Читать книгу Saartjie Omnibus 8 - Bettie Naudé - Страница 8
2
ОглавлениеDie slang
Saartjie hoes effens en stap dan om die hoek van die huis.
“O,” sê sy kastig verbaas om die seuns daar te sien, “ek het nie geweet julle is hier nie.”
“Sien jy, Galpil, ek het jou gesê my suster sal nie lank weg wees nie,” sê Apie.
Galpil staan vinnig van die paraffienkissie af op. Hy kyk na Saartjie en mompel: “Hallo … hallo, Saartjie.”
Die ondergaande son se strale rus sag op Saartjie se hare. Sy glimlag en twee kuiltjies verskyn in haar wange. Galpil voel trots en stoot sy bors effens uit. Hierdie beeldskone meisie was eenkeer sy meisie – al was dit ook net vir een dag.
“Wou jy my gesien het?” vra Saartjie vriendelik. Sy het ’n sagte plekkie in haar hart vir Galpil. Hy was mos eenkeer haar kêrel – al was dit ook net vir ’n dag.
“Ja, ou perd,” stamel Galpil en skop-skop na ’n graspol voor hom. “Ek het gewonder of jy my nie gou ’n bietjie sal help met daardie Engelse goed vir Ou Nukke nie.”
Saartjie is dadelik vies. Sy haat hierdie gewoonte van Galpil om ’n ieder en elk as “ou perd” of “pêrre” aan te spreek. Dit was mos daaroor dat sy hul kys ná net een dag beëindig het. Verder hou sy ook niks daarvan dat hy net vir haar kom kuier omdat hy wil hê sy moet hom met skoolwerk help nie.
“Hoekom luister jy nie in die klas as Ou Nukke verduidelik hoe die huiswerk gedoen moet word nie?” vra sy kil en vee met die agterkant van haar hand ’n krul van haar voorkop af weg.
Bennie skrik toe hy die woord “huiswerk” hoor en sê hy moet huis toe gaan voor sy ma hom foeter as hy laat kom vir ete. Apie besluit om ’n entjie saam met sy maat te stap. Net die gedagte aan huiswerk gee hom ’n pyn op die maag.
“Ek hét in Ou Nukke se klas opgelet,” sê Galpil wanneer die twee kleiner seuns om die huis se hoek verdwyn. “Ek weet ons moet een woord gebruik om twee verskillende sinne mee te maak, maar sy het niks verder verduidelik nie en ek kan nie eens een sin maak met die meeste van die woorde nie.”
“Nou hoekom kom jy na my toe?”
“Aag, Saartjie, man …” Galpil skop-skop weer na die graspol.
Lynnekom se rabbedoe hou haar asem op. Sy sal nogal daarvan hou as hy nou sê hy is hier omdat sy die gaafste en mooiste meisie in die hele skool is.
Maar Galpil sê dit nie. Hy mompel net: “Aag, man, almal weet mos jy’s die slimste in die hele klas met Engels. Jy praat dit mos net so goed soos ’n Engelsman. Al die pêrre weet dit.”
Dit is nogal ’n kompliment, maar natuurlik nie die soort wat Saartjie graag wil hoor nie. Maar sy sal hom seker maar moet help. Hy lyk tog te pateties soos hy hier voor haar staan en skop na die graspol met die vuil oefeningboek in sy hand.
“Nou kom ons gaan sit op die stoep,” sê Saartjie. “Dan help ek jou gou.”
“Dankie, ou perd.” Galpil glimlag breed. “Ek het geweet jy sal my uit die moeilikheid help. Ek het vir Gert en Piet gesê: ‘Wag net, pêrre – ek sal vir Saartjie gaan vra. Sy sal my help en dan sal ek julle help.’”
Die twee gaan sit by ’n tafeltjie op die stoep.
“Moenie kyk hoe vuil en bekrap die boek is nie, Saartjie,” maak Galpil verskoning toe hy dit voor hom op die tafel neersit. “Dis sommer net vir rofwerk, jy weet.”
Op ’n bladsy wat allesbehalwe skoon is en waarop Galpil ’n tekening gemaak het van ’n cowboy met ’n rewolwer in elke hand, het hy die vyf woorde neergeskryf wat hulle moet gebruik om twee verskillende sinne mee te maak wat wys dat elke woord twee betekenisse het.
Toe Galpil sy pen uit sy hempsak haal, sê Saartjie vinnig: “Gebruik liewer hierdie potlood.” Sy haal die foppotlood uit wat sy by Anna gekry het en gee dit vir hom.
“Dankie, ou perd,” sê Galpil.
Hy sit reg om ’n sin met die eerste woord te maak. Saartjie verduidelik wat die woord beteken en dan maak hy mondelings ’n sin daarmee. Sy verbeter dit mondelings – sy sin bestaan maar net uit ses woorde en daar is drie taalfoute in – en sê dan: “Skryf dit nou neer.”
“Reg, ou perd.” Galpil val dadelik weg.
Hy druk met die potlood se punt op die papier, maar die punt krul sommer om. Die potlood skryf glad nie. Galpil kyk verbaas na die punt en sê: “Heng, dis ’n snaakse potlood.” Dan probeer hy weer.
Die potlood se punt krul sowaar weer om.
“Wat makeer die simpel ding?” brom Galpil. Hy druk nog harder, en nou buig feitlik die hele potlood om.
Saartjie bars uit van die lag.
“Watse snaakse ding is dit?” vra Galpil en kyk verbaas na die foppotlood. Dan sien hy eers dit is nie ’n regte potlood nie en lag maar saam.
“Jy’t my darem lekker uitgevang, ou perd.”
Saartjie besluit sy gaan hom nog ’n keer kul – net omdat hy so aanhou om haar “ou perd” te noem.
Sy vat die foppotlood en steek dit in haar sak. Sy wil tog nie hê Apie moet dit sien as hy terugkom nie.
“Waar kry jy daai ding?” vra Galpil. “Ek wil vir my ook een koop sodat ek die ouens by die skool lekker kan uitvang.”
“Dis eintlik iemand anders s’n,” sê Saartjie. “Ek weet nie waar sy dit gekoop het nie. Kom ons gaan aan met die sinne.”
Saartjie is bang Apie hoor dalk van die foppotlood, al sien hy dit nie noudat sy dit in haar sak gesteek het. As haar boetie dan so ’n potlood in Anna se pakkie vir sy verjaarsdag kry, sal hy mos twee en twee bymekaarsit. Die knaap is so koppig dat hy die present dan maklik vir Anna sal teruggee en ook sê hy wil nie gebruikte goed hê nie. Dan sal daar groot moleste by die partytjie wees.
Met die eerste vier woorde verduidelik Saartjie elke keer wat die twee betekenisse is en dan moet Galpil twee sinne maak om dit te illustreer.
Galpil se kennis van Engels is nie net beroerd nie, dit is feitlik ’n ronde nul. Elke keer as hy ’n sin gemaak het, moet Saartjie dit verbeter en ’n hele paar foute regmaak.
Toe hulle by die laaste woord kom, besluit Saartjie sy gaan vir hom ’n streep trek. Sy gaan hom hierdie een verkeerd laat doen. Galpil het nog nooit in sy lewe volpunte vir sy huiswerk gekry nie. Juffrou Necker sal sommer dadelik weet iemand het hom gehelp en Saartjie wil hom mos in elk geval terugbetaal omdat hy haar gedurig nes al die ander kinders “ou perd” noem.
Die laaste woord is dieselfde een waarmee Saartjie vir Anna gehelp het – “page” wat ’n bladsy in ’n boek en ook ’n hofknapie kan wees.
“‘Page’,” sê Galpil. “Dis mos ’n bladsy, nè?”
“Nee-nee,” sê Saartjie vinnig. “Jy spel daardie ‘page’ anders.”
“O,” sê Galpil fronsend. Hy het sowaar gedink hy ken darem een betekenis van hierdie woord, maar nou sê Saartjie vir hom hy is verkeerd en wie is hy om met haar te stry?
“Nou wat beteken die woord dan, ou perd?” vra hy.
“Wel,” sê Saartjie en dink sommer aan die eerste woord wat in haar kop kom. Sy sien haar ma se bril op die vensterbank lê en sê: “Dit beteken bril.”
“Bril?” Galpil frons nog dieper.
Hy het altyd gedink ’n bril is “glasses” in Engels, maar hy was seker verkeerd. ’n Bril is ’n “page” – Saartjie sê so en sy is mos die slimste in die klas, veral met Engels.
“I put my page on my nose,” sê Galpil.
“Dis reg,” sê Saartjie en hou haar in om nie te lag nie. “Maar miskien moet jy dié keer net een sin maak wat die woord in sy twee verskillende betekenisse gebruik. Ou Nukke het mos gesê ons kan dit doen.”
“Ja, maar wat is ‘page’ se ander betekenis?” wil Galpil weet.
“Saal,” sê Saartjie.
“Saal soos ’n skoolsaal?” vra Galpil verbaas.
“Nee, man, ’n saal wat mens op ’n perd se rug sit.” Nugter alleen weet hoekom Saartjie juis aan hierdie woord gedink het. Miskien is dit omdat Galpil altyd van “ou perd” of “pêrre” praat.
Galpil dink nou hard. Hy wil Saartjie beïndruk en die woord “page”, wat bril en saal beteken, in een sin gebruik.
Ná ’n paar oomblikke se kopkrap sê hy trots: “Luister hier, Saartjie, en sê my wat jy dink.”
“Nou laat ek hoor.”
Galpil maak keel skoon en trek dan los: “When I sit on my page, my page is on my nose.”
“Miskien,” sê Saartjie dik van die lag, “sal dit beter wees as jy ‘horse’ inbring om te wys die tweede ‘page’ beteken saal.”
Galpil knik. Hy dink weer vir ’n paar oomblikke en dan kom hy te voorskyn met: “When I sit on my page on my tame horse, my page is on my nose.”
Saartjie proes soos sy haar lag inhou, maar Galpil kom niks agter nie. Hy is hoog in sy skik met hierdie sin wat hy uitgedink het en skryf dit in sy boek neer.
“Môre kry ek sowaar tien uit tien vir my sinne. Dankie dat jy my gehelp het.”
“Nie te danke nie.” Saartjie wens sy kan Ou Nukke se gesig sien wanneer sy daardie sin van Galpil lees en probeer uitwerk wat volgens hom die twee betekenisse van die woord “page” is.
Met ’n “Tot siens, ou perd!” is Galpil daar weg.
Wanneer hy by die hekkie uit is, begin Saartjie lag. Dan hoor sy haar pa ook lag. Hy het in die sitkamer naby die venster gesit en kon duidelik hoor wat Saartjie en Galpil gesels.
“Hoekom het jy hom so ’n streep getrek met daardie laaste sin?” vra dokter Baumann toe sy dogter by die sitkamer inkom.
“Ek kan nie dat hy volpunte kry nie, Pappa,” sê Saartjie laggend. “Dan sal hy dink hy’s goed in Engels – en hy weet so min daarvan af soos die man in die maan.”
Apie kom soos gewoonlik weer soos ’n warrelwind by die huis in. Hy is nou honger.
“Ma!” roep hy. “Is die kos nog nie klaar nie?”
Sy ma het al hoeveel keer gesê hy moenie so skree as hy by die huis ingehardloop kom nie. Sy hoor hom nou in die kombuis, maar antwoord nie.
Apie val in ’n leunstoel neer en strek sy bene voor hom uit. “Pa, weet Pa dis een van die dae my verjaarsdag?”
“Ek weet, ja,” antwoord Jan Baumann glimlaggend, “maar sit ordentlik.”
Apie skuif sy sitvlak terug in die stoel sodat hy regop sit.
“Ek’s moeg, Pa,” mompel hy. “Dis hoekom ek so half lê.”
“En waarvan is jy miskien moeg?”
Apie dink ernstig oor hierdie vraag na, maar hy weet nie eintlik wat hy vandag gedoen het wat hom juis so moeg kon gemaak het nie.
“Skoolwerk, Pa weet,” sê hy dan maar in die hoop dat dit ’n goeie indruk sal maak. “Baie skoolwerk en sulke goete, Pa.”
“Hmmm,” mompel dokter Baumann net en tel sy koerant weer op. Dit lyk nie asof sy seun veel indruk gemaak het nie.
Apie besluit om sy pa nie nou te vra om vir hom bokshandskoene vir sy verjaarsdag te koop nie. Hy sal tot ná ete wag. Die outjie frons. Hy moet net eenvoudig bokshandskoene kry!
Hy het al klaar vir al sy maats gesê dis een van sy presente en dit sal mos vreeslik lyk as dit nou nie gebeur nie. Hulle sal sê hy het net grootgepraat. Hy het mos gesê wanneer hy eers bokshandskoene het, gaan hy sommer gou-gou ’n kampioenbokser wees.
Mevrou Baumann kom by die vertrek in.
“Toe-toe, julle twee,” sê sy vir Saartjie en Apie, “gaan was julle hande.”
“My hande is silwerskoon, Ma.” Apie hou sy hande voor hom uit om vir sy ma te wys hoe silwerskoon hulle is.
Sy ma lig net haar wenkbroue. Toe die knaap self kyk, laat hy sy hande sak. Dit kos geweldig baie verbeeldingskrag om sy hande skoon te noem – om nie eens van silwerskoon te praat nie. Hy en Bennie het die middag in ’n modderpoel gespeel en daar sit nog steeds harde stukke modder aan sy hande vas.
“Orraait, Ma,” sê die outjie ewe gedwee en mik badkamer toe.
“Wat het jy gesê, Apie?” vra sy pa.
“Ek het gesê orraait, Pa,” antwoord Apie verbaas en wonder wat hy nou weer verkeerd gedoen het. Dan onthou hy dat hy nie die woord “orraait” moet gebruik nie. Dis mos glo Engels.
“Ekskuus, Pa,” sê die outjie vinnig. “Ek bedoel ‘reg’. Ek gaan nou gou my hande was.” Dan is hy vinnig by die vertrek uit. Sy ouers glimlag vir mekaar. Dié Apie is so ’n koddige knapie.
Hulle hoor nou hoe baklei hy met Saartjie in die badkamer oor wie eerste hande gaan was.
Heelwat later sit die gesin ná ete ’n rukkie in die sitkamer. Dokter Baumann is ’n bekende spesialis in die stad en hy het gesê hy moet nog hospitaal toe ry om te gaan kyk hoe ’n pasiënt vorder op wie hy die oggend geopereer het. Apie besluit om sy pa oor die bokshandskoene te vra voor hy uitgaan.
“Pa weet,” sê die outjie vriendelik, “daar’s niks lekkerder in die wêreld as om te verjaar nie. Heng, ek wens ek kan elke dag verjaar – mens kry so baie presente en goete, Pa weet.”
“Onthou net, as jy elke dag verjaar, word jy baie gou oud,” sê Jan Baumann terwyl hy opstaan om hospitaal toe te gaan.
“Heng, ja, Pa,” sê Apie en glimlag vriendelik. “Dis ook weer waar. Maar ’n verjaarsdag een keer ’n jaar is genoeg as ’n mens baie presente kry.” En dan vra hy die vraag reguit: “Wat gaan Pa vir my gee?”
“Ek het nog nie daaroor gedink nie.”
“Weet Pa wat sal vir my wonderlik wees?” sê Apie vinnig. “As Pa vir my bokshandskoene kan gee. Ek wil vir die ouens wys hoe goed ek kan boks, Pa weet.”
Apie besluit om sommer nou ook vir sy gesin te wys hoe hy kan boks. Hy spring op, doen ’n paar lomp passies wat veronderstel is om voetwerk te wees en slaan woes met sy vuiste. Sy ouers en Saartjie glimlag vir mekaar oor sy koddige bewegings.
“Pa sien,” sê die outjie hygend sodra hy ophou rondspring en slaan, “as ek net bokshandskoene het, sal ek ’n kampioen wees.”
Jan Baumann kyk glimlaggend na sy sproetgesigseun met die ondeunde, wakker oë.
“Nou goed,” sê hy, “ek belowe nie, maar ons sal sien.”
Apie moet daarmee tevrede wees – en hy is ook. Hy ken sy pa mos. As sy pa sê: “Goed, ons sal sien,” dan doen hy altyd wat hulle ook al sal sien.
Wanneer dokter Baumann weg is, gesels Apie land en sand oor sy verjaarsdag en die partytjie wat so lekker gaan wees.
Saartjie besluit om hom nou te probeer oorreed om meisies ook te nooi. “Jy weet, Apie,” sê sy, “jy’s rêrig onnosel.”
“Hoekom?” vra haar boetie vererg. Sy tongpunt wikkel in en uit waar sy twee voortande moes gewees het, maar nie meer is nie.
Saartjie verduidelik: “Hoe meer kinders na jou partytjie toe kom, hoe meer presente gaan jy kry. As jy meisies ook nooi, gaan jy mos baie meer presente kry as wat jy sal kry as jy net die seuns hier in Lynnekom vra.”
Apie het nog nooit so oor die saak gedink nie. Sy voorkop is gefrons en hy maak sisgeluide deur die opening waar sy voortande skitter in hul afwesigheid. Hierdie geluide moet hom vermoedelik help om helderder te dink.
“Hoe meer mense by my partytjie is, hoe meer presente kry ek,” mompel hy. Dit klink vir hom heeltemal redelik.
Dan kyk hy vinnig na Saartjie toe op en sê: “Maar hoekom moet al hierdie meer mense nou juis meisies wees?”
Die vraag kom so blitsig dat dit Saartjie onverwags vang.
“Hè?” vra sy.
“Hoekom nooi ek nie net baie meer seuns nie?” wil Apie nou weet. “Die ekstra klomp wat vir my meer presente gaan bring, hoef mos nie meisies te wees nie. Daar’s mos baie ouens hier in Lynnekom.”
“Stadig, stadig,” sê hul ma en kyk van haar breiwerk af op. “Ons het nie plek vir baie kinders nie. Ek het dit uitgewerk – jy kan twintig maats vra, nie een meer nie. En dit help nie jy neul daaroor nie.”
Toe sy dit sê, gooi Martha Baumann haar kop effens terug en vee vinnig ’n krul van haar voorkop af weg, amper net soos Saartjie dit altyd doen.
Apie weet dit help nie hy kerm om meer as twintig kinders na sy partytjie te nooi nie. As sy ma haar kop so teruggooi en op so ’n besliste manier iets sê, kan jy maar vergeet om verder aan haar te karring. Nee, hy sal maar tevrede moet wees met twintig gaste. Dis darem nie te sleg nie, dink hy nou, dis darem twintig presente.
“Tien moet seuns wees en tien meisies,” stel Saartjie voor.
“Hoekom?” wil Apie weet. Hy wikkel sy sproetneus op en af om vir sy suster te wys hy hou niks daarvan dat sy so in sy sake inmeng nie – en om ekstra seker te maak sy weet hy is nou baie omgekrap, maak hy ook ’n paar harde sisgeluide deur die opening in sy ry voortande. Sy moet onthou dit is sy partytjie en nie hare nie.
Maar Saartjie laat haar nie van stryk bring nie en sê: “’n Partytjie moet gebalanseerd wees. Daar moet net soveel seuns as meisies wees.”
“Hoekom?” vra Apie vies. “Hoekom moet ’n partytjie gedinges wees?”
“Gebalanseerd,” sê sy suster sarkasties en verduidelik dan: “As ’n mens speletjies speel, moet daar ewe veel meisies en seuns wees.”
“Watse soort speletjies?” vra Apie. Sy oë is op skrefies soos hy agterdogtig na haar loer.
“Wel, daar is die speletjie wat in Engels ‘kiss in the ring’ genoem word.” Saartjie glimlag en haar oë glinster ondeund.
Apie se oë rek groot. “Jy be-… jy bedoel…” sê hy en dit lyk of hy sy ore nie kan glo nie, “die seuns soen die meisies … en die meisies soen die seuns?”
Die knaap is skoon rooi in die gesig van skaamte en ontsteltenis omdat hy die woord “soen” hardop moes sê.
“Dis wat ek bedoel, ja,” sê Saartjie.
“Dink jy ek’s mal?!” roep Apie uit. “Ek wil nie meisies op my partytjie hê en dinges-speletjies speel nie. Wie se partytjie is dit, hè? Joune of myne?”
“Joune, natuurlik,” sê Saartjie, “maar ek gee jou net goeie raad.”
Martha Baumann het na die argument gesit en luister. Sy sê nou dit is nie nodig om soenspeletjies te speel nie, maar sy voel ook daar moet meisies genooi word – anders sal sy ernstig moet dink of sy die partytjie nie maar moet kanselleer nie.
Sy gooi haar kop weer so effens terug en Apie weet hy is vas. Hy sal eenvoudig ’n paar meisies ook moet vra, anders kan hy vergeet van sy partytjie. Hy besluit om in te stem – hy het nie juis ’n keuse nie – maar hy besluit ook in die stilligheid hy en sy maats gaan die meisies ignoreer so gou soos hy sy presente by hulle gekry het. Die seuns gaan hul eie speletjies speel en klaar.
“Orraait, Ma,” gee hy toe, “maar ons speel nie daai simpel soengoete nie.”
So is dit dan afgespreek dat Apie twintig kinders na sy partytjie toe sal nooi – tien seuns en tien meisies. Die Drie Muskiete gaan ook daar wees. Hulle sal mevrou Baumann help en sommer ook toesig hou.
Die volgende oggend gaan Saartjie met die foppotlood en die rubberslangetjie in haar kleurbaadjie se sak skool toe. Sy, Anna en Lina staan en gesels by Lynnekom se bushalte.
“Jy moet tog oppas, Saartjie,” waarsku Anna haar weer, “dat jy die goed nie verloor of vuil maak nie. Jy weet hoe Apie te kere sal gaan as hy moet uitvind die present wat ek vir hom gee, is al voor die tyd gebruik.”
“Moenie bekommerd wees nie, Anna,” sê Saartjie. “Hy sal nooit uitvind nie. Ons gaan vandag ’n bietjie pret met die goed hê, en dan bêre ons dit vanmiddag weer in daardie houtkissie.”
Lina is baie opgewonde oor die poetsbakspeelgoed. Sy stel voor hulle moet sommer in die bus al met die pret begin. Saartjie dink dit is ’n goeie voorstel, maar Anna lyk nie gelukkig nie.
“Sê nou maar net,” maak sy beswaar, “die buskondukteur kry die slangetjie en wil dit nie vir ons teruggee nie, wat dan?”
“Hy sal die ding mos nooit in die hande kry nie,” sê Saartjie.
Die Drie Muskiete sit gewoonlik heel agter in die bus en Galpil en sy twee boesemvriende, Gert en Piet, net voor hulle.
Toe hulle in die bus klim, gaan sit Saartjie-hulle nie soos gewoonlik agter nie. Die sitplekke daar is reeds baie vol. Die bus is leër voor en daar sal hulle iemand makliker met die slangetjie kan skrikmaak.
“Lyk my daai pêrre is kwaad vir ons,” mompel Galpil toe die meisies nie agter hom en sy twee vriende kom sit nie. Die bushalte in Lynnekom is die terminus en wanneer die bus stad toe vertrek, is die klomp skoolkinders die enigste passasiers.
By die eerste bushalte ná die terminus klim daar ’n hele paar grootmense in, maar Saartjie dink nie een van hulle lyk asof hulle vir die slangetjie sal skrik nie. Die poets sal volgens haar net werk as die persoon hom of haar amper doodskrik.
Die drie meisies sit saam op ’n bankie. Saartjie sit teen die venster. Sy steek haar kop uit om te sien wie inklim toe hulle by die volgende bushalte stilhou.
Dan sien Saartjie ’n gesette, deftige dame. Sy het ’n snaakse, outydse hoedjie op haar gekartelde hare en ’n eenoogbril in haar hand. Die bril het ’n swart handvatseltjie en sy hou dit versigtig voor haar een oog terwyl sy by die bus se trappie opklim.
Saartjie, Anna en Lina kyk na mekaar en knipoog stout. Die deftige dame lyk vir hulle soos die ideale slagoffer.
“Hou net duim vas dat sy hier by ons kom sit,” fluister Saartjie. Die bank voor die meisies is leeg en die vrou stap reguit soontoe.
Saartjie hou die rubberslangetjie styf in haar hand vas. Net toe die vrou omdraai om te gaan sit, leun Saartjie vorentoe en sit die slang op die bank langs haar neer. Die slang lê opgekrul, maar sy kop staan regop. Dit lyk kompleet soos ’n regte slang wat reg is om te pik.
Die vrou versit haar effens sodat sy gemakliker kan wees en mompel iets van die “seats” wat “terribly uncomfortable” is. Dit is duidelik dat sy ’n deftige dame is wat nie gewoonlik in ’n bus ry nie. Sy hoort eerder agter in ’n luukse motor wat deur ’n chauffeur in ’n uniform en pet bestuur word.
Daar gebeur vir ’n paar oomblikke niks nie. Saartjie-hulle wag in spanning. Dan kyk die vrou af na die sitplek langs haar. Sy sien die slang en gee so ’n oorverdowende gil dat selfs die Drie Muskiete wip soos hulle skrik.
“A snake!” gil sy en vlieg regop. Al die mense in die bus spring op. Saartjie volg almal se voorbeeld, maar raap die slangetjie terselfdertyd vinnig op en druk dit in haar kleurbaadjie se sak sonder dat enigiemand behalwe Anna en Lina dit sien.
Die deftige dame gil weer skril. Die bestuurder trap rem en die bus kom rukkend tot stilstand. Die manspassasiers en kondukteur hardloop na die vrou toe. Haar snaakse hoedjie sit nou skeef op haar kop.
Sy wys met ’n bewende hand waaraan daar baie duur ringe is na die sitplek waar sy die “snake” gesien het. Die jong kondukteur is die held wat tot by haar stap. Hy het ’n kierie geleen by ’n oom wat heel voor in die bus sit.
Die jongman hoop die koerante hoor van die voorval met die slang in die bus en kom neem dan ’n foto van hom en plaas dit. Dan sal sy meisie mos mooi besef hoe wonderlik en dapper hy is.
“Staan terug, mense!” skree die kondukteur. “Staan terug! ’n Slang is ’n gevaarlike ding!”
Dit was onnodig om vir die deftige dame te sê sy moet terugstaan. Sy is al klaar voor in die bus by ’n klompie ander vroue wat almal met groot oë kyk hoe die kondukteur die gevaarlike slang gaan doodslaan. Die jongman staan reg met die kierie. Hy kyk op die bank waar die vrou gesit het, maar sien niks nie. Dan loer hy versigtig onder die bank, maar die slang is ook nie daar nie.
“Het julle die slang gesien?” vra hy vir Saartjie, Anna en Lina, wat dadelik nadat Saartjie die rubberslangetjie gegryp het gillend na Galpil en sy vriende agter in die bus toe gehardloop het.
Nee, skud die Drie Muskiete hul koppe. Hulle het die slang nie gesien nie. Saartjie byt op haar onderlip om nie hardop te lag nie. Die kondukteur draai sy kop na die voorkant van die bus toe en vra vir die deftige dame: “Where did you see this snake, Madam?”
“On the seat next to me. It was getting ready to strike.”
“How big is it?”
“Very big and dangerous.” Die vrou wys met haar hande hoe groot die gevaarlike slang is. Volgens haar is hy omtrent ’n meter lank. Saartjie giggel effens. Die ou rubberslangetjie is maar net ’n paar sentimeter lank.
“Mense!” skree die kondukteur nou. “Staan net waar julle is. Hier is ’n groot, gevaarlike slang in die bus. Moenie roer nie, want as ’n slang skrik, pik hy.”
Die mense in die bus snak verskrik na asem en volg die kondukteur se raad. Hulle staan roerloos terwyl hy die slang begin soek.
Die busbestuurder het sy knipmes gebruik om ’n tak van ’n boom op die sypaadjie af te sny en hy snel sy kondukteur nou gewapen daarmee te hulp.
Die twee soek versigtig en deeglik, maar hulle kry nêrens ’n teken van die slang nie.
“Are you sure you saw a snake, Madam?” vra die kondukteur.
“Of course I’m sure,” antwoord die deftige dame. Sy lig haar eenoogbril op en kyk daardeur na die kondukteur. “Do you think I’m cockeyed?”
“No, Madam,” sê die kondukteur, “I don’t think so. I just don’t understand what happened to the snake.”
“It must be there somewhere,” sê die dame en gluur deur haar eenoogbril na die jong kondukteur asof hy self ’n slang is.
Almal in die bus soek nou na die slang. Die passasiers wat voor gesit en uitgespring en op die sypaadjie gaan staan het, klim nou ook weer in en help soek. Hoe langer die mense soek en geen teken van die slang sien nie, hoe dapperder word hulle.
Die kondukteur voel teleurgestel. Dit lyk asof daar nie regtig ’n slang in die bus is nie. Sy drome van roem en ’n foto in die koerante wat so ’n indruk op sy meisie sou gemaak het, begin verflou.
“It’s very strange, Madam,” sê hy vir die deftige dame en vee die sweet van sy voorkop af, “that no one else in the bus saw the snake.”
“Are you calling me a liar, young man?” vra die vrou en betrag hom deur haar eenoogbril met haar een oog.
“No, Madam,” sê die jongman vinnig. “I just find it strange that we cannot find anything. Where is the snake? He couldn’t have gotten out of the bus.”
Voor die dame kan antwoord, sê Saartjie vinnig: “How do you know it was a ‘he’, young man?” Saartjie kan mense uitstekend na-aap en dit is wat sy nou gedoen het. Sy hou haar hand ook voor haar een oog asof sy deur ’n eenoogbril kyk.
Die skoolkinders in die bus begin lag en ’n hele klomp grootmense ook. Saartjie se nabootsing was skitterend.
“Probeer jy miskien snaaks wees?” snou die kondukteur haar toe.
“Nee, Meneer,” sê Saartjie en glimlag vriendelik. “Ek probeer nie snaaks wees nie.”
Die feit dat sy hom so mooi “Meneer” noem en so mooi glimlag, laat die kondukteur effens bedaar. Hy brom net: “Oppas vir jou.”
Die jongman voel ’n bietjie soos ’n gek. Hy het ’n groot kierie om die gevaarlike slang mee dood te slaan, maar hy kan die ding nêrens kry nie.
Die passasiers is nou almal gerus. Hulle is seker daar is nie ’n slang in die bus nie en begin grappe oor die kastige slang maak. Die meeste is oortuig daarvan die deftige dame het haar verbeel sy sien die ding.
“There’s no snake in this bus, lady,” sê die kondukteur nadat hy weer ’n keer onder al die banke geloer het.
“Kom, Kerneels!” sê hy dan vir die bestuurder, wat nog steeds met die lat wat hy afgesny het regstaan om te help om die slang dood te slaan. “Ons moet ry. Ons is baie laat.”
Die deftige dame verseg om verder in die bus te ry. Sy sal na ’n telefoonhokkie toe stap, so vertel sy nou vir almal, en ’n huurmotor ontbied om haar te kom oplaai en stad toe te neem. Sy sê sy ry nie saam met “snakes” in ’n bus nie.
Uiteindelik trek die bus weer weg – sonder die ontstoke vrou. Die ander mense in die bus lag nou lekker oor die voorval, maar kyk nogtans versigtig om hulle rond. Miskien is daar regtig ’n slang in die bus. Die vrou was so oortuig daarvan.
Die Drie Muskiete lag die lekkerste. Hulle het nie net groot pret hier in die bus gehad nie, maar hulle gaan nou boonop ook laat wees vir skool. Hulle sal die eerste periode misloop.
“En ouens,” sê Saartjie tevrede, “ons kan nie eens gestraf word nie. Ons het mos ’n goeie verskoning.”
“Ja-nee,” sê Lina grinnikend. “Daar was ’n slang in die bus – dis hoekom ons laat is.”
Die jong kondukteur loer nog steeds af en toe vinnig onder ’n bank om te sien of hy nie miskien die slang gewaar nie.
Elke keer as hy dit doen, skater Saartjie, Anna en Lina soos hulle lag.
Toe hy een keer weer regop kom en hulle so vreeslik sien lag, gluur hy die meisies woedend aan en vra vererg: “Wat is so snaaks?”
“Ons kan lag as ons wil,” sê Lina en voeg katterig by: “Dis mos ’n vry land.”
Die jongman brom weer hulle moet oppas – hulle sal ’n ding sien wat hulle nie graag wil sien nie. Dit laat die drie nog harder lag. Die kondukteur kan niks aan hulle doen nie. Hulle het betaal om in die bus te ry en ’n mens kan mos lag as jy wil.
Al die Lynnekom-kinders kom laat by die skool aan. Die hoof keer hulle voor en wil weet wat aangaan. Saartjie praat namens almal. Sy sê daar was glo ’n slang in die bus en toe het almal na hom gesoek “om die ding dood te maak, Meneer weet”, want ’n slang is mos gevaarlik en giftig.
“En wat het gebeur?” vra die hoof. “Is die slang toe doodgemaak?”
“Nee, Meneer. Niemand kon hom kry nie.”
Die hoof vind die storie van ’n slang op die bus wat toe sommer weer verdwyn het vreemd, maar hy glo dit uiteindelik – veral toe Saartjie met ’n sedige gesig vir hom sê: “Meneer kan die busmense maar bel en vra. Hulle sal vir Meneer vertel van die gevaarlike slang op die bus.”
Toe die kinders klaskamers toe stap – die hoof het hulle natuurlik nie gestraf omdat hulle laat is nie – sê Saartjie vir Anna en Lina hulle moet iemand anders môre dieselfde poets in die bus bak.
Lina dink dadelik dit is ’n goeie plan, maar Anna sê hulle moenie laf wees nie. Dieselfde kondukteur gaan aan diens wees en hy sal dadelik snuf in die neus kry as daar weer ’n slang op sy bus is en die ding verdwyn weer op so ’n geheimsinnige manier voor hulle hom kan doodmaak.
Lina en Saartjie moet uiteindelik hiermee saamstem. Maar hulle dink nogtans dit sou vet pret gewees het om die jong kondukteur se gesig te sien as iemand op sy bus weer sê daar is ’n slang.
Anna sê ook sy is ’n bietjie bekommerd oor die slangetjie. Saartjie moet die ding liewer nou vir haar gee sodat sy dit in haar tas kan sit en vanmiddag ná skool in die houtkissie kan bêre tot Apie verjaar.
“Moenie simpel wees nie,” sê Saartjie laggend. “Ons gaan vanoggend nog baie pret hier by die skool met hom hê.”
Anna sug swaar. Sy hoop maar net die baie pret gaan hulle nie in baie moeilikheid laat beland nie.