Читать книгу Die ewigheid in my hart - Barend Vos - Страница 80
Lees Psalm 43 | 14 Maart
ОглавлениеVan voor af
Here, ek wens hierdie lewe kon met die klap
van ’n vinger draai. Hoe begeer ek dat alles
eenvoudiger kon wees, dat dinge vinniger gebeur –
en volgens my hartewens.
Dan sou ek makliker by my voornemens hou
en my oortuigings sou soveel meer stukrag hê,
en soveel langer oorleef. Ek sou byvoorbeeld
nie twee keer oor die boosdoeners dink nie;
nadat U met hulle afgereken en hulle goed
op die neus laat kyk het, sou ek hulle afskryf
as ou nuus. Verlede tyd. Gedane sake.
Maar kyk wat het nou weer gebeur:
Soos ek vermoed het, laat hulle
hulle nie so maklik wegwens nie.
Hulle kom altyd weer. Hulle hervat die geveg.
Hulle het van iewers nuwe krag gekry.
En ek?
Ek twyfel van voor af. Ek wonder weer oor U.
Hul nimmereindigende vrae het my weer vas.
En só het hulle dit nogmaals reggekry:
Hulle gehoon laat my sonder taal of tyding, Here.
My lieflike lied van laas is stil. En dié stokou refrein
is weer my meester: Hoekom, Here?
Stuur tog nou u lig en u waarheid, dat dié my lei.
Bring my na u heilige berg, u woning.
U altaar is die enigste alternatief,
u teenwoordigheid my laaste skans.
Skep weer vir my hoop, Here!
Begrawe my onder u trou,
troos my, o Toevlug.
En leer my van voor af
om te sing.