Читать книгу Uit die beek 2018 - Barend Vos - Страница 92

Sondag 25 MAART 2018 Lees Jesaja 50:4-9

Оглавление

Hý help my

Die Here my God het my geleer … (v. 4).

Uitdagend. Selfversekerd. Getroos.

Dit is maar drie van die moontlike woorde wat by lesers opkom wanneer hulle die skrywer se verduideliking lees oor wat die Here se rol in sy lewe en optrede is.

Uitdagend, ja, want soos ’n refrein loop dit deur hierdie stuk: Die Here my God het my geleer, Hý het my gehelp. En selfversekerd, ja – die leser kan bloot tel hoeveel keer “ek” en “my” in hierdie klompie verse voorkom.

Maar bowenal is hy ’n grondig getrooste mens, want die “ek” en “my” word gerelativeer deur “die Here my God”. Ek kán dit regkry, want die Here het my geleer. My rug is volledig gedek, want die Here help my.

Hoe bekend klink dit nie! Dit was mos Paulus wat later ook só gesê het. Onthou? “Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee” (Fil 4:13).

Ja, tot vandag is dit die strydlied van elke Christenstryder wat, soos die ou liedjie dit wil hê, “voorwaarts” wil gaan. Die stryd, en die oorwinning, behoort aan Hom. “Wie wil my aankla?” roep die skrywer uit. “Laat hom vorentoe kom” (v. 8).

Maar dit is veral ook die verloorders se trooslied. Hulle wat nie kan onthou wanneer laas hulle enigiets gewen of verower het, of selfs óf hulle al ooit voorwaarts gegaan het nie. Hulle wat weet hoe afhanklik hulle van God is (vgl. Matt 5:3); hulle wat gereeld roep: Help my, Here, ek sink! (vgl. Matt 14:30); dié wat dikwels bely: Ek glo, Here! Kom my ongeloof te hulp (vgl. Mark 9:24).

____________________

Dit is U wat my maak wat ek is. My onmag en twyfel, ook my selftwyfel, is nie vir U te veel nie.

Uit die beek 2018

Подняться наверх