Читать книгу Die ewigheid in my hart - Barend Vos - Страница 68
Lees Psalm 37:10-22 | 2 Maart
ОглавлениеOm vér te wil sien …
Here, ek is nie so goed met geduld nie.
Ek het nie genoeg daarvan met ander nie,
en ek dink ek het te min met myself.
En, vergewe my, maar my geduld met die dinge
wat hier rondom my skeefloop, is ook nou op.
Ek wil bitter graag glo dat alles sal regkom
en dat ek net, nou ja, geduldig moet wees.
Maar dit deug nie vir my nie. Nie meer nie.
Soms is ek daarvan oortuig dat ek
meer geduld gehad het toe ek ’n kind was.
Toe alles “nóú!” moes gebeur.
Wat het dan skeefgeloop, Here?
Dit vra ek my gereeld af.
Is dit al die jare se vergeefse wag?
Ontnugtering? Verydeling?
En verbeel ek my of het die onderskeid
tussen “goddeloses” en “regverdiges” intussen vervaag?
Dat dit nou blyk dat goddeloses nie só goddeloos is nie
en regverdiges nie alte regverdig nie? Ek weet nie.
Ek weet net dat ek nie meer al dié sekerhede so maklik snap nie.
Nou vra ek U, Here: Klaar dit asseblief vir my op.
Trek vir my die streep tussen werklik waar en waarlik vals.
Wys my die verskil tussen opregte skynheiligheid
en gewaande geloof. Verseker my dat U tóg in beheer is,
dat U vir die goddeloses lag omdat hul dag aan ’t kom is.
Ag, Here, en vergewe my ook my onvolwasse ongeduld,
hierdie kinderagtige vrypostigheid. Vergewe my
die oneindige stroom “ek” in hierdie gebed.
Maar hoor my nietemin as ek sê
ek begeer van U om nié stap vir stap te sien nie,
maar ver, o Heer …