Читать книгу Die ewigheid in my hart - Barend Vos - Страница 56
Lees Psalm 32:1-7 | 20 Februarie
ОглавлениеU het my skoongemaak
Here, ek is skoon, omdat U my gewas het.
Gesond, omdat U my genees het.
Ek is geseënd, omdat U my seën.
Vergewe my dat dit so baie tyd gekos het
om dié waarheid te snap.
U sê dit al só lank, aanhoudend …
Maar ek hoor mos nie
en ek verstaan stadig en ek glo swaar.
Vergewe my.
Dankie dat U aangehou het met my.
Deurgedruk het, ten spyte van my stiksienigheid,
my misplaaste trots.
Dankie dat U my uiteindelik oortuig het
om oop kaarte te speel. Om alles te vertel.
Om my, sonder om enigiets terug te hou,
voor U bloot te lê.
Ek dink dikwels daaraan:
Dit was soos om ’n patetiese pleister met mening
af te ruk en toe te kyk hoe die etter uitkom.
Hoe dit slordig, sonder skroom uitpeul …
totdat dit, gaandeweg, minder word.
Uiteindelik heeltemal ophou.
En net die seerplek bly.
Ag, Here, ek weet dat my bekentenisse
nie vir U nuus is nie.
U ken my immers beter as wat ek myself ken.
En dit is seker daarom dat U aandring
op belydenis. Omdat U weet dat ék
dit nodig het om oop te maak,
om al die opgehoopte
vullis te laat uitborrel.
Om vry te word. Lig.
En dan was U my wonde.