Читать книгу My kat word herfs - Barrie Hough - Страница 5

Herfs

Оглавление

Eers toe Stokkies, die skoolhoof, hom voorstel, sien Danie die vreemdeling tussen die voorste ry onderwysers op die verhoog. Die man staan op, knik en sak terug op die stoel waar hy vasge­keer sit tussen tant Siena, die musiek-onderwyseres, en Tarzan, die LO-onnie.

Mevrou Malan word “tant Siena” genoem sedert die dag dat Dampies A.G. Visser se gedig “Vet” vir die standerd-neges voorgelees het.

As ou tant Siena straat op loop

Om antipon of spek te koop,

Sê dié wat pad maak: Dank die Heer!

En sit hul sware stampers neer.

Tarzan Pienaar dra ’n baaibroek met ’n luiperdvel-patroon en span sy spiere op die middae dat die swemspan van die meisieskool oorkant die straat saam met hul afrigter kom oefen. Die meisieskool het nie ’n swembad nie.

Dis net sowel dat meneer Du Toit, die inspekteur, maer is. Danie kan hom voorstel hoe min plek daar tussen tant Siena en Tarzan is.

Op pad na hul klaskamers is almal stiller as gewoonlik. In die gange hoor hy gedeeltes van gefluisterde gesprekke: “… inspekteur hier … wanneer … huiswerk … watter periode sal hy …”

Danie se mond word droog. Sê nou net hy moet praat? Hy kou aan ’n vingernael.

Die eerste twee periodes, wiskunde en Duits, verloop vlot – sonder die inspekteur.

Dampies, die Afrikaans-onderwyser, is nie in die klas toe hul­le daar aankom nie. Die vertrek is vol stof en ruik na ou toe­broodjies. Die bord is streperig. Iemand moet dit die vorige dag met ’n nat lap skoongemaak het. Die deksels van lessenare klap toe. Agter in die hoek krap iemand iets in ’n boek neer.

’n Kreet. “Ag nee, ouens, wie se duimspyker is dit dié?”

’n Paar kêrels lag.

“Chips, hier kom hy,” sis die brandwag en struikel in sy haas oor ’n tas.

Teen die tyd dat Dampies by die deur inkom, is elkeen op sy plek. Agter hom is die inspekteur. Almal staan.

“Môre, seuns,” groet Dampies.

“Môre, meneer,” sing die klas.

Dampies maak sy keel skoon. “Ons verwelkom meneer Du Toit hier hy ons. Hy kuier vandag ’n bietjie.”

“Dankie, meneer Boshoff. Ek is seker ek en die kêrels gaan sommer lekker gesels.” Die man draai na Dampies, wat met die gespes van sy tas vroetel, en sê sag: “Ek sal dit waardeer as ek alleen met die seuns kan praat. Ek is seker u sal nie omgee nie.”

Wat Dampies ook al wil sê, bly in sy keel vassteek. Ná ’n paar sekondes maak hy sy mond toe. Sonder om sy tas te gespe, tel hy dit op, sit dit onder sy arm en maak hom uit die voete.

Meneer Du Toit is nie groter as ’n standerd-ses nie. Hy is grys. Sy pak is grys. Sy snor is grys. Hy dra ’n grys das. Twee swart skoene loer onder konsertina-broekspype uit. Die moue van sy baadjie is net so verrimpeld soos sy gesig.

Danie wonder of dié pak hom eenmaal gepas het.

“Meneer Boshoff sê vir my julle het opstelle geskryf oor herfs.” Sy wenkbroue is twee woeste snorre wat lig en “herfs” beklemtoon. Hy het blou oë soos Neffie. Hy vee die wit stof van die tafel af, maak ’n koddige sprongetjie na agter en gaan sit. Sy bene hang; hulle swaai agtertoe en vorentoe.

“Het julle al ooit gewonder hoeveel studente het al oor herfs geskryf? Weet julle hoeveel digters het dié jaargety al besing? Kom ons hoor of iemand hier dalk iets geskryf het wat nog nie gesê is nie. Jy daar, lees!” Hy wys in André se rigting. André staan op. “Sit maar.”

André is in sy element. Hy lees asof hy ’n gedig voordra. Sy stem is musikaal en hy rond sy klanke goed af. Woorde soos “gloed” en “skêr” kom in sy mond tot hul reg. Hy het sy woorde goed gekies. In hul ritme en klank voel Danie die stemming van ’n stil herfsmiddag aan. André suggereer die stilte van die middag met die sin: “My voetstappe knetter en sis oor die welige blaarmat.” Danie weet Aletta sou hou van die manier waar­op André lees en praat. Miskien sal hy selfs eendag vir haar speel.

“Wat is jou naam?”

“André, meneer.”

“André wie?”

“André Lategan.”

“Dankie, Lategan. Jy het ’n goeie beskrywende opstel geskryf.”

André kyk selfvoldaan in die klas rond.

“Jy daar in die hoek! Ja, jy wat so wegkruip. Vertel vir ons van herfs.”

“Meneer, ek het my boek by die huis vergeet.”

’n Paar ouens proes van die lag. Meneer Du Toit se wenkbroue lig.

“Dis die verkeerde tyd van die jaar vir jou. Dit lyk my jy’t al in jou winterslapie verval. Dalk moet ’n mens ’n bietjie vuur maak onder jou, jy moet warm gemaak word. Wat’s jou naam?”

“Gerrit Olivier, meneer.”

“Ek is tot laat vanmiddag hier. Voor jy huis toe gaan, kom lees jy jou opstel vir my.”

“Ja, meneer.”

“Jy hier voor.” Die inspekteur beduie na Danie.

Danie se hande vroetel met die blaaie voor hom. Die klas is stil. Op die papier voor hom staan die woorde. Skielik lyk hulle klein en hard, soos skerp spykers. Danie kyk op. Die blou oë wag.

“Het jy jou tong verloor?”

Danie maak sy mond oop. Hy kan nie praat nie.

Deon steek sy hand op. “Danie hakkel, meneer.”

Danie kyk dankbaar na hom. Stemme fluister.

Die inspekteur druk ’n voorvinger agter die knoop van sy das in en werskaf dit heen en weer. Hy spring van die tafel af en kom staan voor Danie. “Gee vir my, ek sal lees.” Eers kyk hy na die naam op die buiteblad en dan na die skrif op die papier. “Watter krap het oor hierdie boek geloop?”

Die uitdrukking op Danie se gesig laat die man glimlag. Danie skryf pynlik netjies.

Meneer Du Toit maak sy keel skoon en begin lees: “My kat word herfs.” Hy kyk na Danie. Iemand in die klas proes. Daar is ’n gefluister in een hoek. Hy begin weer. “My kat word herfs.” Dié keer lees hy verder. Die klas hoor hoe kampioen Nefertiti, toe sy klein en in haar lente was, die kleur van room gehad het. Die belofte van ’n naderende somer het ’n blos van goudbruin op haar ore, pote en stert gebring. Hoogsomer was haar dun pote soos lote wat hardehout geword het. Haar punte was toe swartbruin, soos vrugbare grond ná ’n donderstorm. En haar oë was blouer as die Hoëveld se lug op ’n warm dag.

Die inspekteur lees stadig, met gereelde pouses. Dis of hy die woorde uit beskermende watte haal en hulle versigtig, een vir een neersit. Hy pak die res van die opstel met sorg uit. In woor­de met ronde klanke lees hy hoe Nefertiti ryp geword het en vrug gedra het. Hy lees van Neffie se kleintjies.

Danie luister aandagtig. As hy maar net sy mondeling só kan laat klink!

“En nou word sy herfs. Die jare sit ’n blaarbruin saal op haar lenige rug. Haar stert word dikker, soos ’n wingerdstok wat al seisoen op seisoen gedra het.”

Meneer Du Toit blaai om en lees die laaste paragraaf. Daarin het Danie geskryf van sy vrees vir die winter wat moet kom. Hy weet dat die herfs ’n voorspel is tot ’n tyd wanneer takke verdor en breek en blare verpoeier. Die laaste sin is ’n herhaling van die eerste. “My kat word herfs.”

Die inspekteur maak die boek toe en gee dit vir Danie. Sonder om ’n woord te sê, gaan staan hy by ’n venster en kyk uit. Lank staan hy so.

Die klok lui. Dis pouse. Die ouens gesels, grawe agter toebroodjies aan en stroom by die klas uit.

“Danie!” keer die inspekteur se stem hom by die deur. “Het jy dringende sake of kan jy ’n ruk met my gesels?”

Hulle is alleen in die klas. Danie gaan sit op een van die voorste lessenare. Meneer Du Toit kies die een langsaan.

“Jy het my verras, weet jy. En dit gebeur nie maklik nie. Ek is al veertig jaar in die onderwys en ek het al meer opstelle gelees as … nou ja. Jy het ’n talent, ou seun. Noem dit verbeelding, noem dit oorspronklikheid. Jy het die vermoë om woorde te gebruik dat hulle weer nuut word. Werk daaraan! Weet jy van die opstelwedstryd wat die ATKV uitgeskryf het?”

“Ja. Dampies … ag, ek b … b … bedoel meneer B … B … Boshoff het ons daarvan vertel.”

“Het jy iets ingestuur?”

“N … n … nee, m … meneer.”

“Ek dink jy moet ’n inskrywing stuur. Die sluitingsdatum is oor ’n maand.”

Eers kyk Danie op sy knieë. Hy is een van die min standerd-agts wat nog ’n kort broek dra. Maar iets in die man se stem laat hom opkyk. Die blou oë staar stip na hom. Hy kyk terug. Hierdie oë vertrou hy.

“Dankie, meneer,” sê hy sonder om te hakkel.

“Nou ja, ek veronderstel die personeel wag in die teekamer.” In die deur steek die man vas en draai om. “En Danie, daar is bekendes wat gehakkel het. Weet jy wie Demosthenes was?”

“N … n … nee, m … m … meneer.”

“Hy was ’n Griekse orator wat gehakkel het. Maar hy het baklei daarteen. Soms het hy gladde klippies onder sy tong gesit en die branders en meeue gaan toespreek.” Die inspekteur draai om en loop weg.

My kat word herfs

Подняться наверх