Читать книгу Die ewigheid in my hart - Barend Vos - Страница 53
Lees Psalm 31:1-9 | 17 Februarie
ОглавлениеIn u hand
Is daar ’n beter plek om te wees
as in u hand, Here? Onmoontlik!
Ek hét al in mense se hande geval;
ek wás al aan ’n ander se genade uitgelewer …
En mense vat mos hard.
Selfs dié wat dit goed bedoel,
kyk nie altyd mooi nie.
Dan maak hulle nóg seerder.
Maar in u hand is dit sag. En veilig.
As U u hand teer om my sluit,
wys die kneukels na buite,
ongenaakbaar na hulle wat alles sal
probeer om my in die hande te kry.
Hulle sal gou-gou die aftog blaas!
Dit is u bedrewe hand wat my loswikkel
uit die ander knelling waarin ek my bevind –
die vangnet wat vir my gestel is.
Maar hul sogenaamde geheime planne
lê oop en bloot voor U.
U knoop hulle vas in hul verraderlikheid,
Uiteindelik val hulle in hul eie strik.
O Here, vergewe my, maar ek haat hulle.
Daardie vrome kniebuigings voor hulle
ou simpel godjies walg my.
En dan sien hulle kans vir my –
vir mý, wat uit ú hand lewe!
Ál my vastigheid vind ek in U.
U goddelike greep is my versekering
teen alles wat die bose my toewens.
Kyk tog nou, julle almal! Kyk, hier staan ek.
Fier. Onbevrees. Ek kán nie anders nie:
Ek staan my plek vol
in die Here se hand.