Читать книгу Die ewigheid in my hart - Barend Vos - Страница 64

Lees Psalm 36:1-5 | 28 Februarie

Оглавление

Laat my slaap, Here …

Dit is goed bekend, Here – ook aan my –

dat onheil dikwels in die nag bedink word.

Wanneer goeie mense slaap.

Asof daar nie genoeg ure in die dag is

om kwaad uit te broei nie.

Ek merk dit soggens by die selfvoldanes –

die onheilspellende glimlag.

Die energie – so asof hulle die nag

wat verby is, behoorlik benut het …

Ongehinderd die besonderhede

van ’n nuwe boosheid kon uitwerk.

Wat my veral tref, Here, en ontstel,

is hul uitgesprokenheid.

Hulle sê net wat hulle wil, vir wie hulle wil.

Hulle het geen ontsag vir U en u Naam nie.

Die selfingenomenheid is ewe erg.

Ander mense is vir hulle bloot ’n middel tot ’n doel.

As jy in hul pad is, stamp hulle jou weg.

As hulle jou nodig het, dán is jy goed genoeg.

Bruikbaar, voorlopig.

U is vir hulle niks.

Wat U verkies en afkeur speel geen rol

in hul denke of praatjies of optrede nie.

Hoe lewe sulke mense …?

Hulle gaan slaap met kwaad in hul hart

en staan met nuutgebore woede op.

Laat mý vannag tog slaap, Here, die slaap van die onskuldige.

Die slaap van tevredenheid, koestering en veiligheid.

En laat my met ’n geruste hart

wakker word, uitgeslaap,

gereed vir die dag saam met dié

wat nie in my vrede deel nie.

Die ewigheid in my hart

Подняться наверх