Читать книгу Die ewigheid in my hart - Barend Vos - Страница 87

Lees Psalm 48 | 21 Maart

Оглавление

Koning van die kosmos!

Ek vergeet dikwels, Here,

dat U ’n groter wêreld het

om te regeer en in te werk

as bloot my plaaslikheid.

My klein heelal strek nie juis verder

as eie kind en kraai nie. En niks hoër

as persoonlike behoeftes en private begeertes nie.

Juis hiervoor roep ek u hulp gereeld in:

Gee my dié, asseblief; doen aan my daardie …

Altyd ek en my en myne – ek bid áltyd om besit,

Here, totaal ongeërg oor u kosmiese koningskap.

Ek word wel soms ligweg bewus van die omvang

van u ryk – ek sing genoeg daaroor in die kerk –

maar as ek gaan sit en stil word en my oë sluit vroom,

dan kom dit weer, asof van nuuts af: ék. My. Myne.

Vergewe my, Here, die beheptheid

met my klein kring, terwyl U die einders

van die heelal in gedagte het.

Vergewe my die obsessie met my tyd,

terwyl U na die ewigheid omsien.

En herinner my gereeld daaraan

dat U klein vingerwysings voorbedag

gebruik om u grootheid te toon:

Sodat ook ék kan verstaan.

Dan moet U my asseblief ook help onthou

om weg te kyk van myself

en om die honderde heenwysings

wat elke dag in my klein wêreldjie

voor my blinde oë verskyn, te herken –

alles wat na Ú beduie.

Help my hiermee, dat ek ander kan help.

Wys mý, sodat ek U aan hulle kan wys.

Die ewigheid in my hart

Подняться наверх