Читать книгу Kopwond - Anthony Feinstein - Страница 5
3
Оглавление’n Veraf oorlog
Wat gebeur aan die oorlogsfront? Terwyl ek my aan die voet van die heuwel afsloof in ’n versameling ou baksteengeboue, opslaanhutte en waens, buite sig van die glinsterende nuwe bousel daarbo, voel dit of die oorlog baie ver weg is. ’n Mens vergeet egter nooit heeltemal daarvan nie. Dit hang soos ’n vae bedreiging oor jou, ’n bron van onderbewuste ongerustheid.
Elke nou en dan word jy met die werklikheid gekonfronteer wanneer ons ’n soldaat opneem wat van die voorste linies af kom. Hulle lyk almal dieselfde: sonverbrand, verbleikte hare, maer, gespanne en oorweldig om weer by die huis te wees, klere en uitrusting met fyn sand bedek. Hul verwaarloosde voorkoms steek af teen ons netjies gestrykte hemde, broeke met perfekte voue en stewels wat so blink dat ’n mens tot binne-in jou neus kan sien as jy na jou tone kyk. Psigotiese dienspligtiges word vinnig ontslaan – hul ouers kom haal hulle, of hulle word met ’n eenrigtingkaartjie in ’n trein gelaai. Stuur iemand saam as stemme vir die seun sê dat hy die maan moet volg. Maar diegene wat deur die oorlog getraumatiseer is, bly. Ons is, per slot van sake, ’n militêre eenheid.
Posttraumatiese stres, gevegstamheid, bomskok, noem dit wat jy wil – dit is ons gebied van kundigheid. In dié gevalle mik ons na genesing, maar dis nie maklik nie. Die verhale wat ons by dié mans hoor, maak die pyn van ’n veraf oorlog baie werklik. Hul emosionele wonde sny diep. Een voorbeeld is Jan, ’n seiner wat ’n maand lank operasionele diens gedoen het.
Een oggend het ’n patrollie van Ondjiva, ’n Suid-Afrikaanse basis in Angola, vertrek. ’n Klompie pantservoertuie beskerm vragmotors wat voorraad vervoer en Jan is in die voorste voertuig. Dit is ’n gevaarlike pad en ná ’n paar kilometer ry sy voertuig oor ’n landmyn. Die aarde dreun en sy voertuig se voorkant steier soos ’n wilde perd. Mans word deur die lug geslinger en val in die mynveld. Dieselfde gebeur met die tweede pantservoertuig en ’n vragmotor.
Twee mans beland bo-op landmyne. Een is op slag dood, die ander is baie swaar gewond. Hy lê ’n paar meter van Jan af, wie se wind uit is. Jan het ook ’n harde singgeluid in sy kop, maar tot sy verligting kom hy agter dat hy relatief lig daarvan af gekom het. ’n Paar snye en kneusplekke, dis al. Eers wil hy hardloop na waar dit veilig is, maar net toe hy wil opspring, besef hy dat hy in ’n mynveld lê. Daar is geen myngrawers in die klein konvooi nie en niemand kan dit waag om te beweeg totdat hulle opdaag om die landmyne onskadelik te stel nie. Jan moet dus wag.
Die deuntjie in sy kop word sagter. Nou kan hy die man langs hom hoor kreun. Hy loer deur die rook om beter te kan sien. Liewe hemel, wat ’n gemors. Die man se ingewande is uitgeruk. Sy derms peul soos stringe wors uit. Een van sy bene is gebreek, die been steek deur die vel, ’n wit skerf in ’n see van bloed en ingewande. Jan se eerste instink is om na hom te kruip en te probeer help. Maar hy durf nie beweeg nie. Sê nou hy kruip oor ’n landmyn? Hy kyk weer na die gemors langs hom en besef dis die lot wat op hom wag as hy hom misreken.
Dit is meer as wat hy kan verdra. Hy maak sy oë toe. Hy wens hy kan sy ore ook toedruk, enigiets sodat hy die gewonde man se gekreun nie kan hoor nie.
Die agterste deel van die konvooi het rondom die vernietigde voertuie stelling ingeneem. ’n Landmynontploffing word dikwels deur ’n aanval opgevolg. Is dit wat nou gaan gebeur? Indien wel, is dit klaarpraat met my, dink Jan. Hy is bang en dors. Hy soek sy waterbottel, maar die slag moes dit van sy gordel af losgeruk het, want hy kan dit nie kry nie. Die son skroei. Toe hy sy oë weer oopmaak en sy nek uitstrek, sien hy ander mans lê oor die gebied gesaai, versteen soos hy. Hy voel nou nie meer so alleen nie, maar niemand is nader aan die swaar gewonde man nie.
Hy kyk weer. Vlieë koek saam op die blink, glibberige gemors wat by die man se maag uitpeul. Hul gezoem vermeng met sy gekreun. Met afgryse sien Jan die man maak sy oë oop. Dit kan nie wees nie – hy is by sy bewussyn! Hulle kyk na mekaar.
Die gewonde man probeer iets sê. Wat is dit? … Water. Die man vra water. Jan wil vir hom sê hy het nie water nie, maar hy kan die woorde nie uitkry nie. Hoe hard hy ook al probeer, hy kan nie praat nie. Sy stem is weg. Hy voel met sy hand op sy keel of hy beseer is. Hy is nie.
Hy begin paniekerig word. Hy wil skree: Help! Help die man hier langs my wie se ingewande uitgeruk is.
Maar hy kry nie ’n geluid uit nie. Sy stem is weg. Die gewonde man smeek sag om water, met sy oë wat in Jan s’n inboor. “Water, water,” sê hy in ’n krakende stem. Waarop Jan net met stilte kan antwoord.
Jan is nie seker hoe lank hy daar gelê het nie. Hy moet weer sy oë toemaak. Maar nou druk hy sy ore ook toe, desperaat om die smeking van ’n sterwende man uit te sluit. Dit is hoe die myngrawers hom vind. Hulle trek Jan se hande van sy ore af. Hy skrik toe hulle aan hom vat en hy maak sy oë bang oop. Die man langs hom is dood en die myngrawers jaag die vlieë weg, maar hy kan sien dit help nie, want die swerm is te groot. Jan wens hy is ook dood. Daar is geen vreugde daaraan om dít te oorleef nie. Hy voel skuldig omdat hy gered is. En hy kan steeds nie praat nie.
Jan word per vliegtuig na die psigiatriese hospitaal in Pretoria gebring. Die verwysing lui bloot: “18-jarige man. Stom, fisiek gesond.” En dis al wat ons weet.
My eerste indrukke van die man is gunstig. Hy het mooi gelaatstrekke, is klein gebou en het ’n stil, eerbiedwaardige houding met ’n melancholiese ondertoon. Geen vernietigende smart of groot vertoon van angs nie. Hy kommunikeer deur te skryf en dis hoe ek hoor wat op pad van Ondjiva gebeur het.
Die uitdaging is om hom sover te kry om klanke voort te bring voordat hy sal kan praat, maar ons behaal nie sukses daarmee nie. De Jager neem by my oor. Ons het ’n meer ervare hand hier nodig, verduidelik hy. Dis diepe waters. Ek stem volmondig saam, maar selfs ervaring help nie. Daar kom g’n geluid by Jan se mond uit nie. Die weke word maande.
Intussen keer kmdt. Jang van nog ’n Ystermankursus terug. Sy arm is gespalk en hy verduur baie pyn, Ysterman-soort pyn. Gelukkig het hy die gestel om dit te kan vat, lig hy ons in, maar daar is nie sprake van ’n sertifikaat om dit te bewys nie.
“Wat beteken ’n simpel sertifikaat in elk geval?” vra hy vererg. “Net ’n fokken stuk papier, dis wat dit is.” Nadat hy dié sakie in perspektief gestel het, word Jan die voorwerp van sy gramskap en beweer hy daar’s ’n slang in die gras. Die kommandant vermoed altyd daar’s ’n slang in die gras. Hoe weet ons Jan is nie besig om te maak of hy nie kan praat nie? Dis tog duidelik, spreek die goedhartige Jang sy mening uit, dat dit sy paspoort uit die oorlog uit kan wees. As hy weer begin praat, stuur ons hom terug. Dus bly hy nou liewer tjoepstil.
Die kommandant oorweeg allerlei take as straf vir Jan se behandeling. “Hou op om hom in watte toe te draai,” vermaan hy. “Laat hom die kakhuise skoonmaak. Met ’n tandeborsel. Laat hom aan parades deelneem. Laat hom lang ente hardloop. Teen steil heuwels uit. Ek bedoel, sy bene werk tog? Werk so ’n bietjie rof met hom. My fok, sit ’n ertjie onder sy matras. Dit sal dinge so ’n bietjie ongemaklik maak vir die klein prinsie.”
Kmdt. Jang skep asem. ’n Glimlag verskyn op sy gesig. ’n Mens kan sien hoe die ratte in sy kop werk. Ek sal hierdie lyfwegsteker onder hande neem, kan ’n mens hom sien dink.
Maar die kolonel het genoeg gehoor. “Ons sal net mooi die teenoorgestelde doen,” beveel hy. “Laat ons erken dat ons terapie nie gewerk het nie. Miskien sal tyd saam met sy gesin sy stem laat terugkom.” Jan se ouers woon aan die kus in Port Elizabeth, 900 km ver. Ek kry opdrag om hom huis toe te neem.
Ek sien nie uit daarna nie. Jan is ’n enigste kind en sy ouers het bitter min inligting oor wat gebeur het. Hulle weet hy word in Pretoria behandel, maar waarvoor? Psigologiese stomheid is ’n moeilike begrip om oor die telefoon te verduidelik. Hulle is dus nie oor die diagnose ingelig nie. Hulle is egter gerusgestel dat hy medies nie in gevaar verkeer nie. Dit verskaf ’n mate van troos, maar dit maak hulle nie minder bekommerd nie.
Ons vlieg Port Elizabeth toe in ’n Dakota van die leër, ’n ou raserige rammelkas. Ons is die enigste twee passasiers. Daar is geen vensters nie en die binnekant is somber. Van tyd tot tyd leun die vlieënier agtertoe en skreeu die naam van ’n dorp waaroor ons vlieg.
Jan sit oorkant my. Hy is bly dat hy huis toe gaan en het vir my in ’n briefie dankie gesê. Hy kyk na my en glimlag effens. Ek glimlag terug. Dit is ’n lang vlug en later verdof die glimlagte. Ons stryk die middag om 12:00 neer. Ek klim eerste uit die vliegtuig.
Aan die onderpunt van die trap staan ’n ou egpaar. Is hulle Jan se oupa en ouma? wonder ek. Maar nee, hulle is inderdaad sy pa en ma. Hulle het hom laat in hul huwelik gekry, hul wonderwerk-kind, lank nadat hulle ophou hoop het. Dit gaan nog moeiliker wees as wat ek gedink het. Hulle lyk paniekbevange.
Ek stel myself voor en hulle stamel iets terug. Is dit George en Grace? Maak nie saak nie, want hulle kyk nie na my nie, maar verby my, op soek na hul seun, wat so naby agter my loop dat hy ’n oomblik nie sigbaar is nie. Ek staan eenkant toe en skielik is hulle al drie bymekaar. Daar is ’n oomblik van oorblufte stilte terwyl ’n ouer se ergste vrees plek maak vir verligting, so groot dat die pa en ma daar voor my oë op die aanloopbaan as ’t ware kleiner word.
Die ma huil. Die pa sit sy arm om haar skouer. Jan beweeg nie. Hy lyk verlore. Sy pa gee versigtig ’n tree vorentoe en gaan staan stil. Hy kyk eers na my asof hy wil vra: Mag ek my seun maar ’n drukkie gee? “Asseblief,” sê ek, met ’n knop in die keel, en ek staan vinnig terug, verbouereerd deur die ontsag wat hulle my betoon. Dis ék wat geen reg het om hier te wees nie.
Jan se ouers verwerk sy stilte baie goed. Dis duidelik dat hulle iets heelwat ergers verwag het. Hy lyk fiks en is bruingebrand. Hy loop, hy kan hardloop, sy verstand is helder, hy leef! Wat maak ’n klein dingetjie soos om te kan praat saak? Hulle sal hom daardeur help – sy ma verseker my daar is niks soos tuisgemaakte kos en liefde nie.
Sy hou my hand styf vas. “Dankie, dokter, dankie.” Sy huil steeds. Sy pa hou my ander hand vas. Hy skud dit met oorgawe. Ek is skaam oor hul dankbaarheid. Wat het ek gedoen om dit te verdien? Ek is maar net die chaperon wat die kort lootjie getrek het, die groentjie-psigiater, ’n dienspligtige nes hul seun. Die oorlog is ’n skandalige gemors en ek is jammer oor hul hartseer, hul stukkende seun en dat ek hom so aan hulle moet oorhandig.
Maar ek verwoord niks hiervan nie.
Terug by 1Mil is daar slegte nuus. Die weermag stuur my en Vlakvark na die gevegsfront. Ver in die noorde van Suidwes is daar ’n garnisoendorp met die naam Oshakati, die tuiste van die grootste militêre basis in die oorlogsone. Ons moet ’n psigiatriese sorteringsdiens van daar af bedryf en die troepe vir post-traumatiese stres evalueer. Vlakvark gaan eerste en ek sal hom dan ná ’n paar maande gaan aflos.
Ek is skrikkerig vir wat voorlê, maar nie die kolonel en sy trawante nie. Hulle is baie opgewonde en ingenome met hulself. Ons gaan die PIE-beginsel in die behandeling van emosionele trauma toepas, vertel hulle my: Proximity (nabyheid aan die gevegsone), Immediacy (vinnige behandeling) en Expectancy (laat die soldaat baie duidelik verstaan dat hy sál terugkeer na die slagveld).
Maar eers moet ons beginner-psigiaters nog genesing help bring. Selfs dít is egter ’n oordrywing van ons kwalfikasies. Ek kan myself nog nie ’n psigiater noem nie. Ek het skaars ses maande se blootstelling aan psigiatrie agter die rug en nou moet ek ’n eenman-eenheid word wat gevegspanning in ’n oorlogsone moet gaan bestuur. Is dit nie ’n bietjie gou nie? Hel nee, word daar aan my gesê, dis oorlog, man. Oorlog! Ons kan nie bekostig om tyd te mors nie. En daar is nie plek vir swakkelinge nie. Staan regop! Skouers reguit! Boude in! Pak jou sak en gryp die geleentheid aan. Jy vertrek binnekort.
Ek begin afskeid neem van almal, maar my melancholie word getemper deur iets heel onverwags – seks. En baie daarvan. Ek doen dit met oorgawe wat aan waansin grens. Daar sal die volgende drie maande geen geleentheid daarvoor wees nie, dus gee ek my vurig daaraan oor. Wanneer ek nie pak nie, het ek seks. ’n Neurotiese libido het van my besit geneem en seks is ’n wonderlike afleiding. ’n Lekker stukkie kan jou alles laat vergeet en daar is geen gebrek aan gewilliges nie. Oorlog is ’n kragtige stimulant, of miskien is dit die naderende skeiding wat ons aandryf. Wat ook al die rede, ek gaan nie tyd mors met ontledings nie. Ek aanvaar bloot dat die geluksgodin in ’n moeilike tyd aan my kant is.
Op die dag van ons vertrek is ek uitgeput. Ek staan op die vliegveld op ’n triestige, koue dag. Dit reën. Voor my doem die agterstewe van ’n monsteragtige Hercules-vliegtuig op. Die helling wat reeds laat sak is, ontbloot ’n enorme anus. Saam met honderde ander rekrute betree ek die spelonkagtige binnekant. Ek voel soos Jona in die maag van die walvis. Ons is gou in die lug.
Niemand sê veel nie, want ons is almal te gespanne. Ek verwyl die tyd deur te kyk na foto’s wat van my mees onlangse meisies vir my gegee het. Van die foto’s het boodskappe by. Sommige is kripties en verwys indirek na weke van wilde passie. Dit laat my glimlag. Dit voel reeds so lank gelede.
’n Paar uur later land ons net suid van die oorlogsone en klouter in die verblindende son uit. Vragmotors wag om ons te vervoer na ’n kamp waar ons die nag gaan slaap. Ons kry elkeen ’n blikkie bully beef vir aandete. Die plek lyk soos ’n tronk en is omring deur doringdraad. Ons sit in die sand en wag. Die atmosfeer bly gedemp. Toe dit aand word, word ons saamgehok in ’n groot, leë vertrek sonder elektrisiteit.
Ek maak my blikkie aandete oop. Dit ruik vrot. Ek lig met my flitslig op die inhoud. Dit lyk soos droë braaksel en ek gooi dit weg. Al wat oorbly, is om te wag dat die dag breek. Ons gaan lê op die sementvloer. Dis ’n koue nag. ’n Paar van die hongerder en dommer mans het die geblikte gemors geëet en hul krampe begin in die vroeë oggendure. Soldate met loopmae strompel al bulkend en kreunend in die donker rond terwyl hulle soos masjiengewere poep. ’n Gestoei ontstaan toe ’n vlaag braaksel oor een van hulle spuit.
Dis nie ’n goeie begin nie.
Die oggend breek vars en helder aan. Nie eens die strafkamp-omgewing kan die prag van die sonsopkoms demp nie. Deur die draad sien ek hoe die horison pienk verkleur. ’n Ligte briesie waai die stank van die nag weg. Die toneel sal selfs nog aanlokliker gewees het as ek nie so honger was nie, maar daar is niks om te eet nie. ’n Paar van ons glip weg en gaan soek kos. Ons vind ’n soort kroegrestaurant nie ver van die kamp af nie. Ons verslind die ontbyt en loop in stilte terug.
Die ledige ure gaan verby terwyl dit al hoe warmer word. Teen die middag verskyn ’n stofwolk in die verte. Ons konvooi het aangekom. Met ’n woeste vaart begelei ’n Jeep die vragmotors by die kamp in.
Korporaals skreeu: “Maak gou, maak gou!” Hulle is hoogs geïrriteerd. Hoekom nou die skielike haas, ná die gedraal tot dusver? Sommige van die mans wat die vrot kos geëet het, beweeg baie stadig. Hulle kan skaars hul sakke oplig en hulle is glad nie lus vir sulke opdragte nie. Hulle antwoord terug, aangevuur deur hul getraumatiseerde ingewande. Dis ’n chaotiese toneel. Tussen die pandemonium deur bulk ’n bulderende stem: “Sjaddup! Sjaddup! Julle dose, sjaddup!”
Ons word verwelkom deur ’n slordige, bleek majoor, wat ek binnekort baie beter sal leer ken. Hy klim uit sy Jeep en swaai ’n knyperbord en ’n klomp papiere rond. Hy laat nie op hom wag om ons in te lig oor die gevare wat voorlê nie. Sy taalgebruik is deurspek met oorlogstaal – rooi sones, hinderlae, ammu, terrs, klieks, victor yankees – ’n haas onverstaanbare taal. Onder sy papiere is ’n lys met soldate se name, ingedeel volgens ons plasing. Ek is een van ses manne wat Oshakati toe moet gaan. Ons kry elkeen ’n enkele toebroodjie en ’n magasyn met skerp ammunisie.
Bene rek iewers langs die pad na Oshakati.
Ons konvooi vertrek. Ons sit stil in rye weerskante in die vragmotor, die seilflappe is toe en styf vasgemaak. Die lug kan nie sirkuleer nie. Sommige van die mans wat ons begelei, het hul hemde uitgetrek. Die bolywe blink in die sauna-agtige toestande. Die man oorkant my het ingesluimer. Die voertuig ruk. Sy kop ruk agtertoe en dan weer vorentoe. Hy kap sy neus teen die loop van sy geweer dat die bloed spuit. Ons is almal te futloos om te beweeg. Selfs die bloeier, wat intussen wakker geword het, kyk lusteloos na die helderrooi druppels wat op die vloer spat waar hulle vinnig stol, donkerrooi verkleur en uiteindelik ’n dowwe bruin word.
Ons kom laat die middag op Oshakati aan. Die basis glim onder ’n blakende son. Duisende dienspligtiges wat veel eerder eerder êrens anders sou wou wees. Hulle woon in ’n stofgat, met sand so ver as wat die oog kan sien, en hul lywe toe onder lae sweet en ghries. Ek sit my goed neer en gaan stort. Die stof en vullis verdwyn onder die kragtige straal koue water en daarmee saam die geur van die een of ander eksotiese parfuum, ’n finale herinnering aan ’n donkerkop-skoonheid van Ciprus.
Die drange van honger en uitputting, nie van die libido nie, ding nou om my aandag mee. Ek spoor ’n bed op, hoewel dit nog nie donker is nie. Ek klim onder die muskietnet in met die plan om voor aandete gou ’n uiltjie te knip. My laaste herinnering is van mans wat sing, lag en dans. Tonele van ongebreidelde vreugde te midde van ’n vagevuur? Kan dit wees? Maar dit blyk later ek het reg onthou. Terwyl ek in droomland was, is daar deurnag jolig gerinkink. Die mediese groep wat klaargemaak het en die volgende dag sou vertrek, het ’n groot afskeidspartytjie gehou en almal het smoordronk geword.
Ek kry ’n kantoor in die siekeboeg. Hier sal ek vir die emosioneel gewondes se terapie verantwoordelik wees. Dis ’n troostelose vertrek. Teen een muur staan ’n metaallessenaar waarvan een laai weg is. Die ander een is gesluit en daar is geen sleutel om sy geheime mee oop te sluit nie. Die blad is oral bekrap – meestal met uitvoerige fallusse en vroulike skaamdele. Dit is die lessenaar wat hulle vir die weermag se psigiater gegee het – ’n Rosetta-steen van obsene boodskappe, gefrustreerde begeerte en perverse verlange. Tussen pasiënte deur verkyk ek my aan die detail en word ek stomgeslaan deur die ongebreidelde wellus wat nie deur ’n enkele skoon gedagte besmet word nie.
Twee stoele, wat lyk of hulle by ’n bordeel geleen is, staan by die lessenaar. Hulle is ook van metaal, met blink rooi plastieksitplekke. En dis al. Daar is geen boekrak, bank of liasseerkabinet nie en daar hang niks teen die mure nie. Net ’n afskuwelike lessenaar en twee smetterige stoele. Dis die terneerdrukkendste vertrek wat ek al ooit gesien het. Tien minute daar sal genoeg wees om jou te laat besluit om die loop van jou R1 in jou mond te druk en jou brein teen die muur agter jou te laat spat. Die teenvoeter vir geluk en vrolikheid, dís my kantoor – die psigiater se saal van melancholie.
Gelukkig is ek in my eerste week nie juis besig nie. Psigopatologie is met vakansie en daar is genoeg tyd om my lessenaar te lees en te wonder oor die arme sotte, soos ek, wat net ’n verrinneweerde meubelstuk vir geselskap gehad het. My bestudering van die lessenaar word onderbreek deur ’n versoek: Sal ek my asseblief by my kollegas in die siekeboeg gaan aansluit? Daar is baie pasiënte wat ondersoek moet word en as die psigiater nie besig is nie, kan hy dalk vir ’n rukkie ’n internis word? Ek skeur my teensinning weg van ’n verhaal oor bestialiteit om my deel in die siekeboeg te gaan doen.
In die apartheidsweermag bepaal die wet dat swart en wit nie met mekaar mag meng nie, behalwe in die siekeboeg. Tot my verbasing is baie van my pasiënte swart, en dit is my eerste blootstelling aan dié soldate wat aan apartheid se “wit” kant veg. Die meeste is lid van 32 Bataljon en praat glad nie Engels nie - hoogstens ’n klein bietjie Afrikaans; dus is kommunikasie meestal onmoontlik. Afsonderlike ontwikkeling, selfs hier in die heel verste uithoek van apartheid se domein, verseker dat ons totaal afsonderlike lewens lei.
In navolging van die politiek, verdeel siekte mense ook volgens ras. Sover ek kan vasstel, het die maatskaplike orde in dié gemeenskap heeltemal in duie gestort. Hoe anders moet ’n mens die feit verklaar dat feitlik al die soldate geslagsiektes onder lede het? Die mediese korps het elke dag te make met lieste vol etter – die gonokokkus het hier in Ovamboland skynbaar ’n tuiste gevind. Die chaos van oorlog verskaf die perfekte omgewing daarvoor. Dit is ’n vrot spul. Die soldate loop en die meer gevorderde gevalle strompel by ons in. Om ’n mediese geskiedenis te probeer saamstel, is onnodig. Die meeste wys net na hul lieste wanneer jy vra wat die probleem is. Sommige trek doodeenvoudig hul broek af en glimlag verbouereerd terwyl jy die penisillien-inspuiting nadertrek. Maar agter daardie skitterwit glimlagte skuil ’n ernstiger siekte, een waaraan penisillien niks kan doen nie. Deur boonop net die mans te behandel en nie die vroue ook nie, word dit een geveg wat die apartheidsweermag nie sal kan wen nie.
As siekte rasse-skeidslyne volg, waaraan ly die wit mans dan? Hierop is die antwoord komplekser. Die heel ergste is die beroepsoldate van wie sommige aan ’n erge graad van ipekonders ly. Soos motte na ’n kers word hulle na die siekeboeg aangetrek. Hulle kan dalk in die minderheid wees, maar wat hulle in getalle kortkom, maak hulle voor op in hul gesteun en gekreun. Hul lieste is dalk silwerskoon, maar hul klagtes is ewe eentonig en meestal oor beuselagtighede – slymvliesontsteking, skilfers, pitsere, snotneuse en slegte asem van te veel drink.
Die dienspligtiges – seuns skaars uit die skool – is egter ’n heel ander storie. Hulle word by duisende Oshakati toe gestuur. Hulle sal twaalf maande op die Grens deurbring en al waarna hulle sal uitsien, is om weer huis toe te gaan. Dis te verstane dat hulle baie goed lyk, vars en uiters fiks ná maande in ’n infanterie- of artilleriebasis. Dié manne sit nie die siekeboeg vol met verbeelde siektes nie. Maar hulle doen snye op en hul wonde moet steke kry, en hulle val en breek bene wat gespalk moet word.
Wanneer hulle op draagbare ingedra word, is hulle oë meestal toegeknyp om die trane te bedwing. Dit val ons op, want onder die dienspligtiges is daar geen eiegeregtigheid nie. Dit verstom en ontstel ons om te sien hoe die jong manne tot elke prys probeer om dieselfde respek en onderdanigheid teenoor die luitenant-dokters te betoon as teenoor hul offisiere in die infanteriekorps. Sommige probeer selfs salueer terwyl hulle versigtig op een gesonde been probeer balanseer.
Daar bestaan egter nie sulke formaliteit in die siekeboeg nie. Ongesteldheid en siekte verwater rang en bring ’n gemaklike kameraadskap mee tussen die dienspligdokters en hul ordonnanse. Maar dit maak nie saak hoe hard jy probeer om die soldaat op sy gemak te stel nie, jy kry dit selde reg. Om onderdanig te wees, is maande lank op Upington so meedoënloos by hom ingedril dat hy teen die tyd dat hy op Oshakati aankom soos Pawlof se hond op ’n dokter se epoulette reageer.
Elke nou en dan ontwikkel jy ’n band met een van die dienspligtiges wat verder gaan as die gewone dokter-pasiënt-verhouding. Onder alle dienspligtiges – ook tussen dokter en pasiënt – wat nie uit vrye wil hier is nie en wie se enigste doel is om lewend uit die verknorsing te kom, heers ’n stille akkoord. Ons lap dus maar die gesnyde en gebreekte liggame, en ons doen dit met ’n missie. Want die seuns is net soos ons, net minder gelukkig. Ons doen alles in ons vermoë om dit vir hulle ’n bietjie makliker te maak, van doktersbriewe skryf wat ’n paar dae se siekteverlof sal verseker of slegs ligte take vir ’n paar dae aanbeveel, tot iets kleins soos om ’n koue Coke uit een van ons groot koelkaste vir hulle te gee. Ons beskou dit alles as klein oorwinnings oor ’n stelsel wat ons almal gevange hou.