Читать книгу Breek - Barrie Hough - Страница 6
ОглавлениеSNOER
Die volgende dag stres ek oor die eksamen en swot met ’n spoed. Teen laatmiddag gaan ek die vraestelle van vorige jare deur.
Party vrae het nogal ’n catch. Dis die soort vraag wat jy net kan antwoord as jy rêrig geswot het en verskillende dele van die werk bymekaar kan uitbring. Om vir sulke vrae te spot is onmoontlik.
Een vraag is: Die debat oor die invloed van oorerwing teenoor die uitwerking van omgewing op die individu – “nature vs nurture” – duur voort. Lewer kommentaar op die debat met toepaslike verwysing na teorieë en navorsing.
En die blerrie ding tel dertig punte uit die honderd!
In my kop dryf sketse en woorde rond uit hoofstukke oor genetika wat ek geleer het. Een skets in kleur wat ek goed onthou, is dié van DNS. Seker omdat ek dit ook op skool in Biologie geleer het. In my gedagtes sien ek die spiraalsnoer met sy skakels van blou, rooi, geel en groen helder op die bladsy.
Ek probeer die woorde ook onthou. Terme soos “selkern”, “chromosoom”, “mitose”, “sigoot” en “gameet” kom by my op. Hulle het almal ’n plek en funksie in oorerwing. Ek wil onthou, maar presies hoe alles inmekaar pas, jel nie lekker in my kop nie. Miskien moet ek check. In case …
Vir die soveelste keer slaan ek definisies na in een van my dik boeke. My vingers voel al moeg. “Let your fingers do the walking through the yellow pages …” sing ek.
Ek kry wat ek soek.
“DNA (deoxyribonucleic acid),” lees ek, “is the material of inheritance of almost all living things. It is found in the chromosomes of plants and animals and in bacteria and viruses. DNA is a polymer and consists of two strands (chains) of nucleic acid, each in the form of a helix, which are usually intertwined, forming a so-called double helix …”
“Zygote”, die Engelse woord vir “sigoot”, word gedefinieer as: “the cell formed by fusion of two gametes”.
“Gamete” word beskryf as: “germ cell, sex cell”. En dan: “A reproductive cell which unites with another during sexual reproduction. In animals, a male gamete is called a spermatozoon and a female gamete is called an ovum.”
Ek maak die boek toe, staan op, rek my arms boontoe en skreeu. My kop is so vol kennis, dit voel of dit gaan bars.
Toe ek weer sien, staan Gideon voor my. Met sy walkman in een hand en sy oorfone om sy nek kyk hy na my.
“W-wat was dit, huh? Is j-jy okay?” stotter hy.
“Relax, Gideon, dit was seker maar ’n primal scream. Of dalk het ek ’n Aha-Erlebnis gehad.”
“Watse lebnis?” vra hy.
Ek lag. “Dis wat een of ander Duitse sielkundige skielike en diepe insig genoem het. Soos in: Aha! Nou verstaan ek. I can see clearly now!”
“Dit lyk of jy uitfreak, my maat. As ek jou nie beter geken het nie, sou ek kon sweer jy’t iets gerook of gesnuif …”
“Jy’s heeltemal reg,” val ek Gideon in die rede. “Ek het woorde gesnuif … te veel woorde … die kennis van goed en kwaad … die kennis van crazy wees. Of sane …”
Ek draai my kop heen en weer om te probeer ontslae raak van die pyn in my nek, haal ’n paar keer diep asem en gaan sit op ’n stoel.
“Hoe voel dit om ’n sigoot te wees, Gideon?”
“Ek weet jy’s nog die hel in vir my, maar is dit nou nodig om my met een of ander verskriklike sielkundige afwyking te label?”
“Dis nie wat ek doen nie, stupid. ‘Sigoot’ beteken bloot dat jy jou pa en ma se kind is. Op die oomblik van jou skepping het een sel van jou pa en een van jou ma – gamete – saamgesmelt. En siedaar, ons het die sigoot Gideontjie in al sy glorie.”
“Dit beteken seker dat ek nie soos Richard Gere grys en sexy gaan oud word nie.”
“Jammer, pal, min hare en ’n boep is jou voorland. Jy’s jou pa se kind.”
“Dis nie te sê nie. Jy lyk niks soos jou pa nie.”
“Ek lyk seker soos my ma.”
“Dis nou jou …”
“My regte een, man! My eie ma. My biologiese moeder!”
“Het jy rêrig nie ’n clue hoe sy gelyk het nie? Van foto’s of iets nie?” wil Gideon weet.
“Daar’s nie een enkele foto nie. En van kleins af mag ek nie oor haar praat nie. Toe het dit net gewoonte geword. Part of reality. Jy’s een van die min mense wat weet dat Jana bestaan het. Dit was haar naam. Jana. Maar ek kon net sowel aangeneem gewees het. Charmaine het grys oë soos my pa. En Alma se dun neus. Sy is hulle sigoot.”
“Klink nog vir my soos ’n vloekwoord,” brom Gideon. Toe trek hy los: “Ma’ djy’s nogtans handsome. Me’ daai bryn oge van djou en daai Angelina Jolie-lippe. Oh, kiss me, white boy …” hyg hy.
“Gideon!” roep ek uit en wys vir hom ’n middelvinger. “Blerrie rassis!”
“Come on, my maat. Jy’s jy,” paai hy. “Elkeen is verskillend. Sy eie mens. Blykbaar elkeen met unieke fingerprints. Is mos so? Jy’s die ekspert. En jy wil anyway tog nie iemand se kloon wees nie.”
“Ja, ja – ek hoor wat jy sê. Soms wil ek net voel ek pas iewers in. ’n Neus, ’n kakebeen, ’n trek om die oë … Ag, jy weet wat ek bedoel.”
“Familietrekke guarantee nie ouerliefde nie. Kyk nou net vir my ma.”
“Jis, Gideon! Nie al weer die flippen wasgoed nie! Kry ’n ander tune. Give me a break!”
“Jy’s so uitgestres, ’n break is presies wat jy nodig het. Kom ons gaan kry take-aways.”
“Okay, by die Melville Spar,” stel ek voor. “Daar’s sulke lekker schwarmas. Ons vat sommer my kar.”
Ons kry parkering naby die schwarma-plek. Op pad soontoe loop ons by ’n winkel verby met “Indigo Moon” in ’n pers en goue boog oor die ingang. Hulle verkoop ornamente en juwele. Deur die winkelvenster sien ek twee meisies. Die een wat met haar rug na my toe staan, se kop is vorentoe gebuig. Met haar hande probeer sy ’n halssnoer of iets om haar nek vasmaak. Toe sy draai om te praat met die meisie langs haar, sien ek dis Justie.
“Justie,” sê ek vir Gideon.
“Waar?”
“In die winkel.”
“En kyk net hoe lyk jy. Jou T-shirt is vuil en jy’t nie eens skoene aan nie.”
“Just my luck,” kla ek. “Ek het mos nou nie geweet ek gaan my in haar vasloop nie.” Ek besluit skielik. “Gaan koop jy solank die schwarmas,” sê ek vir Gideon. “Ek is nou terug.”
“Hoekom? Wat gaan jy doen?”
“Wat dink jy? Ordentlik aantrek,” antwoord ek en hol kar toe.
Toe ek terugkom, sit Gideon op ’n trappie en eet. “Jy’s verniet soos ’n model aangetrek. Sy’s al weg,” sê hy met sy mond vol kos.
“Shit! Kon jy haar nie gekeer het nie?”
“Grappie,” sing hy. “Het jy vergeet? Hierdie rassis is nie in haar goeie boekies nie.”
Die man by Indigo Moon dra ’n wit fez. Hy’s die ene tande. “Good evening. Can I help you?”
“Goeienaand. Ek het eintlik … kom soek na ’n … meisie wat netnou … hier was …” hakkel ek.
“Quite a few young ladies have been here this evening. They like shopping here.” Die fez se tossel hang net bokant sy linkeroog.
“Sy’s baie mooi, met krullerige swart hare …”
“And platform shoes …” val hy my in die rede. “Haar vriendin het haar Justie genoem,” sê sy lippe onder ’n swart snor.
“Dis die een!” roep ek uit.
“She tried on several necklaces and bracelets but bought nothing,” antwoord hy en frons. “She has an elegant neck and beautiful hands.” Die man praat byna poetry. Hy klink hartseer. “Good for jewellery.”
“Sy het darem ’n belly-ring,” troos ek hom.
“I saw,” knik hy. “Quality silver. That lady has good taste.” Hy raak aan sy snor en sê: “There was one piece in particular …”
Die ou is ’n salesman duisend. Ek wag dat hy die sin moet voltooi. “Ja,” moedig ek hom aan.
“Her eyes shone,” sing hy nou amper. “She tried on other jewellery but kept on coming back to the same necklace.”
“Kan ek dit sien?” loop ek so in die ou se valstrik in.
“It’s still here,” sê die man versigtig en vroetel in een van
die vertoonkaste. Hy haal die halssnoer uit en lê dit op swart fluweel neer.
Dis stunning. Gemaak van duisende klein kraletjies. Blou, wit en swart patrone spiraal om die snoer. Ek tel dit op en streel met my vingerpunte oor die klein hobbels. Die krale was om Justie se nek en het aan haar vel geraak. My lyf word hoendervel terwyl ek probeer hoor wat die man sê.
“These are special,” verseker hy my. “There is only one of each design. The designer gets her inspiration from the Ndebele bead patterns. Each has a unique significance.”
My hand vou toe om die halssnoer.
“Can I wrap it for you?” vra die man.
Ek haal die kredietkaart uit wat Pa my laat kry het vir “noodgevalle” en sien dis dieselfde kleur as die goud van die verkoopsman se glimlag.
Dis al donker toe ek buite kom. Gideon wag vir my in die kar. “Is dít nou ’n tyd om shopping te doen?” verwyt hy my. “Jou schwarma is koud.”
Toe ek later by die huis weer na die prys op die strokie kyk, skrik ek my gat af.
“My pa gaan moan ek mors geld as hy die staat kry. Ek sal weer by Fullstop moet gaan waiter,” sê ek vir Gideon en wys hom wat ek vir die halssnoer betaal het.
“Money can’t buy you love …” sing hy.
“Dit kán,” reageer ek. “Dink jy Alma het my pa getrou vir sy looks?”
“You never know. Maar jy’s reg. Daar’s seker min dinge so handsome soos ’n vet bankrekening.”