Читать книгу Die ewigheid in my hart - Barend Vos - Страница 88

Lees Psalm 49 | 22 Maart

Оглавление

Rêrige rykdom

Here, ek het my nog altyd slég misgis!

“Met mý geluk …” het my refrein geword,

’n knaende klaaglied teen die lot.

Ek het op prinse vertrou, en selfvoldane makelaars,

en op vleisbraaivriende se raad “so reg uit die perd se bek”.

Ek was slim sonder einde.

Werklike wysheid het maar gesukkel om my te vind

te midde van die allesweet waarmee ek saamgeleef het …

Maar toe het U my oë oopgemaak.

En vandag probeer ek steeds die omvang

van die skade bereken nadat slim sy baas gevang

en vandat jakkals nie meer sy eie stert kan prys nie.

Ek dank U, Here, dat U my laat sien waarheen Selfvoldaan

se pad lei en presies hoe dinge vir Helpmyself sal uitwerk.

Nou weet ek waar ek en alles wat ek het,

vandaan kom; hoe maklik en gou

alles weer daarheen kan terugkeer.

En nou besef ek ook die noodsaak daarvan

om alles wat U gee vas te gryp en te geniet;

om ruimskoots daarvan uit te deel;

hoe om gereed te wees om alles

op die regte tyd weer te laat gaan.

Hoe om vry te kom.

Want sekuriteit, het U my geleer, staan nie in skure nie

en geluk het nie ’n rekeningnommer nie.

Kontant is toe nooit my koning nie

en eiendom kan my nie meer besit nie.

Ek is die Here s’n, het ek geleer.

Ek leef uit u hand,

én knus daarbinne.

Die ewigheid in my hart

Подняться наверх