Читать книгу Die derde graf - Calvyn van Niekerk - Страница 5
Twee
ОглавлениеNet na sononder skuif ’n hewige donderstorm oor noordwestelike Johannesburg en Roodepoort, en ’n weerligstraal slaan die ou substasie wes van Muldersdrift in sy peetjie. Tromp Faber se huurhuis op die kleinhoewe is sonder krag, wat hy ontdek toe hy onder die stort uitkom en handdoek om die lyf kombuis toe slof en die stoof aanskakel om wors te bak. Dinsdag is worsdag.
Blits, die fris dobermann met waarskynlik ’n onverantwoordelike rottweiler se gene iewers in sy familie, het voor die badkamerdeur gewaak en loop saam kombuis toe. Hy loop altyd en oral saam.
“Krag is af,” verduidelik Tromp vir die gespitste ore en vraende frons.
Dit pla hom nie meer dat hy met ’n hond gesels nie. Blits is slim en, so vermoed Tromp, wêreldwys. Iemand het hom meer as ’n jaar tevore verdwaal en verbouereerd langs die Hendrik Potgieter-snelweg opgelaai en hom DBV toe gevat. Moontlik vanweë sy ras se reputasie as aanvalshonde, was mense bang om hom aan te neem en Tromp het hom net-net van die spuitnaald gered. Asof hy dit verstaan, laat hy Tromp nie hier op die kleinhoewe onder sy waaksame oë uit nie.
Tromp toets ook die ligskakelaar en die ergste word bevestig. Hy loop na die eerste slaapkamer, nou sy kantoor en so karig en smaakloos soos die res van die ou huis uit vendusies gemeubileer. Bel die noodnommer terwyl Blits in die deur na hom sit en kyk. Substasie is dood, verneem Tromp. Minstens ’n paar uur van duisternis. Uit amptelike mond beteken ’n paar uur minstens tot môre laat en waarskynlik oormôre.
Tromp loop terug kombuis toe en vat vir hom ’n handvol peri-peri-grondboontjies. Blits hou nie eintlik van peri-peri nie en kry ietsie uit die koekblik. Tromp peins. Hy was van plan om nuus te kyk ná ete, dan Ben-Hur uit sy versameling ou films. As alternatief is daar ’n uitnodiging na ’n partytjie, maar hy is nie daarvoor lus nie. ’n Mens raak dik vir partytjies.
Aandete is nie ’n probleem nie, hy het ’n gasstofie. Maar die gaslamp maak ’n vertrek ondraaglik warm. Dus: geen TV, geen musiek, onvoldoende lig vir ’n boek. Hy sit die probleem en bedink en . . . o ja, die telefoon het gelui terwyl hy in die stort was. Hy loop terug kantoor toe, skakel die antwoordmasjien aan en vries soos ’n standbeeld toe hy die stem hoor. Elf jaar gelede se herinneringe spoel oor hom.
“Tromp? Dis tant Mattie.” Stilte, asof sy eers woorde soek. “Ons moet praat, dis amper weer tyd. Bel my. Die nommer is nog dieselfde. Asseblief.” Weer stilte, dan net: “Tot siens solank.”
Hy luister weer, dan ’n derde keer, en gaan sit. Amper weer tyd. Magnus se herdenking.
’n Storm emosies wel in hom op. Die laaste woorde wat hy van haar gehoor het, elf jaar gelede, die dag voor die begrafnis, was ’n verwyt. Ons het jou gevra om hom te help, nie te laat doodskiet nie. En nou uit die bloute haar oproep.
Tog is dit ook nie heeltemal onverwags nie. Natuurlik moet hulle praat, hulle twee én oom Gawie. Dis al wat vir hulle ’n soort afsluiting kan bring ná Magnus se dood. Hy weet dit lankal, maar hy het nog nooit die moed gehad om een van hulle te nader nie, te vrekbang vir nog ’n verwyt of verwensing. Oom Gawie se laaste woorde was: Ek hoop jy loop ’n lang draai deur die hel, verraaier!
Hy hét die draai geloop, en dit was lank. Hy is nog nie eens seker of hy heeltemal daar uit is nie. Dalk sal hy nooit wees nie, want aan sy eie verwyt kan hy nie ontkom nie. Dit was hy, gretige jong polisieman, wat sy ewe gretige en swaargewapende makkers na die plek gelei het waar sy boesemvriend doodgeskiet is.
Hulle was agt jaar oud toe hy en Magnus langs mekaar in die klaskamer beland het. Magnus met die babagesiggie, klein van postuur, babbelbek wat nooit kon leer om aan die gevolge te dink voor hy uitblaker wat in sy kop kom nie. Sommer die eerste week al moes hy agter Tromp se breër en hoër skouers skuiling soek toe drie fris manne in graad drie daarop uit was om sy nekkie om te draai. Net desperate diplomasie het hulle albei van vergelding gered, en dis seker waar hulle bloedbroers geword het. Hulle het minder as een van Rosettenville se lang straatblokke van mekaar gewoon, die Calitze nuwe intrekkers. Albei enigste kinders, en kort voor lank was elkeen so tuis in die ander se huis as in sy eie. Binne weke het Magnus sy nuwe vriend die geheim van die diamantskat vertel.
Hulle het dié middag, ’n triestige Vrydag, by die Calitze se eetkamertafel gesit en verveeld aan ’n moeilike legkaart gepeuter. Uit die bloute vertel Magnus toe hulle familie is eintlik skatryk, al is sy pa net ’n elektrisiën. Tromp het gevra hoe ryk is skatryk, en Magnus het gesê weet jy hoeveel is ’n sak so groot soos ’n Bybel vol diamante werd? Sewe miljoen rand, het Tromp geraai, want dit het omtrent genoeg geklink vir so ’n wolhaarstorie. Toe sien Magnus Tromp wil lag en hy wip hom en spring op en sê kom kyk self as jy nie wil glo nie.
Hulle was alleen in die huis, tant Mattie winkel toe, en Magnus het hom na sy ouers se slaapkamer gelei. Bo uit sy ma se klerekas het hy ’n boepgepakte skoendoos gehaal en op die bed oopgemaak. Dit was vol foto’s, want oom Gawie was ’n ywerige fotograaf in sy vrye tyd. Onder die eerste pakkie foto’s was die brief. Eintlik twee briewe saam in ’n koevert. Die een, in potlood geskryf, was byna onleesbaar verbleik, en iemand het dit in ink oorgeskryf. Hulle kon nog nie sulke aanmekaar handskrif vlot lees nie, maar Magnus het die storie uit sy kop geken en daar was genoeg herkenbare woorde om Magnus se wonderlike verhaal te bevestig. Sy oupagrootjie, wat lank gelede iewers in die Noord-Kaap saam met ’n vriend verdwyn het, het dié brief geskryf en gesê hy steek ’n Bybelsak vol diamante op die solder van ’n plaashuis weg. Dit lê nou nog daar.
Nou vir wat loop haal julle dit nie? wou Tromp weet.
Omdat die Noord-Kaap ’n verskriklike groot plek is met derduisende plaashuise en hulle weet nie watter een nie, was Magnus se antwoord. Sy pa is te besig om te gaan soek en hyself kan nog nie gaan nie, want dis te ver vir ’n fiets. Maar eendag sal hy die skat gaan soek, en as Tromp saamkom en help, kan hy ’n paar diamante kry. Genoeg vir ’n groen Kawasaki, uit die boks. Tromp het begin onderhandel vir ’n Porsche, en toe vang tant Mattie hulle daar op die bed.
Sy was nie eens kwaad nie. Tant Mattie, klein en fyn en van liefde gemaak, het nooit kwaad geword nie. Sy het gelag en gesê dis nonsens, jou oupagrootjie sou mos nooit die diamante op die plaas vergeet het nie. Kry daai storie uit jou kop, Magnus. Daar is net een manier om bo uit te kom. Leer, leer, leer!
Magnus se toekoms was sy ouers se obsessie. Ingenieur! Uit oom Gawie se mond het die woord ’n klank gehad wat dit tot saligheid verhef het. Magnus het gesweer “ingenieur” was die eerste woord wat hy ooit gehoor het, en hy het hom laat meevoer. Teen graad ses het almal wat hom ken geweet hy gaan eendag die hoogste brug in Afrika bou. Vroeg in graad twaalf, toe hy begin twyfel het of hy wiskunde sou kon deurskuur, het hy al minder daaroor gepraat en nie meer so doodseker geklink nie. As hy toe maar liewer ’n ander strewe kon raakvat, iets binne sy bereik.
Maar dit was te laat. Ná ’n dekade se grootpraat kon hy nie omdraai en sê hy sien nie kans nie, hy soek iets maklikers. Met sy plek reeds voorlopig bespreek by die Universiteit van Johannesburg, het hy geswoeg deur naweke en vakansies, en tot sy uiteindelike ongeluk tog universiteitstoelating gekry.
Tromp is polisiekollege toe en in die euforie van sy nuwe lewe het hy nie die ramp sien kom nie. Pas negentien en op ’n wolk van idealisme, het hy nog nie geweet hoe maklik mislukking en die skokbesef van eie onvermoë ’n jeugdige gees kan knak nie. Dit het eers tot hom deurgedring toe hy Magnus in November met ’n daggazol en ’n idiotiese grinnik betrap het. Raai wat? Ek het vandag wiskunde gedop. Wiskunde se moer.
Hoe vertel jy ouers soos oom Gawie en tant Mattie dat hul seun, hul wonderwerk, ’n dwelmverslaafde mislukking is wat nooit ’n brug sal bou nie? Jy doen dit nie. Jy bly stil, jy pleit, jy redeneer, jy dreig en jy glo beloftes en leuens. Tot dit te laat is. Eers mandrax by die dagga en uiteindelik die wit poeier. Jare se gespaarde studiegeld in ’n oogwink daarmee heen.
Natuurlik moes oom Gawie-hulle dit uiteindelik agterkom. Teen die tyd dat hulle bereid was om dit te glo, was Magnus ver heen. En toe die naïewe, noodlottige versoek. Tromp, die vriend soos ’n broer, is mos ’n polisieman. Hy kan bloot die skurke wat die gemors voorsien vasvat, dis al wat nodig is. Dan sal Magnus tot sy sinne kom.
En al vermoed Tromp dis nie so eenvoudig nie, begin spioeneer hy in sy eie tyd. Hy agtervolg snags sy vriend tot hy die oorsprong van die gif kry – en neem die dodelike inligting ewe pligsgetrou na ’n ambisieuse jong sersant. Hier’s ouens wat groot smous met dwelms, kom ons gaan haal hulle.
Tromp het nie geweet hóé groot nie. Ook nie dat sy inligting ’n deurbraak was in ’n ondersoek wat lank reeds aan die gang was nie. Hulle het Tromp laat saamgaan die aand toe ’n dosyn polisiemanne toegeslaan het. Hy was deel van die jag, en nadat die laaste skote geklap het, het hy een van die lyke uitgeken. Magnus, wat begin smous het om sy behoefte te bevredig, was in die dwelmhuis om voorraad te kry. Hy het ineengekrimp in ’n hoek gesit, met vrees op sy gesig gevries en ’n koeël deur sy linkeroog.
Tromp Faber, verraaier.
Blits laat sy kop op Tromp se skoot sak. Kan die hond sy emosies aanvoel? Hy streel oor die groot kop. Hy moet hier wegkom. Gewoonlik geniet hy ’n aand alleen saam met Blits, maar nie vanaand nie. Vanaand het hy lawaai en uitbundigheid nodig.
Hy gaan trek aan, vat sy sleutels en maak seker Blits se bak op die stoep is vol vars water. Hy groet die hond met ’n kloppie teen die blad en klim in sy bakkie. Die Hilux, agt jaar oud en tans twee weke ongewas, staan onder die groot ou wilgerboom voor die huis. Die dubbelmotorhuis is as werkswinkel ingerig. Daar maak Tromp mooi deure vir duur huise met die hulp van Thabo, ’n kunstige en ietwat eksentrieke Basotho.
Tromp gaan eet ’n hamburger in Cresta en ry dan Sandown toe, een van die duurste woonbuurte op die kontinent. Hy wou nie die uitnodiging summier van die hand wys nie, want dit het van ’n goeie kliënt se dogter gekom. Dis finansiële jaareinde en hy is toegegooi onder papierwerk, het hy gesê, maar hy sal sy bes doen om te kom. Die gasvrou is negentien, die enigste spruit van ouers wat uitgeput is van geldmaak en vir die week in hul vakansiepondokkie op Plett uitrus.
Daar is geen besondere rede vir die partytjie op hierdie Dinsdagaand nie, bloot die geleentheid vir ’n rykmanskind om haar vriende sonder die irritasie van ouerlike toesig te onthaal.
Die uitbundigheid is selfs luidrugtiger as verwag. Elektriese kitare skel uit kragtige luidsprekers en agt paartjies wikkel en wieg energiek in die groot woonvertrek, gestroop van meubels. Twee ander pare het weggeglip in die rigting van die slaapkamers en van buite, deur die wye skuifdeure, kom ’n daggageurtjie ingesweef. En midde-in al hierdie vrolikheid staan Tromp teen tienuur skouer teen die muur net binne die deur, halfpad deur sy derde Coke, en wonder hoekom hy tot sterwens toe verveeld is.
Gevorderde jare, besluit hy gelate, dis wat fout is met hom. Hy’s dertig, die senior burger van hierdie byeenkoms, en die toneel voor hom is oorbekend.
Hy loop uit. Dis heldermaan. Die wit teëls strek uit die woonvertrek oor die wye stoep en dan een trap af tot by die swembad. Daar in die halflig, op een van die lêstoele naby die water, is ’n slanke figuur roerloos uitgestrek. Tromp gaan sit op die stoel langs haar. Die blondine hou hom deur skrefiesoë dop terwyl sy diep trek aan haar zol en die damp eers inhou voor sy dit met ’n lang, genoeglike sug laat uitkom. Sy hou die stompie vrygewig na hom uit. Hy skud sy kop en sluk liewer Coke.
“Wat ’n pragtige aand,” fluister sy. “Kyk die sterre.” Sy hik delikaat. “Amper soos in die Vrystaat.”
Sy is in ’n mini van blinkgeel sy wat haar soos ’n verflagie pas, sodat elke kurwe deur ’n tergende spel van lig en skadu beklemtoon word. Sy word aangekondig as Claire wanneer sy op die loopplank verskyn, maar sy praat steeds Engels soos Hester Coetzee van Bethlehem se wêreld. Na bewering versier sy elke tweede partytjie in Sandton en daar lê stories rond wat haar ma se hart sal breek.
“Jip,” stem hy saam. “Nie nog ’n plek soos die Vrystaat nie.”
Hy sit tussen haar en die skerp lig uit die huis. Sy knip haar oë en frons vir sy silhoeët.
“Faber,” sê sy. Haar tong sleep net so effentjies. “Tromp Faber. Jy’t my nog nooit huis toe gevat nie. Hoekom het jy my nog nooit huis toe gevat nie, Tromp?”
“Jy’s te mooi vir my.”
Sy sug gewigtig. “Mooi is ’n helse ding, weet jy. Maar partykeer darem beter as lelik.”
Nog ’n trek aan die stompie en dit brand haar vingers. Sy skiet dit in die swembad en lê daarna en tuur tot dit disintegreer. Dan draai sy haar kop en kyk na die dansers. “As ek ’n Marsmeisie was, sou ek gewonder het, as die vloer onder hulle voete dan so warm is, hoekom gee hulle nie liewer net pad nie?”
“Of jy kon dink die eienaardige musiek toor hulle.”
“’n Haelstorm oor ’n skrootwerf is mooier musiek.”
“Waarvan hou jy?”
“Dis ’n geheim. Jy sal lag.”
“Nee. Belowe.”
“Koorsang. Groot, groot kore. Die Walliesers.” Sy hou hom dop, asof sy wag dat hy gaan lag, en toe hy knik: “Tannhäuser? Die Slawekoor?”
Weer knik hy.
Sy bekyk hom van kop tot tone. “Sesvoeter, nie te mooi nie. Die mooies is . . . hik! . . . rondlopers. Hoekom is jy alleen hier? Is daar fout met jou?”
“Ek is ’n wandelende fout,” bely hy.
“Gay?”
“Nee.”
“Wat doen jy vir ’n lewe? Ginekoloog?”
“Handearbeid. Ek maak deure.”
Sy oorweeg dit, hou dan haar hand na hom uit. “Kom. Dis jou gelukkige aand.”
Hy sit sy glas langs die stoel neer en trek haar op. Sy is amper net so lank soos hy.
“Waar’s jou handsak?”
“O. My handsak. Moenie my handsak vergeet nie.” Sy steier teen hom vas. “Oeps!” Giggel saggies en lê haar wysvinger op sy lippe. “Sjuut! Wag net hier.”
Die waggelstappie sit ’n ekstra swaai in haar lyf. Sy loop ’n pad oop deur die dansers, die trap op, slaapkamers toe. Laaste sien, reken hy. ’n Minuut later kom sy te voorskyn met ’n geel handsakkie swaaiend in haar hand. ’n Jong man met gebleikte hare vat haar aan die arm en sê iets, maar sy ruk los sonder om eens te aarsel en steier uit. Van ver af krul sy haar wysvinger vir Tromp. Hy’s definitief gekies. Niemand sal hom mis nie, besluit hy.
Met sy arm ondersteunend om haar middel, bly sy op haar voete die hele ent af met die rylaan. Daar is plek vir net sewe motors binne die hek en Tromp was laat. Die hekwag laat hulle uit en hy lei haar na sy Hilux.
Hy verwag die beroemde model gaan minagtend weier om in te klim, maar sy betrag die littekens teen die kant van die bakkie belangstellend.
“My pa het net so een gehad,” sê sy. “Ek wou vir hom ’n nuwe koop. Toe sê hy ek moet liewer die geld vir hom gee. Toe doen ek dit en weet jy wat? Hy gaan belê dit vir my. Elke sent. Net so. My pa.”
“Party pa’s is so.”
Hy help haar die bakkie in. Toe hy ook sit, krul sy knus teen sy skouer op, gee hom die adres, hik en raak aan die slaap. Die kompleks is net ’n paar blokke weg en die hekwag daar ken seker haar gewoontes, want hy loer in, herken haar en maak oop. Voor die meenthuis druk Tromp haar sag regop teen die deur. Hy haal haar sleutels uit haar handsakkie en gaan sluit die voordeur oop. Toe hy haar uit die bakkie help, tuimel sy lomp teen hom aan, gee ’n hees laggie en staan regop. Sy loop ferm voordeur toe.
Daar is sagte lig in die sitkamer, en sy het óf baie geld óf baie skuld. Die ameublement is eenvoudig en modern in hoofsaaklik neutrale kleure, met ’n paar mooi landskappe teen die mure – hy is seker dis van die Clarens-kranse. Glasornamente in uitbundige kleure is kunstig gerangskik. Die koffie- en sytafels is van chroom en glas, die stoele chroom en swart leer, ’n swart La-Z-Boy teenoor die televisiestel. Só afgerond is die totale effek, dit sal skreeu soos ’n vermiste voortand as net een voorwerp verwyder word. Twee tydskrifte op die glansende glasblad van ’n sytafel lê presies opmekaar en haaks met die tafel se hoek. In elke hoek van die vertrek staan groot luidsprekers op ooghoogte rakke. Vir groot kore.
“Kom,” gebied Hester.
Tromp volg haar slaapkamer toe. Dié is net so netjies. Sy skop haar stiletto’s uit en glip uit die mini. Klein, ferm borsies. Die deurtrekkertjie is so skraps, dis amper nie daar nie. Sy pluk die satyndeken en laken weg, val op die bed neer en strek met ’n ligte kreuntjie. Of dit opsetlike verleidelikheid is, weet Tromp nie, maar sensueel is dit wel.
Hy buk en trek die laken op tot onder haar ken. Haar oë gaan oop, verbaasde blou poele.
“Lekker slaap,” sê hy.
“Jy ís gay,” beskuldig sy.
Hy het nog nooit sulke oë gesien nie. In hierdie lig lyk dit asof hulle ’n titseltjie pers bevat.
“Definitief nie.”
Sy staar net na hom toe hy haar op die wang soen, orent kom en wuif.
Hy is al amper by die voordeur toe sy roep: “Tromp Faber!”
“Ja?”
“Kom weer.”
“Sodra jy nugter is.”
Hy maak seker die voordeur is gesluit agter hom.
Dis ’n lang ent Muldersdrift toe en hy kan haar nie uit sy kop kry nie. Sy is op dieselfde glybaan as Magnus. Hy weet net nie hoe ver sy is nie.
Magnus se dood was die begin van sy eie ondergang. In sy laaste polisiedae het hy sterk manne om hom sien knak van te veel bebloede en verminkte lyke en liggaamsdele by misdaad- en ongelukstonele optel. Hy het gehoor van posttraumatiese stressindroom, en soos sy kollegas het hy geglo hy is immuun. Tot die aand toe hy langs die N1 ná nog ’n jaagtog agter kapers aan met nog ’n makker in sy arms gesit en histeries geraak het omdat hy nie die bloeding kon stuit en kunsmatige asemhaling nie wou help nie. Dit was soos om van die planeet af te val: die einde van sy polisieloopbaan, die begin van sy depressietyd, hinkend van dag tot dag op ’n wodkakruk. Om sy nuttelose lewe te beëindig, het ’n gereelde versoeking geword, maar selfs in die diepste, mees wanhopige duisternis kon hy dit nie aan sy ouers doen nie.
Sy ma se skielike dood aan ’n beroerte vier jaar gelede het hom nugter geskok. Hy het homself gedwing om sy pa, ’n knap nutsman, in sy besigheid te help. Byna teen wil en dank het hy daardeur ’n nering ryker geword, en om besig te bly het ook gehelp. Skaars ’n jaar ná sy ma se dood het ’n hartaanval sy pa geëis. Toe het hy gesweer hy sal nie weer val nie. Hy is dit aan die herinnering van sy altyd ondersteunende ouers verskuldig.
Nou het hy selfs ’n winsgewende klein onderneming. Net soms blaas die draak se asem nog warm in sy nek. Hierdie tyd van die jaar, kort voor die herdenking, is hy op sy kwesbaarste.
Soos gewoonlik is Blits uit sy vel van vreugde om Tromp te sien. Die stompiestert is op turbo terwyl hy al om Tromp ronddans op pad voordeur toe.
“Het jy geweet mooi is ’n helse ding, Blits? Dit hoort mos nie so nie, man. Dit hang net af van wat jy doen met wat jy het. Soos . . . jy wen die lotto, jy gaan koop ’n Porsche, jy vier dit met ’n bottel Franse sjampanje en gaan verpletter jouself in jou dronkenskap. Pleks jy het jou ou tjor gehou en stadig gery. Aan die ander kant, jy kan so jammer voel vir jouself oor die ou tjor, jy droom van die lotto, jy kyk nie waar jy ry nie en neuk in ’n trein vas.”
Terwyl Tromp die deur oopsluit, kyk Blits fronsend na hom asof hy die saak oorweeg.
“Punt is, hond, ’n mens het darem ’n mate van beheer oor jou lot, reg? Jy moet net die fut hê om die regte ding te doen as jy goed genoeg wéét dis die regte ding. Stap gerus binne, Blits.”
Tromp voel ’n bietjie hol, besluit op koffie en beskuit. Terwyl die ketel kook en Blits gaan seker maak daar is geen booswigte in die huis nie, haal hy twee beskuite, self gebak, uit die koekblik. Blits kry een toe hy terugkeer. Hulle kou gesellig saam. Die hond is eerste klaar en kyk vraend op.
“Nee,” sê Tromp, “ek gaan nie terug na haar toe nie. Ek is niemand se ridder nie. Jy weet wat gebeur as ek mense van dwelms probeer red. Nie weer nie. Buitendien . . .”
Hy kyk om hom rond in die ruim vertrek. Die skewe kasdeure het hy self reggemaak. Die tafel is so oud en verweer, die vorige bewoner het dit sommer net gelos en hy moes geduldig skaaf en skuur. “Dit gaan goed met ons, hond. Kyk hoe lekker leef ons. Die besigheid groei. Ek wil nie eers meer doodgaan nie.”
So amper is hy weer ’n heel mens, hy kan selfs ’n toekoms voor hom sien uitstrek. Al sal hy dit nie hardop sê nie, nie eens vir Blits nie, het hy al so half aan ’n lewensmaat begin dink. Nie een so mooi soos Hester Coetzee nie. Die mooies is bederf en kieskeurig. Nee, iemand met wie hy kan praat, wat sy hand sal hou en luister na wat hy vir niemand anders kan sê nie. Iemand wat betroubaar langs hom bly die toekoms in.
Mooi Hester wip terug in sy gedagtes. Sy’s op pad afgrond toe.
Hy vryf oor die hond se kop. “Demmit, Blits. Dinge vat koers, man. Kom ons hou dit eers so.”
Maar hy moet doen wat hy weet hy moet doen. Hy moet nie net met tant Mattie praat nie. Oom Gawie moet by wees, al drie van hulle, by die graf, omdat Magnus se aandeel ook erken moet word.
Tromp gaan was sy koffiebeker, gesteld op die netheid van sy kombuis, want orde is ’n hoë prioriteit. Die regte stap op die regte tyd hou jou op koers.
Blits volg hom slaapkamer toe en gaan sit by die deur. Dan spits hy sy ore en kyk venster toe. Tromp sien ook die lig van ’n fietslamp deur die dun gordyn. Dis Thabo wat terugkom na sy kamer agter die motorhuis. Die man kan minstens ’n motorfiets bekostig, maar hy spaar vir lobola.
Tromp skakel die lig af en Blits kom lê langs die bed op sy mat. Die hond sug diep en tevrede.
Kwart voor sewe die volgende oggend bel Tromp vir tant Mattie.