Читать книгу Kopwond - Anthony Feinstein - Страница 3
1
ОглавлениеWat gebeur as hulle jou breek?
“Meld aan by die infanteriebasis op Upington.”
Die gevreesde koevert met die stempel van die Suid-Afrikaanse Weermag op het kort ná my sestiende verjaardag opgedaag. Natuurlik het ek geweet ek gaan opgeroep word, maar om “Upington” op die dokument te sien was nietemin ’n skok. Dit was wêrelde verwyder van my rustige voorstedelike bestaan in Johannesburg waar ek smiddae ná skool die tyd verwyl het met my viool en kamermusiekvriende, en waar Haydn en Mozart se fortissimo’s en pianissimo’s die enigste bevele was om te gehoorsaam.
Upington … die basis was berug as die heel ergste in die weermag. Só erg dat die soldate daar die ondenkbare gedoen en in opstand gekom het. Upington is waar hulle seuns breek en van hulle mans maak, of so lui die gerugte.
Is dit moontlik? Wat gebeur as hulle jou breek en die stukke nie weer bymekaar kan sit nie?
Vergeet dit! Jammer, brigadier, en verskoon my, generaal, maar ek laat my nie breek nie. Julle gaan my nie onder hande neem nie, en beslis nie op Upington nie.
Ek is in elk geval nog op skool met planne om ses jaar lank medies te studeer aan die Universiteit van die Witwatersrand. Die weermag sal moet wag, en daar is niks wat hulle daaraan kan doen nie buiten om jaarliks vir my ’n herinnering te stuur oor die skuld wat ek nog moet betaal. ’n Dekade lank kry ek die volhardende en onversetlike oproepbriewe waarin ek aangesê word om my op Upington te gaan aanmeld, en elke jaar antwoord ek met dieselfde verskoning: Jammer, ek het ander verpligtinge.
Maar die weermag is geduldig, want hy weet een of ander tyd sal ek klaar gestudeer hê en dan sal ek nie meer ’n verskoning hê nie. Toe dié dag uiteindelik aanbreek, is my land in ’n oorlog gewikkel aan die Angolese grens in verre Suidwes-Afrika en soek die weermag my éérs. Dis ’n onnosele, aaklige oorlog en enigeen met ’n greintjie gesonde verstand weet dit kan nie gewen word nie, maar dit stuit die regering nie om op my spoor te bly nie. Behalwe dat ek dié keer te ver weg is.
Die geluk is aan my kant. Ek het kort vantevore die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging se musiekprys vir strykers gewen, wat ’n mooi medalje en ruim tjek ingesluit het. Deurdrenk van dié sukses woon ek nou in Parys in ’n goor gebou aan die rue Puget oorkant ’n bordeel en boucherie chevaline (’n perdevleis-slaghuis) en ek neem vioollesse by ’n Koreaanse virtuoos wat sweerlik die reïnkarnasie van Paganini is. Maar selfs hier spoor die weermag my op. Al wat hierdie keer anders is aan die vuil bruin koevert is ’n lugposplakker wat my voorletter verberg. Die inhoud is dieselfde: Die staat eis sy pond vleis.
Wat nou? Dis ’n sonskyndag in Mei en ek sit op ’n bank in die Parc Monceau. Ek het so pas gelees die Amerikaanse sanger Art Garfunkel, wat vir ’n konsert in die stad is, meen die Parc Monceau is die heel mooiste park in die ganse Parys. Hy is dalk reg, want dit is inderdaad pragtig. Dit laat my dunk van Art, met wie ek my nog altyd vereenselwig het, selfs nog verder styg. Die Parc Monceau laat my ook goed voel. Maar dan sien ek weer die posstempel op die koevert in my hand en my kort huldeblyk aan Art eindig net daar.
Ek maak die koevert oop. “Meld aan op Klipdrif.”
Wat het van die Upington-pos geword? Dit lyk of my opleidingskamp verander het noudat ek ’n dokter is. Die mediese korps het sy kleim afgesteek. Maak dit enige verskil? Upington? Klipdrif? Nie rêrig nie. Albei is regte hole. Wat daarvan dat ek vir die owerhede sê jammer, ek is in Parys, die Koreaanse meester kan my geweldig baie leer, wag asseblief ’n bietjie langer? Dis waar, ek moet nog baie van die viool leer – so baie dat my leermeester my sonder omhaal van woorde aangeraai het om my liewer op die mediese beroep toe te spits. Dit is dus nie ’n opsie nie.
Is daar iets anders wat ek kan doen? Ek maak my oë toe en herleef scenario’s wat ek al male sonder tal bedink het.
Opsie 1: Bly in Parys, word ’n uitgewekene. ’n Uitweg? Nie regtig nie. Sonder geld en sonder dokumente is dit net ’n kwessie van tyd voordat ek gedeporteer word weens die oortreding van die wet in nie net een land nie, maar twee.
Opsie 2: Gaan terug huis toe en word ’n gewetensbeswaarde. Beweer dat alle oorloë boos is, laat staan nog ’n oorlog wat apartheid in stand wil hou. Dis ’n moontlikheid, maar dit sal nie vir my werk nie. Ek sal vir drie jaar in die tronk gegooi word en elke nou en dan sal ’n paar van my tande uitgeslaan word of my neus op my gesig rondgeskuif word, net om my aan my hoë morele waardes te herinner. Ek onthou daardie arme Jehovasgetuie-seuns wat van die plaaslike tronk na die noodgevalle-afdeling gebring is, vol pasifisme maar ook vol kneusplekke en met gebreekte neuse. Om eerlik te wees, ek het nie daardie soort moed nie.
Ek lewer ’n viooluitvoering vir die manne by Klipdrif.
Opsie 3: Gaan huis toe en doen diensplig, hou op weghardloop en kry dit agter die rug. Twee jaar is ’n lang tyd, maar ek sal ’n dokter en ’n offisier wees en, wie weet, dalk sal ek selfs in my eie bed kan slaap. Ek gaan eenvoudig vergeet wat reg en verkeerd is, my kop laat sak en kyk hoe die kak rondom my spat.
Dus pak ek toe maar op en gaan huis toe om op ’n ongewone tog te begin wat ek nie eens in my wildste drome sou kon voorsien nie. Want as die reis, in die woorde van Ralph Waldo Emerson, die bestemming is, het ek skaars my civvies vir bruin oorpakke verruil of ek het op ’n baie vreemde plek beland.
Hoewel ek hartseer was om Parys op te gee vir ’n stelsel wat ek verafsku het, was die ironie dat daardie beslissende besluit op ’n bankie in die Parc Monceau my uiteindelik sou stuur in die rigting van ’n loopbaan wat my baie professionele bevrediging sou bring. Maar vir eers was daar ’n prys om te betaal.