Читать книгу Hoop in tye van nood - Benescke Janse van Rensburg - Страница 6
Оглавление1. Is jy ’n kolibrie of ’n aasvoël?
Psalm 59
1Vir die koorleier: op die wysie van “Moet dit nie verwoes nie!” Van Dawid. ’n Gedig, na aanleiding daarvan dat hulle, in opdrag van Saul, Dawid se huis omsingel het om hom dood te maak. 2Red my van my vyande, my God, beskerm my teen my teëstanders, 3red my van die mense wat onreg doen, bevry my van hierdie moordenaars! 4Die geweldenaars lê my voor om my dood te maak, hulle wil my aanval. Maar ek het nie gesondig nie, ek het nie oortree nie, Here! 5Ek is onskuldig en tog bestorm hulle my en val hulle my aan. Kom help my tog! Kyk wat doen hulle! 6U is die Here God, die Almagtige, die God van Israel! Gryp tog in en straf al hierdie vyandige nasies! Moenie genade betoon aan sulke lae verraaiers nie. Sela 7Hulle kom altyd in die aand terug, hulle grom soos honde en loop in die stad rond. 8Die skuim staan om hulle bekke, en hulle wys hulle tande, want hulle dink niemand hoor hulle nie. 9Maar U, Here, U lag hulle uit, U spot met al die nasies! 10Ek wil my hoop op U gevestig hou, U, my Sterkte, want U is my veilige vesting! 11My God sal my te hulp kom in sy trou, God sal my laat neersien op my teëstanders. 12Moet hulle nie nou al doodmaak nie, sodat hulle straf nie ongemerk aan my volk verbygaan nie. Breek hulle stadig af deur u mag en laat hulle ondergaan, Here, ons Beskermer, 13oor hulle woorde, die sonde uit hulle mond. Laat hulle gevang word deur hulle hoogmoed, deur die vervloekings wat hulle uitspreek, en die leuens wat hulle praat. 14Vernietig hulle in u toorn, wis hulle heeltemal uit. Dan sal almal weet dat God oor sy volk Jakob en oor die hele aarde regeer. Sela 15Hulle kom altyd in die aand terug, hulle grom soos honde en loop in die stad rond. 16Hulle dwaal rond agter prooi aan en as hulle nie genoeg kry nie, tjank hulle. 17Maar ék sal sing van u mag, elke môre sal ek jubel oor u trou, want U is vir my ’n veilige vesting, ’n skuilplek in tyd van nood. 18Tot u eer wil ek sing, U, my Sterkte, want U is my veilige vesting, U is my troue God.
In die Doodsvallei-woestyn naby Kalifornië is daar twee soorte voëls: die kolibrie en die aasvoël. Die kolibrie is op soek na die soet bloeisels van die kaktusplante; die aasvoël na verrotte karkasse. Tog vind albei hierdie voëls dít waarna hulle op soek is.
In ons lewens is dit presies dieselfde. Ons kan, soos die aasvoël, die nuusblaaie fynkam en vaskyk in negatiewe nuus oor moorde, die ekonomiese resessie, verhoogde elektrisiteitrekeninge, korrupsie en vele ander negatiewe nuusberigte wat ons in vrees laat leef. Aan die anderkant kan ons, soos die kolibrie, deur dieselfde koerant blaai en onsself telkens daaraan herinner dat selfs al ís daar negatiewe berigte, God steeds in beheer van die wêreld, ons land en ook ons lewens bly. Hy is soewerein en het in elke situasie die finale sê. Selfs al sou gevaar op ons afstorm, is dit Hy wat ons daarteen beskerm.
Voel jy vandag oorweldig deur ’n krisis of ’n vrees vir die toekoms? Luister dan weer na die woorde in Psalm 59:10, 11, 17, 18: “Ek wil my hoop op U gevestig hou, U, my Sterkte, want U is my veilige vesting! My God sal my te hulp kom in sy trou … Maar ék sal sing van u mag, elke môre sal ek jubel oor u trou, want U is vir my ’n veilige vesting, ’n skuilplek in tyd van nood. Tot u eer wil ek sing, U, my Sterkte, want U is my veilige vesting, U is my troue God.”
God is ons beskermer. Haal jou negatiewe aasvoël-bril af en sit jou positiewe kolibrie-bril op. Begin om God te dank vir alles wat jy het. Sodoende sal jy verbaas staan om skielik die soet bloeisels reg rondom jou raak te sien wat God daar geplaas het om jou lewe goed en mooi te maak.
Gebed
Vader God, dankie dat U soewerein bly en my te midde van gevaar beskerm. Help my ook asseblief om met ’n positiewe gesindheid deur die lewe te gaan – selfs al dreig negatiewe nuus om my te oorweldig. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.
Besprekingsvrae
1. Is jy ’n kolibrie of ’n aasvoël? Watter effek het jou ingesteldheid, hetsy positief of negatief, op die mense rondom jou?
2. Lees Romeine 12:2. As jy ’n aasvoël is, hoe kan jy begin om jou denke te vernuwe sodat jy deur ’n positiewe bril na die lewe kan kyk?
3. Lees Psalm 59:10–11. Hoe het Dawid die situasie hanteer toe Saul se soldate sy huis omring en gedreig het om hom te vermoor?
4. Was jy al in ’n situasie waar dit in die werkplek, by die huis of in jou gemeenskap gevoel het asof ’n vyand jou omring met die doel om jou te vernietig? Hoe het jy die situasie hanteer?
5. Lees Psalm 59:17–18. Watter krag lê daarin om God se grootheid te besing terwyl jy jouself steeds in ’n krisis bevind?
6. Watter klein aanpassings kan ons in ons lewens implementeer om meer positief na die mense rondom ons te kyk?