Читать книгу Die ewigheid in my hart - Barend Vos - Страница 79
Lees Psalm 42:7-12 | 13 Maart
ОглавлениеNaglied
Die dag sál breek!
Daar sal ’n einde kom aan hierdie nag
vol verskrikking. Die woedende waters
sal stil word, die versmorende angs sal lig.
Die gedruis wat my met angs vervul het,
sal ’n milde murmeling word. Die knelling
om my keel sal skietgee. Die dag sál kom.
Dan sal die duisternis vrae
waarop ek nie ’n antwoord
het nie, verstom.
Die “waar is jou God?”-skreeuers
sal belangstelling verloor en reeds
die pad gevat het om ’n nuwe prooi
te gaan soek. Hulle het niks
en hulle weet niks, en daarom
het hulle niks beters om te doen nie.
Met kammavrae probeer hulle ’n uiters
beperkte begrip verdoesel –
soos ’n tartende tonguitsteek by ’n kind
wat nie weet wat om verder te sê nie.
Ek weet ook dat die donker skadu wat hulle gooi
oor alles wat goed is, nie die helder dag wat kom,
kan terughou nie. Die verwarring en twyfel
wat hulle so kwistig in die donker saai, sal nie die
gewenste opbrengs lewer nie. Daardie oes misluk.
Ek weet wel dat hulle sal terugkeer
en dit weer nag kom maak.
Hulle het nog nie geleer
dat ook die nag aan U behoort nie …
Daarom, Here, sal ek sing
wanneer die dag breek!
En dít sal die stralende lied wees
wat U my leer
wanneer dit nog donker is.