huis toe gaan.”

Sy knipper haar oë.

“Dit is al koud, monsieur.”

’n Glimlag raak aan sy mondhoeke. “Dit sal nie warmer word as jy langer hier bly nie.” Hy plaas die muntstuk op die palm van haar hand en neem die pastei.

Colette staar na die goue muntstuk in haar hand. Dis baie geld, dink sy ontsteld.

“Ek … kan u net kleingeld in riksdaalders gee, monsieur,” sê sy onseker.

Hy lag sag. “Hou maar die kleingeld, mademoiselle.”

Colette snak na haar asem.

“Ek kan nie, monsieur! Madame Roubaix sal baie kwaad wees.”

Hy kyk ’n sekonde lank swyend na haar en sê dan: “Madame hoef dit nie te weet nie. U moet leer om ’n geskenk met waardigheid te aanvaar, mademoiselle.” Hy glimlag weer, lig sy hand, draai om en stap van haar af weg.

So baie geld! dink Colette vol vreugde. Die vreemdeling moet baie ryk wees as hy sommerso geld kan uitdeel. Sy laat die muntstuk in haar roksak gly en gaan dan in die koelte van ’n boom staan om die riksdaalders te tel. Sy wil nie hê daar moet te min wees nie, madame Roubaix sal haar ’n behoorlike skrobbering gee.

Selfs sonder die goue muntstuk is daar genoeg geld. Van die kopers het ’n ietsie ekstra gegee en nou kan sy dit na madame Roubaix neem sonder dat sy haar goue muntstuk hoef prys te gee.

Madame Roubaix prys haar omdat sy meer teruggebring het as wat nodig was, maar gee ook nie die ekstra riksdaalders aan Colette terug nie. Sy sluit die geld in haar geldkissie toe.

Dié aand toe sy klaar is met haar werk, wys Colette die goue muntstuk aan Oupatjie. Hy het vir haar ’n bord kos saamgebring.

“Wil jy nou meer! Hiermee kan ek vir my ’n nuwe pyp koop, of ’n mooi snuifdosie. Ek het eintlik ook ’n nuwe hoed nodig.”

“Daardie geld gaan nie op luukshede gespandeer word nie, Oupa. Dit gaan net so na ons geldkissie.”

“Watwou! Jy het nie hiervoor gewerk nie en ek kan dit spandeer as ek wil.”

Colette staan op en gaan haal die geldkissie. Sy sluit dit oop en hou haar hand na Oupatjie uit om die geldstuk by hom te neem. Hy gee die muntstuk teësinnig aan haar. Toe Colette dit in die kissie wil sit, frons sy.

“Wat gaan hier aan? Hier behoort tien riksdaalders te wees en hier is nou net vier!” Sy kyk vinnig na die ou man wat so skuldig lyk soos ’n kat wat vet gesteel het. “Oupa, waar is die ander ses riksdaalders?”

Hy trek ’n gepynigde gesig.

“Ek het ’n deposito betaal op ’n mooi jas vir my. Die jas kos net dertig riksdaalders en as ons mooi spaar, kan ek dit koop.”

Colette sug diep. “En wat van my, Oupa? Het ek nie ’n paar skoene dringend nodig nie? Het ek nie ook ’n paar goedjies nodig nie? Dis nou somer. Wat wil Oupa met die jas maak?”

“Dis vir die volgende winter.”

Colette skud haar kop beslis.

“Oupa gaan die ses riksdaalders môre haal. Die winter lê nog ver in die toekoms.”

Jerôme kry ’n treurige uitdrukking op sy gesig. “Volgende winter is ek dalk nie eens meer hier nie.”

“As Oupa nie volgende winter meer hier sal wees nie, sal Oupa ook nie die jas nodig hê nie,” kap sy terug. As hy nou so wild en wakker gaan geld uitgee, sal hulle baie swaar kry.

“Ek werk hard vir my geldjies.”

“Dan moet Oupa net dié gebruik wat u self verdien het en nie myne ook vat nie.”

“Wat gaan jy nou doen?” wil hy weet.

“Ek gaan van nou af die sleutel by my dra. As Oupa iets nodig het, kan Oupa vir my kom vra.”

“Jy sal my nooit ’n riksdaalder gee nie!”

“Ek is nie so harteloos nie, Oupa, maar die geld sal net op noodsaaklikhede gespandeer word.”

Hy snuif hard.

“Jy is nes jou oorlede ouma,” brom hy vies.

“Dan moet dit maar so wees, Oupatjie,” sê sy paaiend. “Ek is nie ’n monster nie, maar iewers sal ons ’n streep moet trek. ’n Jas is nie nodig nie en basta!”

Lank nadat sy bed toe is, sit hy nog by die tafeltjie en hoor sy hom met homself praat. Haar hart wil-wil week word, maar sy besef alte goed dat as sy nou sag word, hulle baie gou geldelike probleme gaan hê. Oupa Jerôme kon nog nooit met geld werk nie en as gevolg daarvan het hy en ouma Jeanne dikwels swaar gekry.

Twee weke later is Colette en Jerôme nog by die Goue Kat. Elke aand bring die ou man vir sy kleindogter ’n bord kos en dus gaan dit veel beter. Anna het by madame Roubaix gaan kla oor die kos, maar die hospita het die ou man gelyk gegee. Gratis kos was deel van hulle ooreenkoms. Buitendien besef sy maar alte goed dat sy nie weer iemand só goedkoop in diens sal kan neem nie.

Oupatjie is nog baie ongelukkig oor die jas. Die handelaar het hom net vyf riksdaalders teruggegee en daarvan het hy toe vir hom ’n nuwe snuifdoos en ’n rolletjie pruimtabak gaan koop. Die res van die geld het hy vir Colette teruggebring.

Van die aantreklike vreemdeling is daar nou geen teken meer nie. Dis net nog die goue muntstuk wat haar elke keer aan hom herinner.

Toe sy jonger was, het sy dikwels van die wêreld van die rykes gedroom. Sy het haarself gesien in kosbare sy en fyn kant getooi. Sy het gedroom van ’n duur rytuig waarvoor daar vier spogperde ingespan is. En op feesdae sou hulle koppe met pluime versier wees. Daar sou ’n galante edelman aan haar sy wees met edelgesteentes in die gespes op sy skoene en in die speld in sy krawat.

Dit was alles maar net drome, maar dit was lekker drome. Die werklikheid, het sy baie gou agtergekom, is heeltemal anders. Geen edelman sal met ’n arm meisie trou nie. Die beste sou wees as sy liewer haar voete op die aarde hou en soek na ’n hardwerkende man wat vir haar en hulle kinders kan sorg.

’n Swierige rytuig is ook nie vir haar bedoel nie. Dit sal ’n nuttige rytuig moet wees met twee sterk perde voor ingespan.

Sy sal aan haar wit gestyfde voorskote en gemaklike stewels gewoond moet raak. Sy sal ’n deugsame vrou moet wees en sonder die fynere dinge moet klaarkom. Sy sal geen juwele besit nie en ook nie ’n spinet waarop daar in ledige uurtjies musiek gemaak kan word nie.

Daar is tien riksdaalders en die goue muntstuk in die geldkissie. Dis maar ’n armsalige skat. Daarmee kan sy skaars een van die tabberds van die deftige vrouens bekostig.

Oupatjie koester egter ander gedagtes. Hy bekyk die gereelde besoekers van die eethuis vanuit die kombuis. Volgens hom het dit tyd geword dat Colette begin dink aan ’n man. Dan sal sy nie meer die beurs so nougeset bewaak nie.

Een aand haal hy dié onderwerp op.

“Dis tyd dat jy aan trou dink.”

Sy verstik byna. “Nou wat laat Oupatjie aan só iets dink? Ek ken dan geen man nog hier in die Kaap nie!”

“Dis juis die probleem. Jy kyk nie eens om jou rond nie. Het jy dan nog nie gesien hoe party van die mans jou aanstaar nie?”

“Ai, Oupa, is dít nou ’n rede om ’n trourok nader te sleep?”

Hy laat hom egter nie afskrik nie.

“Daar is so ’n jong man wat elke dag daar by die deur sit. Hý lyk nie te onaardig nie.”

“Hy is ’n Hollander en werk by ’n leerlooiery,” antwoord sy onbelangstellend.

“En wat is daarmee verkeerd?”

“Hy is reeds getroud.”

Oupa snuif hard.

“Nou ja, wat van die een wat elke keer hoenderbredie bestel – of dit nou op die spyskaart is of nie?”

“Hy is ’n oujongkêrel,” antwoord sy.

Toe sy die ou man se blink ogies sien, voeg sy by: “Maar hy pruim en sy tande is al geel van die tabaksop. Hy het ook ’n yslike vrat op sy oor.”

“Maar hy het dalk geld,” kap hy terug.

“Dit mag so wees, maar hy spandeer dit nooit. Die vrou wat met hom trou, kry ’n baie suinige man.”

“Nou wat van –”

“Luister, Oupa,” val sy hom in die rede. “Laat my tog toe om my eie man uit te soek? Dis seker nie te veel gevra nie?”

Hy snuif hard.

“Julle jonges weet nie waarvoor om te kyk nie. Kyk nou maar net vir jouself en daardie pierewaaier. Wat gaan liefde jou dáár baat? Hy sal jou nooit raaksien nie.”

“Só dom is ek darem nie, Oupa. Ek weet mos dat daar niks van so iets kan kom nie, maar ’n mens kan seker droom, of hoe?”

“Solank jy jou nie eenkant gaan hou omdat jy nie oë het vir ’n ander man nie.”

“Ek belowe ek sal nie.”

Colette voel heeltemal gerus wat haar eie gevoelens betref. Sy is nou wel verlief op die vreemdeling, maar in haar lewe het sy ook al genoeg teleurstellings gehad om ook hiér ene te wagte te wees. Sy sal dit verwerk soos sy die ander verwerk het.

Maandagoggend is sy weer druk besig om die gaste te bedien toe die vreemdeling sy verskyning maak. Hierdie keer is madame Roubaix egter in die eethuis en nooi sy self die man na die sitkamertjie.

Colette voel teleurgesteld. Sy sou só graag ’n paar woorde met hom wou wissel, maar nou is daar geen rede waarom sy dit kan doen nie. Hy het nie eens in haar rigting gekyk toe sy by hom en madame Roubaix verbygestap het met die borde kos nie. Hulle het albei taamlik ernstig gelyk en onbewus van wat om hulle aangaan.

Colette doen haar werk werktuiglik terwyl haar gedagtes telkens dwaal na die man wat daar in die sitkamertjie agter geslote deure met madame Roubaix praat.

Sy skrik toe die deur skielik oopgaan en die madame haar verskyning maak.

“Bring vir my ’n bottel konjak,” beveel sy Colette en gaan dan terug na die sitkamer.

Colette deel die laaste borde uit en drafstap na die kelder. Nou het sy ten minste ’n verskoning om by die sitkamer in te gaan. ’n Paar minute later kom sy terug met die konjak en twee glase op ’n skinkbord. Met ’n bonsende hart klop sy liggies aan die deur.

“Kom binne!” roep madame Roubaix.

Die vreemdeling sit gemaklik agteroor in ’n stoel met ’n klompie papiere voor hom op sy skoot. Hy lyk nie meer so ernstig en omgekrap nie. Madame lyk ook ietwat verlig en sy nooi Colette selfs met ’n glimlag nader.

“Skink die konjak, asseblief, Colette.”

Colette knik en skink die vloeistof in die glase. Sy gee eers ’n glas aan die madame, dan hou sy die skinkbord voor die vreemdeling. Hy neem nie die glas dadelik nie en Colette, wat hom aanstaar, kom nie agter dat sy die skinkbord al hoe skewer hou nie.

“Pas op!” roep madame Roubaix verskrik uit, maar dis te laat. Die glas konjak gly oor die rand van die skinkbord en die drank stort oor die vreemdeling se skoot.

Madame wring haar hande ontsteld. “Ek is só jammer, monsieur! Die meisiekind is so lomp!”

Colette sluk hard.

“Ek is jammer, monsieur.”

Hy kyk af na Colette wat met ’n servet die drank van sy kuitbroek probeer afvee.

“Laat dit maar staan, mademoiselle. Die broek is in elk geval nou geruïneer.”

Madame snak na haar asem. “O, monsieur! Ek sal u daarvoor vergoed.”

Colette staan verskrik terug. Hierdie ongeluk gaan ’n groot herrie afgee.

Madame draai woedend na haar.

“Jy sal betaal vir die skade. Twee maande lank sal jy sonder betaling werk!”

Colette sluk hard. “Ek moet leef ook, madame. Sonder geld … is daar nie ’n ander manier waarop ek kan vergoed nie?”

Die vreemdeling meng nie in nie. Sy gesig is geslote.

Madame staar na die meisie. “Hoe durf jy teëpraat! Jy en jou oupa is ontslaan! Môre moet julle uit my herberg wees!”

Die einde van die reënboog

Подняться наверх