Читать книгу Die ewigheid in my hart - Barend Vos - Страница 81
Lees Psalm 44:1-9 | 15 Maart
ОглавлениеSó is ons vertel …
Here, ons het deur die jare heen al sóveel goeie dinge
oor die ou dae gehoor dat ons graag saamgesels,
en oor destyds, daardie jare, mymer … en sug.
Ons oumense het vertel oor hoe U ingegryp het
– regstreeks, duidelik onderskeibaar, ontsagwekkend –
en dinge reggeruk het. Hoe U ’n duidelike voorkeur
gehad en dit sonder meer aan al wat leef gewys het.
Ons voorouers was daarvan oortuig dat oorwinnings
nie aan krygsvernuf of wonderlike wapens toegeskryf
kon word nie. Dit was Ú, die Here van die leërskare,
wat alles en almal in hul pad voor hulle weggevee het.
In daardie tyd was alles wis en seker
en sonder die minste twyfel.
Reg en verkeerd was twee uiterstes
wat mekaar nooit sou vind nie.
“Ja!” was vir altyd
en “nee!” die einde van die storie.
Die woord wat U volgens hulle
gespreek het, Here, was die laaste woord.
Die volk se vyande was duidelik omskrywe:
die nasies in die land. En húlle het gebewe
voor die ontsagwekkende God wat hulle sou verdryf.
Dan het die volk triomfantelik beheer oorgeneem
en mekaar gereeld hieraan herinner:
Omdat God vír ons is, wié kan teen ons wees?
Ons mense se wêreld was groot
en hul bates flink aan ’t toeneem.
En daar was altyd die strewe na nóg.
Hul harde werk is vanselfsprekend
beloon, en hulle het mekaar vertrou.
Die een het die ander altyd alles
van die beste toegewens, en – só word vertel –
elke greintjie voorspoed en geluk gegun.
Dit was die goeie ou dae – só is ons vertel.
Wat het nou daarvan geword, Here?