Читать книгу Breek - Barrie Hough - Страница 5

WATER

Оглавление

As iemand my vertel het ek gaan die meisie van my drome vroegaand in ’n laundromat ontmoet, het ek gesê: Hoekom nie? In ’n wassery wat ruik na rook, vreemdelinge se vuil klere en ou kos? Waar seeppoeier soos skilfers op ’n ongesonde kopvel gestrooi lê? Sure!

Plekke met kerse, rose en musiek, waar meisies met Julia Roberts-monde en blink hare GQ-hunks op die lyf loop, is bedoel vir vervelige movies en boeke wat niks sê nie. Dis soapie-materiaal vir sad singles en vrouens in ongelukkige huwelike.

Ek het Justie in ’n laundromat ontmoet.

“Ek kon my ma nie vanoggend handle nie!” ontplof Gideon terwyl hy sy wasgoed uit die stukkende vullissak in die wasmasjien in bondel. “Wat de hel het in haar in gevaar?”

Hy frons en kyk na my. Sy hare staan nog skeef – hy’t vanmiddag lê en slaap.

“Dinge verander,” probeer ek help, al is ek dik van die lag.

“Sê jy altyd as daar ’n krisis is. Okay. Somer word herfs. My pa bles en boep en word grys. Hy gym deesdae selfs. Imagine. Maar my ma’t nie net effens verander nie. Sy’s totally nie meer my ma nie. Jy’t gesien, Tom. Hoe sy haar mond sulke plooie trek. Asof sy my nie eens meer daar wil sién nie. ‘Dis goed dat jy jou eie plekkie gekry het. Ek gaan nie meer jou wasgoed doen nie. Jy moet verantwoordelikheid vir jouself aanvaar,’” aap hy na.

“Wat het gebéúr?”

“Hôkaai.” Ek probeer keer met my hande.

Maar Gideon se woorde hou net aan. Amper soos die houe van ’n tennisbal teen ’n muur.

“Ek sweer aliens het geland en ’n draai gegooi by ons huis. Dit moet die rede wees. Hulle het ’n double in haar plek gesit …”

Net toe ek vir Gideon sê “Jy kyk te veel X-Files,” sien ek ’n meisie wat na ons kyk. Sy het seker intussen ingekom. Gideon staan met sy rug in haar rigting.

Ek voel aan my gesig. Twee dae se stoppels – dis cool. Die Diesel T-shirt ook. Gelukkig het ek gestort. Soos sy bondel klere kort Gideon egter ’n goeie was.

Die meisie lag oopmond terwyl sy uit ’n tas op die toonbank klere in hope sorteer. Soms vergaap sy haar so aan Gideon se vertoning dat haar hande stil word. Sy het lang vingers en funky groen naels met stippels silwer.

Ek fokus op haar. Die pedal-pushers is ekstra wit teen haar bruin vel, span oor lang bene. Onder haar swart top, sonder skouerbandjies, sien ek ’n sexy naeltjie met ’n belly-ring. Britney Spears, eat your heart out!

Sy vat aan haar nek en ek sien die kuiltjie in haar keel, waar die vel so sag is.

Oh boy. Houston, we have a lift-off.

Sy dra platformskoene met mokermoontlikhede: Loop lig vir hierdie girl!

My oë gly oor haar. Ek soek goed wat my meer van haar kan vertel: ’n ring deur ’n oorlel, ’n neus-stud, ’n tattoo op haar boarm. Niks nie. Miskien is daar ’n tattoo van ’n roosknop op ’n geheime plek. Wie weet?

Sy sien ek check haar uit en sy beduie met ’n rek van die oë na Gideon. Hy teem voort soos ’n karakter in ’n Woody Allen-movie.

Ek haal my skouers vir die meisie op, lig my wenkbroue. Haar kuiltjie en die holtes bokant haar sleutelbene sit my op ’n high. Wie het nou drugs nodig!

Sy gooi haar kop terug. Haar lyf skud van probeer om nie hardop te lag nie.

Die klank wat uit my ontsnap, kan ek nie keer nie. Dis amper soos ’n hond wat ’n tjankie gee.

Gideon kom agter ek lag en draai om om my blik te volg. Hy snap dat hy die grap is en haak net daar uit, trek die reeds flenters vullissak verder aan flarde.

“Probleme?” Sy praat skielik hier digby ons. Dis een van daardie stemme waaraan jy kan vat. Fluweel teen jou vingerpunte.

Terwyl ek en Gideon nog verdwaas staan, gaan sy voort.

“Nie ’n clue nie, nè? Waarmee het julle gedink gaan julle die wasgoed was?” vang sy ons uit. Ons het nie seep saamgebring nie. “Kom, ek wys julle.”

Nou is dit haar beurt om te perform. Met ’n paar lang treë in daai beautiful skoene gaan kry sy die boksie Skip.

Sy praat asof sy op ’n TV-program demonstreer hoe die ding nou eintlik gedoen word. “Ai, so kan dit mos nou nie aangaan nie! Julle sukkel verskriklik.”

Sy haal die laaste wasgoed uit die flentersak en sit dit neer op die lang toonbank agter die ry wasmasjiene. Dan haal sy ook die wasgoed uit wat Gideon reeds in die masjien gestop het en sit dit daarby.

Ek en Gideon kyk woordeloos toe.

“Julle mans darem wat nie gehousetrain is nie,” sê sy terwyl sy waspoeier in ’n wasmasjien sit.

Gideon staan ’n bietjie terug.

Tussen die skerp reuk van die seep en die suur van Gideon en sy wasgoed kry ek die geur van parfuum. Ek maak my oë toe, lig my neus ’n bietjie en teug diep in. Dit sou so cool gewees het om die naam van ’n parfuum te kon gooi. Sommer so. Maar van girls se dinge het ek nie ’n clue nie. Marion, my eks, het my altyd ’n bietjie op ’n afstand gehou. So asof ek een van haar pasiënte was.

“CK,” sê die meisie terloops. Lees sy my gedagtes?

“Wat?” reageer ek.

Die meisie leun na my toe. Haar nek is by my neus. Oh boy. “CK,” herhaal sy. “My parfuum. Dit kos ’n fortuin.”

As ek net iets slims kon sê soos: “Klink vir my soos ’n ou nommerplaat.” Maar ek haal so vinnig asem dat ek nie ’n woord kan uitkry nie.

Die meisie se hande werk flink, pak Gideon se wasgoed bo-op twee verskillende masjiene. Sy sê: “Dis nou een plek waar jy nog apartheid moet hê. Die wassery.” En lag. “Wit goed in een masjien, gekleurdes in ’n ander.”

Met naels wat skitter in die neonlig soek sy hemp- en broeksakke deur voor die klere in die masjiene beland. Sy praat soos wat sy goed uithaal en vir Gideon aangee: “Mmm … movie-kaartjies, kleingeld, RAU-studentekaart …”

Toe haal sy ’n kondoom, nog in sy omhulsel darem, uit een sak en hou dit tussen twee lang naels vas.

“You never know your luck in a big city,” sê sy met ooglede wat lui knip.

Gideon maak soos ’n goudvis: mond oop-toe, oop-toe.

“Hu-hu-hulle het dit een aand b-by ’n rave uitgedeel,” stotter hy.

“Shame. En toe kon jy dit nie eens gebruik nie.”

Arme Gideon, ’n goudvis met ’n rooi gesig.

“Ek neem aan julle ouens het presies die regte kleingeld? Twaalf R2-stukke.”

Teen die tyd dat ek twee verkreukelde R20-note in my sak opgespoor het, is sy op pad terug met ’n klingelende plastieksakkie. “Ek het altyd ekstra.” Sy vat my papiergeld soos iemand wat ’n gebruikte tissue optel.

Toe die water in die wasmasjiene inspoel, sê sy: “Ek is Justine. My vriende noem my Justie.”

Voor ek myself kan voorstel, brom Gideon: “Geen wonder tornado’s kry vrouename nie.”

“Die dankbare dude is Gideon. Ek is Tom. Hallo, Justie.”

“Is ek en jy dan vriende?” vra sy terwyl ek in haar oë kyk.

“Ek hoop so.”

“Hallo, Gideon-met-die-vreemde-ma!” lag sy.

“Maar sy’t so verander,” begin Gideon weer.

’n Uur later drink ek, hy en Justie koffie in Nino’s met twee sakke skoon wasgoed op die vloer langs ons.

Justie luister na Gideon.

“Dis weird, die ding met my ma. Amper soos daai prent in een van Tom se Sielkunde-boeke. Van ’n sexy girl met ’n veer in haar hare. Jy onthou, Tom? Jy check nog die girl so, dan kyk ’n ou heks met ’n groot neus en ’n doek om haar kop skielik vir jou. Freaky.”

“Dis ’n beeld wat die Gestalt-sielkundiges vir toetse gebruik het. Niks is ooit soos dit lyk nie,” sê ek.

“Niks is ooit soos dit lyk nie,” koggel Gideon my en draai na Justine. “Dink jy ook dis great as Tom sy Sielkunde-terminologie en geleerde Afrikaans so gooi? Baie impressive.”

“Studeer jy Sielkunde?” Justie hou op om haar cappuccino te roer terwyl sy praat.

“Nee, ek hang net in laundromats rond om meisies op te tel.”

“Man!” sê sy en klik haar tong.

“Ja, ek swot. Sielkunde en Kommunikasiekunde. Derde jaar. Werk my gat af. Ek moes juis vanmiddag geswot het. Toe het Gideon die klein wasgoedkrisis. My ma doen gelukkig nog myne, al het ek uit die huis uit getrek.”

“Tom se ma is ’n bietjie afgepis oor hy getrek het, maar myne wil my actually uit die huis uit hê. Kan jy dit glo? En die ouballie is fine daarmee. Ek dink hy’s te bly ek is uit sy hare uit. Die bietjie wat hy nog oorhet.” Gideon lag vir sy eie grap.

“Gelukkig het my ma nog vir Charmaine, my kleinsus, om te mother. Anders het sy seker met ’n leënes-sindroom gesit,” sê ek.

“Vertel nog, doktor Freud,” spot Gideon en vra: “Suffer jy ook met jou ma, Justie?”

“Ons naelstring is geknip,” antwoord Justie.

“En jy, Justie, swot jy?” stuur ek die gesprek in ’n ander rigting.

“Ek is deeltyds by die Technikon. Doen interior design. Ek werk ook as assistant stylist by Prisma. So ek gaan source al die nuutste items by die winkels en maak die mooi prentjies wat die fotograaf afneem. Jy weet, al daai verskriklike duur lampe, linne en glasgoed wat volgende jaar weer uit die mode is.”

Ek lag. “Jis, ek en Gideon het twee weke terug in ’n cottage ingetrek. Ons spaar vir ’n toaster. Wat nog van sulke fancy goed.”

“Ek kan my indink dis net pret om saam met Gideon te bly,” terg Justie.

“Nirvana.” Ek rol my oë.

“Moenie dink die lewe saam met hóm is ’n breeze nie,” verdedig Gideon. “Hy’s gedurig besig om die fun te bederf. Hy weet altyd wie die reeksmoordenaar in die movie is en wie van die bemanning op die ruimteskip die aliens is. Tom moet altyd beter weet. Daar’s nie ’n geheim wat jy vir hom kan wegsteek nie. Seker die nuuskierigste mens wat ek ken.”

“’n Rolprent-foendie? Sjoe,” reageer Justie.

Ek kyk na haar mooi hande teryl sy haar koffie roer. “Partykeer skryf ek die odd resensie vir die studentekoerant.”

“Dis nou maar van Tom, Justie: he’s got a finger in every pie.”

“Lyk my jy’s ’n besige ou. Ek sal seker ’n afspraak moet maak as ek jou weer wil sien.” Justie se vingers speel met haar krulle. Sy wag vir my antwoord. Hierdie meisie mis nie ’n beat nie.

“Vir jou is my deur altyd oop.”

“Hel, Justie, dis nou wat ek ’n open invitation noem,” sê Gideon.

“En wat swot jy, Gideon?” vra Justie, maar kyk uit die hoek van haar oog na my.

Dit lyk nie of hy hoor wat sy sê nie. Hy dwaal seker iewers in sy mal gemoed rond.

“Hy’t ’n goeie brein,” sê ek vir Justie. “Al lyk hy soos ’n ho-bo.”

Gideon wys vir my sy middelvinger en draai na Justie toe. “Ek swot Filosofie, Engels en Bellettrie,” sê hy half uit die hoogte.

“Sy fancy woord vir kreatiewe skryfkuns. Hy oefen om Shakespeare te wees,” verduidelik ek.

“Nog koffie vir jou, Justie?” bied Gideon aan. “Om dankie te sê dat jy my wasgoed van my gered het. En by the way, wil jy nie vir ons kom kuier nie? Ons het juis iemand nodig om ons skottelgoed ook te was.”

Nog voor ek iets kan sê, reageer Justie. Sy lag strammerig en sê vir Gideon: “Nee dankie, ek is fussy oor vir wie ek werk.” Al klink dit of sy spot, sien ek ’n wolk oor haar gesig trek.

Gideon is nooit doelbewus mean nie. Maar hel, hy kan soms die simpelste goed sê!

“Nee, ek bedoel dit,” maak hy verder droog. “Jy lyk die flukse tipe. Ek is gatvol vir die vuil huis.”

Versigtig lees ek Justie se gesig.

Justie kyk, maar sy sien nie meer nie. Haar lippe beweeg. Sy praat vinnig en herinner my skielik aan Gideon. Soos hy, gebruik sy woorde as wapens. When attacked, talk.

Haar rug is regop, haar hande twee vuiste op die pienk tafeldoek tussen die leë koppies. “Dankie vir jou aanbod, Gideon. Ek het meer as genoeg om te doen. Al word ek assistant stylist genoem, is ek deesdae assistant alles. Vanaand moes ek lappe huis toe bring om te was omdat iemand by die werk nie opgedaag het nie. Ek dink ek verstaan jou ma, Gideon. Dis nie lekker om te voel jy word gebruik nie.” Sy lag sinies. “Moet jouself nie flatter om te dink ek het die klere vir jou gewas nie.” Sy kyk van Gideon na my.

My oë soek tussen die suikerkorrels op die tafeldoek. My gesig voel warm.

“Weet jy hoe ’n blessing is dit, Gideon, dat iemand soos jy nie saam met my werk nie,” voeg sy by.

Ek kyk op. Hier’s oorlog.

“How come?” daag Gideon haar uit.

“Ons werk op die oomblik aan ’n shoot met duur glas en kristal van Spilhaus. Hulle stock Swarovski-kristal uit Oostenryk, Krosno-glas uit Pole. Handgemaak. Die glas en Diane, my baas” – lag sy en sit “my baas” met ’n beweging van haar vingers in aanhalingstekens – “maak my klaar nervous. Jy is so ’n bul in ’n china shop, jy sou my job nog groter hel gemaak het. Dankie tog. Die universe is goed vir my. Soms.”

Sy klem haar hande saam asof sy bid.

“Meng jy nie jou metafore nie? China is nie glas nie.”

“What the hell. Dit kan alles anyway breek.”

“Ek sien jy is ’n bietjie shattered, my girl.”

Kan Gideon nie net sy bek hou nie!

“Jou girl se gat,” swets Justie en grawe in haar handsak rond. Sy kry geld en sit dit op die tafel neer. Toe staan sy op, vat die sak met haar wasgoed en loop.

Ná so drie treë gaan staan sy en draai om. “En nog ’n ding, Gideon. Miskien moet jy jouself deur ’n paar was-cycles in die laundromat gaan sit.”

Gideon staan op. Dit lyk of hy haar wil probeer keer. Maar Justie storm uit.

Ek en Gideon kyk vir mekaar.

“Dit was ’n joke, Tom,” sê hy met ’n bekommerde uitdrukking op sy gesig.

“Jis, Gideon!” spoeg ek amper. “Helse snaaks.” Ek loop.

Die volgende oggend het ek lus vir niks, veral nie vir Gideon nie. Hy’t laat ingekom, slaap nog sy roes af.

My boeke lê oop op die lessenaar. Nog twee vraestelle om te skryf. Maar ek het nie motivering om te swot nie. Movies is nie ’n opsie nie. Ek het almal al gesien. Die visse op ons rekenaar se screensaver swem rustig heen en weer, blaas borreltjies.

Ek gaan lê by die openbare swembad om te tan. ’n Mens moet darem af en toe aan jou velkanker werk. Net om my gewete te sus, het ek ’n Sielkunde-boek saamgebring.

Dis stil. Die kinders is nog by die skool. Hier en daar lê ’n lyf op ’n handdoek uitgestrek. Warm gebak en lui soos myne. Selfs die swembadopsigter, bonkig van die steroids, lê op die naat van sy rug. Daar is niemand vir wie hy, in ’n swart Speedo wat span, kan spiere bult of afshow nie. Die skoolmeisies kom eers later.

En niemand verdrink nie. Dalk kan ek sy oggend maak en probeer selfmoord pleeg … Nee wat. Die son bak te lekker. Miskien môre.

My selfoon speel sy deuntjie. “Hallo, Tom,” antwoord ek.

“Tom, Charmaine hier,” sê my suster. “Jammer om te pla, ek weet jy leer, maar ek het nou pouse. Ek wil ’n kaartjie of iets vir Ma-hulle maak. Jy onthou nog dis Vrydag hulle anniversary. Iets soos een-en-twintig jaar. Ek kry niks in die albums of die bokse in die pakkamer nie, nie eens ’n troukaartjie nie.” Skielik fluister sy: “Daar was wel ’n foto van Pa en ’n ou girlfriend in ’n boek in sy studeerkamer. Maar niks van hom en Ma nie. Ek kan sweer daar was …”

“Wag so ’n bietjie, Charmaine, jy praat my ore van my kop af. Jy’s al amper net so erg soos Gideon. Is jy nie veronderstel om ook besig te wees om vir die eksamen te swot nie? Graad elf is g’n grap nie. Altans, dit was nie vir my nie.”

“Ek weet ek weet ek weet,” stribbel sy teë, “maar ek wou graag iets special doen. Ma sal dit waardeer. Ons sit ’n bietjie vas vandat jy weg is. Nie naastenby so erg soos jy en ma nie, maar ons hap na mekaar.”

“So die kaartjie-ding is ’n gatkruipoefening,” trek ek haar siel uit.

“Soort van. Dis hoekom ek jou gebel het. Toe jy getrek het, het jy nie miskien van die verkeerde bokse in die pakkamer gevat nie? Wil jy nie net kyk of daar dalk foto’s of goed is nie?”

“Ek het nie nou tyd nie. Huweliksherdenkings is anyway so kitsch. Onder ons Boere is sulke feeste in elk geval net broeiplek vir huismoles en familiemoord. Ek dink nie jy moet verder grawe nie.”

Skielik besef ek ek klink nogal ernstig. Ek maak my stem spokerig, sê vreeslik dramaties: “Jy weet nooit watse geraamtes kry jy daar nie. Los, my kleinsus, los!”

Sy bly stil.

“Charmaine, ek spot. Ek dink net dis ’n schlep vir jou om so iets te doen. En daar is nie nou tyd nie.”

“Jy’s reg. Soos gewoonlik. Dankie, Boetie. Ek kan verstaan dat jy, ná jou en Ma se vreeslike scene nou die aand, seker nie lus het vir Vrydagaand nie. Maar probeer asseblief. Moenie my alleen los by daardie klomp suurstofdiewe nie.”

“Dink jy rêrig ek moet kom? Het die stof al gaan lê?”

“As jy jammer genoeg lyk, sal Ma jou enigiets vergewe.”

Toe ek weer lê en bak, roer iets in die water naby my. Ek kyk op.

Die vrou dra ’n ligblou kostuum. In haar ams is ’n kleuter. Hy sit wydsbeen oor haar swaar swanger maag. Sy toets die water met haar tone, maar versteen toe daar ’n geweldige slag buite is, soos ’n karongeluk. My maagspiere trek saam.

Ek ken die vrou nie en tog is daar iets bekends omtrent haar. Ook die kind is nie ’n vreemdeling nie. Sy arms is styf om sy ma se nek.

Intussen het ’n paar mense opgestaan en, handdoek om die lyf, gaan kyk wat buite gebeur het.

Die vrou sê: “Kom, Michael, die water is nie koud nie.”

Haar woorde kalmeer my, want ek haal baie vinnig asem.

Buite rumoer dit steeds: mensestemme, die dreun van verkeer, ’n ambulans se sirene.

’n Ruk lank hou ek die mooi vrou en haar seuntjie dop. Hy kraai van die lag soos wat sy hom op en af in die water laat spring. Op sy neus en skouers sit sonbrandroom.

Later gaan kry die twee ’n deursigtige opblaasperdjie met ’n gat waardeur die kind se lyf pas. Hy dobber in die vlak water rond terwyl sy ma op die trap waak.

Die perd lyk so broos soos glas. Ek dink aan Justie.

Nog voor ek hom sien, voel ek die wetter se skaduwee oor my val. Toe ek opkyk, staan Gideon voor my: gebou, maar bleek in sy verbleikte swart swembroek. Donker bril op en handdoek oor die skouer, hang hy soos ’n vraagteken in die laatoggend. Hy wag dat ek iets moet sê.

“Dis nie genoeg dat jy gister my potential meisie verwilder het nie. Nou kom steel jy nog my son ook. Wat’s fout met jou, huh?”

“Sorry, ou,” mompel Gideon en gooi sy handdoek oop. Toe sê hy vinnig: “Sy’s nie ’n meisie nie, pal. Sy’s dinamiet. Ek sweer dis lank laas wat iemand my so geblast het. En praat van blast. Daar was ’n helse ongeluk hier voor. Net bloed en derms waar jy kyk.”

“Ek wil nie die details hoor nie, dankie.”

Gideon skuif sy donker bril op tot tussen sy hare en gaan sit kruisbeen op die handdoek.

“Gideon, oppas!”

“Wat, wat?” skrik hy en kyk vinnig rond.

Ek lag. “Jy gaan mos in ’n hopie as verander. Poef! Lê jou soort nie in julle kiste tot ná sononder nie? En nou lig jy nog jou donker bril ook.”

Met my arms maak ek dramaties ’n kruis voor my gesig.

“Nooit,” sê Gideon. “Ek is al amper drie uur lank op. Ons het vanoggend die Shakespeare-vraestel geskryf. Die een vraag was so reg in my kraal.” Hy klap sy vingers. “Discuss appearance and reality with reference to two of Shakespeare’s plays.”

“En toe vat jy?”

“A Midsummer Night’s Dream en Macbeth. Jy weet mos, in die Dream raak Titania die fairy queen verlief op Bottom, hierdie loser met ’n donkie se kop. Vir haar oë lyk hy soos Brad Pitt. En arme Macbeth glo alles wat die hekse hom sê en dan sien hy sy gat.”

“Ek ken die stories, dankie, professor.”

“Just checking. Ek het in elk geval nie kom praat oor my eksamen nie. Oor gister …” Gideon kyk af en trek garedraadjies uit sy handdoek. “Het ek nou weer my voet in my mond gesit, Tom? … Haai, ek praat met jou. Ek het drooggemaak, nè?”

“Die understatement van die jaar.”

Gideon probeer my vasgryp. Om te stoei of my te kielie. En hy kan, want hy’s sterker as wat hy lyk. Maar ek is gereed vir hom, kry sy voorarms beet.

“Jy was gister jou gewone sensitiewe self. Bottom line is, jy het Justie ’n wasvrou genoem.”

“As die kopdoek pas, trek hom aan,” zap Gideon.

“Hey!” Ek mik ’n hou na hom.

“Joke, joke, joke …” keer hy. “Was dit nou rêrig so erg? Is my humorsin dan so af dat sy dit nie kon verstaan nie? Wat gaan in haar subconscious aan?”

Ek haal my skouers op. “Lyk ek nou vir jou soos Jung? Met die antwoord op een van die groot mysteries van alle tye? Jy wil wragtig by my weet wat ’n vrou se kop laat tick. Get real, Gideon.”

Ek probeer sy hare deurmekaar krap. Net daar vat hy sy gap. Skielik sit ek hopeloos vasgevang in een van Gideon se grepe – ’n Nelson of ’n half-Nelson of so iets. Hy pen my arms agter my vas en ek kan nie loskom nie.

“Okay, Gideon, jy’s die champ. Please release me. Let me go …” sing ek.

Toe ons albei uitasem kruisbeen teenoor mekaar sit, sê ek: “Weet jy, ek dink Justie het ’n chip op haar skouer, of dalk is dit maar net daai tyd van die maand. Hel, ek weet nie, buddy. Ek leer nog net om ’n shrink te wees. Maar sy’t haar moer lekker vir jou gestrip.”

“Ek het net so ’n gevoel, hier” – hy vat aan sy bors – “dat hierdie girl ’n permanente fixture in ons lewens gaan word. My pa sou sê jy’t die skoot hoog deur. Daar’s baie mense wat jy kan bullshit, Tom. Maar nie vir my nie.”

Ek vryf aan my stoppelbaard, hark my hand deur my hare. “Ek dag ek is die een wat shrink gaan word. En nou kom lees jy my kop.”

“Skrywers het ook insig in mense. En ek sê vir jou, jy’s verlief.”

Toe word hy stil en kyk na my. Ek vertrou nie die vrede nie. Hy’s lekker manies. Borrel so onder die oppervlak.

“Wat nou? Huh?” wil ek weet.

“Jou tan kom so goed aan, nè?” Hy laat sy stilte so dramaties hang. Beat. Beat. Beat. En toe voltooi hy die sin: “Jy sal amper kan traai vir Coloured. Dan sal julle pas, jy en Justie.”

My vuis tref net wind. Gideon is al uit die pad uit. Hy staan daar anderkant.

Toe ons afdroog ná die stort, groet ’n ou met designer-klere en gejelde hare vir Gideon. “Hallo, Gideon? Ek het nie geweet jy swem nie.”

“Wel, ek is nou nie Torpedo Thorpe nie, maar ja, soms plas ek rond,” antwoord Gideon. “Ek het eintlik vir Tom kom soek.”

Gideon draai na my toe en sê: “Tom, dis Ben Wolfaardt, ’n nuwe vennoot by my pa se maatskappy.”

“Howzit. Tom Muller,” stel ek my voor en hou outomaties my hand uit. Soos ’n goeie Boereseun.

“Aangenaam,” sê hy en gee my ’n handdruk wat my herinner daar’s fyn beentjies in my vingers. Kyk, hier is ’n man met ’n mission.

Nog voor ’n ongemaklike stilte kan begin, sê Ben: “Die swembad is lekker naby ons kantoor. En ons is nie so besig nie. Swem is sulke wonderlike oefening.” Hy trek sy T-shirt uit. Hallo, Arnie Schwarzenegger. “Beter as hardloop,” praat hy verder. “Maar alle oefening stel endorfiene in die liggaam vry. Natuurlike anti-depressante.”

Buite in die skerp sonlig sê ek vir Gideon: “Gideon, ou bielie, hoe vloei jou endorfiene?”

“Weet jy wat, Tom? Dis jóú kop wat raas. Terloops, het jy daai body gesien? Ek dink dis die rede dat my ouballie nou gym toe gaan. Ben probeer die hel uit my ma uit charm. En sy kyk. Ek trust hom niks.” Ons stap uit.

Die blink van die stukkies glas wat in die pad lê, maak my oë seer.

Die blou lig van ’n polisiekar flits soos ’n soeklig tussen die wrakke.

Breek

Подняться наверх