Читать книгу Saartjie Omnibus 8 - Bettie Naudé - Страница 10
3
ОглавлениеGalpil se sin
Die kinders wat laat gekom het as gevolg van die slang in die bus was toe so gelukkig om die hele eerste periode mis te loop.
Die tweede periode het hulle Engels by juffrou Necker. Sy weet die hoof het met hulle gepraat omdat hulle laat was en sê nie weer iets daaroor nie.
“Sit down and take out the homework you had to do,” sê sy net kil.
Juffrou Necker het ’n streng reël dat daar slegs Engels in haar klas gepraat mag word. As die leerders vir haar iets wil vra, moet hulle dit in Engels doen. Sy dring selfs daarop aan dat hulle ook Engels met mekaar moet praat – indien dit gedurende ’n les nodig is.
Die “homework” is die sinne wat hulle moes gemaak het om te wys die woorde het twee verskillende betekenisse. Saartjie glimlag wanneer sy dink aan die laaste sin wat Galpil neergeskryf het.
Ou Nukke besluit om nie die boeke in te neem nie. Sy gaan kinders vra om hulle sinne hardop vir die res van die klas voor te lees.
Almal se boeke is nou oop en hulle sit gereed om te begin.
Saartjie en Anna sit langs mekaar en Lina sit net voor hulle. In die ry langsaan hulle s’n sit Galpil en Gert heel agter teen die muur.
Die onderwyseres sê nou sy gaan sommer rond en bont vra. As sy ’n woord en iemand se naam noem, moet daardie leerder die twee sinne lees wat hy of sy met die woord gemaak het.
Saartjie vertel fluisterend vir Anna van die poets wat sy vir Galpil gebak het deur hom ’n sin wat totaal onsinnig is, te laat neerskryf. Sy hoop nou maar die juffrou gaan op Galpil se nommer druk, soos sy dit stel, en dat hy daardie lawwe sin dan sal lees.
Daar word eerste op Saartjie se “nommer gedruk”. Sy moet haar sinne lees om te wys die woord “bark” het twee verskillende betekenisse.
Dit is maklik en Saartjie lees vinnig en vlot.
“That is correct,” sê juffrou Necker tevrede en verduidelik dan ter wille van diegene vir wie dit dalk nog steeds nie duidelik is nie: “The word ‘bark’ may be a noun that refers to the outside covering of a tree or a small sailing ship, and it may also be a verb referring to the noise made by a dog.”
Saartjie het die woord gebruik as die bas van ’n boom en ’n hond se geblaf. Die kinders moet nou hul eie sinne nasien.
So hou dit aan. ’n Kind lees sy of haar sin of sinne en dan bespreek en verduidelik die onderwyseres dit en die klas sien hul sinne na.
Uiteindelik is daar nog net een word oor: “page”. Galpil het nog nie ’n beurt gehad nie. Hy sit met ’n breë glimlag en kyk reguit na juffrou Necker. Hy wens sy wil nou op sy nommer druk.
Baie min kinders het dit gewaag om dieselfde woord twee keer in een sin te gebruik en op so ’n manier te wys dit het twee betekenisse – maar hy het dit gedoen én reggekry! Saartjie het hom wel ’n bietjie gehelp, maar dit bly nogtans sy eie werk.
Saartjie hoop ook Ou Nukke gaan nou op Galpil se nommer druk, maar om ’n ander rede. Sy wil lekker lag.
Galpil kyk die juffrou so smekend aan dat sy dadelik weet hy wil graag hê sy moet hom vra.
“Yes, Lodewyk,” sê sy en loer na hom oor die bril wat op die punt van haar neus rus, “you may read the sentences you made with the word ‘page’.”
Galpil staan op. Dan maak hy keel skoon en sê glimlaggend: “I only made one sentence, Miss.”
“One?”
“Yes, Miss, to show the meaning of the word two times.”
“You mean twice.”
“I beg your pardon, Miss?”
“Never mind,” sê die onderwyseres. “That’s very good. Let’s hear your sentence.”
Galpil maak weer keel skoon en glimlag breed. Die klas dink mos altyd sy Engels is so hopeloos. Nou sal hy hulle wys.
Saartjie kyk na Ou Nukke se gesig. Sy wil sien hoe die juffrou frons terwyl sy probeer uitmaak wat op aarde Galpil se sin beteken.
Galpil lees sy sin met ’n trots houding en ’n diep stem: “When I sit on my page on my tame horse, my page is on my nose.”
Dan kyk hy tevrede in die klas rond asof hy wil sê: “Hoe’s daai vir julle!”
Die leerders begin lag. Hulle kan nie kop of stert van die sin uitmaak nie en dit klink vir hulle vreeslik snaaks.
Ou Nukke gluur nou kwaai na Galpil oor die brilletjie op die punt van haar neus. Sy is nie seker of sy reg gehoor het nie.
“Read the sentence again,” sê sy.
“When I sit on my page on my tame horse, my page is on my nose,” lees Galpil weer en lyk hoog in sy skik met homself.
Hy het gedink hy moes die sin weer lees omdat dit vir die juffrou so wonderlik is. Hy wonder net hoekom die kinders in die klas almal so lag.
“Are you trying to be funny?” vra die onderwyseres kwaai.
Galpil besef nou daar moet iets verkeerd wees. Miskien is sy sin nie so wonderlik soos hy gedink het nie.
“No, Miss,” antwoord hy en skud sy kop heftig heen en weer. Sy lyk baie vies en “funny” is die laaste ding wat hy nou wil wees.
Die juffrou vra hom wat “page” beteken.
“’n Saal wat mens op ’n perd se rug sit, Juffrou, en ’n … ’n bril,” antwoord Galpil in Afrikaans.
“You’re talking absolute nonsense!” skree die onderwyseres. “You will remain after school for an hour of detention. I’ll give you work to do.”
Galpil is dronkgeslaan. Hy kyk verwytend na Saartjie toe hy gaan sit. Sy het hom met opset so verkeerd gehelp.
Noudat juffrou Necker die woord verduidelik, sien Galpil hoe ’n gek hy van homself gemaak het. Die woord “page” beteken glad nie ’n saal of ’n bril nie. Dit is ’n bladsy uit ’n boek of ’n hofknapie. Galpil kan homself skop. Hy het geweet ’n “page” is ’n bladsy, maar toe was hy onnosel genoeg om Saartjie te glo.
Die rabbedoe lag nie so lekker soos die res van die klas vir die arme Galpil nie. Sy is nou spyt dat sy hom van die wal af in die sloot gehelp het. Sy het dit net vir die grap gedoen. Sy het nie gedink Ou Nukke sal vir hom detensie gee nie.
Die onderwyseres skryf ’n paar halfsinne op die bord wat die leerders in hul oefeningboeke moet afskryf en voltooi. Terwyl hulle daarmee besig is, gaan sy vir ’n paar minute by die klas uit.
Saartjie voel sleg dat sy Galpil so ’n lelike streep getrek het en kan nie op haar werk konsentreer nie. Ou Nukke was onregverdig met Galpil en moet daarvoor gestraf word. Miskien het dit tyd geword vir nog ’n bietjie pret met die rubberslangetjie.
Galpil sal ook lag vir die grap en dan sal hy beter voel. Maar Saartjie besluit sy sal nogtans ook vir hom om verskoning moet vra.
“Ek gaan die slangetjie in Ou Nukke se laai sit,” sê sy giggelend vir Anna.
“Nee, moenie!” sê Anna. “Jy gaan in die moeilikheid kom.”
“Ek sal nie,” sê Saartjie en stap vinnig vorentoe.
Sy haal die slangetjie uit en sit dit in die onderwyseres se laai. ’n Paar kinders wat heel voor sit, sien haar en begin nou al by voorbaat lag. Ou Nukke gaan haar sowaar boeglam skrik.
“Sjuut, ouens,” sê Saartjie en knipoog vir hulle.
Sy sit skaars toe die juffrou by die klaskamer inkom. Ou Nukke stap tussen die banke deur en kyk na die kinders se werk. Hier en daar waar een ’n fout gemaak het, help sy hom of haar reg.
Toe sy aan die ander kant van die vertrek is, weg van Saartjie-hulle, fluister Anna: “Sê nou sy vat die slangetjie?”
“Sy sal nie.” Saartjie verduidelik fluisterend hoekom sy dink Ou Nukke sal dit nie doen nie.
Volgens Saartjie sal die juffrou so groot skrik – ás sy die laai ooptrek en die slang daar sien – dat sy sommer dadelik by die klas sal uitstorm. Dan sal Saartjie die ding gou weer gaan uithaal en dit in haar tas wegsit. En dan sal die hele klas kastig help soek na die slang wat so geheimsinnig verdwyn het.
“Nee, Saartjie,” sê Anna kopskuddend, “ek sê vir jou, jy soek moeilikheid.”
Maar Saartjie kan nou niks aan die saak doen nie. Die koeël is deur die kerk. Sy kan die slang nie nou uit die laai haal nie, nie met die onderwyseres in die klas nie. Al wat nou kan help, is as die juffrou nie die laai oopmaak nie. Dan sal Saartjie die slang gou kan gaan uithaal voor die volgende periode begin.
Saartjie voel nou ook ’n bietjie bekommerd. Sy het ’n gevaarlike ding aangevang. As Ou Nukke “Slang!” skree en by die deur uitstorm om hulp te gaan haal en die hoof en die ander mans op die personeel kom gewapen daar aan om die slang dood te maak en hulle kry nêrens ’n teken van die ding nie, sal hulle mos agterdogtig word.
Dan sal hulle twee en twee bymekaarsit en besef een van die kinders moes ’n speelgoedslang in die laai gesit het. Dan sal die hoof verder twee en twee bymekaarsit en hierdie slang wat in die klas verskyn en toe weer verdwyn het, verbind met die slang wat op die bus verskyn en ook so geheimsinnig verdwyn het.
En dan gaan die gort gaar wees. Die hoof sal Lynnekom se kinders wat op die bus was en in hierdie klas is, begin uitvra. Saartjie sal dan natuurlik moet erken dit was sy – en dan is sy diep in die moeilikheid.
Ja-nee, Saartjie is nou so jammer sy het die rubberslangetjie in die laai gesit. Dit was ’n dom ding om te doen. Sy hou nou styf duim vas dat Ou Nukke liewer nie in die laai moet kyk nie.
Maar Saartjie se duimvashouery help nie.
Die onderwyseres staan op die oomblik by die venster en uitkyk. Die kinders wat van die slang in die laai weet, maak of hulle werk, maar loer kort-kort onderlangs na juffrou Necker. Saartjie en Anna is die enigste twee wat hoop sy maak die laai liewer nie oop nie.
Die ander wil almal hê sy moet dit doen. Hulle is lus vir ’n bietjie pret en hulle sal boonop nie in die moeilikheid beland nie. Hulle het mos niks met die poets te doen gehad nie.
Galpil het ook gesien Saartjie sit die slangetjie in die laai, al sit hy heel agter in die klas.
Hy was die oggend in die bus al agterdogtig en het vermoed Saartjie en haar twee vriendinne weet iets van die slang wat langs die deftige dame op die sitplek was. Hulle het mos die hele tyd gelag en glad nie bang gelyk nie.
Nou het Saartjie die slang hier in die juffrou se laai gesit. Dit is natuurlik ’n rubberslangetjie.
Galpil hoop Ou Nukke sal in die laai kyk. Hy gaan lekker lag as hy sien hoe sy skrik en die kanse is goed dat sy later sal uitvind dit was ’n poets en natuurlik wie daarvoor verantwoordelik was. Dan sal Saartjie gestraf word – en dis presies wat sy verdien omdat sy hom so ’n vuil streep getrek het.
Galpil voel baie sterk oor hierdie saak. Wanneer die juffrou van die venster af na die tafel toe stap en gaan sit, maar die laai nie oopmaak nie, begin hy dadelik dink aan ’n plan om haar sover te kry om dit wel te doen.
Hy onthou skielik dat Ou Nukke ’n inkuitveër in die laai gebêre het en steek sy hand in die lug op.
“Yes?” vra juffrou Necker.
“Miss, I made a little mistake, you know, Miss … just a little one … Can I have the ink wassemiekollit eraser?”
Saartjie swaai om en gluur woes na Galpil. Hy het natuurlik gesien hoe sit sy die slangetjie daar in die laai en nou wil hy die onderwyseres met opset sover kry om dit oop te maak en daarin te kyk.
“All right,” sê juffrou Necker. Sy trek die laai uit en kyk daarin. Sy sien nie die uitveër nie, sy sien net die slang. Sy kop staan regop en dit lyk of hy reg is om te pik.
Die onderwyseres sit vir ’n paar oomblikke versteen. Dan gee sy ’n gil. “Slang!” skree sy en vlieg regop, steier terug en stamp haar stoel om. Die kinders spring ook op en almal skree nou ook so hard soos hulle kan.
“Slang! Slang!”
Daar is skielik nie meer sprake daarvan dat hulle in die Engelse periode Engels moet praat nie. Die klomp wat weet dit is maar net ’n rubberslangetjie skree harder as al die ander: “Slang! Maak hom dood! Slang!”
Maar Saartjie en Anna skree nie. Hulle sit doodstil. Soos Anna nou sê – daar is groot moeilikheid in die land. Dis seker.
Saartjie is bleek. Dinge het nie verloop soos sy gedink het dit sou nie. Ou Nukke het opgespring en gegil, maar sy het nie by die klaskamer uitgestorm nie. Sy het in die klas gebly en Saartjie kry nie kans om die slangetjie gou weer uit die laai te gaan haal nie.
Dit is ’n geweldige lawaai soos die leerders almal “Slang! Slang!” skree. Juffrou Necker probeer nie eens om die kinders stil te maak nie. Sy gil histeries: “Kry ’n besem, ’n besem!” – vermoedelik om die slang mee dood te slaan.
Nie lank nie of die hoof en onderhoof kom by die klaskamer ingestorm.
“Wat gaan aan? Wat gaan aan?” skree die hoof.
“O gonna!” sug Saartjie. Nou is sy soos Apie sou sê properlies in die moeilikheid.
Almal skree gelyk vir die hoof daar is ’n slang in die laai, maar hulle praat so hard en deurmekaar dat hy nie kan verstaan wat hulle sê nie.
“Stil!” bulder hy en die hele klomp kom tot bedaring.
“Wat gaan aan, Juffrou?” vra hy nou vir die onderwyseres.
“Meneer, daar’s ’n sl-… ’n slang,” sê sy stotterend en wys met ’n bewerige vinger na die laai.
Die hoof en onderhoof beweeg versigtig nader en loer na die laai wat halfoop staan. Hulle deins albei effens terug. Hulle sien die slang duidelik.
“Hoe op aarde kom dit daar in die laai?” vra die hoof half vir homself. En dan gebeur presies waarvoor Saartjie bang was. Die hoof dink daaraan dat daar vanoggend ’n slang op die bus ook was – die bus waarin Lynnekom se kinders skool toe gery het. Hy is dadelik agterdogtig.
Die hoof gee nou ’n tree nader en kyk aandagtig na die slang.
“Meneer moet oppas!” waarsku die onderhoof.
Die hoof antwoord nie. Hy gee nog ’n tree nader en sien duidelik dit is maar net ’n speelding.
Hy steek sy hand na die laai toe uit.
“Oppas, Meneer!” waarsku die onderhoof weer. Hy weet mos nie dit is nie ’n regte slang nie. Maar die hoof pas nie op nie. Hy pluk die rubberslang uit die laai en gooi dit op die tafel neer.
Die slangetjie tril so ’n paar keer en kom dan tot stilstand. Almal kan nou duidelik sien dit is maar net ’n speelding en nie ’n regte slang nie. Juffrou Necker stoot haar bolla effens reg en gee ’n gemaakte laggie. Sy is vies vir haarself dat iemand haar so ’n simpel poets kon gebak het.
Die gekrulde rubberslangetjie met die koppie wat so regop staan, lyk heeltemal onskuldig en glad nie gevaarlik nie. Die kinders begin nou skater van die lag. Hulle het ’n poets lanklaas so geniet. “Bly stil!” bulder die hoof en almal is dadelik tjoepstil. Jy kan skielik ’n speld in die klas hoor val.
Die hoof se oë dwaal oor die klas. Saartjie vee met die agterkant van haar hand ’n krul van haar voorkop af weg. “O gonna,” fluister sy vir die tweede keer.
Skielik slaan die hoof hard met sy hand op die tafel – so hard dat die kinders wip soos hulle skrik en die slangetjie tril. Die hoof bulder: “Aan wie behoort hierdie ding?” en wys met sy vinger na die rubberslang.
Saartjie sit doodstil. ’n Hele paar kinders loer vlugtig na haar. Sy staan nie dadelik op nie. Die dekselse ding behoort mos nie aan haar nie. Dit behoort eintlik aan Anna totdat Apie verjaar, dan sal dit aan hom behoort.
“Wie het die ding hier in die laai gesit?” vra die hoof ná ’n oomblik.
Die vraag is nou effens anders gestel. Saartjie sal skuld moet beken. Sy sluk, vee weer vinnig met die agterkant van haar hand ’n krul van haar voorkop af weg en staan dan op.
“Is jy die skuldige, Saartjie?” Die hoof gluur kwaai van onder sy welige wenkbroue na haar.
“Ja, Meneer,” sê Saartjie. “Maar dit was sommer net ’n grappie, Meneer.”
“Net ’n grappie! Die hele skool is omvergewerp deur die lawaai uit hierdie klaskamer en juffrou Necker kon haar doodgeskrik het – maar jy noem dit ’n grappie!”
Saartjie antwoord nie. Sy glo nie die hoof verwag ’n antwoord op hierdie uitbarsting nie. En wat kan sy nou eintlik antwoord? Sy kan miskien sê sy het nie geweet haar grappie sal sulke ernstige gevolge hê en dat almal so ’n bohaai daaroor gaan opskop nie, maar netnou klim die hoof dan nog verder in haar keel af.
Die skoolhoof is egter nog lank nie klaar met haar nie.
“Saartjie!” sê hy skielik en sy stem is nou ekstra kil en koud. Saartjie sluk. Sy ken die hoof. Hulle almal ken hom goed. As sy stem so kil en koud klink, is hy op sy gevaarlikste.
“Ja, Meneer?”
“Het jy vanoggend in die bus amok met die slang gemaak?”
“Ja, Meneer.” Saartjie sug swaar.
“En dit was die rede waarom julle Lynnekommers laat was vir skool?”
“Ja, Meneer,” sê Saartjie weer gedwee, en sug weer swaar.
“Dit was uiters onverantwoordelik van jou en jy moet daarvoor gestraf word.”
Dié keer sug Saartjie net. Sy sê nie weer “Ja, Meneer” nie. Dit is mos heeltemal onnodig.
Die hoof spreek nou haar straf uit. Eerstens lê hy beslag op die slangetjie, en tweedens moet Saartjie vanmiddag twee uur lank skoolsit. Juffrou Necker sal vir haar werk gee wat haar so lank besig sal hou.
“Verstaan jy, Saartjie?”
“Ja, Meneer.”
Sy wil eers vra of sy nie liewer twee middae twee uur op ’n slag kan skoolsit en die slangetjie in ruil daarvoor kan terugkry nie, maar dan besluit Saartjie om dit eerder maar te los. Sy is seker dit sal tog nie help nie. Sy wonder net wat op aarde Anna nou gaan doen. Hoe gaan sy vir Apie ’n present gee wat nie volledig is nie? Hy sal mos dadelik sien daar was iets in daardie een afskortinkie van die houtkissie, en daardie iets is nou nie meer daar nie.
Die hoof en die onderhoof stap by die vertrek uit.
“Carry on with your work,” sê juffrou Necker vir die klas. Sy kyk kwaai na Saartjie. As die hoof die meisie nie gestraf het nie, sou sy dit gedoen het – en haar straf sou baie erger gewees het.
Die eerste kans wat Anna kry, fluister sy vir Saartjie: “Ek het jou mos gesê!”
“Ag, Anna,” brom Saartjie, “gaan jy nou weer dae aanmekaar by my kerm met: ‘Ek het jou mos gesê’?”
“Maar wat gaan ons doen?” vra Anna bekommerd.
Saartjie weet hierdie vraag is gemik op Apie se geskenk wat nou nie meer volledig is nie.
“Ons sal later daaroor praat en ’n plan maak,” fluister sy vir Anna.
Saartjie kyk een of twee keer om na Galpil, trek haar neus op en draai haar kop dan weer vinnig vorentoe. Dit is om vir hom te wys sy is baie kwaad vir hom.
Galpil wonder hoekom die “ou perd” so kwaad is. Sy het eerste begin deur hom ’n streep te trek. En sy het die slangetjie mos daar in die laai gesit sodat Ou Nukke moes skrik as sy dit oopmaak. Hoe kan sy nou kwaad wees omdat hy aspris ’n uitveër gevra het sodat Ou Nukke in die laai moes kyk? Galpil skud sy kop. Meisies is darem maar snaakse goed.
Toe die klok vir die einde van hierdie opwindende periode lui, roep juffrou Necker Saartjie na die tafel toe en gee vir haar genoeg werk om haar twee uur lank besig te hou. Sy moet dit hier in die klaskamer kom doen. Galpil sal ook hier wees om strafwerk te doen. Maar hy hoef net ’n uur te bly.
Pouse gesels die Drie Muskiete oor wat hulle gaan doen en watter plan hulle kan maak om Apie nie te laat agterkom sy present is onvolledig nie. Lina stel voor dat Anna die foppotlood en woer-woer net eenvoudig as een pakkie moet toedraai en dit nie in die houtkissie sit nie.
“Maar die kissie is deel van die present,” hou Anna vol, “en dis ’n mooi ding.”
“Ek sê jou wat doen ons,” sê Saartjie. “Ons prop mooi gekleurde papier in die afskortinkie waar die slang moes gewees het. Apie sal nooit weet daar moes nog ’n speelding daarin gewees het nie. Hy sal dink jy het dit maar so by die winkel gekoop.”
Anna stem in om dit te doen, al twyfel sy sterk dat Apie dit sal glo. As daar drie afskortinkies is, moet daar mos drie goed wees en nie net twee met een afskortinkie vol papier nie. Maar nou ja, sy hoop maar vir die beste.
Aan die einde van die skooldag leen Anna en Lina vir Saartjie geld om lekkers en ’n koeldrank by die snoepwinkel te koop. Dit sal haar middagete wees. Anna sal gou by die Baumanns langs gaan en vir haar ma sê Saartjie moet by die skool bly en kan eers later huis toe kom.
Saartjie loop kouend na die klaskamer waar sy die strafwerk moet gaan doen. Sy is nie ontevrede oor die straf nie – sy weet sy verdien dit – maar sy is vies dat sy so onnosel was om die slangetjie in juffrou Necker se laai te sit. Sy moes mos geweet het sy sal, om een van Apie se uitdrukkings te gebruik, sowaar as parravet betrap word.
Galpil sit al in die klas en werk. Saartjie gaan sit ver weg van hom af. Sy haal haar boeke uit. Hoe gouer sy begin, hoe gouer sal sy klaar wees.
Sy maak asof sy Galpil glad nie sien nie, al kyk hy elke slag om na haar toe. Sy is mos vies vir hom.
Nadat hulle ’n rukkie in stilte gesit en werk het, sê Galpil skielik: “Haai, ou perd, hoekom is jy vir my kwaad? Ek moet mos eintlik vir jou kwaad wees.”
“Jy vir my? Ga!” snou Saartjie hom toe. “Jy’t aspris daardie uitveër gevra sodat Ou Nukke die laai moes oopmaak!”
“Ja, ek het,” sê Galpil vinnig, “maar ek dog jy wou hê sy moes in die laai kyk. Dis mos hoekom jy die slang daarin gesit het – om haar ’n poets te bak.”
“Dis reg, maar voor sy die laai oopgemaak het, het ek van plan verander,” kap Saartjie terug. “Toe wou ek nie meer hê sy moes die slang sien nie.”
“Nou hoe moes ek dit geweet het?” brom Galpil. “Maar ek skuld jou in elk geval – as jy my daardie laaste sin nie aspris verkeerd laat doen het nie, sou ek nie nou hier gesit en strafwerk doen het nie.”
“Nie?”
“Nee, ek sou saam met Gert en Piet geswem het. Daai pêrre is nou lekker in die water en ek moet hier sit en swoeg.”
“En dis my skuld?” vra Saartjie vies.
“Dit is, ja,” sê Galpil skerp. Hy is nou lelik omgekrap vir hierdie simpel meisiekind.
“Dit is nie!” skree Saartjie skielik hard.
“Dit is!” skree Galpil.
“Dit is nie!” skree Saartjie nog harder.
Albei gil nou kliphard “Dit is!” en “Dit is nie!”. Dit is amper asof hulle dink die een wat die hardste gil, gaan die argument wen.
Terwyl die geskree nog so aan die gang is, kom juffrou Necker by die vertrek in.
“Stil, julle twee!”
Die twee is dadelik tjoepstil. Hulle is nou skaam dat hulle so op mekaar geskree het. Hulle grinnik verleë.
“Gaan dadelik aan met julle werk,” sê juffrou Necker en gaan sit by die tafel met ’n stapel boeke wat sy wil nasien.
Die geskree het Saartjie en Galpil eintlik goed gedoen. Hulle is nou ontslae van al hul kwade gevoelens teenoor mekaar, en dit is asof hulle dit kan aanvoel. Galpil weet sommer Saartjie is nie meer vir hom kwaad nie, en Saartjie kan aanvoel Galpil neem haar nie meer kwalik omdat hy detensie moet sit nie.
Hulle kan natuurlik nie met mekaar praat nie, want Ou Nukke sit daar by hulle in die klaskamer en werk. Maar Saartjie kyk een keer vinnig na Galpil en net toe sy dit doen, kyk hy ook na haar toe. Hy glimlag en knipoog vir haar. Sy glimlag en knipoog terug. Dan gaan hulle weer aan met die strafwerk. Hulle was darem laf om so te stry en op mekaar te skree.
Ná ’n uur vra juffrou Necker vir Galpil om die werk wat hy gedoen het vir haar te kom wys. Hy maak so en dan sê sy hy kan maar gaan.
“Middag, Juffrou,” groet Galpil en loop by die klas uit.
Saartjie sug swaar. Nou moet sy sowaar nog ’n hele uur lank hier sit.
Sy begin maar weer skryf. Nadat sy so ’n rukkie gesit en werk het, kyk sy by die venster uit, en skielik bons haar hart van opgewondenheid.
Galpil sit op die muurtjie van die stoep met sy rug teen ’n pilaar. Hy kyk deur die venster na Saartjie. Hy wys hy wag vir haar. Hy beduie ook na iets in sy hand. Sy knip haar oë en sien hy het vir haar sjokolade gaan koop.
Saartjie voel sag en vriendelik teenoor hom. Galpil is darem glad nie ’n slegte ou nie. Hy kon woedend gewees het omdat sy hom so ’n poets gebak het, maar hy is nie. Hy wag om saam met haar huis toe te gaan en hy het sowaar ook vir haar sjokolade gekoop. As hy net die slegte gewoonte afleer om ’n ieder en ’n elk “ou perd” of “pêrre” te noem, sal sy miskien weer met hom gekys raak.
Galpil kan Saartjie duidelik sien soos sy nou vinnig sit en werk. Hy weet sy het hom al afgesê en is ’n verkeerde entjie mens wat sommer oor niks met hom baklei nie, maar hy dink nog steeds sy is die mooiste meisie in die wêreld.
Saartjie doen nie die volle twee uur lank strafwerk nie. Toe juffrou Necker die stel boeke klaar nagesien het, raak sy verveeld om so te sit en niks doen nie en besluit om Saartjie maar te laat gaan.
Galpil wag nog steeds buite vir haar. Hy staan op toe sy by die klaskamer uitkom en glimlag.
“Ek hoop jy is nie meer vir my kwaad nie, Saartjie,” sê hy. “Dis my skuld dat ons vandag detensie moes doen.”
Galpil neem al die skuld op sy skouers. Hy sê hy moes geweet het daardie sin van hom was hopeloos verkeerd en dat sy met hom gekgeskeer het. Verder het hy ook nie die reg gehad om Ou Nukke in die laai te laat kyk nie.
“Nee, Galpil,” sê Saartjie dan, “jy het niks verkeerd gedoen nie. Dit was alles my skuld.”
“Nee, Saartjie,” sê Galpil kopskuddend terwyl hulle wegstap, “dit was nie. Dit was my skuld.”
“Nee, Galpil, dit was myne.”
“Dit was nie.”
“Dit was!”
Hul stemme word al hoe harder soos elkeen die skuld op haar of hom wil neem. Albei gil nou kliphard “Dit was!” en “Dit was nie!”. Dit is amper asof hulle weer dink die een wat die hardste skree, gaan die argument wen.
Dan begin Saartjie skielik hardop lag. Dit is mos malligheid om so op mekaar te loop en gil.
“Ons is simpel!” sê sy laggend vir Galpil. “Daar in die klas het ons geskree omdat die een die ander een beskuldig het en nou skree ons weer omdat ons al twee die skuld wil dra.”
Galpil lag nou ook. “Ek dink ons moet liewer net van die hele storie vergeet.”
“Ek dink ook so,” sê Saartjie.
Hulle loop lag-lag na die bushalte toe.
“Dè, Saartjie,” sê Galpil en gee vir haar die sjokolade wat hy gaan koop het. “Jy’s seker moeg en honger.”
Saartjie erken sy is nogal en vat die sjokolade. Die lekkers wat sy gekoop het, het haar nie vol gemaak nie.
Galpil kyk vinnig rond en toe hy sien daar is niemand by die skool of die bushalte wat miskien vir hom kan lag nie, sê hy: “Laat ek jou tas dra, Saartjie.”
“Dankie, Galpil.” Saartjie kyk na hom en glimlag vriendelik. Haar oë is sag en daar verskyn twee kuiltjies in haar wange.
Galpil sluk. Sy is sowaar die mooiste meisie in die hele wêreld.
“Aag, ou perd, dis sommer niks,” mompel hy en vat die tas by haar. Hy skop skaam na ’n graspol voor hy met Saartjie se tas in sy hand en sy boeksak op sy rug weer begin aanstap.
In die bus gesels die twee heerlik met mekaar. Saartjie is so vriendelik – natuurlik omdat haar gewete haar pla dat sy hom so ’n verkeerde sin laat neerskryf het dat hy moes skoolsit – dat Galpil begin wonder of sy nie miskien nog ’n klein bietjie vir hom omgee nie. Hy besluit hy gaan so oor ’n paar dae wanneer hy genoeg moed bymekaargeskraap het vir haar vra of sy weer met hom gekys sal raak.
Hulle ry terug Lynnekom toe in dieselfde bus wat hulle vanoggend skool toe geneem het.
Toe dieselfde kondukteur hul kaartjies kom vat, sê Saartjie met ’n onskuldige gesig: “Hoe lyk dit, het Meneer die slang toe gevang?”
Die jong kondukteur hou daarvan dat die mooi skoolmeisie hom meneer noem, maar hy is ook agterdogtig. Sy is een van dié wat vanmôre so gelag het en glad nie eens bang was nie. Hy het die hele dag aan die slang gedink en dit was vir hom baie vreemd dat die ding sommer so spoorloos uit die bus kon verdwyn het. Toe het hy begin wonder of iemand nie miskien met hom probeer het om met hom gek te skeer nie.
“Hoekom vra jy?” vra hy nou vir Saartjie.
“Sommer net omdat ek belangstel.” Sy glimlag vriendelik en twee kuiltjies verskyn in haar wange.
“Hmm,” sê die kondukteur peinsend. “Weet jy wat dink ek?”
Nee, skud Saartjie haar kop. Sy weet nie wat hy dink nie, maar sy sal nogal graag wil weet.
“Ek dink daar was glad nie ’n slang in die bus nie,” sê die kondukteur, “in elk geval nie ’n regte een nie.”
“Nie?” Saartjie kyk met groot oë en ’n verbaasde uitdrukking op haar gesig na hom.
“Nee, dit was ’n gekskeerdery. Toe daardie vrou geskree en opgespring het, het die een wat die slang op haar bank gesit het dit weer vinnig opgeraap.”
“Heng, nè?” Saartjie se oë bly groot. “Maar wie sou so iets gedoen het?”
“Dit moes een van julle skoolkinders gewees het.”
“Sjoe, ek wonder wie. Galpil, weet jy miskien wie so iets sou gedoen het?”
Galpil sê hy weet nie. Maar hy wonder ook.
“Wel, ek sal nog eendag uitvind wie dit was,” sê die kondukteur en kyk kwaai na Saartjie, “en dan gaan ek hom of haar van my bus af gooi.”
“Ons sal Meneer help om die een te kry,” sê Saartjie sedig. Dan draai sy haar kop en kyk na Galpil en sonder dat die kondukteur dit kan sien, knipoog sy en sê: “Hè, Galpil?”
“Dis reg, Saartjie. Ons sal uitvind wie daai perd is.”
Die kondukteur voel effens ongemaklik. Hy het ’n vae vermoede die twee skoolkinders skeer die gek met hom. Hy stoot sy bors effens uit en om sy gesag te wys, bulder hy: “Kaartjies, asseblief!” en gluur na die passasiers.
Wanneer hy wegstap, grinnik Saartjie en Galpil, maar hulle sluk hul lag vinnig toe die kondukteur omswaai en hulle kwaai aankyk. Dit lyk amper of hy dit ernstig oorweeg om hulle van die bus af te jaag, maar Saartjie mompel uit die kant van haar mond vir Galpil: “Laat hom net probeer! Hy sal sowaar jammer wees.”
Die kondukteur besef ook hy sal waarskynlik jammer wees as hy die twee van die bus af gooi. Buitendien mag hy mos nie so iets doen net omdat hy dink hulle lag agteraf vir hom nie.
Toe Saartjie en Galpil in Lynnekom by die bushalte afklim, kom sy agter hy bied nie weer aan om haar tas te dra nie. Sy glimlag net. Sy verstaan. Hy is natuurlik bang sy vriende sal hom sien en dan spot.
Galpil sê vriendelik: “Sien jou môre, ou perd,” en draai af by die straat wat na sy huis toe gaan.
By die betonblokke op die sypaadjie voor die Baumanns se huis spring Saartjie versigtig van die een blok na die ander. Sy kom net met albei voete in die middel van ’n blok te lande toe sy iemand in hul tuin agter die hoë heining hoor huil.
Saartjie verstar. Dit is Apie – en hy huil bitterlik. Sy wonder wat op aarde verkeerd is.