Читать книгу Kopwond - Anthony Feinstein - Страница 4

2

Оглавление

Met komplimente van die staat

Ek is staatseiendom. 68504194BG. Dis ek, ’n nommer. Dit kom selfs voor my naam.

Ek klim uit die vliegtuig in Johannesburg, soen my ma en pa en suster, skeer al my hare af en klim saam met duisende ander rekrute in ’n trein wat in ’n westelike rigting op pad na Klipdrif is.

Drie maande lank hardloop, spring, kruip en klim ons op die maat van mans wat ons verskree en ons aanmekaar daaraan herinner hoe fokken useless ons is. Laer as slangkak – dís wat een van die korporaals ons noem. Dié uitdrukking sou ek alte dikwels gedurende my tyd in uniform hoor.

Ag ja, daardie tyd van offisiersopleiding. Op ’n dag kom ons van die paradegrond af ná drie lange ure van ’n nimmereindigende marsjeerdery, die warm winterson laag op die horison, die strale wat vermeng met stofwolke wat deur duisend marsjerende voete opgeskop word, die lug blinkgepoleerde goud. Ons is ongetwyfeld powere voetsoldate wat stadig reageer op die skril geskreeu en opdragte van die drilinstrukteurs: linksom, regsom, halt, voorwaarts mars, links swenk, regs swenk, aandag, op die plek rus, op en af, heen en weer, so gaan dit aan en aan totdat jy jou in ’n staat van gedehidreerde gevoelloosheid bevind wat jou heeltemal laat afskakel.

Dit is in hierdie staat van doodsheid dat ons peloton eendag verby haar marsjeer – ’n vroulike korporaal en lid van die staande mag. Sy is aantreklik, al is sy effens mannetjiesagtig, maar dit is die smalende uitdrukking op haar gesig wat ons aandag trek, die bolip minagtend opgekrul terwyl sy haar veragting uitspoeg vir wat sy so pas gadegeslaan het: “Julle dril so swak, dit laat my poeshare krul.”

Niemand sê ’n woord nie. Nie een van ons geleerde dokters kan met ’n reaksie vorendag kom nie. Haar veroordeling is so verdoemend dat almal stomgeslaan voor hulle bly staar. Al wat ons kan doen toe die volle implikasie van haar woorde ingesink het, is om te lag en ons koppe in ongeloof te skud. Tot daardie stadium het ek nie geweet daar is eens vroue wat so praat nie.

Dié vreemde soort denkwyse is orals; dis soos ’n virus. Ná ons basiese opleiding het ons ’n stukkie papier gekry waarop ons ons naam moes skryf en ’n spesialisveld moes kies. Die weermag sal sy bes doen om elkeen tegemoet te kom, het die manne in beheer gesê, sonder om eens te probeer om hul gegrinnik weg te steek. Toe skryf ek: plastiese chirurgie. Ek het so half ’n idee gehad om ’n plastiese chirurg te word omdat die estetika daarvan my aanstaan. Jy neem ’n knol en maak daarvan die fraaiste klein neusie waarna jy kan terugstaan en kyk hoe die pasiënt ’n nuwe lewe kry. En dit help beslis om die huisverband te betaal. Hierdié stukkie advies het een van my lektore aan die mediese fakulteit in my oor gefluister.

Ek het dus plastiese chirurgie gekies as my bydrae tot die nasie, maar wat het die nasie my gegee? Psigiatrie.

Dit moet ’n fout wees, het ek gedink. Toe nie. Daar is net ’n paar plekke vir plastiese chirurgie en hulle is baie gou gevul. Wat is dus volgende op die lys? “Psigiatrie natuurlik, onnosel.”

Só het ’n hoogs geïrriteerde sersant met ’n gesig vol akneemerke aan my verduidelik. “Fok, ken jy nie jou alfabet nie?” het hy geskree. “PS kom ná PL. Fokkof nou!”

Die weermag het besluit dat ek ’n psigiater sal wees en daar was niks wat ek daaraan kan doen nie – ek is immers laer as slangkak. Ek het my opdrag ontvang en ek moes dit uitvoer.

Die weermag se mediese hoofkwartier is in Pretoria, in ’n splinternuwe hospitaal wat trots op ’n heuwel uittroon. Die gebou se amptelike naam is 1 Militêre Hospitaal, maar almal verwys daarna as 1 Mil. Geen koste is ontsien nie. Die plek is met net die beste en duurste toegerus. Aan die voet van die heuwel is die ou 1 Mil, ’n mengelmoes van vervalle opslaangeboue. Dit is waarheen diegene met wie dit geestelik nie so goed gaan nie gestuur word.

Op my eerste dag daar ontmoet ek my nuwe baas, ’n besonder klein kolonelletjie met ’n eksotiese naam, ten minste gemeet aan weermagstandaarde – Ronaldo de Jager. Al die uiterlike vertoon van mag, soos die glinsterende epoulette en die skerppunt-kadotjie met die oranje band om, lyk half onvanpas by so ’n klein figuurtjie. Die verpleegsters sê vir my hy het baie ervaring en hy het al jare lank met geestesiektes te doen. Dit kan dalk waar wees, maar my eerste indrukke is nie gerusstellend nie. Hy maak skielike, senuagtige, rukkerige bewegings nes ’n marionet. En hy is asmaties. Net nadat ek hom ontmoet het, hoor ek ’n gehyg. Hy pluk sy asmapompie uit en sit dit in sy mond, maar, o hemel, die koördinasie is power. Die eerste spuit is heeltemal mis. Dit spuit verby sy wang en sy oor. Dalk was dit net ’n oefenlopie? O nee. Hy sit die doppie terug en sit die pompie in sy sak. Die gehyg hou op.

Die psigiatrie-eenheid is groot, en om die kliniese werklas te kan baasraak, word ’n kollega van my van die mediese fakulteit saam met my daarheen gestuur. David is ’n fees, werklik sjarmant en ’n connoisseur van vroue. Om te hoor hoe hy die unieke eienskappe beskryf van die een of ander skoonheid wat hy raakgesien het, is soos om na ’n universiteitslesing oor kunswaardering te luister. Selfs vroue wie se voorkoms aan die alledaagse grens, voer hom tot ongelooflike hoogtes van fantasie. Dis die gevolg van ’n uitsonderlike geskiedenis in die kuns van verleiding en ’n amper heldersiende begrip van wat vroue eroties vind.

Die persoonlikheid van ’n derde dienspligtige, wat reeds ses maande in die eenheid is, is minder innemend. Ek en David onthou hom albei goed uit ons studentedae. Maar die kort pokkeltjie wat eens heel rustig en aangenaam was, het in ’n baasspelerige, bemoeisieke vent ontaard. Hy skarrel rond, gee vir ons bevele, wys ons tereg, en, ja, komplimenteer ons soms, baie ingenome met sy kastige senioriteit. Aanvanklik amuseer sy petaljes ons, maar sy bombastiese houding is ook gemeen, en binne weke is ons uitgekuier. Ons gee hom die bynaam “Vlakvark” en vermy hom so ver moontlik.

Tot my verbasing vind ek die werk fassinered. Ek weet bitter min, maar ek wil graag leer. Die laaste psigiatriese pasiënt met wie ek te doen gehad het, was drie jaar vantevore in ’n ses weke lange psigiatriekursus toe ek nog ’n mediese student was. Dit was die volle omvang van my opleiding. Nou kry ek binne ’n oogwink enorme gesag om met ernstig siek pasiënte te werk.

Die eerste tekens van erge geestesiektes, soos skisofrenie en bipolêre versteuring, word in die laat tienerjare en vroeë twintigs opgemerk. Net mooi die tyd toe die koevert met die gevreesde posstempel in die posbus land. Ek is seker dis blote toeval, maar die demografie hou ons baie besig.

My dae is vol psigoses. Seuns wat met die maan praat, wat soos wolwe huil, wat daarvan oortuig is dat hulle vergiftig word, of dat hulle Jesus is. Jong manne met briljante planne om miljarde te maak, om kanker te genees, of om goud uit mielies te maak, jong mans wat in so ’n diepe depressie verval het dat hulle smeek om dood te gaan en dit probeer bewerkstellig met ’n stuk tou of ’n bottel pille, of die ergste van alles, ’n geweer, iets waaraan daar natuurlik g’n tekort is nie. Selfmoord, goedgunstig deur die staat gesubsidieer.

Twee maande nadat ek in die gestig begin werk het, hunker ek glad nie meer na plastiese chirurgie nie. ’n Gewonde verstand is skielik interessanter as om ’n paar plooie uit te stryk of ’n onderbedeelde boesem te laat blom. En dit is nie net hallusinasies en drogbeelde wat my fassineer nie. Dit is die patos van ’n lewe wat ontspoor het. ’n Hartseerwêreld lê binne die mure opgesluit. Die psigotiese pasiënte, wat in ’n ander dimensie rondsweef, is nie van hul benarde toestand bewus nie. Maar hul families sien dit raak. Wanneer Ma en Pa hul verlore seun kom oplaai, is die hartseer en kommer op hul gesig afgeëts, hang hul skouers en lê die vrees vlak in hul onrustige oë. Die weermag weet daar is vir dié seuns geen terugkeer nie. Beskadigde goedere moet teruggestuur word.

Soms trap ek klei, want sommige pasiënte se probleme is gekompliseerd en ek is ’n groentjie. Weet ek wat ek doen? Ek kry ’n man se gemoed om mee te werk en ek is bekommerd dat ek Hippokrates se ononderhandelbare rigsnoer wat ons op universiteit geleer het, verbreek: Primum non nocere (Moet in die eerste plek geen leed veroorsaak nie). Dit impliseer dat ons as dokters versigtig moet wees en ons moet weerhou van riskante besluite met moeilik voorspelbare gevolge. Om vir my tekortkominge te probeer vergoed, lees ek met oorgawe. Handboeke, mediese tydskrifte en handleidings lê opgestapel op my lessenaar en my bedkassie, in die plek van Comédie Humaine wat ek van Parys af saamgebring het.

Gelukkig geskied my werk onder toesig. De Jager is ongetwyfeld ’n goeie mens, maar sommige van sy sienings is baie verdag.

“Ek is van die ou skool,” lig hy my trots in. Hy dra sy diensjare soos ’n medalje vir dapperheid. De Jager is ’n groot voorstander van skokterapie. “Geen spierverslapper nie,” betig hy my. “Dit maak die terapie doeltreffender omdat die skok groter is.” En hy bal sy vuis om die effek te verhoog.

“Hoe groter hoe beter,” is die hoeksteen van die voorstanders van dié terapie. Om te keer dat die pasiënt met die skoktoediening van die bed af val, “is net ’n bietjie gewig op sy borskas nodig”, lig hy my in. “Dis eintlik net basiese meganika.”

Hy lyk ingenome met homself, maar die narkotiseurs is hewig ontsteld. Rugwerwels kan breek as jy nie ’n verslapper toedien nie, laat hulle in ’n koor hoor. “Stront,” kap my baas terug. “Daardie snert staan in die fynskrif.”

Hy het in 35 jaar nog nooit so iets gesien nie, maar die narkotiseurs wil niks weet nie. Geen spierverslapper nie, geen narkose nie. Die kolonel is verplig om toe te gee. “Dis antipsigiatriese afpersing,” snou hy hulle toe, terwyl hy kook van die woede.

Die kolonel het twee ondergeskiktes by wie ek, indien nodig, om raad kan aanklop: kmdt. Jin en kmdt. Jang. Jang is blas, kort, geset en toondoof, en Jin is blond, lank, skraal en musikaal. Teoreties moet hulle om die beurt beskikbaar wees, maar Jang woon gedurig die een of ander kursus by. “Om homself te verbeter,” sê hy vir ons, of om sy Ysterman-sertifikaat te kry. Wanneer hy terugkeer, is hy egter net so gemeen soos vantevore, maar hy loop mank, met ’n arm in ’n hangverband of met ’n gespalkte been, maar altyd met ’n vlymskerp tong wat duisend verskonings uitspoeg vir die jongste mislukking. Ons moet almal daarna luister, want hy is tweede in bevel en ons is steeds niks, eintlik minder as niks. Laer as slangkak, om meer presies te wees.

Die punt is: Die kliniese probleme is dikwels kompleks en ek is uit my diepte. Soms haak ek vas en dan vra ek Jin en Jang om te help, maar hulle het ook nie altyd al die antwoorde nie. Dus wend ons ons tot De Jager. Ons kry hom waar hy aanlê by ’n sekretaresse die helfte jonger en dubbel so lank as hy. Hy hanteer die onderbreking goed, as ’n mens in gedagte hou dat hy bitter graag ’n slag wil slaan. Ek vertel hom van die geval. Jin gee sy mening. Jang verskil met Jin. Hulle stry. Die kolonel sê niks. Sy gedagtes is met ander dinge besig.

Ses maande nadat ek daar begin werk het, het die nimmereindigende aantog van soldate in nood ’n stroom geword waaruit ek sukkel om individuele gesigte te herken of name te onthou.

Vervolgingswaan is endemies, dis die gemene deler wat onderliggend is aan driekwart van die gevalle wat ek sien. Maar vervolgingswaan het baie gesigte, van die eenvoudige soort – “Die sersant is besig om saam te sweer teen my” – tot die meer komplekse, beeldryke variëteit – “My sperm word beheer deur mans in Saoedi-Arabië”. Soms onthou jy die meer bisarre hallusinasies, maar wanneer jy agt tot tien pasiënte per dag evalueer, vervaag die besonderhede dikwels.

Dit het gou vir my duidelik geword daar word van ons verwag om ’n andersoortige geneeskunde te beoefen. Wat goed vir die staat is, is nie altyd goed vir die pasiënt nie. Neem die angstige soldaat as voorbeeld (en met angstigheid bedoel ek nie om ’n paar vlinders in die maag te hê nie). Dié soort angstigheid wat by ons uitkom, veroorsaak dat mense nie normaal kan funksioneer nie, en gaan gepaard met sweet, bewerasie, hartkloppings, ’n knop op die maag, diarree en lighoofdigheid, en dis so erg dat die troepie daarvan oortuig is dat hy besig is om dood te gaan. Hy gaan natuurlik nie dood nie, maar die angsaanvalle kom meedoënloos terug en dit is net ’n kwessie van tyd voordat hy by ons uitkom met ’n diep frons op die voorkop, sweterige handpalms en ’n hart vol verterende vrees.

Wat nou? Uit sy geskiedenis blyk dat hy ’n angstige temperament het, die neurose was sedert sy kinderdae teenwoordig, maar dit was beheerbaar. Hy’s iemand wat hom van nature oor dinge kwel, hy slaap sleg as hy stres ervaar, dalk byt hy sy naels, hy’s ongemaklik in skares, effens selfbewus, funksioneer op sy beste in klein groepies en by mense wat hy ken, hy’t ’n paar goeie vriende en ’n liefdevolle gesin.

Wel, nou word dit alles oornag weggevat en vervang deur skreeuende korporaals, woedende sersante, opvlieënde kommandante, 04:00 se opstaan, ’n honger wat aan jou knaag, toilette wat verstop is en mans twee keer jou grootte wat enorme gemeenskaplike storte met jou deel, terwyl jy kaal vir jou skoot koue water wag … maar wat kan jy doen? Boonop moet alles blitsvinnig gedoen word: “Maak gou, maak fokken gou, jou nuttelose stuk kak.”

Jy het nie ses jaar mediese studie nodig om te kan sien hoekom laegraadse angs waaraan iemand al jare lank ly skielik in heelwat ontstellender simptome ontaard nie. En die oplossing is net so maklik: Stuur die soldaat terug huis toe. Ontslaan hom sodat hy kan terugkeer na die voorspelbare roetine van sy voorstedelike bestaan waar hy weer veilig kan voel in die stilte van sy kamer en die warm teenwoordigheid van ’n gesin wat vir hom lief is. Maar dit sal nie werk nie, glad nie, nie hier in die Republiek se enjinkamer nie. Met so ’n benadering sal elke siekeboeg oorstroom word deur dié wat werklik angstig is, hulle dit verbeel of voorgee dat hulle angstig is. Verlaag die drempel vir mediese ontslag tot ’n angsdiagnose en die hele besigheid kom tot stilstand.

’n Weermag kan nie ’n kompromis met neurose aangaan nie. Dus het ons opdrag gekry om die mans – eintlik seuns – te behandel, met die uitdruklike doel om hulle na hul eenhede te laat terugkeer. En dit kan ’n baie ongemaklike ding wees om te doen, want terwyl ek met terapie besig is, die uitdeel van pille of in gesprekke met pasiënte; terwyl ek die SAW se opdragte uitvoer soos dit ’n goeie soldaat betaam ongeag my elementêre vaardighede, hoor ek hoe Hippokrates ’n teregwysing in my oor fluister. Dit is juis dít wat die spanning in militêre psigiatrie veroorsaak, want die weermag kom altyd eerste. Geestesgesondheid is ondergeskik aan die staat.

Daar is egter tye wanneer selfs militêre noodsaaklikheid die knie moet buig voor ’n verstand wat die spoor byster geraak het. Een spesifieke geval het die vreemde jukstaposisie ontbloot van ’n geestesversteuring wat geen reëls gehoorsaam nie en die ysere weermagdissipline wat onversetlik reëlgebonde is. ’n Sewentienjarige infanterie-soldaat, manskap Jardine, is uit die detensiekaserne vir evaluering gestuur. Die majoor wat hom verwys het, was al jare lank lid van die militêre polisie.

“Ek het nog nooit so ’n geval teengekom nie,” moes hy erken. “Eers het ons gedink dis verregaande insubordinansie, ’n outjie wat hom slim hou en nie ’n moer omgee nie, maar dit lyk of dit veel meer as dit is. G’n straf kan manskap Jardine rede laat insien nie. Hy is soos ’n fokken papegaai.”

Daarna ontvou die verhaal stuk-stuk. Jardine was toe reeds drie maande in die weermag. Hy is in dieselfde tyd as ek opgeroep en is na 4 SAI op Middelburg gestuur. Aanvanklik het alles redelik goed gegaan. Daar was geen waarskuwingstekens nie, hy was net nog ’n dienspligtige, een van duisende wat deur die stelsel beweeg. Ná drie maande kla Jardine egter by die dokter dat ’n kpl. Smits op hom pik. Hy word aangesê om baie gou daaroor te kom en hy word daaraan herinner dat korporaals juis betaal word om op mense te pik omdat hulle so goed daarmee is. “Dit sal van jou ’n man maak,” is die dokter se raad.

Niks word weer van Jardine gehoor nie tot een oggend, vroeg in die lente, toe die einste Smits en sy peloton op die paradegrond aan die dril is.

“Halt!” skree Smits.

“Halt!” eggo dit êrens vanuit die manskappe se geledere.

Smits verstyf. Het hy dalk verkeerd gehoor? Het ’n soldaat ook “halt” geroep? Dis tog onmoontlik. Wie sal so iets waag, laat staan nog in ’n infanterie-eenheid? Ek moes my dit verbeel het, dink Smits. Dis seker die wind wat met my stem speel. Hy kyk om hom rond. Die wind waai inderdaad nogal woes. Klein sandstormpies warrel rondom die voete van die peloton. Sy manne staan roerloos voor hom. Doodstil, nie ’n beweginkie van een van hulle nie. Drie maande se dril en kyk net so! Fantasties! Vyftig gesinchroniseerde soldate wat soos een man marsjeer, net waar hy hulle wil hê. Nou ja, ek moet seker aangaan, dink hy. Daar sal later tyd wees om my lof te besing.

“Voorwaarts mars!” bulder hy.

“Voorwaarts mars!” kom die antwoord.

’n Trilling van ongemak beweeg deur die marsjerende mans. Smits hoor ’n onderdrukte laggie. Dié keer twyfel hy nie oor die lag óf oor die eggo nie.

“Halt!” skree hy.

“Halt!” kom dit terug.

“Wat de fok … ?” is die beste wat Smits kan uitkry terwyl hy onder die troepe instorm om uit te vind wie die koggelaar is. En sowaar, die duplikaat “Wat de fok … ?” lei hom reguit na Jardine toe.

Smits weet nie mooi hoe om sulke verregaande gedrag te hanteer nie. Manskap Jardine staan voor hom, penregop en staar uitdrukkingloos voor hom uit.

“Wat het jy nou net gesê?” brul Smits.

“Wat het jy nou net gesê?” skree die uitdrukkinglose manskap Jardine.

Sommige van die mans kan hulle nie meer bedwing nie. Die gelag is soos ’n klap in die gesig vir Smits. Al wat hy kan uitwurg, is: “Bly stil, julle bobbejane.” Waarop manskap Jardine dienooreenkomstig reageer.

Die laaste bietjie dissipline in Smits se peloton is daarna daarmee heen. Die mans lag so hard dat die netjiese rye begin opbreek. Te midde van die algemene chaos is manskap Jardine die enigste een wat nie lag nie. Smits, benewel deur woede, let dit op.

Die toneel wat hom daarna afspeel, is soos die een of ander malkop-komedie.

“Stilte!” bulder Smits.

“Stilte!” antwoord Jardine.

“Hou jou bek!!”

“Hou jou bek!!”

“Jy sal jammer wees!!!”

“Jy sal jammer wees!!!”

“Dis jou laaste kans!!!”

“Dis jou laaste kans!!!”

“Liewe hemel …”

“Liewe hemel …”

“Gh’rrr!”

“Gh’rrr!”

En so gaan dit aan. Totdat Smits, deur ’n rooi waas van woede, besef die enigste manier om die spektakel te beëindig, is om Jardine te arresteer. Hy gee vier van die mans opdrag om hom te gryp en met hom na die detensiekaserne te marsjeer.

“Links, regs, links, regs.” Die ritme word geblaf deur ’n briesende Smits, met Jardine wat so vasberade as ooit die gewraakte eggo verskaf.

As daar ooit ’n vermoede was dat manskap Jardine kpl. Smits met opset uitgetart het, is dit baie gou in detensie weerlê. Wat die militêre polisie hom ook al toesnou, word onmiddellik herhaal, en selfs toe Jardine hardhandig behandel word – jy weet, om hom ’n bietjie respek te leer – duur die eggo’s voort, ondanks ’n opgeswelde lip.

Die Jardine wat uiteindelik in die psigiatrie-afdeling beland, is erg psigoties. Sy paranoïese hallusinasies is niks uitsonderliks nie, sou ’n mens die tyd hê om dit te identifiseer tussen die eggo’s deur wat enige sinvolle gesprek amper onmoontlik maak. Die kolonel is besonder geïnteresseerd in die geval. “Wat julle hier sien,” lig hy ons in, “is ’n pragtige voorbeeld van eggolalie, ’n aanduiding van gedagteversteuring wat deel vorm van Jardine se skisofrenie. Is dit nie fassinerend nie?”

Dit is inderdaad, kolonel. Maar ’n fassinasie met psigose is slegs een aspek van waaroor dit hier gaan. Die ander aspek is die konteks waarbinne dit voorkom. Die aard van ’n lewe in die weermag, met die beperkinge wat met rang gepaardgaan en die individu se voorafbepaalde plek in ’n ontoegeeflike hiërargie, laat geen beweegruimte toe nie. Wanneer iets dan verder verkeerd loop, is die gevolge dikwels buitengewoon. So het Jardine se psigose, sy handboek-eggolalie, ontaard in ’n verskriklike pantomime. Daar gaan nie ’n maand verby dat ek nie nóg tragikomiese variasies in my pasiënte teëkom nie. Hoe kan dit ook anders? Waansin en die weermag – wat ’n plofbare kombinasie!

My bultende boek met gevallestudies lewer nog ’n voorbeeld op. Die weermag is baie erg oor sportmanne. Neem deel aan sport, enige sport, en jy het heelwat speling. Toe ’n nuwe pasiënt een oggend toegelaat word, trek daar ’n rimpeling van opgewondenheid deur die saal. Omtrent almal weet wie Jacques is. Hy is ewe goed in rugby en atletiek, maar ook glo glad nie sleg met ’n gholfstok nie. Wat maak hy in ’n psigiatriese saal? Die verwysingsbesonderhede is vaag. Blykbaar was alles nog in orde totdat ons sportheld van ’n kort besoek aan die operasionele gebied in Suidwes teruggekeer het. Hy het verander.

In die plek van die gesellige sportman wat lief vir pret was, is ’n stil, afsydige individu. Hy is nie soseer somber nie as afgetrokke en dis moeilik om op persoonlike vlak tot hom deur te dring. Die opvallendste verandering is dat hy glad nie meer in sport belangstel nie. Hy oefen nie meer nie, lyk traag agter die skrum, gee nie om as die afrigter hom van die veld af stuur nie, en wanneer sy span ’n belangrike wedstryd verloor, haal hy sy skouers op asof hy wil sê: “Wat maak dit tog saak?” Dit is sy apatie teenoor die lewe in die algemeen wat tot die verwysing aanleiding gee.

Het iets dramaties in Suidwes gebeur? Niemand weet nie, die minste van almal Jacques. Hy beweer hy kan bitter min van sy tyd daar onthou. Die paar weke daar is in ’n waas gehul, die besonderhede en tydsverloop onduidelik. Hy was nie op ’n gevegsending nie. Sy bevelvoerende offisier in ’n infanterie-eenheid bevestig dit, maar kan vir ons nie veel meer sê nie. Hy is net so verward as die res van Jacques se bewonderaars.

Jacques is nou al ’n klompie weke in die eenheid. Dit is als baie duister – hy word elke dag meer ontwykend, beweeg al verder weg van enige diagnostiese formulering. Hy ontken dat hy angstig of terneergedruk voel of aan selfmoord dink. Hy het nie soos arme Jardine kontak met die werklikheid verloor nie, dus is dit nie ’n psigose nie. Maar als is beslis nie wel nie. Sy gebrek aan belangstelling en sy swak herinnering aan sy besoek aan die noorde is duidelike tekens daarvan.

Die kolonel roep ons byeen. Hy is baie opgewonde. “Wat julle sien, is ’n uitstekende voorbeeld van la belle indifference, dit lyk of die pasiënt se siekte hom nie pla nie,” lig hy ons in. “Dit is ’n teken dat alles nie wel is in die onderbewussyn nie. Ons moet tot die man se onderbewussyn deurdring voordat hy gesond kan word.”

Die kolonel het ’n plan. Hy hou die sleutel tot die slot en dit is narkoanalise.

Ek vind mettertyd uit dié prosedure het ’n lang geskiedenis. In wese behels dit om die pasiënt met ’n sterk kalmeermiddel te laat ontspan, vandaar die “narko”-deel, om hom in ’n staat van verminderde bewussyn te plaas. Sodoende word die inhibisies, wat hom daarvan weerhou om die onderdrukte herinneringe op te roep, verminder. Dit blyk ons eenheid het toegang tot ’n man wat glo al meer narkoanalises as enigiemand anders in die wêreld gedoen het. Dis onmoontlik om vas te stel of daar enige waarheid in dié buitensporige aanspraak steek, maar Nothnagel het ongetwyfeld baie ervaring van die prosedure. Hy is ’n groot man wat spoggerig aantrek, met ’n klein Errol Flynn-snorretjie. Hy is ’n kettingroker en selfs tussen sigarette deur het hy die gewoonte om die rook van ’n denkbeeldige sigaret in te trek.

Nothnagel is nie in die weermag nie, maar hy konsulteer een keer per week daar. Hy is die soort psigiater wat altyd reg vir die volgende ding is. Vroue is gek oor hom en ek vermoed die farmaseutiese bedryf ook, want hy deel graag medisyne uit. Ons noem dit die Noag-se-ark-voorskrif, want daar is twee van alles: senuweepille, antidepressante, antipsigotiese middels, gemoedstabiliseerders en slaappille; en almal in groot dosisse. Die voorskrifte word aan die aptekers gegee wat rondskarrel om bottels vol pille te maak, wat in groot bruin kardoese oorhandig word aan pasiënte wat blykbaar nie genoeg van die konkoksies kan kry nie.

Nothnagel se spesialiteit is om gelyklopende narkoanalise toe te pas, en hy ken werklik sy storie. Sy metode is om gelyktydig met verskillende pasiënte afsprake te maak. Hulle is almal vroue en elkeen het haar eie afskorting met ’n gemaklike bed. Sodra die vrou rustig lê, dien Nothnagel geleidelik groot dosisse Valium binneaars toe. Die drup word só gestel dat dit 45 minute lank loop. Die vroue word aangemoedig om te ontspan, die kalmeermiddel toe te laat om sy wonderwerk te verrig, en aan hul gevoelens uiting te gee.

“Verwoord wat ook al in jou gedagtes is,” spoor Nothnagel hulle aan. “Laat dit alles uitborrel.”

Hy skakel ’n bandopnemer aan. Daar is op dieselfde oomblik drie vroue en drie bandopnemers in drie verskillende afskortings. Kort voor lank begin die vroue babbel en hul verborge, onderdrukte gevoelens uitblaker, terwyl ons wêreldkenner op die gebied van narkoanalise buitentoe glip vir ’n Camel Plain.

Ek word aangesê om by Nothnagel te hoor hoe om ’n pasiënt vir so ’n prosedure voor te berei. Die koning van narkoanalise help graag. Hy begelei my na een van sy afskortings. Hy loop saggies in en wys dat ek hom moet volg, maak nie saak dat een van die vroue halfpad deur haar analise is nie. Sy lê op haar rug en dit lyk of sy insluimer. Nothnagel ignoreer haar en wys na die 500 cc-soutoplossing wat stadig in ’n netjies voorbereide aar indrup. Hy wys vir my die drie leë 10 mg-buisies Valium en beduie dat hy dit by die soutoplossing gevoeg het. Hy vroetel met die drup en vorm die woorde 45 minute met sy mond. “En dis al, dis eintlik doodeenvoudig.”

Tyd vir nog ’n Camel.

My opleiding by Nothnagel is nou afgehandel en ons is gereed vir Jacques. Met “ons” bedoel ek De Jager en Jacques se bevelvoerende offisier, kol. Willem Vermeulen, asook ’n paar adjudante wat genooi is om na die onthullings te luister wat na alle verwagting sal voortvloei nadat ek die Valium ingespuit het.

Die vertrek wat vir die prosedure gekies is, is klein. Dus is daar nogal min plek toe Jacques deur een van ons verpleegsters ingelei word. Hy lyk ontsteld – hy het nie verwag om sy bevelvoerder onder sulke omstandighede raak te loop nie. Ek ook nie, en ek kan nie help om te wonder oor die wysheid van so ’n uitnodiging nie. As ’n versteurde jong man sy emosies gaan blootlê en ons insig in sy diepste psige gaan gun, behoort ons hom tog sekerlik toe te laat om dit ver van die nuuskierige oë (en ore) van ander te doen. Maar ons kolonel het soveel vertroue in die wondere wat Nothnagel week ná week met sy legio vroulike aanhangers verrig dat Jacques se kolonel, wat in sy onberispelik netjiese uniform na ’n moeilike kalant lyk, uitgenooi is. En dus kom ons weer eens voor een van daardie unieke militêre situasies te staan. Jacques het geen sê in wat gaan gebeur nie. As hy ’n burgerlike was, sou hy vir sy psigiater en die klomp toeskouers kon sê om spore te maak omdat hulle alle professionele grense oorskry. Maar nie hier nie, o nee.

Waar Jacques tot dusver dalk taamlik onbelangstellend was oor sy lot, het dit nou verander. Terwyl ek hom op die ondersoekbed gemaklik maak, kyk hy heeltyd bekommerd na sy kolonel, sy ontsteltenis duidelik sigbaar. Ek voel ook ’n bietjie bang, maar om heeltemal ander redes. Ek bid heimlik dat Jacques goeie are het. Ek wil nie die insteek van die naald vir die binneaarse drup opfoeter in ’n klein kamertjie met twee kolonels en verskeie adjudante nie. Ek vra Jacques om sy mou op te rol. Wat ’n verligting. Hy het tuinslange vir are.

Die vloeistof begin vloei en daarmee saam die ampules Valium. De Jager leun oor, skakel die bandopnemer, wat hy by die wêreld se mees ervare narkoanalis geleen het, aan. Ek verstel die vloeitempo van die drup en kyk na die kolonel. Hy hou sy vinger voor sy lippe. Almal wag in gespanne stilte. Ek word skielik bewus daarvan hoe warm dit in die kamer sonder vensters is. Sowat 15 minute gaan verby en dit lyk of Jacques insluimer. Skielik beweeg die kolonel vorentoe en tik Jacques liggies aan die arm.

“Moenie aan die slaap raak nie, hoor,” sê hy saggies. “Ons moet praat.”

Jacques reageer nie. Die kolonel lyk ongestoord. Hy tik Jacques weer aan die arm, maar dié keer harder. Jacques slaap verder.

“Miskien het te veel van die goed ingeloop,” fluister die kolonel terwyl hy my beskuldigend aankyk.

Ek weet nie eintlik wat om te sê nie. Ek is seker ek het Nothnagel se vrou-verdowende formule gevolg. Maar Jacques is nie ’n vrou nie en ’n kortstondige oomblik kom die gedagte by my op dat ons Wêreldkenner dalk die verkeerde geslagspesifieke inligting vir my gegee het.

My vrese word besweer toe Jacques skielik tekens van lewe begin toon. Hy maak een oog oop. Hy neem ’n tydjie om te fokus voordat hy met een oog na sy kolonel staar. Die mees idiotiese glimlag vou oor sy gesig. “Hallo, Willie, dis goed om jou te sien,” sê Jacques en lig sy duim in die lug vir sy kolonel.

Vermeulen lyk nie geamuseerd nie. Sulke familiariteit is totaal ongehoord. Maar terwyl die infanterie-kolonel ontsteld is, lyk dit of ons psigiatrie-kolonel deur die onverwagte wending bemoedig word.

“Die medikasie werk goed,” fluister hy vir niemand in besonder nie, maar voordat hy enige ander insigte aan ons kan oordra, word hy deur Jacques onderbreek. Sy skaapagtige glimlag het steeds nie verdwyn nie. “Luister, ek het ’n probleem vir jou om op te los.”

Jacques wuif vrolik vir sy bevelvoerder asof hy te kenne wil gee dat dit sy plig is om met die oplossing vorendag te kom. Vermeulen gluur hom net aan. Jacques, salig onbewus van die kwaai kyk, is ongestoord. “Haai, Willie,” roep hy, “wat is die verskil tussen die weermag en die sirkus?”

’n Geskokte stilte daal neer. Selfs De Jager is bewus daarvan dat ten spyte van die mediese omstandighede, daar nou op tone getrap kan word. Al een wat salig onbewus is van die gemors wat aan die ontwikkel is, is die pasiënt self, wat sy eie vraag beantwoord terwyl hy skater van die lag.

“Die weermag het meer tente!”

Ek wil lag, maar is verstandig genoeg om dit nie te doen nie. Maar Jacques, wat meer as 30 milligram ontspannende Valium in sy are het, vind sy grap skreeusnaaks.

“Vang jy dit, hè? Vang jy dit?” sê hy en slaan so hard op sy dybeen dat hy amper die binneaarse buis uittrek wat ek so sorgvuldig ingesteek het. “Die fokken weermag het meer tente!”

Niemand is seker wat om te doen nie. Jacques rol van die lag. Ons kyk na De Jager vir leiding, maar hy lyk effens paniekbevange.

“Gee hom nog van die goed,” beveel hy.

Ek breek nog ’n buisie oop, maar dit maak dinge net erger. Nou het Jacques glad geen inhibisies meer nie en ek kan hom nie stil kry nie. Hy het aanbeweeg van sy grappe oor die weermag en die sirkus na ’n lys vroue met wie hy geslaap het en hul onderskeie sterk en swak punte. Dit is interessant, en ’n mens kan nie help om beïndruk te wees deur sy sukses én sy uiteenlopende smaak nie.

Jacques is nou eers goed aan die gang. Sy ander oog is oop en hy tel sy prestasies een vir een af, waaronder ’n baie vroeë ervaring toe hy skaars uit puberteit was. Ek het al baie stories gehoor, sommige daarvan erg twyfelagtig, oor die seksuele oorwinnings van sportmanne. Maar danksy Nothnagel se formule word die waarheid nou blootgelê.

“Skakel dit af!” sis Vermeuelen. “Skakel daai fokken bandopnemer af.”

Die seks-eskapades is die laaste strooi. Vermeulen leun oor na my toe. “Gee vir my die kasset.” Hy steek die onwelvoeglike materiaal in sy sak, staan op en sonder om “totsiens” of “dankie” te sê, storm hy uit met sy onderdane flink op sy hakke. De Jager skarrel agter hom aan, terwyl ek en ’n salig gelukkige Jacques alleen agterbly.

Ek staak die binneaarse toediening en wag vir sy herinneringe om op te droog. Geen liggaam vir lank teen soveel Valium baklei nie. Kort voor lank slaap Jacques. Die simpel grynslag verander in ’n tevrede glimlag. Gelukkig sal hy nie veel onthou van wat so pas gebeur het nie. Een van Valium se etlike voordele is dat dit geneig is om ’n mens te laat vergeet wat gebeur het terwyl jy onder die invloed daarvan was.

Weer eens het ’n redelik algemene mediese prosedure – gemeet aan Nothnagel se standaarde – weens die unieke omstandighede van ’n militêre omgewing in ’n klug ontaard. Ek het nog jare daarna baie myle uit daardie sirkus-grap gekry. Maar wat van Jacques? Hy het ontwaak en is binne ’n dag na sy eenheid teruggestuur waar hy buite sig in die pakhuise bokse gaan pak het. Die glorieryke dae op die rugbyveld was iets van die verlede. Die held het hard aarde toe gekom.

Ons kon nooit vasstel wat sy probleem was nie.

Kopwond

Подняться наверх