Читать книгу Saartjie Omnibus 8 - Bettie Naudé - Страница 6

1

Оглавление

Die present

“Ma,” sê die negejarige Apie Baumann en versit die stukkie kougom waaraan hy smaaklik sit en kou behendig van die een kies na die ander. “Weet Ma wat?”

Mevrou Baumann sit en brei in ’n gemakstoel in die sitkamer. Die vyftienjarige Saartjie Baumann sit by die tafel en doen huiswerk. Apie sit-lê op die rusbank. Hy doen niks. Sy kakebene beweeg ritmies op en af soos hy sy kougom kou.

“Nee, ek weet nie, Apie. Wat?” vra sy ma.

“Ek hoop nie Ma het gevergeet nie,” sê die knaap.

“’n Mens sê nie ‘gevergeet’ nie, Apie. Jy sê net ‘vergeet’.”

“Ja, Ma, ’skuus, Ma.”

Martha Baumann glimlag vir haar jongste en vra dan: “Nou wat is dit wat jy hoop ek nie vergeet het nie?”

“My verjaarsdag, Ma.”

Apie se ma glimlag en Saartjie rol haar oë.

Hy steur hom nie aan hulle nie en gaan aan: “Ma weet, oor net mooi agt dae is ek sowaar al tien jaar oud. Ek hoop Ma het nie gevergeet nie en Ma-hulle het al my presente en goete gekoop.”

“Nee, ek het nie vergeet nie,” sê sy ma glimlaggend, “maar ek het nog nie vir jou ’n present gekoop nie. En ek weet nie van watter presente en goete, soos jy dit noem, jy praat nie.”

“Ek gaan mos baie presente kry, Ma,” sê Apie. “Ma gaan vir my een gee – en Pa en Saartjie en Kris en al die ouens wat ek na my partytjie toe gaan nooi.”

“Wie sê ek gaan vir jou ’n present gee?” vra Saartjie en kyk van die oefeningboek waarin sy sit en skryf op na haar boetie se ondeunde sproetgesig.

“Natuurlik gaan jy,” sê Apie. “Jy’t mos baie geld.”

“En waar kry ek dié kastige baie geld vandaan?” Met ’n tipiese gebaar vee Saartjie met die agterkant van haar hand ’n weerbarstige krul van haar voorkop af weg.

“Jy kry mos elke week baie meer sakgeld as ek,” sê Apie vies en sy tongpunt beweeg in en uit by die opening in die middel van sy ry voortande. Hy begin ergerlik sisgeluide maak om sy ma en suster goed te laat verstaan hoe vies hy is.

Hierdie kwessie van sakgeld is ’n saak van erns by Apie. Hy praat gedurig daaroor en wanneer hy daaroor praat, raak hy lelik omgekrap. Hy voel dit is onregverdig dat Saartjie bloot as gevolg van die feit dat sy ouer as hy is, meer sakgeld moet kry.

Hy kyk stip na sy suster terwyl hy nog ’n paar sisgeluide maak.

“Moenie probeer snaaks wees nie,” sê sy vies vir Apie. “Ek het baie huiswerk om te doen.”

“Het jy nie huiswerk nie, Apie?” vra sy ma.

“Ek’s al lankal klaar, Ma,” sê die outjie en staan vinnig op. Hy wil nie hê sy ma moet hom verder oor huiswerk uitvra nie. Netnou wil sy dit sien en dan sal sy sweerlik sê hy moet dit alles weer netjies oordoen omdat hy dit so afgerammel het. En hy voel tog nie nou lus daarvoor nie. Nee, hy gaan sommer nou dadelik, soos hy altyd sê, verdamp.

“Waarheen gaan jy?” vra sy ma terwyl Apie na die deur toe stap.

“Sommer bietjie vir my pel Ben ou Pen kuier, Ma.” Apie glip vinnig by die deur uit voor sy ma hom daarop kan wys dat “pel” eintlik ’n Engelse woord is en dat hy “maat” of “vriend” moet sê.

Martha Baumann skud net glimlaggend haar kop en sê: “Ai, dié Apie tog.”

“Hy’s stout, Ma,” sê Saartjie vererg. “Ek glo nie hy doen ooit enige huiswerk nie.”

Haar ma sug maar net. Apie geniet al die sport wat hulle op skool doen, maar hy is allesbehalwe lief vir die klaswerk.

Die knaap se twee voortande skitter in hul afwesigheid omdat hy volgens hom uit ’n boom geval het. Dit was sy storie en niemand kon hom daarvan laat afsien nie. Nee, hy het nie baklei nie. Hy het uit ’n boom geval. En nee, hy weet nie hoekom hy boonop ’n prag van ’n blouoog het nie. Dit was seker ook maar van uit die boom val.

Saartjie glimlag nou terwyl sy weer daaraan dink hoe niemand en niks haar koppige boetie van sy storie kon laat afsien nie.

As Saartjie glimlag, is sy pragtig en as sy nie glimlag nie, is sy ook pragtig. Sy beskik oor die ongewone kombinasie van helderblou oë en donker krulhare. As sy glimlag, verskyn daar ’n kuiltjie in elke wang. Saartjie is vyftien en ’n leerder in graad nege aan die beroemde Hoërskool Saamwerk in Johannesburg. Apie is in graad vier en op laerskool hier in die voorstad Lynnekom.

“Gaan Ma rêrig vir Apie ’n partytjie gee op sy verjaarsdag?” vra Saartjie.

“Ek sal moet,” sê haar ma. “Ek het hom mos belowe.”

Mevrou Baumann sien duidelik nie uit na die partytjie nie. Apie het al meer as een keer beklemtoon dat hy nie “meisiekinders en sulke goete” daar wil hê nie. Hy wil net sy pelle, soos hy hulle noem, nooi.

Dit plaas sy ma in ’n moeilike posisie. Sy maats is maar ’n stout klomp. Hulle lyk altyd vuil en slordig en hul hemde hang gewoonlik agter by hul broeke uit en hul sokkies lê op hul skoene. Om die waarheid te sê, lyk haar eie seun, Apie, ook maar meestal so.

Al Martha Baumann se beste vriendinne se kinders van Apie se ouderdom is meisies en sy behoort hulle ook te nooi. Maar Apie het mos nou al herhaaldelik gesê hy wil nie “meisiekinders en sulke goete” by sy partytjie hê nie. Geen wonder sy ma sug so swaar nie. Wat moet sy doen?

Saartjie weet waaraan haar ma dink.

“Dis sommer nonsens dat Apie nie meisies by sy partytjie wil hê nie, Ma,” sê sy. “Ek sal met hom praat. Ek sal vir hom sê hoe meer kinders by sy partytjie is, hoe meer presente gaan hy kry. Dan sal hy sommer die hele Lynnekom wil nooi.”

Saartjie glimlag en haar ma begin ontspan.

“Dit sal beslis werk,” sê Martha Baumann ingenome, “maar ek hoop net nie daardie pe-… maats van hom begin met die meisies baklei sodra Apie sy presente gekry het nie.” Sy het ook amper “pelle” gesê. Die Baumann-gesin moet die hele tyd op hul hoede wees, anders praat hulle almal later net soos Apie.

“Ek en Anna en Lina sal Ma met die partytjie help,” sê Saartjie. “Ons sal sorg dat hier nie ’n bakleiery of moeilikheid kom nie.”

Anna Strydom en Lina Rens is Saartjie se twee boesemvriendinne. Die drie is al van hul laerskooljare af maats. Hulle is gedurig bymekaar en staan in Lynnekom as die Drie Muskiete bekend.

Anna het ’n ronde, vriendelike gesig en is effens geset. Haar gesin woon reg langs die Baumanns. Saartjie ken haar al vandat hulle babas in stootwaentjies was. Toe hulle mekaar die eerste keer gesien het, het die twee glo eers woes uit hul waentjies na mekaar gegluur en toe vir mekaar begin lag en hul handjies begin klap. Van daardie oomblik af was hulle groot maats.

Lina Rens het eers in graad vier by hulle aangesluit. Sy is ’n langbeenmeisie met twee vlegsels wat by haar rug af hang. As Saartjie die rabbedoe een of ander kattekwaad voorstel wat hulle baie gaan laat lag en groot pret gaan wees, is Lina die een wat altyd eers so effens beswaar maak, maar later is sy ook vuur en vlam. Anna ondersteun Saartjie se voorstelle altyd sommer dadelik.

Saartjie is klaar met haar huiswerk. Sy pak haar boeke in haar tas. Dan staan sy op, rek haar lui uit en sê: “Ek gaan ’n bietjie na Anna toe, Ma.”

Saartjie het nog haar skooluniform aan. Dit is ’n donkerblou somerrokkie met ’n wit strook om die kort moue en kraag. Sy is bruin gebrand van al die swem en tennis speel gedurende die heerlike somermiddae.

Sy hardloop vinnig by die deur uit en met die tuinpaadjie af na die voorhekkie toe. Sy dra bruin skoene en wit sokkies. Haar bruingebrande bene vlieg oor die aarde.

Saartjie skiet by die hekkie uit en steek dan skielik in haar spore vas. Sy kyk na die sypaadjie wat vir twintig of dertig tree aan weerskante van die hekkie met betonblokke geplavei is. Sy sug swaar. Sy sal seker maar moet begin spring. Dit help nie om haarself te probeer kul nie.

Die munisipaliteit het hierdie deel van die sypaadjie ’n hele paar jaar gelede so met betonblokke geplavei. Saartjie was nog baie jonger en toe die werkers klaar was, het sy besluit sy sal nooit so lank soos sy lewe op die betonblokke loop nie. Nee, sy sal altyd van die een na die ander spring en as haar voet aan ’n gleuf tussen die blokke raak, sal sy weer van voor af begin.

Nugter alleen weet hoekom sy so ’n onsinnige besluit geneem het. Saartjie is nou baie jammer daaroor, want al probeer sy ook hoe, kan sy nie met hierdie onsinnige storie ophou nie. Sy voel as sy dit doen, sal daar iets vreesliks gebeur.

Sy het al een of twee keer haar uiterste bes gedoen om van die gewoonte af te sien, maar sy kon nie. Sy was te bang daar gebeur dan iets vreesliks. Sy begin dink sy sal miskien selfs eendag op haar troudag in haar wit rok ook nog van die een betonblok na die ander moet wip wanneer sy van die kerk af kom.

Saartjie staan reg en dan begin sy spring. Sy hop vinnig van die een blok na die ander. Sy bly ver van die gleuwe af weg, want sy wil tog sowaar nie weer van voor af begin nie. Sy sorg dat haar voete elke slag in die middel van ’n blok te lande kom.

Terwyl Saartjie soos ’n opgewende pop van die een blok na die ander wip, kom daar drie seuns op fietse verby.

“Haai, Saartjie!” groet hulle.

“Haai julleself!” groet Saartjie op die tipiese Lynnekom-manier terug terwyl sy verder spring.

Die seuns dink glad nie dit is snaaks of vreemd dat sy so van die een blok na die ander spring nie. Niemand in Lynnekom dink meer dit is nie. Almal weet van Saartjie se belofte aan haarself en hulle is die gehoppery gewoond. Sy doen dit mos nou al jare lank.

Die een seun, Galpil, was eens op ’n tyd Saartjie se kêrel. Hulle twee was gekys, maar dit het net ’n dag lank gehou en toe het Saartjie hom amptelik afgesê.

Galpil se volle naam is Lodewyk le Fras de Waal, maar niemand noem hom ooit so nie. Almal in Lynnekom en by die skool noem hom Galpil en hy het die slegte gewoonte om ’n ieder en ’n elk “ou perd” of “pêrre” te noem.

Saartjie hou net mooi niks hiervan nie en sy het vir hom ’n ultimatum gegee – óf hy hou op daarmee óf sy sê hom af. Galpil het vir haar gesê sy moenie so ’n “verkeerde perd” wees nie en toe het sy hom dadelik afgesê. Van toe af is hulle net doodgewone vriende.

Uiteindelik kom Saartjie aan die einde van die betonblokke sonder om aan ’n gleuf te raak. Sy hardloop tot by die bure se tuinhekkie, stoot dit oop en hardloop na die voorstoep toe.

Anna sit daar en doen huiswerk by ’n tafeltjie. Haar sewejarige sussie, Muggie, is ook daar. Muggie sit en speel met Trienkie, haar lappop.

“Haai, Anna!” groet Saartjie toe sy naby die stoep kom. Anna kyk op en sê glimlaggend: “Haai jouself.”

Muggie sê ook: “Haai jouself, Saartjie,” en dan tik sy haar lappop saggies op die bors en sê: “Het jy nie maniere nie, Trienkie? Groet jy nie die mense nie, hè?” Muggie laat die pop met ’n vinnige swaai van haar hand ’n buiging maak en sê met ’n stemmetjie wat nog fyner as haar gewone een is: “Haai, Saartjie.”

“Haai jouself, Trienkie,” sê Saartjie laggend en maak haar op ’n gemaklike stoel tuis.

Muggie is ’n koddige maar slim skepseltjie wat die wêreld soms baie moeilik maak vir die Drie Muskiete, want waar Saartjie-hulle ook al gaan, wil sy altyd saamgaan. As hulle haar nie wil saamvat nie, sit sy gewoonlik so ’n keel op dat ’n mens se oortromme omtrent bars. Saartjie is doodseker Muggie moet ’n blikkeel hê, want hoe anders kan enigiemand so skril skree?

Anna se sussie is ook ’n nuuskierige agie. Sy wil altyd weet waarmee die Drie Muskiete besig is of wat hulle beplan.

“Wat doen julle?” vra sy juis nou weer nadat sy en Trienkie vir Saartjie gegroet het, en kyk agterdogtig na die twee groter meisies.

“My maggies, Muggie,” sê Anna vies vir haar sussie, “kan jy nie sien ons doen niks nie? Ons sit sommer net.”

“Ja, moenie vir jou simpel hou, Muggie,” sê Saartjie laggend. “Ek sit en rus en Anna sit en huiswerk doen. Wat wil jy nog weet?”

“Ek wil weet wat julle gaan doen as Anna klaar is met haar huiswerk,” sê Muggie.

“Ons gaan niks doen nie,” sê Anna vies. “Ons gaan sommer net hier sit. Is jy nou tevrede?”

Muggie knik om te wys sy is. Maar sy mompel sy gaan nogtans hier bly sit, net ingeval hulle miskien iets doen, want dan wil sy saamgaan.

Die twee meisies besluit om liewer maar die kleintjie te ignoreer.

“Is jou huiswerk al klaar, Saartjie?” vra Anna.

“Lankal.”

“Wat van Ou Nukke se Engels? Dis moeilik, hoor!”

Hoërskool Saamwerk se leerders noem juffrou Necker, die Engelsonderwyseres, Ou Nukke omdat sy altyd vol nukke en draadwerk is.

“Ek het weer gedink dis maklik,” sê Saartjie.

“Nou maar hoe maak ’n mens twee verskillende sinne met die woord ‘page’? Ek weet ’n ‘page’ is ’n bladsy, maar wat is dit nog?”

“’n Hofknapie,” help Saartjie haar vriendin.

“O ja, natuurlik,” sê Anna. “Dat ek nou so onnosel kan wees.”

Terwyl Anna ’n sin maak waarin die Engelse woord “page” hofknapie beteken, sit en dink Saartjie aan Apie se verjaarsdag. Sy sien nogal uit daarna. Sy, Anna en Lina gaan haar ma mos met die partytjie help en daar gaan baie eetgoed wees. Hulle sal sommer heerlik kan weglê aan al die lekkernye.

Sy sal darem vir Apie ’n present moet koop. Sy wonder waarvan hy sal hou. Dit moet natuurlik nie iets wees wat te duur is nie. Geld is maar ’n skaars artikel by haar. Sy kla ook altyd oor haar sakgeld – maar natuurlik nie omdat sy meer as Apie kry nie. Nee, sy kla omdat sy nie nog méér kry as die meer waaroor haar boetie kla nie. Sy is darem al vyftien jaar oud. Haar pa-hulle behoort dit in ag te neem.

Saartjie wonder wat Anna en Lina vir Apie present kan gee. Al kom hulle nie juis as gaste na die partytjie toe nie, maar eerder om te help werk, moet hulle darem nogtans vir hom iets gee. Hulle kan mos nie met leë hande daar aankom nie. Sy weet sommer haar boetie sal hulle woes aangluur en sisgeluide maak deur die opening waar sy twee voortande behoort te wees – en dit sal die partytjie vir hulle almal bederf.

“So ja, ek is klaar,” sê Anna en trek ’n streep onder haar werk. “Ek dink ek het al die Engelse sinne reg.”

Terwyl haar vriendin haar boeke in haar tas pak, vra Saartjie: “Het jy al gedink wat jy vir Apie vir sy verjaarsdag gaan koop, Anna?”

Voor haar suster kan antwoord, sê Muggie: “Ek hoor Apie gaan ’n partytjie hou. Hy gaan my seker ook vra. Ek hou van partytjies. Partytjies is lekker.”

“Ek weet nie of Apie jou gaan nooi nie, Muggie,” sê Saartjie. “Hy’t gesê hy wil niks meisies daar hê nie. Ek en Anna en Lina moet natuurlik gaan help met die partytjie, maar …”

“Wel, dan gaan ek ook help – ek en Trienkie,” kondig Muggie beslis aan. “Sê solank vir Apie.”

“Sê jy dit self vir hom,” kap Saartjie katterig terug.

“Ek sal,” sê Muggie.

Muggie dink duidelik sy gaan by Apie se partytjie wees – of hy haar genooi het of nie. Dit maak nie aan haar saak nie; sy gaan daar wees en klaar.

“Ek het nie net gedínk wat om vir Apie te koop nie,” sê Anna nou tevrede, “ek het dit al klaar gekoop toe ek en my ma laas Saterdag in die stad was.”

“So, wat het jy vir hom gekry?” vra Saartjie belang­stellend.

“Ek gaan jou nie nou sê of wys nie,” sê Anna en loer onderlangs na Muggie. “’n Verjaarsdagpresent is mos veronderstel om ’n geheim te bly tot die persoon dit oopmaak.”

Anna sal nie omgee om vir Saartjie te sê en te wys wat sy vir Apie gekoop het nie, maar sy wil nie hê haar sussie moet weet wat die present is nie. As Muggie uitvind, sal nie net Apie nie, maar die hele Lynnekom weet wat dit is.

Saartjie knik. Sy verstaan hoekom Anna haar nie nou kan sê nie. Muggie het ’n vreeslike los tong.

Die kleintjie het die twee ouer meisies agterdogtig gesit en dophou. Toe sy sien Anna gaan niks oor die verjaarsdagpresent uitlap nie, sê sy vies: “Hoekom kan jy nie nou sê wat jy vir Apie gekoop het nie, hè?”

“Omdat ek nie wil nie.”

“Hoekom wil jy nie?”

“Sommer.”

Dan mompel Muggie: “Dis nou ’n antwoord om vir ’n mens te gee.”

Anna en Saartjie kan nie help om te lag nie. Die kleintjie lyk tog te koddig as sy haar so vererg.

Maar al lag hulle ook, is hulle nogtans nie van plan om vir Muggie te sê wat Anna gekoop het nie. Hulle gaan niks sê nie, tot Muggie moeg word om so stil hier by hulle te sit en niks doen. Dan sal sy verkas en dan sal Anna vir Saartjie gaan wys wat sy vir Apie gekoop het.

Dit is die enigste manier om van Muggie ontslae te raak. Hulle het dit al vantevore probeer en dit het gewerk. Maar om sommer op te staan en weg te stap, sal nie help nie. Sy sal saamstap. En as hulle haar met geweld probeer keer om saam te stap, sal sy ’n keel opsit tot die hele Lynnekom aangehardloop kom om te kyk wat aangaan.

Saartjie knipoog vir Anna en Anna knipoog terug. Hulle gaan nou tjoepstil sit en nie ’n woord sê nie tot Muggie moeg word en padgee.

Dit is ’n paar minute lank doodstil. Al geluid wat ’n mens hoor, is die sonbesies in die tuin.

Muggie loer nog ’n rukkie agterdogtig na die twee ouer meisies, dan sê sy: “Hoekom praat julle nie?” Die vriendinne kyk na haar, maar sê nie ’n woord nie.

“Is julle tonge afgesny, hè?” wil Muggie nou weet.

Die twee antwoord nie. Hulle sê glad nie of hul tonge afgesny is of nie. Hulle sit net doodstil met verveelde uitdrukkings op hul gesigte.

“Ga,” sê Muggie en trek ’n suur gesig. Dan sê sy vir haar pop: “Hulle dink seker hulle’s snaaks.”

Muggie maak hulle altyd baie vies, maar Saartjie kan darem nie help om te dink die kleintjie is snaaks nie. Sy byt op haar onderlip om nie hardop te lag nie toe Muggie vies vir Trienkie sê sy gaan hier sit tot dit so donker is dat die spoke hulle vang en hulle almal spookland toe vat. Sy gaan hier bly sit tot die groot meisies eendag begin praat.

En dit lyk sowaar vir Anna en Saartjie of dit is wat gaan gebeur. Muggie gaan bly totdat hulle iets sê.

Ná ’n kwartier van doodse stilte begin Saartjie-hulle verveeld word. Dit lyk of Muggie langer as hulle so doodstil sal kan sit.

“Is julle al moeg?” vra die kleintjie toe sy sien hoe hulle ongemaklik begin rondskuif. Hulle antwoord haar natuurlik nie, maar Muggie steur haar nie daaraan nie. “Ons is nog nie moeg nie, nè Trienkie?” sê sy vermakerig vir haar pop.

Saartjie en Anna trek hul skouers vir mekaar op terwyl Muggie haar pop se klere begin uittrek. Sy stryk die klere mooi netjies plat met haar hande en trek dit dan weer vir die pop aan.

Die probleem is dat Saartjie en Anna nou baie meer verveeld as Muggie is. Die kleintjie het iets om te doen – sy speel met haar pop. Maar hulle sit net hier en doen niks nie.

Die twee vriendinne beduie vir mekaar hulle moet iets anders probeer. Muggie het dit sowaar bedoel toe sy gesê het sy sal hier bly sit tot dit donker word en die spoke hulle kom vang.

Saartjie en Anna is moeg daarvoor om so te sit en niks doen en nie eens met mekaar te praat nie. Muggie babbel aanhoudend met hulle en met haar pop. Dit lyk of sy glad nie omgee dat nie een van die drie haar antwoord nie.

“Ek is nou gedaan,” sê Anna skielik.

“Ek ook,” sê Saartjie.

“Ha!” roep Muggie uit en haar hele sproetgesiggie verhelder. “So, julle het tonge, hè?”

“Niemand het gesê ons het nie tonge nie,” sê Anna vies.

“Ja, maar julle sit daar asof julle nie het nie. Julle dink mos ek is dom, nè? Julle dink ek gaan loop sodat julle kan praat, nè? Maar ek gaan nêrens nie. Ek bly net hier.”

“En sê nou ons loop?” vra Saartjie.

“Dan loop ek ook – saam met julle.”

Anna onthou skielik sy het vyf rand in haar tas. Sy het dit die oggend skool toe geneem om lekkers mee te koop, maar sy het toe nooit pouse daarvoor kans gekry nie.

“Muggie,” sê Anna nou vriendelik.

“Ja?” Muggie se hele sproetgesiggie lyk soos ’n vraagteken terwyl sy haar suster agterdogtig aankyk. Sy wonder hoekom Anna skielik so vriendelik is.

“Muggie,” sê Anna weer en glimlag breed, “hoe sal jy daarvan hou om vyf rand se lekkers by oom Costas te gaan koop?”

Haar sussie glimlag nou ook breed. Dit is duidelik dat sy baie daarvan sal hou.

“Wel, ek gee dié vyf rand vir jou,” sê Anna en haal die muntstuk uit haar tas. “Gaan koop vir jou lekkers.”

“Hoekom gee jy dit vir my?” vra Muggie terwyl sy ’n vuil handjie uitsteek om die munt te neem.

“Sodat jy vir jou lekkers kan gaan koop,” sê Anna, maar sy gee die geld nog nie vir haar sussie nie. Muggie moet eers belowe sy sal op die daad gaan.

“Moet ek nou gaan?” vra Muggie.

“Nou dadelik, ja – anders kry jy nie die vyf rand nie.”

“Jy wil my net hier weg hê, nè?”

“Dis reg,” sê Anna saaklik. “Wil jy die geld hê of nie?”

Muggie dink eers ernstig oor hierdie vraag na. Sy wil die geld graag hê om lekkers mee te gaan koop, maar sy wil ook graag hoor of sien wat Anna vir Apie gekoop het. Sy wil weet sodat sy vir Apie en al die ander mense kan sê.

Maar dan besluit die kleintjie sy sal tog later by die partytjie sien wat Anna vir Apie gegee het. Sy is nou te lus vir lekkers. Sy sal kafee toe gaan.

“Gee vir my die geld,” sê Muggie en staan op.

“Jy belowe jy gaan nou dadelik lekkers koop?”

“Ek belowe. Ek wil tog nie rêrig weet wat jy vir Apie gekry het nie.”

“Goed,” sê Anna verlig en gee die vyf rand vir haar sussie.

Muggie maak vinnig spore. Sy hardloop met die tuinpaadjie af en hou haar pop aan die arm vas. Trienkie swaai-swaai teen haar bene. Muggie gaan nou by die Griek se kafee lekkers koop.

“Sy bly maar snaaks,” sê Saartjie laggend.

“Ja-nee,” sê Anna, “ek word partykeer baie kwaad vir haar, maar ander kere voel ek weer of ek my kan doodlag vir haar sêgoed en streke.”

“Wat het jy vir Apie gekoop?” vra Saartjie.

“Kom ek gaan wys jou.”

Die twee meisies is vinnig by die huis in en gaan reguit na Anna se kamer toe. Sy haal ’n pakkie onder uit ’n laai.

“Ek hoop Apie gaan hiervan hou,” sê Anna toe sy die bruinpapier waarin dit toegemaak is, oopvou.

Dit is een present, maar dit bestaan uit drie verskillende dinge wat netjies in ’n houtkissie gepak is, elkeen in sy eie kompartementjie. Daar is ’n woer-woer, ’n groen, gekrulde slangetjie wat met die eerste oogopslag net soos ’n regte slang lyk, en ’n foppotlood wat natuurlik nie kan skryf nie.

“Ek dink Apie gaan baie pret hiermee hê,” sê Anna.

“Ek dink ook so,” stem Saartjie saam en haal die woer-woer eerste uit.

Dit is van hout gemaak en het ’n handvatseltjie. ’n Mens swaai dit net met jou hand en dan maak dit ’n aaklige woergeluid.

Saartjie skrik so groot toe sy dit met haar regterhand swaai dat sy dit sommer dadelik met haar linkerhand stop.

“Gonna!” sê sy laggend. “Die ding maak vir jou ’n lawaai, hoor. En Apie lawaai ook mos altyd. Hy sal daarvan hou om so iets te hê.”

Saartjie sit die woer-woer netjies terug in die kissie. Dan haal sy die rubberslangetjie uit. Dit is so realisties gemaak dat sy gril om daaraan te vat.

“Apie gaan baie pret hiermee hê,” sê sy terwyl sy dit versigtig tussen haar duim en wysvinger vashou.

Anna stem saam met Saartjie. Dan kyk die twee na mekaar en dieselfde gedagte is in albei se oë te lees. As Apie soveel pret met die slangetjie gaan hê, kan hulle voor sy verjaarsdag ook eers pret daarmee hê. Apie hoef dit nooit te weet nie. Die ding sal mos nie vuil word of verniel of iets sodat Apie sal kan sien dit is nie meer splinternuut nie.

“Dink jy wat ek dink?” vra Saartjie, net om seker te maak.

Anna giggel en knik. Sy dink presies wat Saartjie dink.

“Ons moet net sorg dat Apie die ding nooit sien nie,” sê Anna.

“Hy sal nie,” sê Saartjie laggend. “Ons maak nie mense hier in Lynnekom bang nie – net by die skool of daar rond. Ons gaan vet pret hê.”

Saartjie draai die slangetjie netjies in ’n stukkie sneespapier toe en steek dit in haar roksak.

Die twee kyk nou na die foppotlood. Dit is nogal interessant. Dit lyk net soos ’n regte potlood, maar as jy daarmee wil skryf, buig die rubberpunt om en jy voel soos ’n gek omdat jy uitgevang is.

“As ons die slang vat om mense poetse mee te bak,” sê Saartjie, “kan ons maar netsowel die potlood ook vat.”

“Haai, Saartjie, ons moet net versigtig wees,” sê Anna. “Sê nou maar ons verloor die goed of iets – wat dan? Ek het nie geld om vir Apie ’n ander present te koop nie en hy sal mos nooit met net die woer-woer tevrede wees nie.”

“Veral nie as die woer-woer in een kompartement in die kissie is en die ander twee kompartemente is leeg nie,” sê Saartjie.

Die twee vriendinne twyfel nou ’n paar oomblikke of hulle beide die slangetjie en potlood moet vat om mee pret te hê, maar dan sê Saartjie: “Ag wat, Anna, ons sal die goed mos nie verloor nie. Ons vat dit net een dag skool toe. Ons sit dit môremiddag weer terug.”

“Nou goed,” stem Anna in, “maar ons moet baie versigtig wees.”

“Natuurlik,” sê Saartjie. Sy draai die foppotlood ook in ’n stukkie sneespapier toe en sit dit dan in haar roksak.

Die woer-woer is nou al wat in die kissie oor is, maar die meisies stel nie daarin belang nie. Die ding maak net ’n lawaai en hulle is verby die stadium waar dit vir hulle lekker is om ’n geraas te maak.

Anna vou die bruinpapier weer om die houtkissie waarin net die woer-woer nou lê. Sy het dit skaars gedoen toe hulle Muggie in die gang hoor aankom.

“Steek dit gou weg,” fluister Saartjie.

Anna het nie tyd om haar klerekas se laai oop te maak om die pakkie weg te steek nie. Sy druk dit vinnig onder die deken op die bed in en gaan sit daarop.

Sy sit net mooi toe Muggie die deur oopmaak.

“Ha!” sê die kleintjie en suig eers gou aan die suigstokkie in haar mond voor sy verder praat. “Julle het na Apie se present gekyk, nè?” Sy kyk vinnig rond om te sien of sy dit nie gewaar of iewers ’n oop laai raaksien nie. Daar is egter niks nie.

“Moenie simpel wees nie,” sê Anna. “Ons het maar net hier in die kamer gesit en gesels.”

“Julle dink ek is dom,” sê Muggie en maak ’n paar klapgeluide met die suigstokkie in haar mond, “maar julle’s verkeerd. Júlle is dom.”

Anna en Saartjie voel tog nie lus om nou met Muggie te stry oor wie dom is en wie nie. Saartjie moet loop en sy moet vir Muggie uit die kamer kry sodat Anna die pakkie kan bêre.

“Wel, tot siens, Anna,” sê Saartjie. “Ek moet nou waai.”

“Tot siens, Saartjie.” Anna glimlag vriendelik, maar sy bly sit.

Dit maak die uitgeslape Muggie dadelik agterdogtig. Anna stap mos altyd saam met Saartjie tot by die Baumanns se hekkie en daar staan hulle gewoonlik eers ’n hele rukkie nog soos twee ou tannies en gesels.

Muggie kyk agterdogtig na Anna.

“Hoekom loop jy nie saam met Saartjie nie?” vra sy.

“Hoekom moet ek?”

“Jy doen dit altyd.”

“Ek is nie nou lus nie – en wat daarvan?”

Nee, niks daarvan nie, skud Muggie haar kop terwyl sy heerlik aan die suigstokkie suig. Sy wonder mos maar net.

“Wel, ek gaan loop.” Saartjie gee ’n gemaakte laggie. “Wil jy nie saam met my stap nie, Muggie?”

“Ja,” sê die kleintjie en dan vra sy: “Maar sê eers vir my, hoekom sit Anna so stil en snaaks daar op haar bed?”

“Jy’s simpel,” snou Anna Muggie toe. “Ek sit glad nie stil en snaaks nie. Ek sit sommer net omdat ek moeg is.”

Voor Muggie nog verder kan uitvra, vat Saartjie haar ferm aan die arm en sê: “Kom, Muggie, weg is ons.”

Die kleintjie stap saam, maar by die deur kyk sy om en wonder weer hoekom Anna “so stil en snaaks” op die bed sit.

Saartjie is vinnig met Muggie by die huis uit. Anna wag tot sy die voordeur hoor toeslaan, dan bêre sy die pakkie in die laai in haar klerekas en sluit dit. Die sleutel kom in ’n ou skoen in ’n ander kas. Sy is seker Muggie sal nie daar na die sleutel soek nie.

Muggie is nie tevrede om net tot buite die huis saam met Saartjie te stap nie. Nee, sy gaan tot by die Baumanns se hekkie saam. Sy wil daar gaan vroteier speel.

By die betonblokke begin Saartjie natuurlik weer spring. Sy hou haar hand op haar roksak terwyl sy so van die een blok na die ander wip. Die foppotlood en die rubberslangetjie moenie nou uit haar sak val nie. Muggie sal dadelik wil weet wat dit is en waar sy dit kry en ’n honderd-en-tien ander vrae vra.

Muggie loop en suig aan die suigstokkie en maak klapgeluide met haar mond om te wys hoe lekker dit is. Sy mompel dat die groot meisies verniet sê sy is simpel, want Saartjie is die een wat simpel is om soos ’n mal ding van die een blok na die ander te spring.

By die Baumanns se hekkie staan Muggie reg en die oomblik wat Saartjie tot stilstand kom, skree sy opgewonde: “Vrot!” Muggie slaan Saartjie op die arm en hardloop weg. Saartjie maak laggend of sy haar gaan agternasit, maar sy doen dit nie. Sy is nie nou lus om vroteier te speel nie.

Muggie lag lekker toe sy by die Strydoms se hekkie inglip. Sy skree skril: “Ek het jou gewen, nè?”

“Ja, jy het!” skree Saartjie terug.

Sy stap met die tuinpaadjie huis toe. Die son is besig om onder te gaan en sak soos ’n groot vuurbal agter die heuwels in die verte weg.

Saartjie steek haar hand net in haar sak om die rubberslangetjie en foppotlood uit te haal toe sy stemme langs die huis hoor – seunstemme.

Sy gaan staan en luister aandagtig. Sy herken Apie se skril stem en hoor dan ook sy maat, Bennie, praat.

Nou hoor Saartjie Galpil se basstem. Hy vertel vir die “pêrre” al maak ’n mens sy regterhand ook agter sy rug vas, sal hy hulle twee nog steeds met sy linkerhand kan opdons.

Saartjie wonder wat op aarde Galpil hier kom soek. Hy is mos nie eintlik vriende met Apie nie – en hoekom sê hy hy sal die twee outjies met sy een hand kan opdons? Sy besluit om ondersoek in te stel. Sy stap tot by die hoek van die huis en loer om.

Galpil sit op ’n paraffienkissie, en Apie en Bennie staan voor hom. Die ouer seun het ’n oefeningboek in sy hand.

“My pa gaan vir my bokshandskoene vir my verjaarsdag gee,” spog Apie en neem ’n bokshouding voor Galpil in. “Ek gaan net twee weke oefen, dan vat ek jou properlies met bokshandskoene en goete aan en jy hoef nie jou een hand agter jou rug vas te maak nie.”

Om te wys hy weet iets van boks af, gee Apie ’n paar lomp passies en slaan gate in die lug voor hom.

Galpil grinnik en sê: “Ou perd, moenie my laat lag nie. Ek slaan jou met een hou so dood soos ’n mossie.”

Saartjie wonder weer wat Galpil hier soek. Hy is mos baie groter en ouer as Apie-hulle. Vandat sy hom afgesê en hul kys beëindig het, was Galpil nog nie baie hier nie. Sy wonder of hy dalk met haar wil praat en of dit miskien oor die kys is.

Voor Saartjie hoes om die seuns te waarsku dat sy op pad is, stoot sy haar donker krulhare eers netjies reg.

Saartjie Omnibus 8

Подняться наверх