Читать книгу Blou is nie ’n kleur nie - Carin Krahtz - Страница 10
ОглавлениеSTAMBOOM
“Gaan vra gou vir Nan of sy ’n Zimbo is, toe, dan gee ek vir jou ’n ysie,” sê Rina vir Cornel – ons wil Xbox speel en hy pla.
“Wat moet ek vra?” maak hy seker.
“Zimbo. Of sy ’n Zimbo is.”
Hy hardloop stoep toe. Toe ons weer sien, sleep Nan hom aan sy oor verby ons kamer toe. Ons hoor haar kamerdeur toeklap en ons weet sy druk nou met ’n krom vinger teen die kaart van Afrika wat net nog met genade aan sy Prestik-vetkolle agter die deur hang.
“Rhodesia is where I come from,” sê ons haar uitgeryde rympie vir mekaar. “It was named after a man who did a whole lot to put Africa on the map. It must’ve been an ill foreboding to rename it after some ruin.” Ons lag ons vrek.
“Nou soek ek twéé ysies!” Cornel kom met rooi oë en ’n rooi oor uit Nan se kamer en klap na Rina.
“Vra eers vir Nan oor Vorster wat haar mense uitverkoop het,” sê ek.
“Nee, ek gaan vir Ma-di sê julle’s vieslik!” Hy hol kombuis toe. “Ma-di, Queenie, kan ek ’n ysie kry? Twee ysies?”
Kleintyd het ek altyd gewonder watter bargains mens by Vorster se uitverkoping kon optel. En wanneer ek hom dan sou ontmoet, dié man vir wie Nan so kwaad is. Maar ek was te bang om te vra, want dit het nie geklink of hy welkom sou wees nie. Ek het eers verlede jaar in die geskiedenisklas uitgevind wie Nan se Vorster was.
Vorster is die rede hoekom ons nie ons oupa ken nie en hoekom ons nie meer (of weer) ’n familieplaas het nie. Hy is deel van die rede hoekom Nan met net ’n Datsun-bakkie vol goedjies haar wortels in Suid-Afrika moes kom verplant. MD was net twaalf jaar oud.
“And how did your mother thank me for the sacrifices I made so she could have a better life?” (Nan se stories eindig altyd met dié vraag wat sy nie kan wag om self te antwoord nie.) “She went and married a Vorster so history could repeat itself.”
Vroeër het MD en Paternoster elke keer ná hierdie afsluitingsin in ’n koor die familie-uitleg gedoen: “B.J. Vorster is nie familie nie, Ma!” Maar hulle praat lankal nie meer uit een mond nie.
“You married a low-class man, Deidre,” sê Nan minstens duisend keer op ’n dag. Dié dat sy Ma-di glo gedwing het om ons na koninginne te vernoem. “The least you could do is to give your children names with a royal touch to make up for their father’s genes,” het sy glo gesê.
Alexandrina Victoria, dis ek. Vernoem na koningin Victoria. Maar Pa is nie een vir royal airs nie, soos hy sê. Vir hom was ek van altyd af sommer net Pops.
Die queen is Elizabeth Regina – Regina omdat Nan ook Elizabeth is. Sy was fynpikkewyn daarmee totdat die kinders haar Vagina begin noem het. Toe het sy dit self verkort na Rina, want sy’s niemand se Vagina nie.
Teen die tyd dat Cornel gebore is, het Nan seker al gesien niks aan ons is royal nie. Dié dat sy nie daarop aangedring het dat hy iets soos Tsaar Kerpoefski genoem moet word nie. Hy’t sommer net Paternoster se name gekry: Johannes Cornelius.
Maar Cornel se naam is soos goggagif: dit maak enige teken van lewe in hierdie huis dood. Van gesprekke, tot oë, tot harte. Ek wonder waar is hy vannag, die Olifant in die Vertrek.
Om en om rol ek met die serenade van gewone krieke, die molkrieke wat te slim was om hulle te laat vang (Paternoster sê hulle klink soos die telefone uit sy kinderdae), die geroestehekpaddatjie en die queen wat later huil in haar slaap. Deur haar toe deur hoor ek Nan se snorke soos ’n stoomtrein wat teen ’n opdraande uit sukkel. En hoor ek miskien die sonbesie wat mense vandag so by Paternoster se werk geïrriteer het?
Af in die gang hoor ek hoe MD agter ’n toe deur met dowwe woorde aan Paternoster beitel. Ek hoor sy stiltes. Al verstaan ek nie Paternoster se woorde nie, weet ek hy is reg: die aanslag is totaal.
Iewers tussen hierdie wete en die nanag se geluide raak ek tog aan die slaap.