Читать книгу Die ewigheid in my hart - Barend Vos - Страница 65
Lees Psalm 36:6-13 | 29 Februarie
ОглавлениеGoedheid sonder einde
U goedheid, Heer, kan ons nie peil nie.
Dit word tog nie in ligjare en ander
kosmiese onmeetlikhede gedoen nie.
Ook nie in die hoeveelheid millimeters
wat uit ’n reënmeter gegooi word nie.
Hoe kan ’n alleroorvloedigste fontein
van alles wat goed is, opgedam word?
Daar bestaan geen geldige gehaltebepaling
van “genade” nie. Geen raaiskoot oor
die reikwydte van “onvoorwaardelike liefde”
sal in dié omstandighede deug nie. Ons staan
stom voor u grootheid (die miniskule deeltjie
wat ons wel daarvan – dalk! – begryp). Oor
Godwees kan ons bloot in minderwaardige
mensetaal – en altyd stotterend – bespiegel.
Geen musiek, geen letterkunde, geen wetenskap,
en juis nie die teologie kan U na waarde skat nie.
Daarom, Here, het ek net een begeerte, nee, twee:
Dat ek in u huis mag vertoef en só
iets van u teenwoordigheid kan adem.
Om in die huiwerende lig van die vroegoggend
of laatmiddag – en ongehinderd deur my kwellinge
en onbesoedel deur opdringerige gedagtes –
my in die skemerige stilte voor te berei op u fluistering.
Én ek begeer dat ’n skrefie van u vriendelike lig
my sal omvou en ’n ondeurdringbare skans
teen die duisternis sal vorm. Dat dit vir my
’n pad deur die donker sal ooptonnel en my
saggies oor rotse en deur slaggate heen sal lei.
Sal U my dit gun – hierdie greintjie van U, Here?
Sal U u oë na my toe opslaan, net vir ’n oomblik?
Ek weet dit sal my lewenslank hou.
En ek sal U ewig daarvoor dankbaar wees.