Читать книгу Die derde graf - Calvyn van Niekerk - Страница 6
Drie
ОглавлениеNet waar die pad Klipkuil binnegaan en die hoofstraat word, moet Gawie ankers gooi vir ’n boerbok wat lui oor die straat slenter, vassteek, die kop stadig draai en hom vermanend aankyk. Wat’s die haas? Aldus tereggewys, draai Gawie bedagsaam uit en ry stadig voort.
Twintig of dertig huise, almal diep uit die vorige eeu, staan planloos op groot erwe na weerskante toe. Sommige lyk goed versorg, ander moedeloos verwaarloos onder vaalgeskroeide sinkdakke. Die meeste het vrugtebome en groentetuine. Twee van ’n dosyn of wat windpompe het vinne verloor. Vir die entjie wat die pad as hoofstraat dien, is dit aan albei kante omsoom met peperbome, dig teenmekaar.
Halfpad deur, aan die linkerkant, word die winkel/slaghuis/poskantoor met verbleikte letters onder ’n ou Coca-Cola-bord op die stoepdak aangedui. Langsaan staan drie brandstofpompe voor ’n platdakgebou. KOOT SE GARAGE is amper onleesbaar verskilfer teen die vuilwit muur wat seker voor die Groot Depressie laas geverf is. Die wye skuifdeur van sink is oop en daar binne staan ’n man in ’n blou oorpak. Skuins oorkant is ’n huis omskep in die polisiekantoor. Die landsvlag hang slap en stowwerig aan die paal. Die oggend is windloos en klaar warm.
Gawie kry die murasie naby die fontein. Dis so toegegroei deur haak-en-steek dat dit onmoontlik is om by die deuropening te kom. Die daklose geboutjie is omtrent agt by vyftien meter, die klipmure nog stewig. Bo die ingang pryk die boudatum dowwerig in sement: 1866. Alle deure en vensters is lankal weggedra. Gawie neem ’n rits foto’s van alkante voor hy aan die suidekant binnetoe klouter waar daar eens ’n venster was. Onkruid peul deur krake in die sementvloer wat net hier en daar onder ’n dik laag grond sigbaar is. In die hoek het iemand vuur gemaak en daar lê ’n verdorde skoen.
Gawie bly omtrent ’n uur daar. Dan ry hy tydsaam terug na die woonwa, wat hy binne minute in ’n donkerkamer omskep. Sy Nikon en Hasselblad is ou kamerade en hy gebruik die nuwe digitale kamera selde. Fotografie was aanvanklik net sy verskoning om by ou huise en murasies toegelaat te word in sy soektog na die plaas waar sy oupa die brief geskryf het. Hy was nie werklik van plan om ’n boek te probeer publiseer nie. ’n Goeie vriend het sy versameling foto’s gesien en hom aangemoedig om dit aan ’n uitgewer voor te lê. Mettertyd het die hoop om daardie plaas te vind vervaag, en deesdae is sy foto’s bestem vir die volgende boek.
Hy ontwikkel die twee rolle film en toe hy seker is dis foutloos, rus hy.
Toe hy wakker word, voel hy steeds tam. Miskien moet hy liewer die pad vat Johannesburg toe. Hy het mos nou die foto’s waarvoor hy hierheen gekom het, en hy móét Magnus se graf besoek met die herdenking. Met hierdie krokhart is dit dalk sy laaste keer.
Tog, die kluisenaar-tot-miljoenêr-storie klink interessant. Dit kan sy boek ’n stoot gee. As hy nie die voordeel daarvan kan geniet nie, sal Mattie. Hy gaan spoel sy gesig in koue water af, ontdek dat hy die oggend vergeet het om te skeer, besluit dis irrelevant en gaan klim in die bakkie.
Hy kry die naambord teen die hekpaal, VERGESIG Flip & Gerda Meyer, op die kop 21 kilometer van Klipkuil af, soos Janna beduie het. Hy ry deur, maak die hek toe en vat dan die tweespoorpad regs teen ’n snaarstywe heining langs. Na omtrent ’n kilometer verander dit in ’n hoë wildheining, met nog een wat reghoekig na die weste uitloop.
Die pad swaai skuins weg teen ’n effense hoogte op. Gawie begin net wonder waar die murasie dan is toe hy omkyk en dit sien. Die dowwe rooi vlek van ’n ou sinkdak is skaars tweehonderd meter anderkant die heining, naby die punt van ’n plat heuwel wat dit aanvanklik verberg het. Hy hou stil en klim uit met sy verkyker. Die kragtige lense bring die toneel tot hier voor hom.
Die vaalrooi dak is flenters geroes en twee of drie plate is weg. Teen die regterkant van die huis loop ’n steil sementtrap op na ’n oop solderdeur. Die drie voorste vensters en die voordeur is met rame en al uitgebreek, nou net gapende wonde in die muur wat nog ’n paar vlekke wit verf dra. Twee skewe stompe lyk na die oorblyfsels van ’n prieel wat eens skadu voor die huis gebied het. Dertig tree of wat regs is ’n klipkraal, die mure steeds solied, maar die hek weg. Daarnaas is ’n kleiner, daklose murasie, moontlik ’n eertydse stal.
Gawie laat die verkyker sak. Hy het skielik nie die krag om die instrument voor sy oë te hou nie. Dit dring stadig tot hom deur: drievertrekhuis . . . solder . . . klipkraal . . . prieel . . . En anderkant die opstal, die eenderse spitskoppies soos ’n tweeling.
Altesaam pas dit soos die laaste stukkies van ’n legkaart op ’n prentjie wat meer as ’n halfeeu gelede in sy gemoed vasgelê is. Die brief het sy jeugdige verbeelding aangegryp en hy het dit seker ’n duisend keer gelees, sodat hy dit nou nog feitlik woordeliks kan onthou.
Eers wil hy lag vir die verspotte vermoede wat skielik in sy kop sit, wat sy hare wil laat regop staan. Jare nadat hy aanvaar het dat hy nooit die plaas sal kry nie, wil hy nou glo hy kyk na die plek waar die brief geskryf is. Hoe langer hy na die vervalle opstal staan en staar, hoe sekerder word hy. Hoeveel ou drievertrekhuise met solder, klipkraal, prieel en veral daardie twee eenderse koppies kan daar wees wat hy ná al die jare se swerf nog nie gesien het nie? Daar was al ’n hele paar wat naby die beskrywing in die brief gekom het, maar nie een het na hom geskreeu soos hierdie een nie. Selfs die gehuggie waarvan die naam nie in die brief genoem is nie, is omtrent die regte afstand hiervandaan: ’n stywe heen-en-weer op een dag met ’n kar en perde.
Gawie haal die Nikon uit die bakkie. Sy hande bewe terwyl hy die lang lens vasknip. Hy klik ’n rits foto’s. Dis asof hy sy oupa se stem kan hoor: Dalk is ons gelukkig en kom ek nog voor hierdie brief by jou. Ek verlang só, ek moes net met jou praat, al is dit op papier. Ek kan nie wag om jou in my arms te hou nie.
Net daar, in die koelte van die prieel, is sy oupa se verlange op papier vasgelê. Hy weet dit. Met elke klik van die kamera word hy sekerder. Hy wéét. Dit het alles hier begin.
Hy klim in die bakkie. Hy voel effens lam en sit met toe oë en dink, probeer orde kry in sy stormagtige gedagtes. Begin by die skielike rykdom van die plaas se destydse eienaar, juis die tyd toe oupa Bart op pad huis toe was met sy diamante. Twee vreemdelinge van Johannesburg daag uit die bloute hier op. Hulle fluister vir mekaar wanneer hulle dink die gasheer sien nie. Hulle lyk opgewonde, in hul skik. Die boer weet die Weskus se diamantveld is gesluit en honderde delwers is op pad huis toe. Daar loop stories van fortuine. Hy sit twee en twee bymekaar . . .
Wat het daardie dag in Maart 1927 hier gebeur?
Knoetsen . . . Knoesse . . . Gawie vergeet die naam . . . is moeg vir die gesukkel op die plaas. Niemand weet die twee mans is hier by hom nie en hy kan hulle laat verdwyn. Hy vra hoeveel diamante hulle gekry het, asof hy weet hulle was suksesvol. ’n Paar, erken hulle – so goed as om te erken hulle is ryk. Hy vermoor hulle en by die een kry hy ’n diamantskat.
Hier duik ’n asemrowende moontlikheid op. Herklaas Knoessen . . . ja, dis die naam . . . sit af Johannesburg toe en weet nie hy het net die helfte van die vonds gekry nie. Die ander helfte, nou tallemale soveel werd as die hele klomp destyds, lê nog in ’n Bybelsakkie op die solder van daardie murasie.
Gawie sit lank so met sy oë gesluit. Hy voel die gloed van ’n ou woede wat weer begin smeul. Dan draai hy sy kop en staar na die murasie. Is dit net sy verbeelding wat weer op loop sit, of straal die plek werklik onheil uit? Verbeelding, besluit hy, gebore uit herinneringe.
Eers ’n jaar of twee gelede het dit tot hom deurgedring dat sy obsessie met Magnus se geleerdheid eintlik die bose telg van ’n ander obsessie was. Sedert sy vroeë jeugjare, nadat hy die storie van sy oupa Bart en die diamante se verdwyning gehoor het en weer en weer wou hoor, het hy daaroor gebroei en gefantaseer. Hy het verlore geraak in eindelose verbeeldingsvlugte oor sy oupa se lot en wat met die diamantskat gebeur het. En wat kón gebeur het as oupa Bart met ’n fortuin huis toe gekom het. Die Calitze sou ryk gewees het. Magnus sou kon doen net wat hy wou. Dit sou nie nodig gewees het om hom na sy ondergang te dryf nie. Hy sou nog geleef het. Die onreg wat by daardie murasie gepleeg is, het tot Magnus se dood én die egskeiding gelei.
Gawie sit nuwe film in die Nikon en ry stadig terug tot waar die pad van die heining af wegswaai. Nou is die murasie buite sig agter die plat hoogte wat na regs wegsak. Hy betrag die heining, twee meter hoog met lemmetjiesdraad bo-op. Hy sal nie daar oorkom nie.
Hy hang die kamera om sy nek, klim uit en haal die graaf wat deel is van sy kampeertoerusting uit die bak. Sonder om aan moontlike gevolge te dink, loop hy na die heining. Die onderste draad is tien sentimeter bokant die klipharde grond. Hy loop langs die heining af en net vyftig meter verder is die murasie nou binne sig. Dis seker waarvandaan Janna du Toit bedoel het dat hy foto’s kan neem.
’n Entjie verder kry hy ’n plek waar die draad oor ’n effense holte span. Geen bok, leeu of gemiddelde wilddief sal daar deurkom nie, maar hy hoef net ’n paar sentimeter grond weg te skep voor hy sy lyf sal kan deurwurm. Die grond is hard en hy sukkel, veral na die binnekant van die heining. Hy moet twee keer rus voor die opening groot genoeg is en hy skuif op sy rug deur. Die graaf los hy daar en begin aanstryk.
Net vir ’n oomblik dink hy aan leeus, kyk rond, sien geen lewe nie en verwerp die gedagte. In daardie huis moet hy kom. Nóú. Dalk liewer vanaand? Dan sal ’n lig myle ver aandag trek en sal hy nie kan foto’s neem nie. Nou! Môre is die Meyers dalk ook terug.
Halfpad is hy so kortasem, meer van spanning as sy haastige pas, dat hy eers gaan sit. ’n Paar minute, dan loop hy verder. Toe die hele opstal in sy gesigsveld is, begin hy foto’s neem. Die werf is nou deel van die veld; karoobossies groei tot teen die mure. By die hoek van die klipkraal staan hy eers om die omgewing te bespied. Hy soek na spore van ’n voertuig, sien niks. Wie anders sal nou hier wil kom ronddwaal? Dit stel hom gerus en hy loop om die huis vir foto na foto, meer as wat hy ooit van ’n murasie neem. Die trap wat na die solderdeur lei, skiet hy uit verskillende hoeke.
Hy wil net na die trap toe loop toe hy terloops by die voordeur inkyk. En vassteek. Daar lê ’n groot sonkol op die vloer. Teleurstelling oorweldig hom, sodat hy sommer wil gaan sit. Onnosel! Hy kry homself aan die beweeg en draf nader om sy logiese afleiding te bevestig.
Die son skyn deur die vermiste dakplate tot op die vloer. Daar is geen plafon nie, wat ook as die soldervloer sou gedien het. Natuurlik is die planke lankal saam met die deure en vensters verwyder. Dis hoë mure. Hy het ’n leer nodig om onder die sink te gaan soek.
Teleurstelling laat hom eers net daar staan. Uiteindelik troos hy homself met die gedagte dat as die diamante nou al 85 jaar daar lê, dit kan wag tot hy beter voorbereid terugkom. Hy tree oor die drumpel. Sand lê dik op die sementvloer en hier en daar staan onkruid. Hy gaan kyk in die ander twee vertrekke, een met ’n vuurherd, eens die kombuis. Daar is niks waarop hy kan staan om bo-op die muur by te kom nie.
Hy is net terug in die middelste vertrek toe hy ’n dreuning hoor. Hy gaan kyk by die naaste venster uit. Omtrent tweehonderd meter van die bouval af kom ’n wit bakkie stadig oor die klipperige grond na die huis aangery.
Hy retireer verskrik na die kombuis en uit by die agterdeur. Voor hom lê kaal vlakte. Die dreuning kom nader. Hy draf na die hoek van die huis en loer. Die bakkie is reeds naby genoeg dat hy dit as ’n Ford Ranger kan herken. Van waar hy staan, kan hy sy Nissan om die voet van die lae heuwel sien uitsteek. Hy druk hom teen die muur vas en bid dat die Ford nie om die huis moet kom nie.
Die voertuig verdwyn voor die huis in en die enjin word afgeskakel. Gawie staan roerloos. ’n Deur klap toe. Dis so stil dat hy die voetstappe anderkant die bouval kan hoor. Iemand kom die huis binne en steek daar vas, kan enige oomblik by die agterdeur uitkom.
Gawie laat waai. Hy swenk om die kraal sodat die klipmure tydelik tussen hom en die huis is. Al nael hy op die bal van die voet, is hy seker hy kan ’n kilometer ver gehoor word. Voor halfpad oor die tweehonderd meter heining toe voel hy kragteloos. Sy longe brand en sy bors wil skeur.
Die laaste twintig meter tot waar hy onder die heining deurwriemel, is hy oop en bloot sigbaar van die opstal af. Met die opstaan kyk hy terug. Daar staan ’n man buite die agterdeur en selfs op hierdie afstand lyk hy groot. Hy kyk reguit na Gawie.
Gawie klap die bakkie se deur toe en sukkel hygend om die sleutel in die aansitter te kry. Die agterwiele tol in die gruis toe hy wegtrek. Eers op die grootpad, met geen teken van agtervolging nie, kry hy dit reg om homself te oortuig dat die groot skrik onnodig was. Die man is ’n sekuriteitswag op ’n plaas wat deurloop onder wilddiewe. Natuurlik is hy agterdogtig om ’n vreemdeling by die murasie aan te tref. Daar is niks onheilspellends aan sy teenwoordigheid nie.
Saam met dié logika raak Gawie kwaad vir homself. Sy skrik is net nog iets wat terugslaan na sy verlede. Altyd die kleinste in die klas en die teiken van boelies. Hy moes baie vlug, en dan het hy iewers in ’n hoekie gaan sit en broei. As sy oupa nie beroof is nie, sou hy ryk gewees het, sou hy die grootste bullebakke kon huur om die boelies reg te sien . . .
Hy bereik sy woonwa in ’n euforiese luim. Hy wil nie meer doodgaan nie. Nou het hy rede om te lewe. Hy het ’n doel. Herklaas Knoessen kan nie meer boet vir sy wandaad nie, maar sy nasate kan minstens erken dat onskuldige bloed vergiet is om hul rykdom te bekom. Hy moet net daardie Bybelsakkie kry. As dit nog daar is. Dit móét daar wees.
Hy wens hy kon donkeraand na die murasie gaan om die diamante te soek, maar hy wil dit net een keer waag en hy moet deeglik toegerus wees. Hy moet ’n leer hê en om hier een te koop, kan agterdog wek. Wat wil ’n besoeker met ’n woonwa met ’n leer doen?
Gaan Johannesburg toe vir die herdenking, redeneer hy met homself. Kom terug oor drie weke. Los die woonwa elders en kom in die nag. Bring ’n ligte opvouleer en gaan soek die diamante. Saam met die brief, wat Mattie seker nog het, sal dit voldoende bewys wees van die onreg wat die Calitze aangedoen is.
Kalmte keer terug terwyl hy planmaak. Bly oor tot môre, besluit hy, en gedra jou soos ’n besoeker wat hier is om ou huise te fotografeer. Klipkuil se geskiedenis kan inderdaad bydra tot sy boek, en die Knoessen-bouval is maar net nog ’n stukkie geskiedenis.
Hy eet beskuit en koffie en gaan vroeg slaap. In die vroeë oggendure droom hy. Hulle staan by die graf, hy en Mattie. Sy hou sy hand vas. Hulle vra saam vergifnis en hy vertel haar dat hy haar nog steeds liefhet.
Die volgende oggend is hy vroeg uit die vere en gretig om die dag aan te pak.
Kort na agtuur bel hy sy uitgewer. Leani Bosch is ’n uitbundige vrou met vyf seuns onder sestien wat haar, so vertel sy met haar bulderlag, van haar kop af dryf.
“Oom Gaaf!” So opgewek soos altyd. “Waar’s ons volgende boek?”
“Hy kom, hy kom. Amper klaar. Ek soek net inligting vir ’n lekker storie. Ken jy iemand by die koerant wat weet hoe ryk mense ryker word?”
“Ou geld? Dokters? My ginekoloog het ’n Bentley.”
“Sakemense. Met maatskappye.”
Sy dink ’n oomblik. “Dickie Froneman. Hy skryf vir Beeld se sakeblad. Nog jonk en geesdriftig. Hy grou oral finansiële stoutighede uit. Hou aan, ek soek sy nommer.”
Vyf minute later praat Gawie met die jong man. Wat presies wil hy van die Blatt-broers weet? Hoekom? Gawie verduidelik van die broers se grootjie, Herklaas Knoessen, ’n arm boer wat in 1927 skielik skatryk geword het, vermoedelik van diamante. Gawie gaan oor hom skryf in sy volgende boek en hy wil graag weet wat die nasate doen.
“Skielik skatryk geword? Hoekom sê jy dit so snaaks?”
“Ek het rede om te glo dit was nie te eerlik nie en daar is ’n storie.”
“Nou toe nou.” ’n Laggie. “Die Blatt-broers . . . Wat ek van hulle weet, is dat hulle stinkryk is en elke dag stinker ryk word. Agterdogwekkend vinnig. Hulle beheer ’n hele paar gelyste maatskappye en besit ’n string privaat maatskappye. Van die meeste weet ek niks, ek het nog nie juis gekrap nie . . . maar daar lê stories rond van tenderbedrog.”
“Soos?”
“Onreëlmatige toekenning van kontrakte. Daar word tenders voorgelê aan die staatsdepartemente, maar daar is vooraf besluit wie die kontrak gaan kry, want iemand is omgekoop. Kan nie sê of die gerugte die waarheid is nie, maar daar trek ’n rokie oor die Blatts. Is dit die soort inligting wat jy soek?”
Gawie grinnik. “Die storie gaan eintlik oor hulle grootjie, maar so iets sal dit mooi afrond.”
“Ek sal ’n bietjie rondvra,” beloof Dickie. “Maar moenie sê ek het so gesê voor ek dit bevestig het nie. En hou dit intussen dig. Fluitjieblasers word nie almal oud nie.”
Gawie gee hom sy woord. Dat enigiets wat Dickie Froneman kan onthul in die koerante sal wees lank voor sy boek verskyn, maak nie saak nie. Hy soek nie ’n scoop nie. Hy soek vergelding.
Vir die artikel moet hy nog foto’s hê, daarom ry hy dorp toe.
Die donkerblou-en-silwer Learjet, onderweg van Kaapstad na die Lanseria-lughawe noord van Johannesburg, skeur deur yl donswolkies oor die Vaaldam toe die twee passasiers hul ooreenkoms finaliseer. Hulle sit teenoor mekaar in diep leerstoele, drankies op die tafeltjie tussen hulle. Een glasie bevat Chivas Regal, die groot man met die bles en dik snor se gunstelingwhisky, die ander swart, soet rooibostee, die kleur van brandewyn, uit ’n bottel met ’n Oude Meester-etiket. Walther Blatt meng nie hardehout met besigheid nie.
Soos altyd is hy onberispelik geklee, vandag in ’n liggrys pak en vlamrooi das. Hy is in sy middel dertigs en van gemiddelde lengte, atleties, met voortydig grys hare in ’n militêre styl wat hom nogal na ’n streng prinsipaal laat lyk. Behalwe vir die ylblou oë wat lyk asof hulle staal kan deurpriem, is daar niks in sy skraal gesig wat hom in gewone geselskap sal laat uitstaan nie. Daarvoor is hy dankbaar, omdat boelies wat hom nie ken nie hom knaend onderskat.
“Die bedrag pla my nog ’n bietjie,” is die laaste flou beswaar van Cloet Hemming, direkteur-generaal van die pas gestigte departement van plaaslike finansies wat voortaan oor munisipale boekhoudings sal waak. “Honderd en tagtig miljoen rand vir ’n rekenaarprogram? Dis darem ’n bietjie kwaai, of hoe?”
Walther lag dit weg. “In die lig van die chaos met Johannesburg se rekeninge is dit ’n winskoop, Cloet. ’n Horde peperduur IT-slimjanne, die meeste in Indië en Amerika, gaan twee jaar lank aan die ding werk. En met dié soort goed gaan daar altyd iets verkeerd, dan moet ons nóg meer peperduur slimjanne inroep. Personeel wat met die program gaan werk, moet opgelei word. Plaaslike programmeerders wat die ding kan doen, is skaars en nooit onmiddellik beskikbaar nie en dan moet ons weer oorsee gaan soek. Ons moet voorsiening maak vir enige gebeure en vir al die harde werk verdien ons tog seker ’n winsie?”
Walther tuur uit oor die Vaaldam met die frons van ’n bekommerde man. Twee plaaslike programmeerders is reeds gekontrakteer om die hele program te skryf.
“Tog, honderd en tagtig miljoen . . .” Dis die eerste keer dat Hemming deur die verborge byvoordele van sy nuwe pos in die versoeking gestel word en dis begryplik dat sy senuwees sal pla.
“Jy’s reg,” sê Walther. “So ’n netjiese ronde bedrag klink so half bekook. Kom ons maak dit honderd een en tagtig miljoen.”
“E . . .” Cloet Hemming reik na sy Chivas vir die senuwees. Dis die stres van die vryheidstryd, verklaar hy gereeld, wat hom na whisky gedryf het en die rooi aartjies langs sy neus veroorsaak het. Destyds toe hy sy nek ter wille van vryheid en demokrasie uitgesteek het om landmyne op plaaspaaie te plant. Dapperheid word egter beloon, vandaar dié aanstelling met moontlikhede van rykdom wat net ’n agterlike aap sal miskyk. Hy is geen kenner van rekenaarprogramme nie, maar dis nou die ding van die wonderlike nuwe demokrasie: jy hoef nie veel te weet as jy die baas is nie. Daar’s altyd iemand ondertoe om vir flaters te blameer.
Walther ruim gereeld laaste huiwerings soos Hemming s’n uit die weg.
“En nog vierhonderd duisend,” sê hy. “Jy kan vir jou vrou ’n mooi kar koop.”
Cloet knik met ’n frons asof hy die syfer steeds oorweeg, terwyl sy aura gierigheid uitstraal.
“Dit klink beter,” antwoord hy. “Dit sal dan ses miljoen . . .?”
“En vierhonderd duisend wees. Die bankrekening van jou keuse, enige plek op aarde,” verseker Walther hom. “Panama is ’n goeie roep. Hulle begrawe geheime rekenings daar soos die Switsers in die ou dae. Die ses miljoen en vierhonderd duisend kom uit die eerste betaling.”
Dis inspirerend vir ’n gierige siel om die bedrag by herhaling te hoor. Die transaksie is al ’n maand gelede beklink, mét ’n bonussie vir Hemming, maar daar is altyd ’n laaste twyfeltjie. Vandaar die afgelope paar dae in Sol Kerzner se weeldehotel by die Kaapse Waterfront, met private Learjet, limousine en professionele damesgeselskap ingesluit. Dit dra by om ’n smaak vir wat genoeg geld kan koop deeglik te laat wortelskiet.
Nou kan Hemming nie ophou knik nie.
“Laat ek die nodige dokumente so gou as moontlik kry, Walther. Ek sal toesien dat die tenderproses vinnig afgehandel word.” Nog iets wat pla, dring egter deur sy gierigheid. “E . . . sekuriteit? As die verkeerde mense snuf in die neus kry . . .”
“Dit,” verseker Walther hom, “is geen probleem nie. Nie aan ons kant nie.”
“Ook nie aan my kant nie. Ek kan baie monde met ’n miljoen snoer. Dis net . . . die media sirkel deesdae soos aasvoëls vir elke geurtjie van wat hulle korrupsie noem, en as hulle begin raas, jaag hulle verklikkers op.”
“Jy ontvang ’n kommissie, Cloet, nie omkoopgeld nie. Wees wys daarmee – geen skielike uitspattighede nie – en die pers sal nie naby jou kom nie.”
Hulle lig glasies vir mekaar, Walther bly om iets voor sy gesig te hê sodat niks van sy minagting sal blyk nie. Dit was een van die maklikste transaksies sedert hy besluit het die land is nou te koop en dis onaanvaarbaar dat sy intellektuele minderes fortuine vergaar terwyl hy net toekyk. Tog stem die ooreenkoms hom effens onrustig. Hemming is ’n lafaard, en Walther het pas ’n uur of wat gelede ’n kommerwekkende boodskap van sy broer ontvang: daar word in Blatt-sake gekrap deur ondersoekende joernaliste.
Kort ná twaalfuur stryk die Learjet op Lanseria neer. Hemming vertrek in ’n swart BMW wat sy amp waardig is. Walther moet eers ’n paar oproepe maak. Dan stap hy oor na ’n Bell-helikopter in dieselfde kleure as die Learjet. Die vlieënier is gereed en die rotors draai reeds toe Walther inklim. Die Bell styg onmiddellik op en slaan ’n oostelike rigting in.
Ingeligtes in die finansiële wêreld weet dat die donkergroen glasgebou in Parktown die administratiewe sentrum van die Blatts se sakeryk is, maar die hartklop kom vanuit die plaas Glansryk – 420 hektaar grasveld in die Bronkhorstspruitdistrik oos van Johannesburg. Die groot herewoning met die swart mansardedak staan in die middel van ’n ommuurde vierkant, agter ’n lae heuwel en buite sig van enige openbare paaie, met ’n ruim gastehuis langsaan waarmee selfs twee besoekende oliesjeiks geen fout kon vind nie. Agtertoe is die woonkwartiere van die personeel, ’n tweede motorhuis vir nog drie voertuie, ’n werkswinkel, pakkamer en die landingsblad en loods vir die helikopter. Om die geboue is meesal oop grasperk, met min skuiling vir die oortreder wat slim en dapper genoeg is om oor die geëlektrifiseerde muur en verby die veiligheidswagte te kom.
’n Groot Zoeloe in ’n donkergroen uniform wag met ’n gholfkarretjie by die landingsblad. Dis nie dat Walther te ryk en te bederf is om die honderd meter na die huis te loop nie. Hy is net te haastig. Hy is altyd haastig, want elke minuut van die dag het ’n doel. Vandag is hy ietwat haastiger.
By die huis beveel hy dat sy tas na sy suite geneem word. Met sy aktetas begeef hy hom na die gimnasium aan die suidekant van die huis. Hy weet waar hy sy broer hierdie tyd van ’n weekdag sal kry. Hy gaan die ruim, lugversorgde gimnasium binne sonder om te klop, iets wat niemand anders sal waag nie.
Rudi Blatt het pas sy daaglikse sweetsessie voltooi en is nog onder die stort. Agter die riffelglas is sy vae figuur massief.
“Dis ek,” kondig Walther kortaf aan.
“Beter wees.” Rudi het die stem waarvan radiokommentators droom.
Hy draai die kraan toe en dan vul sy 2.01 meter die glasdeur, die produk van oupagrootjie Herklaas se gene. Plus intensiewe kragwerk met apparaat twee uur per dag, vyf dae van die week, en ’n ewe gereelde knertsie van die beste anaboliese steroïede wat geld kan koop. Walther, wat die volgende ritueel al voorheen aanskou het, bedwing sy ongeduld. Rudi vat ’n handdoek langs die stort en droog af terwyl hy nakend na die elektroniese skaal stap en dit aanskakel.
“Ou Herklaas se kaperjolle haal ons in, ouboet,” sê hy.
“Weet jy wat die man daar soek?”
“Wraak. Ons het sy geld.”
In een van haar onnutsige luime het moeder natuur besluit om die matriarg se geniale breingene aan die oudste broer toe te ken en die grootvader se lyfgene aan die jongste. Veral in hul tienerjare het dit nogal wrywing veroorsaak, maar mettertyd het hulle tot ’n vergelyk gekom. Walther sou ophou om Rudolph só subtiel in geselskap te verneder dat hy dit eers teen slaaptyd sou agterkom, en Rudolph sou nie weer vir kuiermense wys hy kan sy ouboet se neus binne tien sekondes in die gras vryf met sy linkerhand in sy broeksak nie.
“Hoe weet jy die man soek wraak?” vra Walther.
Rudi frons vir die 149 kilogram wat die elektroniese skaal aandui en Walther weet hy wil 150 sien. Frons en al verteenwoordig sy broer Adonis se kop op Herkules se lyf, oë so helder blou en onskuldig soos ’n peuter s’n, onder ’n haarbos soos ’n goue kroon.
Rudi grynslag. “Ek het die hele ondersoekspan in die veld. Hulle praat met mense wat die ouman geken het toe hy nog hier rond was. Hy het glo toe al ’n king-size obsessie met sy oupa se diamante gehad. Hy kon uitfreak oor die lae bliksems wat sy oupa vermoor en beroof het. Hy moes ’n ryk man gewees het, nie ’n sukkelgat-elektrisiën nie. Toe loop soek hy sy oupa se spoor. So het hy gesê: spoor. Hy’s hier weg met ’n woonwa, nege jaar gelede al, die godverlate Noord-Kaap in. Braai in die somer, verkluim in die winter. Hoekom? Niemand met ’n breinsel wat nog werk, soek nege jaar deur die Karoo vir bullshit nie.”
Walther verafsku kru taal en hy weet dis bedoel om hom te tart. Hy ignoreer dit en aanvaar die logika met ’n knikkie.
“Is daar rede om te vermoed hy weet waar die geraamtes is?”
Op sy sterfbed het Herklaas Knoessen sy gruweldaad aan sy dogter gebieg, maar hy is ongelukkig weggeruk om te gaan verantwoording doen voor hy kon uitlap waar sy slagoffers rus. Maar op ’n stuk aarde waar fratsstorms al millenniums se geheime oopgespoel het, is daar altyd die geringe moontlikheid dat iemand oor ’n ou skedel kan struikel – die soort sensasie wat joernaliste kan laat wonder hoe Herklaas se nasate deesdae vaar.
Rudi gaan na ’n bank waar sy klere lê, klim in ’n onderbroek en trek ’n wit T-hemp oor sy kop. Al sy klere word vir hom gemaak, nie omdat hy so vitterig soos sy broer is nie, maar omdat hy sukkel om klere te kry wat pas. Hy besoek winkelsentrums hoofsaaklik vir die pret om skares voor hom te sien oopkloof soos die Rooi See voor Moses.
“Nog nie,” antwoord hy. “Ek dink iets anders het hom daar gekry. Raai maar self.”
“Jimmy het my gebel,” sê Walther. “’n Finansiële joernalis het navraag gedoen oor ’n paar van ons maatskappye. Spesifiek oor TauComp en die sagteware vir die departement van gesondheid.”
Jimmy Levinski, finansiële direkteur, is 72 en kan steeds die vierkantswortel van enige sewe syfers binne sekondes uitwerk. Danksy Walther se vrygewigheid is hy ’n ryk man in eie reg, sonder afhanklikes, en hy werk vir die genot daarvan. Sy lojaliteit is bo verdenking.
“Skielik nóg ’n joernalis?” Rudi gluur na sy broer. “Watter ander maatskappye?”
“Hy’t net twee genoem: TauComp en IhalaniTrek. Jimmy se indruk was hy het meer in gedagte.”
“Het hy enige rede gegee waarom hy krap?”
“Hy werk glo aan ’n artikelreeks oor persoonlikhede in die sakewêreld. Hy’t uitgevra oor ons agtergrond en die oorsprong van die familiefortuin. Dis geen geheim dat dit uit Weskusdiamante kom nie, maar hy soek die besonderhede.”
“Wat wou hy weet oor die kontrak met gesondheid?”
“Hoe ons dit so maklik voor goedkoper tenders kon wegraap. Jimmy kon aflei hy het met ander tenderaars gepraat, en daardie mense is kwaad vir ons, Rudi. Hulle soek net ’n vatplek. Een joernalis krap nou in ons verlede en een in ons hede. Dis geen toeval nie. Vet kommissies is net goeie besigheid in Afrika-kultuur, maar so af en toe moet dit korrupsie genoem word en van iemand ’n voorbeeld gemaak word. Hierdie twee voorbarige swape het ons gekies.”
Rudi knoop sy laaste skoenveter en staan op. Hy geniet dit steeds om te sien hoe sy broer terugstaan sodat hy nie sy nek so ver agteroor hoef te buig om op te kyk nie.
“Ek het net vir die Lear gewag,” sê hy. “Ek gaan plaas toe. Calitz sal my vertel wat hulle planne is.”
“Versigtig, Rudi,” maan Walther. “Mense weet hy is daar. As iets met hom gebeur, veral nou met sy neus in ons sake, sal die vingers reguit na ons wys.”
“Moenie jou daaroor worry nie, ouboet. Ek’s nie rêrig stupid nie. Ek sal hom net effentjies wurg.”
Bo in die Wespark-begraafplaas sluit Tromp sy bakkie, want selfs begraafplase is nou ook misdaadplekke. Hy loop vinnig tussen die grafte deur. In Beyers Naudé-rylaan raas die oggendverkeer verby, maar hier is dit rustig, nog te vroeg vir die eerste begrafnis van die dag. ’n Tortelduif koer vertroostend uit ’n sipres.
Aan die voet van ’n swart marmerblad gaan hy staan. Hy kyk na die goue letters. Die verskil tussen Geb. en Oorl. is negentien jaar en 124 dae. Hy het dit uitgewerk daardie reënerige dag toe die kis hier afgesak het en hy alleen eenkant gestaan het. Hy was nie welkom nie, en nou voel hy steeds amper dieselfde ongemak. Dit sal die eerste keer sedert daardie dag wees dat hy tant Mattie weer in die oë kyk en hy het geen idee wat om te verwag nie. Hy wou voorstel dat hulle hier ontmoet, en toe kom die voorstel van haar. Dis paslik. Magnus lê nou elf jaar hier en wag vir afsluiting.
’n Ou Volkswagen, pragtig gerestoureer in glinsterende pers, kom hou agter die Hilux stil. Daar is twee vroue in. Hulle gesels nog ’n oomblik, dan klim een uit met ’n bos geel blomme en ’n waterkan. Geel was Magnus se gunstelingkleur. Die vrou is klein, in haar laat vyftigs. Eers toe sy nader kom, kan Tromp grys in die amper gitswart hare sien.
Sy kom staan stil voor hom en betrag hom ondersoekend. Dit moet só voel om in die beskuldigdebank te staan en wag vir die vonnis.
“Tromp,” sê sy. “Jy lyk goed.”
“Dag, tant Mattie.”
As die weersien vir haar emosioneel is, het sy dit onder beheer. Hoe belaglik is dit dat hy al die jare bang was vir hierdie weerlose klein mensie. Die spanning waarmee hy hier aangekom het, vloei uit hom uit.
“Ek wou jou lankal bel, maar . . .” Sy skud haar kop. “So baie dinge was agterstevoor.”
Ná elf jaar is sy miskien selfs skraler, en daar is nou fyn plooitjies om haar mond en oë wat hy nie kan onthou nie.
“Hoe gaan dit, tannie?”
“Goed. Met my gaan dit goed. En jy?”
“Goed! Voor die wind.”
“Ek weet jy kom elke jaar,” sê sy. “Elke keer twee dae ná die herdenking. Ek kry die blomme altyd hier en toe het ek gekom loer en jou gesien. Vir oom Gawie ook. Elke jaar, een dag ná die datum, is hy hier. Altyd so tienuur se kant, ná die verkeer. Ek het hom al ’n paar keer voorgelê, maar hy weet dit nie. Elke jaar sluip julle twee een na die ander hiernatoe en ek kruip daar eenkant weg. Is dit nie pateties nie? Soos ons al die jare vir mekaar koes, mekaar nie in die oë wil kyk nie. Ons, die skuldiges.”
Sy draai vinnig weg, maar nie voor hy sien hoe sy haar lip vasbyt nie. Sy trek haar skouers ferm terug en haal diep asem voor sy terugdraai na hom. “Dit moet nou end kry. Elf jaar is te lank. Maar ons het jou so sleg behandel destyds, ek was bang jy wil niks meer met ons te doen hê nie. Kan ek seker wees, Tromp? Die sesde is jy hier?”
“Ek sal hier wees.”
Sy knik en ’n halwe glimlaggie vorm. “Hoe wonderlik sal dit nie wees as ons oom Gawie ook hier kan kry nie. As ons drie kan hande vat. Net hier.” Sy sit haar hand op die kopstuk en kyk af na die swart blad. “Ek en oom Gawie raak nie jonger nie. Ek sal so graag die laaste bietjie haatgif wil sien verdwyn voor my einde kom.”
“Kan ’n mens oom Gawie kontak?”
“Ek dink so. Sy ou hengelmaat, Fred Visser . . . jy onthou hom seker nog? Ek het ’n vermoede uit sy vrou se praatjies hy en Gawie het nog kontak. Ek reken ek kan Gawie se selnommer uit hom kry.”
Sy hurk en raak doenig met die blomme. Dit word versigtig in ’n pot aan die kop van die grafsteen gerangskik en die water bygevoeg sonder dat ’n druppel stort. Sy praat met haar rug na hom.
“Ek het gehoor hoe die ding aan jou vreet, Tromp. Ek en oom Gawie het destyds lelike goed vir jou gesê en ek wil hê jy moet verstaan hoekom. Ons was nog leliker met mekaar. Ek het gesê dis hy wat Magnus graf toe gedryf het en hy wou weet watse soort ma is ek dan wat nie kan sien haar kind is op pad afgrond toe nie. Dis hoe ons uitmekaar is. Ná so ’n mooi huwelik van twee en twintig jaar.” Sy sak vooroor op haar knieë, asof sy nie omgee wat die rooi grond aan haar rok doen nie. “Soveel dwaashede . . .” prewel sy.
Tromp weet nie hoe om te reageer nie. Hy wag maar vir haar, en uiteindelik draai sy haar kop en kyk op na hom.
“Een daarvan kan reggemaak word: ek en Gawie. Ons kan en móét mekaar vergewe voor ons ook hiernatoe gedra word. Ek wou hom lankal kontak, maar ek sou dit agter my man se rug moes doen en dit . . .” Sy skud haar kop. “My tweede huwelik was miskien ’n bietjie oorhaastig, maar ’n mens kan so verlate voel, en Arnold was hierdie gawe wewenaar met die seunskind wat ’n ma nodig gehad het. Hy was ’n goeie man. Dominerend, maar goed vir my. Ek kon nie met Gawie regmaak en dalk met Arnold stry kry nie. Agt maande terug is Arnold toe dood, verongeluk met sy motorfiets. Toe dink ek weer as ek Gawie nou dadelik bel, lyk dit mos sleg, asof ek net gewag het dat Arnold onder die kluite moet kom. Ek was ook bang. Gawie was só kwaad toe hy hier weg is, en hy is nie een wat vergewe nie.”
As hy homself jare gelede reggeruk en haar genader het, kon hy dalk die skakel tussen haar en oom Gawie gewees het. Dit het nooit eens by hom opgekom nie. Hy was te jammer vir homself.
“Het jy kinders?” vra sy.
“Nee.”
“Probeer dan net verstaan.”
Sy kom orent, soek na die regte woorde. “Daar is net een ding op Gods aarde erger as om jou kind, jou enigste, aan die dood af te staan, en dis om boonop aandadig te wees daaraan. Ons het geweet ons het Magnus te ver gedryf en dis hoekom hy hier lê. So ’n skuldlas is te swaar vir een paar skouers. Jy wil ten minste ’n deel daarvan afskud op iemand anders. Toe probeer ons dit op mekaar afpak, en jy was ook byderhand. Maar daardie soort skuld kan ’n mens nie aflaai nie. Jy dra dit saam tot in jou laaste dae. Jy kom hiernatoe met blomme en jy vra vergifnis en jy hoop as jy self eendag anderkant kom . . .”
Sy kyk weg oor die grafstene. Hy wonder of hy sy arm om haar moet sit. Hy bly liewer staan.
“Ek is maar te bewus van my skuld,” erken hy. “Ek moes nie die polisie ingesleep het nie.”
Hy sien hoe sy diep asemhaal. Sy was altyd ’n sterk vrou. In sy jeug kon hy sulke selfbeheersing nie herken en waardeer nie, maar nou onthou hy dit. Hy het haar nooit kwaad gesien nie, al het hy en Magnus wát aangevang.
“Jy móés, Tromp, wat anders? Jy het nie geweet Magnus gaan daar wees die aand met die skietery nie en jy het pligte gehad. Dat hy juis daar was . . . dit was ’n wrede bestiering.”
Haar woorde bring net ’n bietjie verligting. Sy weet nie waaroor hy homself die meeste verwyt nie. Dit was geen toeval dat hy Magnus daardie keer met die daggazol betrap het nie. Magnus het gebel en gepleit dat hy net vir ’n paar minute moet kom inloer, maar hy was haastig om by ’n mooi donkerkoppie uit te kom. Toe hy suurderig daar aankom en Magnus openlik op die stoep sit en dagga rook, was dit ’n skok. Hy het kwaad geword, en sy eerste reaksie was: “Is jy van jou kop af, jou blerrie gek!” Op Magnus se: “Raai wat? Ek het vandag wiskunde gedop. Wiskunde se moer.” moes hy gevra het hoekom. Maar die donkerkoppie het gewag, en as toegewyde polisieman het hy geen geduld met daggarokers gehad nie. Uit die hoogte van sy eie selfgenoegsaamheid het hy ’n vermanende preek afgesteek, omgedraai en geloop.
Eers ’n ent weg het hy gesnap dat Magnus hom opsetlik in ’n daggawalm ingewag het. Hy wou bieg. Hy wou wys in watter gemors sy lewe was. Hy was desperaat en hy het hulp gesoek. Soos kleintyd het hy gehoop op die sterker skouer van sy maat wat soos ’n broer was, maar daardie aand was dit nie beskikbaar nie.
Tromp het teruggedraai, maar Magnus het hom gesien kom, die huis binnegegaan en die deur toegemaak.
Jare daarna het Magnus se hartseer glimlaggie daar op die stoep, die verslaentheid van verwerping, in Tromp se nagmerries bly opduik. En die beskuldigende stilte toe Magnus geweier het om die voordeur weer oop te maak. ’n Week of wat later het Tromp gaan verskoning vra en dis lughartig aanvaar. Maar die skade was gedoen. Magnus wou nie meer oor sy probleme praat nie.
Tant Mattie streel oor die marmer. “Ek het gehoor hulle het jou besope op straat gekry en Heilsleër toe gevat.”
“Ja.”
“Is jy ’n alkoholis?”
“Nee. Ek was nooit. Net ’n suiplap.”
“Het dit gehelp?”
“Nee.”
“En nou?”
“Ek is daar verby.”
“Ek is bly.”
Sy haal ’n stoflap uit haar handsak, hurk en begin stof van die marmer vee. Sy werk stadig en hy dink eers dis omdat sy nie haastig wil wees met ’n liefdestaak nie, maar dan hoor hy ’n kreuntjie. Hy gaan hurk langs haar en vat die lap.
“Dankie,” sê sy. “Ek het ’n bietjie artritis in die skouer. Ek sal probeer om oom Gawie in die hande te kry. Ek laat jou weet as ek iets hoor. Maar moenie te veel verwag nie. Jy het destyds net die kant van oom Gawie geken wat hy vir die wêreld wou wys. Hy was rêrig die liewe, sagte mens wat jy gesien het, maar ek kan ook vir jou sê dat hy ’n harde kol in hom het. Dit het gekom van die ou storie van die diamante. Hy was so bitter daaroor, en dis hoekom hy so moeilik vergewe. So, ek weet nie, maar ek vermoed hy het ons twee nog nie vergewe nie.”
“Ek verstaan, tant Mattie.”
Sy leun op die grafsteen om orent te kom.
“Dankie dat jy teruggebel het,” sê sy weer. “Nou gaan ek Fred se arm draai vir die nommer.”
“Ek moes lankal kom praat het. Ek is jammer ek het nie.”
Sy vat haar waterkan en hulle loop in stilte na die pers Volksie toe. Daar reik sy onverwags op, trek sy kop af en soen hom teen die wang. Hy voel dit nog toe sy in die motor gaan klim, sonder om terug te kyk.
Hy staan daar tot die pers karretjie buite sig verdwyn voor hy na die Hilux toe loop. Dit voel soos twintig jaar gelede, die aand voor Kersfees, toe hy na die pakkies onder die Kersboom gaan loer en gesien het syne is so groot soos die boks met die Meccano-stel wat hy heeljaar begeer het. Vergifnis van daardie vrou is kosbaar. Hy kan haar nie weer teleurstel nie.
Net toe hy die bakkie wil aanskakel, lui sy selfoon.
“Hoe lank moet ek nugter wees voor jy kom kuier?” vra Hester Coetzee.
“Hallo, Hester.”
“Weet jy nie dis onbehoorlik vir ’n meisie om agter ’n man aan te loop nie?”
“Jy hoef agter niemand aan te . . .”
“Ek dink aan bobotie en geelrys vir Vrydagaand. My ma het my geleer en sy ken van bobotie. Kan jy halfagt hier wees?”
“Hester, ek het mos gesê jy’s te mooi vir my.”
“Die Kaap se beste pinotage, perfek saam met bobotie, en broodpoeding. Jy kan vroeër kom en help. Dis so romanties as ’n man help kosmaak.”
“Hoor jy my nie?”
“Ek het jou hoor nonsens praat. Moenie bang wees nie. Ek belowe, ek sal klere aanhê dié keer.”
Hy lag voor hy kan keer.
“Halfagt,” sê hy, en verwens onmiddellik sy impulsiewe antwoord.
“Kan nie wag nie. Soentjie!”
Weg is sy. Hoekom, vra hy homself, kan hy nie nee sê nie? Dis ’n fout hierdie.