Читать книгу Die ewigheid in my hart - Barend Vos - Страница 78

Lees Psalm 42:1-6 | 12 Maart

Оглавление

Ek mis U

Ek hou my kop omhoog, Here.

Net U weet van die trane,

die teleurstelling, die desperaatheid.

Die verlange.

Verlange, ja, want ek mis … U.

Ek mis U en u huis. Die plek waar ek

nog altyd tuis was – wat nou, so voel dit my,

ver van my af is, onbereikbaar geword het.

Ag, Here, ek praat tog graag oor U.

Ek sê aan almal wat my pad kruis: “Here! Here!”

Maar meestal steur hulle hulle nie aan my nie

en dikwels lag hulle my uit: “Wáár is jou Here?”

Ek hou my kop omhoog, maar Ú sien my trane.

Dit was tog nie altyd só nie, Here!

Inteendeel, daar was ’n tyd toe ek volledig deel was

van ’n klómp mense wat sing-sing na u huis toe

opgetrek het. As ek reg onthou, het ek voor geloop!

Daar is tog iéts aan ’n skare wat asof uit een mond

agter jou aan “halleluja!” roep. “Halleluja” en “amen!”

Die uitbundigheid, die tasbare afwagting, eendragtigheid.

Te gou is die aankoms daar,

te gou die fees verby …

Wat het nou daarvan geword?

Ek smag daarna, soos ’n mond na water

wanneer die lippe aan mekaar kleef.

Soos ’n dorstige dier na ’n borrelende fontein.

Ek hou my kop omhoog, en U sien my trane.

U sál my op ’n dag weer laat sing

op pad na die huis waar U woon …

Of hoe, Here?

Die ewigheid in my hart

Подняться наверх