Читать книгу My kat word herfs - Barrie Hough - Страница 4
Spieël
ОглавлениеNet hy mag haar “Neffie” noem. Dis asof dit iets besonders tussen hulle beteken. In dié fluisterklanke lê vir Danie alles opgesluit wat al tussen hulle gebeur het. Bloot die sê daarvan roep vir hom ’n rykdom beelde op.
Die dag dat hy en Aletta, sy ma, Neffie gaan haal het, bly hom helder by. Daar was ’n swetterjoel katte in die gehawende sitkamer, wat onmiskenbaar na kat geruik het. Hulle het soos bobbejane met vuil gesigte en pote oral gekrioel. Danie kon sien dat sy ma uit die veld geslaan is. Sy was ongewoon stil.
Op die rûe van toiingrige leunstoele het die katte die stoffering nóg verder uitgepluis. Hier het een blitsig teen ’n gordyn opgerits, daar het twee groot blou oë tussen die verflenterde varings deur na Danie geloer.
“Net een werpsel?” wou Aletta by die mollige tante weet.
“Net een. Daar is ses kleintjies. Danie kan kies.”
Dit was nie ’n moeilike keuse nie. ’n Langbeenkat met ’n sweepstert en groot ore het tussen sy bene deur gevleg en teen sy kouse geskuur. Toe het sy eenkant gaan sit, stil en trots soos ’n standbeeld.
“Daardie een, Tannie.”
“Klein Nefertiti,” het die vrou gesê en begin uitwei oor haar goeie hoedanighede. Maar toe sy nog wou wys hoe lank en dun die kat se stert is, was die Siamesie met die blouselblou oë reeds ’n spinnende bondel teen Danie se bors. Hy was tien en Neffie was die grootste geskenk wat enigiemand hom nog ooit gegee het.
Vanjaar is hy vyftien en kampioen Nefertiti vyf. Hoewel sy al ’n oumagrootjie is, met stringe nageslagte, word sy op bykans elke katteskou as die beste Siamese kat bekroon. Danie onthou al die seges op tentoonstellings – en die nagte dat hy moes wakker sit toe sy siek was of kleintjies gekry het.
Hy sê “Neffie” en steek sy hand uit na haar waar sy op die vensterbank voor sy lessenaar sir. Fyn Indiese sy, soos sy ma soms by die Oosterse Plaza koop, vloei onder sy palm deur. Die kat maak “prrr” toe Danie sy vingerpunte oor die klein, harde rondings van haar ruggraat laat gly. Sy draai die donker driehoek van haar gesig na hom en staar terwyl sy al hoe harder spin.
“Danie!”
Die oomblik is weg, lê aan skerwe soos ’n glas wat geval het. “Danie!” roep sy ma weer. “Ek is op pad, hoor. Hou duim vas.”
Die voordeur klap toe. Skielik klik dit weer oop. “Vat vir jou kos. Daar’s ham in die yskas. Sien jou!”
Dis die oomblik waarvoor hy gewag het. “M … M … Ma, d . . dis openingsaand. K … k … kan ek nie n … n … net hierdie een aand …” Daardie koue kyk in haar oë laat hom in sy spore vassteek en draai die res van sy sin nekom.
“Daniël, dis ’n weeksaand. Jy is ’n skolier wat nie na wense presteer nie. Daar is mense wat vir my by die teater wag. Ek herinner my dat ons al voorheen hierdie gesprek gehad het – en herhaling kan tog so vervelig wees. Wees nou ’n soet seun, toe.”
Dié formele toesprakie kan hy sluk, maar die kus op die voorkop span die kroon. Toe die enjin brul en die motor wegtrek, staan hy nog half verslae met sy hand op die deurknop.
“Vervlaks!” Hy stamp met die bal van sy hand teen die muur. “Eina!” ’n Ruk lank staan hy besluiteloos terwyl hy sy hand vryf, draai dan om en gaan na sy kamer. Hy haal ’n geel trui uit sy kas, trek dit oor sy kop en hark voor die spieël vinnig sy vingers deur sy krullerige bruin hare. “T … tot siens, Prinses,” groet hy Neffie en krap haar onder die ken.
Halfpad met die blok af kyk Danie op sy horlosie en begin vinnig loop. Hy stap met die park langs in die rigting van die Mark-teater. Die flink pas waarmee hy loop, laat sy hart vinniger klop. Die bloed jaag deur sy are en dit voel vir hom of die bruising gedagtes in sy kop losmaak.
Die Engels-mondeling wat voorlê, verdring die woede wat hy vir sy ma voel. Iewers huiwer ’n gedagte aan die naderende vakansie … Neffie se volgende skou … die verrassing wat hy vir Karel se volgende verjaardag het. Toe Danie op die brug kom, jaag ’n trein in dolle vaart onderdeur en hy weet hy kan die mondeling so min keer as die trein.
Hy staan stil en loer oor die betonmuur na die kletterende waens. Skielik voel dit vir hom asof hy ’n vreemdeling vir homself geword het. Dit maak hom bang. Hy vat aan die ruwe beton van die brug waaroor hy so gereeld stap. In die noordweste sien hy nog ’n bekende baken, die Brixton-toring met sy helderrooi ligte.
“Ek is D … Daniël Meyer,” sê hy hardop. “Die enigste k … kind van Aletta D … Durrant en F … Fanus Meyer. Ek en my ma b … bly in Brixton en ek is ’n standerd agt-leerling aan die Hoër Seunskool P … Protea.” Hy voel rustiger. Hy is iemand met ’n plek iewers. “Ek hou v … van kondensmelk en m … motorfietse,” borduur hy voort. “Ek het ’n Siamese k … kat. My gunsteling-v … vakke is Engels, Afrikaans en b … biologie. Ek skryf goeie opstelle, m … m … maar ek …”
Hy bal sy vuiste. Dit is asof hy wurg aan die woord, asof dit in sy keel vassit. Sy skoensole klap driftig op die sypaadjie. Lamppale skiet by hom verby. Iewers ruik hy aartappelskyfies met asyn daarop en kerrie. Hy hoor mense praat en lag. Toonvensters vol goed wieg verby. Poppe, fietswiele, materiaal, glasbakke. Ligte draai.
Hy hou nie op hardloop voordat hy by die teater is nie.
Sweet kleef soos kraletjies aan die fyn hare van die trui se wol toe hy met ’n voorarm oor sy voorkop vee. Stadig beweeg hy tussen die geparkeerde motors deur. Hy leun teen ’n muur aan tot hy nie meer so uitasem is nie.
Op sy horlosie sien hy sy ma se aanbieding is al veertig minute aan die gang. Hy ontspan. Daar is nog tyd. Die toneel wat hy graag wil sien, is eers ná pouse.
Iets skuur teen sy bene. Josephine, een van die teater se katte, maak haar rug ’n boog. Haar stert krul soos ’n sweep om sy kuit. Op sy hurke gesels hy met haar. “Neffie k … krap jou oë uit as sy sien hoe jy aanlê b … by haar b … baas.”
Dis pouse. Danie glip tussen die mense deur wat die foyer vol staan. Programme onder die arm vasgeknyp, drink hulle koffie of drankies. Nêrens sien hy vir Aletta nie.
“Skuus.” Hy druk deur die groep wat na die kitaarspeler in die hoek luister. Hy klim die trap, draai regs en stap met die donker gang langs tot by die staalleer wat na die beligtingskajuit lei. Hy klouter op.
In die hokkie bo sit Mike agter die kontrolepaneel.
“Hallo, sit,” groet hy en begin weer met die paneel werskaf. Hy druk toetse en gaan die patrone op die terminaal na. Danie gaan sit op die leë stoel langs hom en kyk af op die teaterruimte en die verhoog. Die gehoor drentel in. Danie sien Aletta se rooi rok. Hy hou styf aan die armleunings van sy stoel vas.
Die foon se rooi lig flits. Mike antwoord. Dis die verhoogbestuurder wat hom laat weet die akteurs is gereed. Hy doof die teater se ligte en druk ’n toets op die kontrolepaneel om die lampe wat die betrokke toneel belig, aan te skakel. Met geoefende vingers skuif hy die skakelaars af wat die intensiteit beheer. Die lig op die verhoog verhelder. Die spelers het reeds hul plekke ingeneem.
Danie se gunsteling, die hoftoneel uit The Crucible, begin. Hy leun vorentoe en wag, byna sonder om asem te haal, vir Karel se groot alleenspraak as John Proctor.
Vanuit die beskuldigdebank bulder Karel:
“Ek sal soos ’n see oor hierdie hof bars …”
Ja-nee, vanaand is dié akteur besiel. Danie het al geleer om met sy ma se ore te luister en hy wéét: vanaand pluk sy en die akteurs die vrugte van vyf weke se swoeg en sweet tydens repetisies.
Danie soek die resensente in die gehoor uit. Hulle sit altyd op dieselfde plekke. Die twee wat sy ma se produksie kan maak of breek, is John Smithers van The Star en Fred Geyser van Beeld. Veral Smithers het ’n venynige tong en kan die pen inlê as ’n opvoering hom nie aanstaan nie.
Nie een van die twee skryf nie. Dit lyk of hulle, soos die res van die gehoor, aan Karel se lippe hang. Hy is in ’n kollig vasgevang. Die res van die verhoog is half donker. Danie word hoendervleis soos Karel die gehoor meevoer. Dit is asof hulle marionette is en hy die poppemeester.
Danie sê die alleenspraak saggies saam. Só sê hy dit vlot. Hy verbeel hom hy staan in Karel se plek. Die kollig verblind hom. Sy handpalms is klam. Sweet drup by sy gesig af. Dan gebeur dit. Hy stotter. Die woorde sit in sy keel vas soos die groot pille wat hy soms sluk wanneer hy ’n hoofpyn het.
Langs hom vroetel Mike met skakelaars. Die hoftoneel is verby. Versigtig haal Danie die sakdoek uit sy sak, blaas saggies sy neus en vee sy gesig af. Hy loer vinnig of Mike hom nie dalk dophou nie, maar dié is verdiep in sy werk. Stip kyk hy na die beligtingsplan op die stuk papier langs hom en stel aan die kontrolepaneel. Danie sluip by die kajuit uit en met die leer af.
’n Donker gang wat regs kronkel en dan skerp links draai, mond uit in ’n groot ruimte waar daar soms gerepeteer word. Dit is stowwerig en ruik muf, maar selfs hier is dit asof Danie die opwinding en energie van die openingsaand kan voel knetter.
Hy wonder of hy miskien eendag in hierdie ruimte sal werk, en of hy dalk ’n openingsaand as akteur sal belewe. Hy leun teen ’n kosyn en sug.
Hoewel die grotagtige speelruimte nou donker is, weet Danie hoe dit lyk as oefening in volle gang is. Hy sien hoe sy ma die akteurs met ’n houtoog dophou terwyl hulle speel. Sy dra noupassende swart klere wat elasties is en haar vryheid van beweging gee. Sy maak kort-kort aantekeninge en af en toe demonstreer sy watter soort beweging sy wil hê. Aanvanklik is haar hare netjies, maar kort voor lank tuimel donker, rokerige linte uit die knippies waarmee sy dit probeer bedwing. Wanneer die krulle oor haar oë val, vee sy hulle terug en gooi haar kop agtertoe. Sy beduie met haar benerige hande en rook die een sigaret ná die ander. Danie hoor hoe haar hees stem deur die ruimte weerklink. Dit klink soms soos ’n man s’n.
Luide applous en ’n skril fluit of twee ruk hom uit sy mymering. Sy oë het al gewoond geraak aan die skemer. Hier en daar sien hy ’n meubelstuk of ’n stuk dekor wat bekend lyk – herinneringe uit vergete produksies, spoke uit die verlede. Die applous dreun voort.
Oorkant die repetisieruimte wink ’n streep lig by die deur derde van links vir hom. Dis Karel se kleedkamer. Hy loop soontoe, stoot die deur verder oop en gaan in. Vriendelike reuke verwelkom hom – die geur van grimering, die sweet van openingsaand-angs, mottegif en koffie wat taai geword het in ’n ongewaste koppie.
Hier voel hy tuis – tussen reuke wat hy al van kleintyd af ken, reuke wat warm herinneringe geword het.
Voetstappe en opgewonde stemme dwarrel verby kleedkamers toe. Tot laat toe gaan daar feesgevier word. Dit het hy reeds geweet toe hy die applous hoor.
“Naand, ou kêrel.” ’n Bebaarde kop loer om die deur. “Is dit ’n sluipbesoek of weet Aletta jy’s hier?” Karel kom in.
Danie sit ’n voorvinger op sy lippe.
“Hmm.” Karel rek sy oë groot, kyk skalks rond, sluip op sy tone terug na die deur en maak dit sag toe. Danie proes van die lag.
“En toe?” Karel krap Danie se hare deurmekaar en gee hom ’n hou teen die bors.
“Nie s … s … sleg nie, Karel. Ek d … dink ons sal n … n … nog ’n akteur van jou m … m … maak,” sê Danie. Dis wat Aletta altyd sê.
“Jou voet in ’n visblik, ou maat.” Karel gaan sit voor die spieël omring van liggies. Hy smeer room aan sy gesig en vee dit met watte af.
“Word ook maar oud,” mompel hy terwyl hy skewe gesigte trek om die grimering oral af te kry. “Een van die dae hoef ek nie eens meer plooie te teken nie. Kyk net hier,” en hy wys na die frons op sy voorkop.
Danie se gesig verskyn bokant Karel s’n in die spieël.
“Ouer as ’n berg, ouer as ’n berg!” sing die jong gesig.
“Jy sal ook eendag oud en broos wees,” kraak Karel met ’n bewerige oumensstem.
Danie se gesig verdwyn uit die spieël.
“Alle heil en v … v … voorspoed m … met die aanbieding. L … liefde, Rosa,” lees hy op ’n kaartjie langs die spieël. “En dié d … d … dom esel? W … w … weet sy nie d … d … dis ongelukkig om ’n akteur g … g … geluk te w … wens n … n … nie? V … v … veral op ’n openingsaand!”
“Genade, Daniël, glo jy tog nie aan dié snert nie? Pure Aletta Durrant.”
Karel staan op en met ’n geboë rug en hande soos kloue begin hy ’n makabere dans uitvoer. “Macbeth, Macbeth,” dreunsing hy.
“J … j … jy’s st … st … st … stapelgek!” sê Danie onthuts. Aletta glo, soos baie ander teaterlui, dat ’n aanbieding van Macbeth altyd gepaardgaan met ongelukke. Die naam “Macbeth” word in die teater gebruik slegs wanneer dit noodsaaklik is. As akteurs na dié drama moet verwys, praat hulle van “die Skotse tragedie”. Karel se verwysing daarna, sommer so terloops, terwyl dit nie eens aangebied word nie, lyk vir Danie na roekeloosheid.
“Ek kan nie glo dat jy net so bygelowig soos die res van hulle is nie, Danie. Die teater se dak gaan nie ewe skielik op my instort omdat ek die naam van een van ou Willie Wikkelspies se dramas sê nie.”
Karel sleep ’n stoel nader en gaan sit wydsbeen, hande en ken op die stoel se rug, voor Danie.
“Ek wou jou nie omkrap nie, ou maat. Dis net dat ek ’n bietjie mal en laf voel. John Proctor het nog nooit so goed gelyk soos vanaand nie. Ek het hom behoorlik vasgevat, veral in die hoftoneel.”
Stadig staan die akteur in die agttiende-eeuse klere op. ’n Oomblik staan hy doodstil. Sy breë bors sit nog verder uit. ’n Trotse vuur brand in sy oë. Hy kyk deur Danie, na mense waarvan dié nie bewus is nie, en sê met sy diep stem: “Ek sal soos ’n see oor hierdie hof bars …”
Iemand klop.
“Besig!” reageer Karel.
“Jy’s ’n ster!” kom dit deur die deur. “Sien ons jou by die partytjie?”
Danie verstyf toe hy sy ma se stem herken.
“Ek’s moeg, Aletta. Maak verskoning vir my!” Karel glimlag breed met Danie.
Voetstappe verdwyn met die gang af. Danie verslap. Karel druk sy skouer en sê: “Ek gaan gou stort.”
Die deur klap toe. Voetstappe. ’n Doodse stilte. Danie gaan sit by die kleedtafel en kyk na al die botteltjies, buisies grimering en kannetjies haarsproei. Hy bevind hom dikwels voor Karel se spieël. Vir die akteur is dit ’n towerspieël, vir Danie ’n koue, blink vlak wat hom uitjou. Nietemin kyk hy daarin en soek na iets wat vir hom sê hy sal eendag die reg hê om voor so ’n spieël te sit. Hy wonder of hý ooit ’n John Proctor sal wees.
Sy skouers sak en hy laat hang sy kop.
Die Engels-mondeling die volgende week lê soos ’n berg voor hom. Hy kan nie eens voor ’n klas praat nie. Hoe sal hy ooit die veeleisende Proctor-rol voor ’n gehoor kan vertolk? Lank sit hy met geklemde vuiste en kyk na die vreemdeling wat na hom kyk.
“M … m … Moses was ’n h … h … hakkelaar,” sê Danie vir hom en probeer onthou hoe die res van dié Adam Small-gedig klink.
“H … h … hy het n … n … nie die b … b … beloofde land ervaar n … nie,” antwoord die vreemdeling.
“M … m … maar h … hy het K … K … Kanaän gesien,” is Danie se verweer.
“V … v … van ’n afstand af,” treiter die spieëlbeeld.
“M … M … Moses w … was ’n h …” probeer Danie en die woord sit iewers vas. Sy kop sak tussen sy hande in.
Toe Karel terugkom, handdoek om die middel en nog half nat, sit hy nog so.
“En as jy nou so diep ingedagte is?” Karel piets die geboë rug met die punt van sy nat handdoek.
Met ’n halfhartige gebaar probeer Danie agter sy rug die handdoek vang. Dan staar hy op die kleedtafel voor hom. Hand op sy skouer hurk Karel langs hom.
“Dis die mondeling, nè?”
Danie knik.
“Ek trek my aan, ons klim op my ou ysterperd en ons laat spaander. ’n Hamburger en ’n melkskommel sal nou darem vorentoe smaak. Stem jy?”
“B … bak.” Danie glimlag. Die hou wat hy Karel op sy gespierde boarm gee, is nogal hard.
“Eina,” kerm ’n dun stemmetjie deur die ruie baard. Die hemp wat Karel besig is om oop te knoop, word terstond ’n verband wat om die beseerde arm gewikkel word. Nog ’n dowwe kreun en Karel tuimel soos ’n sak aartappels op die vloer neer.
“Hoe v … val die h … h … helde.” Danie raak met die punt van sy skoen aan Karel se rug.
“Ons moet ons litte roer, jong.” Karel spring op. “Aletta is netnou by die huis, en as haar spruit nie daar is nie, is daar perde.” Hy trek haastig aan.
Hulle loop met die gang langs, by die agterdeur uit en met die brandtrap af.
Buite is dit koel, blink en stil. Die lug het oopgetrek. Dis volmaan. Oral lê stukke lig soos die straatligte en die maan weerkaats in die poele reën.
Karel skud die water van die motorfiets se seil af, vou dit op en pak dit weg in een van die saalsakke. John, die nagwag, staan eenkant teen ’n muur. Hy is ’n groot jas met ’n knuppel. Karel stop hom iets in die hand.
“Dis ’n noot, meneer.”
“Dis mos reg so, John.”
Karel laat gly sy groot hande oor die rooi, swart en silwer oppervlakke van sy 1100 cc-yster en sê: “Daar’s min dinge só mooi.”
Wydsbeen gaan sit hy oor die fiets, sluit dit oop en druk die aansitknop. Die enjin brul.
“Kom klim,” hoor Danie tussen die gedreun deur. Met ’n valhelm oor sy kop getrek, klim Danie agter op die fiets. Hy hou styf om Karel se lyf vas, want hy weet die Yamaha trek met ’n bokspring weg.
Die strate is leërig en Karel gee vet. Geboue, motors en ligte flits verby. Wind suis by die valhelm in. Danie wens hulle kan nog ’n lang tyd so ry.
Met die strooitjie roer Karel die skuim op sy skommel. Hy leun vorentoe en sê asof dit ’n geheim is: “Ek is bang vir Proctor. Dis ’n moeilike rol. Deksels moeilik, om die waarheid te sê. Maar maklike rolle is waardeloos. Dis net as jy sukkel dat jy leer en beter word.”
Karel se strooitjie roggel. Die groen-en-rooi neonlig speel ’n geluidlose wysie op die bebaarde gesig.
“Hoe lyk dit met ’n potjie armdruk, Daanman?”
“Ek s … s … sien k … kans.”
Danie leun op sy elmboog en klem Karel se hand styf vas. Hy sien hoe die swart leer styf trek oor Karel se boarm. Dan voel hy hoe die spiere in sy arm begin lam word. Karel druk sy arm neer, plat tot op die tafel, en vee dan kamma sweet van sy voorkop af.
“Jy word sterk. Ek moet in my spoor trap. Laas was dit maklik om jou flou te kry. Teen wie druk jy deesdae, Arnold Schwarzenegger?”
Danie vou sy hand oop en toe en vryf sy arm. “Jy sp … sp … spot l … l … lekker, nè? Een v … van die d … d … dae k … kry ek jou onder. Jy w … w … word nie jonger n … nie. D … d … dis nie m … meer so l … l … lank nie, d … d … dan speel jy k … k … koning Lear.”
“Watch it, my mate. Hê respekte vir die oues van dae.” Karel waai sy wysvinger en pinkie vir Danie, ’n gebaar wat hy gebruik het toe hy Jakes vertolk het in Siener in die suburbs. “Kom, ou maat, huis toe. Aletta het seker al die pote gebel.”