Читать книгу Die ewigheid in my hart - Barend Vos - Страница 45
Lees Psalm 25:9-14 | 9 Februarie
ОглавлениеDie pad wat U my wys
Ek loop die pad wat U my wys, Here,
ek volg die rigting wat u vinger aandui.
Dankie dat U my dit elke dag leer.
Dat my gewag nie tevergeefs was nie,
dat my selfopgelegde gevangenskap
U en u genadewerk nooit beperk nie.
Dankie vir u vergifnis, om u Naam ontwil,
wat my vrymaak om nuut te begin.
Ek wil die nuwe weg nougeset bewandel.
Ek weet dat dit ’n smal paadjie is
en dat u aanwysings baie spesifiek is,
met geen moontlikheid vir misverstand nie.
Dit maak my bly, Here, want dit is juis
by die grys gebiede waar ek so sukkel.
By die onsekerheid wat keuses meebring.
Sien, ek vertrou nie my eie oordeel nie –
en U weet mos dat ek genoeg rede daartoe het.
Daarom is u bepalings vir my ’n bevryding.
Maar, Here, ek kan nie wegkom van die vrees
dat juis dít my opnuut vasbind nie:
my mikro-moraliteit téénoor u uitbundige liefde.
Dat ek my so laat verstrengel deur “moet”
en “moenie”, dat ek my sekerhede daar gaan soek,
en gruwelik nalaat om lief te hê.
Daarom, as ek weer mag vra:
Neem my by die hand, Here, leer my.
Wees asseblief geduldig met my
en my oormoedigheid.
Leer my om Ú te vertrou,
en nie my idee oor U nie.
Wys my nóg ’n keer die regte pad.