Читать книгу Hoop in tye van nood - Benescke Janse van Rensburg - Страница 9

Оглавление

4. God is ons toevlug

Psalm 62

1Vir die koorleier. ’n Belydenis. ’n Psalm van Dawid. 2Net by God vind ek rus, van Hom kom my redding. 3Net Hy is my rots en my redding, my veilige vesting, sodat ek vas en stewig staan. 4Hoe lank wil julle almal nog beskuldigings bly slinger en my probeer doodmaak, ’n man wat reeds is soos ’n muur wat wil omval, ’n klipmuur wat omgestoot word? 5Hulle probeer my uitwerk; hulle skep behae in leuens; met die mond seën hulle, in die hart vervloek hulle. Sela 6Net by God vind ek rus, want op Hom vertrou ek. 7Net Hy is my rots en my redding, my veilige vesting, sodat ek stewig staan. 8God is my redding en my krag. Hy is my rots, my sterkte, God is my toevlug. 9Vertrou altyd op Hom, my volk, stort julle hart voor Hom uit! God is vir ons ’n toevlug. Sela 10Mense is verganklik, mense is niks: op ’n skaal wys hulle geen gewig nie, saam is hulle minder as niks. 11Moenie op geweld vertrou nie; roof sal jou niks in die sak bring nie. As jou rykdom toeneem, moenie dat dit jou te na aan die hart lê nie. 12Een ding het ek God hoor sê, nee, twee: dat net God mag het 13en ’n mens net op U, Here, kan vertrou, en dat U met elkeen handel volgens sy verdienste.

Tydens die Viëtnamese oorlog is ’n groep Amerikaanse soldate as krygsgevangenes deur die vyand in hegtenis geneem. In die tronkselle het die soldate gespanne gewag dat die vyand hulle een vir een kom haal en martel in die hoop dat hulle oorlogsinligting sou bekend maak.

Teen die einde van die oorlog het hierdie groep soldate na Amerika teruggekeer sonder dat enigeen van hulle enige inligting aan die vyand verstrek het. Verstom oor hul vermoë om te swyg, wou die Amerikaanse weermag weet hoe hulle dit reggekry het. Die bevelvoerder van die groep, ’n kaptein, het vorentoe getree en vertel: “Ek is eerste uit die tronksel laat haal. Net voordat die deur agter my toegegaan het, het een van my troepe my aan die skouer gevat en gesê: ‘Kaptein, keer met waardigheid terug.’ In die daaropvolgende ure van marteling waartydens ek gebrand, geskok en amper verdrink is, het ek telkemale aan sy woorde gedink. Dit het my gehelp om my fokus te behou.”

Die kaptein se voorbeeld het die troepe geïnspireer om dieselfde te doen. Elke keer wanneer nog ’n troep kom haal is, het hulle na mekaar gekyk en gesê: “Broer, keer met waardigheid terug.” Ondanks hul marteling, het hierdie woorde die soldate die moed gegee om geen inligting aan die vyand te verklap nie.

In ons lewens probeer die vyand ons ook van tyd tot tyd martel in die hoop dat ons van God sal wegstap. Hy brand, versmoor of verdrink ons dalk nie, maar sy aanvalle kan in die vorm van ’n duistere transaksie in die werkplek wees, ’n aantreklike kollega wat, selfs al is jy getroud, met jou flankeer of ’n soetsappige skinderstorie wat jy hoor en oorvertel. Gaan jy voor die vyand se verleiding swig of gaan jy jou waardigheid behou en daarvan wegstap?

In Psalm 62:8–9 lees ons: “God is my redding en my krag. Hy is my rots, my sterkte, God is my toevlug. Vertrou altyd op Hom, my volk, stort julle hart voor Hom uit! God is vir ons ’n toevlug.”

God maak ons sterk wanneer ons swak is sodat ons “nee” te kan sê vir versoekings wat ons pad kruis. Kom ons kies dus doelbewus om soos die kaptein en sy troepe vir God standpunt in te neem. Dan kan ons met waardigheid na Hom toe terugkeer wanneer ons die ewigheid instap.

Gebed

Vader God, baie dankie dat U my versterk wanneer die versoeking in my lewe baie erg raak. Help my asseblief om besluite te neem wat my met waardigheid die ewigheid sal laat instap. Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus. Amen.

Besprekingsvrae

1. Het jy jouself al in ’n situasie bevind waar dit jou duur te staan gekom het om steeds met integriteit op te tree? Wat was die uitkoms van die situasie?

2. Psalm 62 is ’n belydenis van Dawid. Lees weer vers 1–3 en ook 6–8. Wat staan vir jou uit in hierdie verse? Hoe gaan jy in die toekoms anders in uitdagende situasies optree?

3. Lees Psalm 62:4–5. Het jy ook al gevoel soos ’n muur wat wil omval of ’n klipmuur wat omgestoot kan word? Hoe het God jou in hierdie tye gedra?

4. Lees Psalm 62:9. Wat beteken dit om volkome op God vir ’n deurbraak te vertrou?

5. In Psalm 62:10–11 herinner die Psalmdigter ons dat dit ons niks baat om geweld te pleeg of te roof nie. Wat is die gevaar indien ons rykdom té na aan ons harte toelaat?

6. Lees Psalm 62:12–13. Watter twee dinge het die Psalmdigter God hoor sê?

Hoop in tye van nood

Подняться наверх