Читать книгу My kat word herfs - Barrie Hough - Страница 6
Bloed
ОглавлениеDis pouse. Op pad na die biblioteek sien Danie ’n lawaaierige groep om die kennisgewingbord in die portaal vergader. Hy staan nader om te sien wat die opwinding veroorsaak. Voor hy kan uitvind wat aangaan, kom die hoof se sekretaresse uit haar kantoor uit. “A nee a, seuns, dit klink soos ’n basaar op ’n Saterdagoggend,” sê sy hard met haar skril stem. “Daar’s ’n groot speelterrein daar buite.”
“Die krieketspanne teen Afrikaans Hoër is op die bord, juffrou,” verduidelik iemand. Sy gooi haar hande in die lug op en slaan die kantoordeur agter haar toe. Dis haar manier van sê sy is rêrig die hoenders in.
Maar Makou, soos die seuns haar noem, het verniet gepraat. Die geraas duur voort. Af en toe word dit onderbreek deur die gil van iemand wat sy naam op die lys gesien het.
“Vark! Hy kan dit nie doen nie!” André stamp sy voet op die grond en gooi sy kosblik teen die muur. Die deksel spring af en die inhoud val uit. Sy ma het vir hom koue vleis, toebroodjies en koek ingesit. “Ek sal nié tweede span speel nie! Tarzan kan op sy kop staan.”
Danie kyk na die verminkte stuk koek wat in die hoek lê.
André storm uit die portaal uit. Hy gaan sit, arms gevou, in die son. Dan begin hy met mening stukkies skilferende verf afbreek van die bank waarop hy sit. Die eerste span se kaptein gaan sit langs hom. André maak of hy hom nie sien nie. Hy staan op, steek sy hande diep in sy broeksakke en slenter na een van die groot bome naby die hek. Hy gaan leun met sy rug teen die boom. Skielik skop hy driftig na een van die wortels wat bokant die grond uitsteek.
Danie sien hoe hy met die mou van sy baadjie oor sy oë vee, en hy loop in sy rigting. Sy eerste woord haak vas, sodat hy baie naby André is voor hy begin praat. Dan kom dit soos ’n waterval. “Ek’s jammer, André – ek b … b … bedoel dat jy nie eerste span gehaal het nie. Jy’s een v … v … van die b … b … beste spelers in die skool.”
André skrik. Hy draai vinnig om, voor Danie klaar gepraat het. Sy oë is rooi. Lank kyk hy na Danie, en dan praat hy – sag, byna asof hy ’n geheim verklap, asof hy nie wil hê iemand moet hoor nie.
“Shakespeare! Wat weet jý van krieket af? Jy’t seker nog nooit ’n kolf in jou pap wit handjies gehad nie. En hoe weet ’n sissie soos jy of ek nou goed speel of nie? Dié oordeel sit nie in jóú broek nie. En jy sê vir mý jy’s jammer! Dis ’n grap!” Hy snork-lag. “Jy moet vir jouself jammer wees! Jy’t dit nodig! Jy en daardie flerrie-ma van jou met haar l … l … l … los hare en haar r … r … r … rooi rokke …”
Voor Danie kan dink wat hy doen, gee hy André ’n harde hou teen sy bors. André val agtertoe, oor die boom se wortel. Danie gaan sit bo-op hom en moker met sy vuiste. André keer met sy hande, maar Danie skree en slaan blindelings.
Die kant van sy gesig word warm nog voor hy die pyn voel. André is besig om hom aanhoudend teen die oor te klap. Dan spoeg André in sy gesig. Dit loop slymerig by sy wang af.
Hy het André se hare in sy hande vas en hy stamp, stamp, stamp sy kop teen die grond.
Eindelik rol hy van André af en vee die spoeg met sy hempsmou af. Die wit mou het rooi vlekke op.
André lê stil. Danie wil hom in die maag skop, maar ’n hand op sy arm keer hom. Eers dan sien hy al die gesigte. Niemand glimlag nie. Almal is doodstil.