Читать книгу Droomwa - Barrie Hough - Страница 5
TWEE
ОглавлениеOf Pa daardie nag regtig met my gepraat het en of dit ’n droom was, weet ek tot vandag toe nie. Ma hou vol hy het nie opgestaan nie. Sy sê sy was wakker en het hom heeltyd dopgehou. Maar ek onthou dit as die laaste keer dat ek en Pa gepraat het.
Ek word dors wakker en voel taai van die sweet. In die donker loop ek kombuis toe. Ek maak of ek blind is, loop met toe oë. Die oppervlakke van die kosyne en mure ken ek. Net voor die halfmaantafel in die gang ruik ek rose en Cobra-politoer. Die blad van die tafel is die gladste oppervlak op pad kombuis toe. Die roosblare voel so sag soos Ma se blou flennienaghemp.
Die linoleum in die kombuis is koel teen my voetsole. In die yskas se lig is my hande bleek. Ek sluk die melk sommer so uit die bottel. Dis lekker koud in my keel. Ma hou nie daarvan dat ons uit die bottel drink nie. Sy raas.
Lappies sit soos ’n meerkat op sy agterpote. Die stukkie koue hoender wat ek vir hom afbreek, gaan eet hy in sy mandjie onder die tafel. Ek vee my vingers aan my pajamabroek af.
My blinde speletjie is verby en met oop oë stap ek terug slaapkamer toe. Daar is lig in die sitkamer. Dit skyn van Pa se vistenk af. Ek gaan kyk. In die donker is die akwarium helderblou. Ek hoor die suurstof deur die water borrel. Dit kom by die diepseeduikertjie se helm uit. Hy kniel by ’n oop skatkis.
Die plante wieg stadig heen en weer soos die visse rondswem – statige engelvissies met vinne soos vlerke; babers met snorbaarde wat traag op die bodem aas; die blou-en-rooi Siamese vegter wat sy lang vinne swierig soos ’n mantel dra, en neonvisse wat gloei soos klein advertensies in die akwarium. Ek sit lank en kyk voor Pa agter my praat.
“Hulle betower ’n mens, nè,” sê hy so sag soos die stem van my gedagte. Hy sit met net ’n kort pajamabroek aan in die groen gemakstoel wat bles raak op die armleunings. Sy borshare is ’n swart vlek tot byna teen sy keel. Sy oë blink.
“Ons gebruik meer melk vandat jy nie meer in die tokkelos glo nie,” terg hy. “Jy was so bang vir hom toe jy klein was.” Hy lag. “Jy’t jou oë soos pierings gerek en met ’n handjie na die donker gewys. Kan jy onthou hoe ons jou vyf sjielings wou gee om ’n klerehanger in ’n donker kamer te gaan haal? Jy wou om die dood nie.” Hy vryf oor sy voorkop.
“Is Pa se hoofpyn al beter?”
“Jou ma werk nie verniet by ’n apteek nie. Sy’t my so gedous, die pyn het nie ’n kans nie. Maar ek kon nie slaap nie. En die visse maak my rustig. Kom sit hier by die oukêrel.”
Met my rug na hom gaan sit ek tussen sy bene, my elmboë oor sy kniekoppe. Die gewig van sy hande rus op my skouers. Hy noem die visse se wetenskaplike name op. “Pterophyllum scalare, Corydoras paleatus, Betta splendens, Nannostomus beckfordi …” Dit klink of hy bid. Nie soos dominee Marais op Sondae nie, maar soos ’n priester wat ek eenmaal in die Rooms-Katolieke katedraal aan die onderkant van Nugget-heuwel gehoor het.
Later sê hy: “Jy moet gaan slaap. Dis netnou Sondagskool.”
Toe ek opstaan en hom nagsoen, lyk sy gesig vreemd in die blou lig. So asof dit wil verander.
Ek het nie daardie dag by die Sondagskool uitgekom nie.
Vroegoggend roep Ma dringend: “Cilliers, kom help!”
Toe ek in die kamer kom, staan Cilliers en Pieter by Ma aan Pa se kant van die bed. “Ek het eers gedink hy skeer die gek,” sê Ma. “Jy weet hoe verspot hy kan wees.” Die pienk japon klem sy met albei hande voor haar bors vas. Haar kneukels is wit.
Pa lê op sy rug met sy kop agtertoe en sy mond oop. Hy maak vreemde snorkgeluide. Sy ken is nat van die spoeg. Ek sien die wit van sy oë.
Die res van die dag onthou ek net soos grepe uit ’n droom. Ma gee ons adres oor die foon. Sy pluk met twee vingers aan haar japon en pluis wolletjies uit.
Die ambulans trek loeiend by die hek in. “Ek moes geweet het,” sê Ma vir Cilliers met ’n knippie in die mond terwyl sy haar hare vassteek. “Die hoofpyne …”
Toe hulle met Pa op die draagbaar verbykom, stamp die ambulansmanne die blompot op die halfmaantafel om. Dora weeklaag later sag toe sy die water opvee en die blompot op ’n droë lappie sit.
Ma sê vir Cilliers: “Ek ry saam met hom in die ambulans. Kom jy agterna met die Buick.” En vir my en Pieter: “Wag julle hier. Ek sal bel.”
Die ambulans se deure klap toe. Ek staan by Pieter en Dora terwyl eers die ambulans met sy rooi noodligte en toe die Buick by die hek uitry.
Cilliers sit agter die wiel.
Dora vee haar oë met haar blou voorskoot af.
Nie ek óf Pieter eet die roereiers en roosterbrood wat sy vir ons maak nie. Ons drink net die soet, warm tee. Ek gee my kos vir Lappies. Hy eet alles. Pa het hom eenmaal ’n “asblik op vier bene” genoem.
Sonder om eintlik ’n antwoord te verwag, vra ek vir Pieter: “Wat makeer Pa?”
Hy praat nie. Dit lyk of hy wil huil.
Voor Pa siek geword het, het Pieter nooit veel gesê nie. Sy foto’s het gepraat. Ek kan nie onthou dat ek hom ooit hoor sê het hy is jammer nie. As hy iemand kwaad gemaak het, het hy ’n paar dae later met die een of ander foto probeer verskoning vra. Ma het baie foto’s van hande wat blomme vashou en ’n treurige een van ’n hond agter draad wat Pieter in berou vir haar gegee het.
Wanneer iemand hom te na gekom het, het hy ook met foto’s wraak geneem. Tussen Ma se goed is ’n paar foto’s van haar in krulpenne en sonder grimering. Agter op een staan geskryf: “Negatief in fotograaf se besit.”
Teen elfuur is daar nog geen tyding van Ma-hulle nie. Pieter sê: “Kom saam. Ek het afdrukke om te maak.”
Sy donkerkamer is in die agterplaas, langs Dora se kamer. Net hy het ’n sleutel. Ek gaan net in wanneer ek genooi word.
Die hele donkerkamer is swart geverf, selfs die venster. Bo waar die deur en kosyn nie netjies voeg nie, is ’n plank aan die deur vasgespyker sodat geen lig inkom nie. Teen die muur is ’n plakkaat van Elvis Presley in G.I. Blues en ’n groot foto van die Buick.
Pieter het my jare lank probeer leer hoe fotografie werk. Hy wou hê ek moes die hele proses verstaan, begryp hoe die film uit ’n kamera naderhand foto’s word. Maar al wat ek wou sien, was hoe die wit papier in ’n bak vloeistof prentjies word.
Dié oggend praat Pieter nog minder as gewoonlik. Hy werk vinnig in die oranje lig. Toe die eerste stuk fotografiese papier reg is vir die pan met die ontwikkelaar, begin ek konsentreer. Pieter sit die papier in die bak.
Byna sonder om asem te haal, wag ek vir die skaduwees om te verskyn en patrone te vorm. Pieter staan, tangetjie in die hand, oorgehaal om die papier uit te haal sodra die foto reg is.
Dit voel of die donkerkamer met sy skemerige lig ’n droom is. Ek staar stip na die wit papier. Eers is die skaduwees net skimme. Hulle word donkerder. Ek sien die prentjie.
Die foto is van ’n gang in die bouval twee blokke van ons huis af. Pieter het een aand vir Ma van die gang vertel. Hy was so opgewonde hy het selfs baie gepraat.
By die vier oop deure aan die een kant stroom die lig in. Dit lyk of jy aan die strale kan vat. Die lig val oor die growwe houtvloer en eindig in skerp reghoeke teen die oorkantste wit muur. Plek-plek skilfer die verf en pleister af. Die gang loop dood in ’n toe deur. Die deurknop en metaal om die sleutelgat is ’n vlek op die ligte hout.
Pieter het vir Ma vertel dat die koperdeurknop dik aangepak was met groenspaan. “Groenspaan.” Ek het die woord op my tong geproe. “Wat is dit?” wou ek weet. Ma het ’n paar ou pennies met koning George se kop daarop gaan haal en my die groen aanpaksel op die bruin koper gewys. Groenspaan.
Die tweede foto wat Pieter ontwikkel, is ’n gesig. Net voor hy die foto uit die pan haal, kyk Pa deur ’n lagie vloeistof vir my.