Читать книгу Droomwa - Barrie Hough - Страница 4

EEN

Оглавление

My helderste herinnering aan Pa is daardie laaste oggend saam met hom – die dag voor die aar in sy kop gebars het.

Ek het ander herinneringe aan hom. Op Margate se strand hou hy ’n groot skulp naby my oor en sê: “Luister na die see.” Die branders ruis in die skulp. Pa se spikkelgrys oë kyk hoe ek luister … In die kombuis bekruip hy Ma waar sy in haar heldergeel voorskoot staan en pannekoek bak. Terwyl sy suiker oor die boonste pannekoek strooi, gryp hy haar van agter en pen haar arms vas. Sy lag en laat die lepel val. “Hannes! Kyk nou net hoe mors …” Hy soen haar voor sy verder kan raas. Ek ruik kaneel. Hy druk haar teen hom vas terwyl ’n pannekoek op die stoof begin brand.

Dié herinneringe – ook lateres van ander plekke, mense en tye – kom en gaan, verdof of verander. Maar daardie laaste Saterdagoggend sal ek altyd onthou.

Wanneer ek son op water sien blink, voor ’n spieël skeer, eende hoor roep of ’n plat klippie tussen my vingers vryf, dink ek aan Pa. Die dreun van ’n V-agt-enjin, die verbyflits van ’n vlootblou motor, die geur van Old Spice-naskeermiddel roep ook die herinnering op.

Waar die gordyne nie mooi saamgetrek is nie, straal die son deur. Dit lê ’n dun streep teen die oorkantste muur. Pieter is ’n bondel komberse. Pa sê hy slaap soos ’n skilpad – met niks wat uitsteek nie. Ek lê en luister. My mond proe wild van die biltong wat ek die vorige aand geëet het ná ek my tande geborsel het. Ek lig my kop en skouers asof dit my beter sal laat hoor. Die Buick dreun in die rylaan op. Dis Pa! Lappies tjank van blydskap. In my verbeelding sien ek hoe Pa hurk om die foksterriër te streel. Die warm pienk tong lek seker sy hande nat.

Ek begin tel. Net voor agtien gaan die kamerdeur stadig oop. Pa kom in. Hy dra ’n plastieksak. “Moerbeiblare vir die sywurms,” fluister hy. “Lekker vars. Ek het hulle nou net gepluk.” Hy tel die skoendoos van die lessenaar op en kom sit op my bed. Hy haal die deksel met gaatjies af. “Hulle word mooi groot. Daardie een in die hoek spin sommer een van die dae.” Hy sit ’n paar blare vir die wurms in. Ons kyk saam hoe hulle groot happe uit die blare begin vreet.

“Hoe gaan dit met die taak?” wil hy weet.

“Goed. Ek lees nog. Pieter het gesê hy sal foto’s neem en Cilliers het belowe hy leen vir my die geel syhart in sy Bybel. Pa weet, die een wat Susan vir hom gegee het.”

“Hoe lyk dit my jou broers werk harder aan hierdie taak as jy en Frikkie?” terg hy en krap my hare deurmekaar. “Wie skryf standerd vyf, julle of hulle?”

Later in die badkamer sit ek op die rand van die bad en kyk hoe hy voor die spieël skeer. Hy skommel die kwas in sy skeerbeker om skuim te maak en verf sy gesig wit. Hy lig sy kop en skeer met lang hale van sy adamsappel na die punt van sy ken. Die baardbespikkelde skuim spoel hy onder die warm kraan van die skeermes af. Hy vryf ’n kol skoon in die toegewasemde spieël en skeer verder.

Toe hy klaar is, draai hy, skeermes nog in die hand, na my toe en sê: “Dis tyd dat die oukêrel jou leer skeer. Kom hier.”

Hy kniel voor my en streel met die rugkant van sy hand oor my wang. “Melkbaard is soos melktande,” sê hy. “Vroeër of later moet dit waai. En as jy soos die res van die Van Zyls is, het jy blou baard teen die tyd dat jy veertien is. Kyk maar na jou broers. Teen vroegmiddag kan jy omtrent hout skuur met hulle gesigte. En meisies hou van ’n skuurderigheid. Hoe lyk dit, moet ek jou touwys maak?”

Ek knik. Pa glimlag. Die ritueel begin.

“Om lekker te kan skeer,” sê Pa, “het ’n man warm water, ’n skerp lemmetjie, ’n skeerkwas, baie skuim en ’n spieël nodig.” Hy klop weer skuim in die beker op en smeer dit aan my gesig. Dis sag en warm soos wol. Hy sit sy een hand op my kop – dit pas soos ’n mus – en met die ander skeer hy die dons van my gesig af. Sy gesig is naby myne en ek sien die haartjies by sy neus uitsteek. Sy asem ruik na peperment.

“So … egaaaalig,” praat hy, meer met homself as met my, terwyl hy die skeermes versigtig oor my gesig trek. Dit kielie. “Nee, man, hou stil jou gesig. Hier by die kakebeen en die ken moet jy mooi werk. ’n Man sny jou maklik daar raak. En skeer tog skoon. Liewer ’n ongeskeerde gesig as ’n half geskeerde een.”

Toe hy klaar is, vee hy die skuim wat oorbly met ’n klam waslap af. Hy gooi ’n bietjie Old Spice in die holte van een hand, vryf dit tussen sy palms en smeer dit aan my gesig. Dit brand so dat my oë traan. “Jammer. Ek het al vergeet hoe dit aan die begin kan steek.”

Sy hande rus op my skouers. Hy kyk lank na my. Toe druk hy my teen hom vas. Hy ruik na homself, na Pa. Niks anders het nog ooit presies só geruik nie.

Hy staan op en rol papier van die rol langs die toilet af. “Ai, die Old Spice is darem skerp. Kyk hoe traan my oë nou ook.” Hy snuit sy neus.

“Trek jou aan,” sê Pa vir my toe ons in die kombuis koffie drink. “Dan ry ons dam toe voor die ander wakker word.”

Toe ek uitkom, wag hy al in die luierende Buick – ’n 1948 Buick Special. “Een van die min in Johannesburg,” spog hy altyd. “Ander ouens droom net oor so ’n wa; ek ry een.”

Die chroomlyswerk blink in die oggendson. Op die voorste ronding van haar groot enjinkap pryk die Buick-kenteken. Dit lyk soos ’n voël in vlug. Ek het eers jare later uitgevind die Buick het sy naam gekry van ’n soort eend in Frankryk.

Lappies se kop dobber op en af in die agterste ruit. Hy tjank saggies van opgewondenheid. Ek maak die swaar deur oop en klim langs Pa in. Die kastaiingbruin leer is koel teen my bene. Met ’n gedreun trek die Buick weg.

Die are agter op sy groot hande om die stuurwiel bult. Die geur van Old Spice in die motor is vars, byna soos die kruie wat Ma soms tussen haar vingers kneus. Tog ruik ek ou rook en stompies. Asof Pa my gedagtes lees, sê hy: “Ek haat dit as die mense in my kar rook. Jy kry die reuk nooit uit nie. Dit gee my hoofpyn. En party van hulle gebruik nie eens die asbakke nie. Gooi sommer hulle as op die mat. Ek blaas sommer ’n gasket. Maar wat kan ek nou doen?”

“Pa kan mos sê hulle moenie.”

“Nee, ek kan nie. As hulle nie kan rook in my kar nie, sal hulle ’n ander taxi kry. En waar sit jou pa dan?”

Die uitgestrekte blink plaat van die Emmarentia-dam is al in sig.

“En toe, hoe lyk dit?” wil Pa weet. “Gaan jy vanoggend ’n klip laat spring?” Hy gee my ’n speels hou teen die arm. Dan strek hy sy hand uit en haal ’n klein Nestlé-sjokolade in ’n rooi omhulsel uit die paneelkissie. Hy gee dit vir my. “Moenie vir jou ma sê nie,” lag hy.

Toe Lappies die silwer foelie hoor ritsel, spring hy oor die leuning en kom sit vol verwagting tussen my en Pa.

Die smaak van die sjokolade is nog soet in my mond toe Pa sy eerste klip kry. “Kom kyk hier, Paul,” roep hy. “Ek het nog nooit so ’n klip gesien nie.” Ek hardloop na hom toe. Hy hou sy hand uit. Op sy groot palm lê ’n ronde wit klip met ’n byna driehoekige rooibruin vlek daarin vasgevang. “Hy’s te mooi om in die water te gooi,” sê Pa. “Hou hom.” Ek sit die klam klip in my broeksak.

Uit die riete aan die oorkant klink die dubbelroep van die fluiteend op en hang ’n rukkie oor die water voor dit in die blink oggend verdamp. Pa sit sy hand op my skouer. Lank kyk ons uit oor die dam, ek en Pa. Selfs Lappies het stil geword.

Later gooi ons klippe. Pa se eerste klip spring drie keer en skryf sirkels op die water. Toe die dam weer soos glas lê, is dit my beurt. Maar my klip plons in die water en sink.

“Nee, man,” lag Pa. “Jy gooi met ’n boog. Gooi met ’n reguit lyn sodat die klip oor die water skeer. Hy moet dans.” Pa wys hoe. Sy klip het lewe. Dit spring soos ’n padda.

Lappies wag met ’n stok in die bek. Hy knor speels terwyl Pa die stok probeer afneem. Naderhand los Lappies die stok en jaag agterna toe Pa dit gooi.

Op pad huis toe ry Pa eers om die dam tot waar die riete dig staan. Pa los Lappies in die kar. Hy vat my hand toe ons afloop teen die wal. Hy sit sy vinger voor sy lippe. Ons hurk. Ek wag stil om te sien wat gaan gebeur. Toe my bene al lam gehurk is, sien ons dit. ’n Kleurryke dwerggans seil tussen die riete uit. Agter haar is vyf donserige kleintjies. Sy fluit baie sag. Pa druk my arm, draai sy kop na my en glimlag.

Hy het dikwels geglimlag, want hy was ’n vriendelike man. As ek vandag terugdink, is daardie glimlag ’n gebrandskilderde venster in ’n kerk wanneer die son daardeur skyn.

Met al die foto’s van Pa wat Pieter geneem het – Pa agter die Buick se stuurwiel met sy elmboog by die venster uit; Pa as Kersvader; Pa wat sy gesig trek soos Jerry Lewis terwyl Ma sedig poseer vir ’n foto op hulle twintigste troudag – is daar nie een beeld so helder soos myne van Pa daardie oggend nie.

“Julle’s laat vir ontbyt,” sê Ma toe ons inloop. “Ons wag al amper ’n halfuur.”

“Ek het vir Paul iets gaan wys,” maak Pa verskoning. Ma se gesig versag effens. Ek het haar nooit gevra of hy haar van die dwerggans met die kleintjies vertel het nie. Miskien het hy dit as ’n geheim tussen my en hom bedoel.

“Maar ons kan dadelik aansit, my skatlam.” Pa beklemtoon die “lam” en tuit sy mond.

“Moenie by my kom flikflooi nie. Die spek is al kaiings.” Ma probeer nog vies klink, maar haar mondhoeke lag toe sy haar kop draai en met haar hande die nat soen keer.

“Julle maak verniet asof julle nog nooit laat was nie,” sê Pa vir Cilliers en Pieter wat ongeduldig rondstaan.

Die tafel is gedek. Minder deftig as op Sondae of wanneer gaste kom eet, maar nietemin “gedek”.

“Jou dahlias lyk goed,” sê Pa vir Ma en raak liggies aan een van die geel blomme in die middel van die tafel. “Dis goeie bolle dié van Kirchoff.”

Ons hou hande om die tafel terwyl Pa dank. Pieter se hand is taai.

“Het jy onthou ons gaan vanoggend kyk of jy jou tyd met die vlinderslag kan verbeter?” vra Pa, lepel in die hand, vir Cilliers net voor hy suiker oor sy pap strooi.

Cilliers knik. “Ek’s reg.” Hy drink melk en vra met ’n wit bolip vir Pa: “En as dit ’n rekordtyd is, gaan Pa my die Buick leen vir die matriekafskeid?”

“Daar’s drie goed wat ’n man nooit uitleen nie,” sê Pa.

“Jou geweer, jou kar en jou vrou,” sing ons in ’n koor saam.

“Nie eens vir my nie, Pa? Al laat ek die rekord spat?”

“Nie eens vir jou nie. Ek sal jou en Susan aflaai en weer gaan oplaai – taxi ry.”

“Dis nie dieselfde nie, Pa. Van die ander ouens gaan met hulle pa’s se karre.”

“Hoeveel van hulle ry ’n Buick Special?”

“Nie een nie,” gee Cilliers onwillig toe. “Pa’t my dan met die Buick leer bestuur. Die man by die toetsgrond het nog self vir Pa gesê hoe goed ek ry,” probeer Cilliers ’n laaste keer.

“Sal jy die Transvaalse vlinderslagrekord waaroor jy so lank gedroom het vir ’n ander swemmer leen?”

“Pa is seker laf.” Cilliers snorklag.

“Maar jy verwag van my ek moet my Buick uitleen?”

“Ek is Pa se seun.”

“Juis. Jy hoort te verstaan. Jy sal wel jou kans kry om die Buick te ry.”

Ma streel Pa se arm en sê: “Ek wonder soms, Hannes, as jy moes kies tussen my en daardie droomwa van jou, wat sou jy doen?”

“Van jou is daar net een model,” sê hy en soen haar hand.

“O jy, Hannes van Zyl, jy moes ’n advokaat gewees het,” terg Ma. “Jy’s te slim om mense te karwei.”

Kort na Dora die tee gebring het, laat sak Pa sy kop en druk sy vingers teen sy slape.

“Hannes?” Ma sit die teepot neer. Die tuit stort.

“Net weer ’n hoofpyn. Bring vir my twee pille.”

“Moet ek nie gou vir dokter Nel gaan bel nie?”

“Los dit, Anna. Die pyn is netnou weg.”

Pa se gesig is bleek toe Ma hom ophelp.

Droomwa

Подняться наверх