Читать книгу Die ewigheid in my hart - Barend Vos - Страница 67

Lees Psalm 37:1-9 | 1 Maart

Оглавление

Vertrou op die Here!

Here, om nou heeltemal eerlik te wees:

Dit is maklik om te sê ’n mens moet jou nie

oor kwaaddoeners en kwaadwilliges

ontstel nie. Ek sukkel maar daarmee.

Ek sukkel ook met die belofte dat hul dae

getel is – my belewenis hiervan is anders.

Ek sien nie dat hul einde in sig is nie.

Nee, my geloof in U is nie in die gedrang nie,

ook nie my gereelde voorneme

om goed te doen nie. Dit is maar die tirannie

van die kwaad wat soms die oorhand oor my kry;

dit maak dat ek dinge sê wat ek nie

behoort te sê nie en optree op ’n manier

wat nie by een van u kinders pas nie.

Here, U moet asseblief help dat ek my sal weerhou

van bitsigheid – en sy ouer broer, swartgalligheid.

Ek weet dit hoort nie by my nie. Ek, die geseënde,

die voorspoedige, moet my toelê op positiewe

gedagtes en ’n blye boodskap. Ek moet vreugde

verkondig; ek moet juig: “Vertrou op die Here!”

Leer my dan om stiller te leef; nie so breedsprakig nie,

nie so grootdoenerig nie. Help my om minder

selfgesentreerd te wees. Om my te gedra

soos een wat weet dat die Here voorsien.

Soos een wat weet dat alles uiteindelik sal uitwerk.

Wat weet dat woede ontmagtig

en wat weet

dat die Here se beloftes omvangryk is en

wat weet –

Ag, Here, wat weet ek nou éintlik?

Help my om bloot op U te vertrou.

Die ewigheid in my hart

Подняться наверх