Читать книгу Blou is nie ’n kleur nie - Carin Krahtz - Страница 9

’N TOTALE AANSLAG

Оглавление

Die droogte het drie jaar gevat om te groei tot die krisis wat dit nou is. Die molkrieke vreet groot geel kringe in ons yl grasperk. Die honde se pie brand geel kolletjies in die kikoejoe omdat die waterbeperkings maak dat niemand durf natspuit nie. En van reën is daar geen teken nie.

In een van haar messteke na Paternoster (en daar’s baie) sê MD dié aand aan etenstafel die kolle op die grasperk herinner haar aan Van Gogh se Sterrenag. Paternoster hap nie aan haar aas nie, maar onder sy snor kan ek sien sy linkermondhoek krul afdraande. Ek weet sy irriteer hom vet.

Eers nadat ons Queenie help afdek het, reageer hy, vermoedelik om te probeer keer dat MD die toestand van die tuin netnou tydens die rugby-uitsending probeer bespreek. Of erger nog: daarop aandring dat die tuinprobleem daar en dan opgelos word.

“Van Gogh se Sterrenag is in hoofsaak nie geel nie,” sê hy, asof terloops. Hy vat ’n paar lang teue uit sy bierbottel. “Ek is deeglik bewus van hoe swaar die tuin met die droogte kry, MD. So hou op om aanmekaar my hol met ’n lang, vuil vingernael ál op dieselfde plek te krap.”

“Dis ’n lont, my liewe man,” kap sy droogweg terug.

Sy sê lankal sy verwag nie meer koesterwoordjies uit sy mond nie. Sy koesterwoordjies het glo opgedroog skuins nadat sy blinkoog vir hom die jawoord gegee het. En ons twee meisiekinders moet mooi dink voor ons sommer net afhaak met ’n man met ’n gladde bek, ’n bank-job en skoon skoene, want trou is vir altyd. Maak nie saak van watter kant af jy die vooruitsigte probeer pienk verf nie, trou is nie ’n storie van kies ’n perd met ’n gesonde gebit, betaal en ry ’n perskepienk sonsondergang binne nie. Ons moet onthou dis maklik om te trou, maar amper onmoontlik om getroud te bly.

“Jy dink dis my vinger wat jou krap, Paternoster, maar dis ’n dinamietlont wat jou nog eendag van daai rusbank af gaan lanseer – dwarsdeur daai TV waaraan jy so vasgegom is.”

Paternoster vererg hom vir haar en lig homself van die bank af op. Dis ses minute ná afskoptyd, die Bokke teen die Ozzies.

“Kom ek bewys vir jou ek is nie verslaaf aan TV-rugby nie.” Hy gooi sy arms in die lug.

Nou is die tyd om in wonderwerke te begin glo. MD trek Sasha en Sushi se mandjie tot langs haar stoel, murmel ’n paar troetelwoordjies sodat hulle moet stil lê, sit haar leesbril op, tel ’n tydskrif van die koffietafel af op en ignoreer Paternoster se wilde gebare.

Hoe hy dit ook al haat, sedert die ongeluk laat hy maar altyd toe dat MD aan hom voorskryf wat hy moet doen en dink. “Ek moet nog die rede vir my onderdanigheid ondersoek,” sê hy op bitter dae (waarvan daar al hoe meer is). “Miskien moet ek nie te diep grawe nie, want as ek by die antwoord kom, gaan ek haar dalk skei – en wat dan van haar ma?”

Dié vraag is bra skynheilig. Almal weet tog hy brand om Nan se besittings uit te dra en op die sypaadjie te los. Nan is die Olimpiese driekampkampioen in mor, moan en mislik wees. Nee wat, dis oor hy agter sy bruin persoonlikheid wegkruip dat Paternoster dié vraag vra. Bruin soos in vaal, soos in sonder guts, soos in ’n geoliede masjien wat op sy ratte draai sonder om te wonder oor die sin daarvan. Dit het net drie jaar gevat vir my en die queen se narpappa om homself soos ’n trapsuutjies te kamoefleer met die droogte se bruin.

“Paternoster sal MD nooit los nie,” het die queen eenkeer gesê toe ek ontsteld was oor sy dreigemente van egskeiding. “Hy’t my te nodig.”

“En vir my?” het ek gevra.

“En vir my?” het sy gekoggel. “As hy MD los, sal sy ons saamvat en dan gaan hy skyt. MD sal weet hoe om hom kaal uit te trek in die hof en hy sal nie haar tipe onderhoud kan betaal nie. Behalwe vir die huis, besit hy nie ’n dooie duit nie – ek wed jou sy verdien meer as hy.”

“Sal sy hom los?”

“Ook nie. Dit sal sleg wees vir haar career image.”

MD is siek goed in die hof. Sy’t nie genade vir kansvattermans wat hul vrouens verneuk of nie onderhoud vir hul kinders wil betaal nie. Dit het ek met my eie oë gesien toe ek eenkeer met take-a-girl-child-to-work-dag saamgepiekel het. ’n Man het hom liederlik met haar sagte stem en pienk pakkie misgis. In trane het hy daar gestaan, dit het gelyk of sy hande onwillekeurig probeer keer vir sy kroonjuwele. Dis my ma daai: ’n bulldog in pastelkleurige werkspakkies.

Die queen is reg. Die naaste wat Paternoster ooit daaraan sal kom om MD met al haar kennis oor egskeidingswette te los, was toe hy ons troetelnaam vir haar, Ma-di, verkort het na MD. “Managing Director,” sê hy, “dís waarvoor dit staan. Sy’s gestuur om my te manage.”

Hy’t haar so begin noem die lente van die ongeluk, toe hy so bruin en sy so bossy begin raak het. Mettertyd het die naam aan ons ook afgesmeer. Hy noem haar amper nooit meer Didi nie – net wanneer sy irritasievlakke naby aan kookpunt is.

“Ek weet nie hoekom jy nog nie die MD by Muller Mohlake & Vermaak is nie,” brom hy, hard genoeg dat sy hom móét hoor. “Jou sweepklappery gaan nog my rug breek.”

“It’s high time someone gets you off your backside,” chip Nan in. “You can thank your lucky stars you’ve been beneficiary of a system which automatically propels even the most inert specimen of humankind forwards and upwards. What with BEE and your useless pale face you could still have been working at the enquiries desk at Trust Bank instead of getting a bank manager’s salary.”

Party dae voel dit of ons in die Gaza-strook bly oor al die missiel-aanvalle wat Nan op Paternoster loods. Ek verstaan nie hoe hy dit regkry om sulke beledigings te ignoreer nie. Hy kyk deur Nan of sy ’n sifdraad voor ’n plaasdeur is.

“Ek klap die sweep, jy spring. Jy spring, ek is gelukkig,” praat MD bo-oor Nan. “Ek verwag nie ’n wonderwerk nie, maar probeer tog net iéts aan die grasperk doen voor jou oudste se verjaarsdagpartytjie.”

Paternoster sleep homself met nog ’n bier garage toe om ’n emmer te gaan haal. Ek kan nie anders as om te wonder of hy nie dalk eendag nog bietjie miergif in Nan se teesakkies gaan toewerk nie, Daisy de Melker-styl. Maar sonder twyfel gaan hy nou eers ’n dampie maak. Hy mag al só lank nie meer in die huis rook nie dat ek seker is MD dink hy het opgehou. Vir Nan, wat stook vir die eerste span, geld ander reëls: sy mag in haar kamer stook soos Van Hunks en die duiwel. Ek dink sy kweek longkanker vir ’n stokperdjie.

Paternoster gee nie om dat ek weet hy steek sy sigarette in die toolbox weg nie, of dat daar ’n bottel brandewyn agter die leë Consol-bottels is wat Nan gebruik as sy jêm kook nie. Hy weet ek sal nie praat nie.

Daar is min dinge waaroor ek nog praat. Ek moes op die harde manier leer dat ’n stil bek ’n heel gesin is. En dat sekere dinge nie bestaan as mens nie daaroor praat nie. Soos die Olifant in die Vertrek (kodewoord slurp).

MD het my belet om ooit weer iets daaroor te sê, want dit het die queen vir lank in die bed laat piepie, en van toe af haat sy my. En sedert die koms van die Olifant in die Vertrek, stuur die queen se punte elke kwartaal skokgolwe deur ons huis. “Akademiese agterstand.” Dis die woorde wat altyd eerste afgevuur word wanneer sy ’n rapport huis toe bring, en dan kyk almal grootoog vir my. Dis oor als my skuld is dat ek nie sommer meer praat nie.

“Dis nou die laaste keer dat ek jou waarsku,” het MD my een oggend met haar plakkie in die badkamer gedreig. “Niemand lag as jy so van jou broer praat nie. As jou suster se bed weer nat is, foeter ek vir jou. ”

Toe’s die queen se blaasprobleem skielik my probleem. En natúúrlik het sy dit weer gedoen: haar bed natgemaak. En weer en weer. Al het ek NIKS gesê nie en haar hóé baie gesmeek om ’n draai te loop voor ons saans gaan slaap. Natuurlik is ek meer as een keer gefoeter ook – darem nie dood nie. Ek dink MD weet dis vir my ’n erger straf om voor haar te moet buk as om ’n vlammende sitvlak te hê.

Die queen was lank by dokters en ’n sielkundige, want tieners is veronderstel om blaasbeheer te hê. Niemand kon ’n antwoord vir die probleem kry nie. En sy het dit al só op my uitgehaal, dis net nie snaaks nie. Enigiets van ignoreer, tot gooi met goed, tot skriftelike wense soos:

•Ek wens jy word môre-oggend wakker met ’n baard. (Ek kon dít nog vat.)

•Ek hoop jou tieties groei snaaks sodat jy ’n grote en ’n kleintjie het en nooit ’n T-hemp kan dra nie. O nee, wag: jou borskas is mos ’n strykplank. (Dís ’n lae hou, veral ná MD se mastektomie.)

•Of die vieslikste: Ek hoop jy kry parravratte. Smiley face, smiley face. (Wat’s met die gesiggies???)

Die ergste van alles is dat ek lank gedink het sy bedoel vratte kry van aan paddas vat. As ek vroeër geweet het wat sy bedoel, sou ek dit dadelik vir MD gewys het, maar nou’s dit soort van drie jaar te laat om stories aan te dra. Sy luister buitendien deesdae eerder na die stories wat kliënte vir haar in die egskeidingshof aandra.

“Ek het nou genoeg van jou gehad,” het MD een oggend gesê toe you-know-who se you-know-what weer you-know-how was. “Jy en jou crazy praatjies oor jou broer kom saam sielkundige toe.”

Sielkundige soos in shrink. Ek het sommer van die begin af al gesien ek en die man gaan nie jel nie. Hy’t heeltyd soos ’n mummie sit en notas maak, nie eens opgekyk nie. Hoe sou hy kon verstaan dat Slurp nie naastenby so onwerklik soos die res van my familie is nie?

Ek het nie eens probeer verduidelik nie. Gelukkig kon ek die meeste van die tyd wegkom met my “gevoelens teken”: sirkusperdjies, tuimel-akrobate en narre met neuse in groen. Nooit het ek hom gesê dit was herinneringe aan daardie eerste Sondag in September drie jaar gelede nie.

“U dogter makeer niks,” het die shrink uiteindelik vir MD gesê, “sy het net ’n wonderlike verbeelding. Kunssinnig. Sy sal eendag goed vaar in ’n kreatiewe beroep.”

Wat ’n grap. Vir die queen het hy ook niks beteken nie. Sy het tot nou die dag toe nog die dokter se blaaspilletjie gedrink en toe darem die probleem min of meer ontgroei, behalwe vir gereelde blaasinfeksies.

In die tyd van die shrink het ek leer stilbly. Ek was in elk geval dik van verduidelik dat Slurp niemand skade wil aandoen nie. Hy wil net deel van die gesin voel.

Waar was ek nou weer? O ja.

Die queen duik onmiddellik vir die remote en die rusbank en verander die TV-kanaal toe Paternoster die gang af is. Dit lyk nie of die laaste twee vraestelle van die rekord-eksamen haar pla nie.

“Moet jy nie gaan leer nie?” vra MD.

“Ek vat ’n break.”

“Jou hele jaar lyk vir my na ’n break,” sug MD. “Ek weet nie wat volgende jaar van jou gaan word nie.”

“Moenie daaroor worry nie,” sê die queen. “Ek gaan ver, ver hiervandaan af weggaan. Julle sal my nie gou weer sien nie.”

“I don’t know why you have to hate us so much,” sê Nan.

“Gaan lê in jou kamer en dink nuwe spookstories uit, toe,” praat die queen met my en ignoreer vir Nan. “Jy mag hierdie nie kyk nie.”

Agttien ouderdomsperk. Nie dat sý al agttien is nie – dis nog ’n maand voor haar verjaarsdag, om presies te wees – maar vir sekere dinge is die grootmense in die Vorster-huis gerieflikheidshalwe siende blind en horende doof.

“Kom swem eerder saam met my, toe,” smeek ek.

“My beenhare is nie geskeer nie.”

“Dis donker, niemand sal sien nie.”

“Ek het my period.”

Te veel inligting – hééltemal te veel. Die queen het ’n manier om my uit te gross, letterlik. En sy doen dit omdat daar by my nog nie ’n teken van …

“Dis te warm vir ’n bra,” sê sy toe sy besef sy kan my met nog iets uitfreak. Sy wriemel haar 34C-koppies deur haar mousgate uit en kettie die bra gang-af in die rigting van ons kamer. Sy weet goed dis ’n teer puntjie by my dat ek nie bra’s hoef te dra nie, want size 32AAA-minus bestaan nie.

“Al wat gaan help vir warmkry is swem,” por ek haar aan, maar my woorde is wasem in die wind.

“I don’t know how you can watch all this violence,” help Nan die queen om die onderwerp weg te stuur van die water en ’n moontlike verwysing na kodewoord Slurp. Sy dink mos ek is stupid. Sy leun nietemin gemaklik terug in haar stoel en begin saam TV kyk.

Dis asof die pratery oor swem almal weer bewus maak van die hitte. MD skop haar sandale uit en begin haarself koel waai met haar tydskrif.

“Won’t you turn that fan so I can feel a bit of cool air on my face?” vra Nan. “This heat will be the death of me yet.” Sy grawe ’n sakdoek iewers uit haar onderklere en vee die straaltjies sweet in haar haarlyn en in haar cleavage af.

Paternoster kom terug met die emmer en gaan maak dit in die badkamer vol met Nan se grys, seperige badwater van gisteraand wat al heeldag lê en wag om vanaand oor die plante gegooi te word.

In ruil daarvoor dat ek die swembad een keer per week tot by die eerste ry teëltjies mag opvul, moet ek en die queen ons lywe saans deur daardie selfde badwater trek: sy natuurlik eerste, omdat sy ’n hengse tantrum gegooi het oor ek glo altyd my sin kry. Queenie kry elke aand ’n skotteltjie met twee liter warm water waarmee sy haar in haar kamer kan gaan was – skoon water wat ek haar beny, want MD weier dat ek myself elke aand skoon swem.

“Gaan haal vir my die Sunlight Liquid, Pops, en bring vir jou ’n Checkers-sak,” sê Paternoster.

Hy spuit ’n goeie skoot skottelgoedseep in die emmer badwater en roer dit met sy hand tot die skuim dik bo-op lê. Dan maak hy sy kopflits op sy voorkop sit en gee vir my die handflits. Sasha en Sushi spring ál om ons van opgewondenheid.

“Kom ons gaan soek die pestilensies,” sê hy. “Kry net gou vir my nog ’n bier.”

Eintlik kon hy my maar net gevra het om op ’n molkriekjag te gaan terwyl hy rugby kyk, maar nou wil hy mos vir MD wys hy sál nie rugby kyk nie. En dalk verlang hy na … kodewoord Slurp.

Ons vang seker maklik twintig molkrieke. Paternoster het my en Slurp van kleins af goed geleer: tjoepstil staan en luister, seepwater gooi waar mens hulle hoor en wag tot hulle uit hul gate kruip. Dan vinnig met ’n hand in ’n tuinhandskoen opskep en in die sak gooi.

“Hulle ruik lekker suur, nè?” probeer ek opgewonde klink soos Slurp altyd was. Dalk maak dit Paternoster se verlange stil.

“Daar’s niks lekker aan hulle nie. Die goed is net sulke pestilensies soos sprinkane,” sê Paternoster. “Vreet hulle pad oop net waar hulle kom.”

Molkrieksuur is baie soos die suur onder ons dak. ’n Suurder gesig as Nan s’n sal jy nêrens kry nie, MD en Paternoster het drie jaar laas gelag, en van die queen praat ek nie eens nie. Haar bek is permanent opgeblaas.

Ons bind die sak molkrieke toe en gooi hulle in die vullisdrom saam met die tuinafval. Daarna pomp Paternoster vir ons elkeen ’n lilo op. Myne laat hy op die swembad dryf, sy eie sit hy op die plaveisel langs die swembad neer soos ’n matras. Hy sal seker nooit weer swem nie, maar dis nietemin lekker dat hy naby lê terwyl ek in die donker water afkoel.

“Kom kyk saam met my na die sterre, Pops,” nooi hy ná ’n ruk.

Ek klim op my lilo en dryf tot teen die kant waar hy lê. “’n Paddatjie wat nie uit die water kan kom nie, shame.” Ek help die paddatjie uit. Hy spring-spring in die rigting van ’n bedding.

“Die arme goed kom swembad toe, want waar anders moet hulle water kry?” sê Paternoster. Hy hou my lilo vas dat dit nie wegdryf nie. “Waar’s die Suiderkruis?” maak hy of hy nie weet nie – soos toe ek en … toe ons kleiner was.

“Daar,” wys ek. Dis maklik, want dis donkermaan en om die een of ander rede brand die straatligte nie. Ek trek met my oog die lyn af om Suid te kry. Ek soek-soek deur die lug na ander bekendes, tel die Sewe Susters, maar kry soos gewoonlik nie al sewe nie.

“Kyk, ’n verskietende ster,” wys Paternoster.

Ek sien dit net betyds. “As ons nou iets wens, gaan dit waar word.”

“Oukei, een, twee, drie, wens!” Hy knyp sy oë toe.

“Ons mag nie sê wat ons wens nie,” sê ek.

Een wens is te min vir alles wat ek wil hê: dat ek en Rina weer soos sussies sal wees, dat Nan net één keer mooi met Paternoster moet praat, dat MD en Paternoster weer liefde sal vind …

Ek draai my kop na Paternoster om sy gedagtes te probeer lees, miskien omdat ek hoop hy wens min of meer dieselfde ding. Maar ek sien sommer hy wens net vir reën. In sy kop is ’n reënwens seker makliker om te bewaarheid as enige van my wense.

“Daar’s binnekort ’n spesiale biduur vir reën by die kerk. Hierdie droogte is ’n katastrofe, my kind,” sê hy. “Weet jy hoe warm was dit vandag by ons by die werk?”

“Veertig grade?” raai ek.

“Só warm dat ’n sonbesie in ’n bedding buite die ingang gesing het. Nie dat mens dit meer ’n bedding kan noem nie. Eens op ’n tyd was dit ’n bedding vol rose. Nou is dit net onkruid en sonbesie, onkruid en sonbesie – die klank van hierdie land. Weet jy hoe hard lawaai ’n sonbesie? Daar was mense wat gekla het.”

“Mense raak geïrriteerd in die hitte, dan kla hulle oor simpel goed,” sê ek.

“Dan kom mens saans huis toe en jou vrou en jou skoonma neem oor waar die sonbesiegeluid opgehou het om ’n pad deur jou brein te saag. En wanneer jou vrou en jou skoonma ophou, dryf die molkrieke en gewone krieke mens tot raserny. Ek sê jou, my kind, dis die natuur teen die mens, mens teen mens; familielede teen familielede. Hoor jy daai paddatjie wat jy gered het? Hy gaan ons heelnag mal maak met sy geluid soos ’n geroeste tuinhekkie wat oop en toe, oop en toe. Hoor my lied, Pops, dis ’n totale aanslag.”

Ek is nie seker wat totale aanslag beteken nie, so ek sê liewer niks.

Stilte.

Ek soek vir nog verskietende sterre, maar sien net ’n satelliet wat stil oor die hemelruim trek. Hoe gaan daardie gedig nou weer …? “Dis altyd somer as jy die sterre hoor tsau sê,” sê ek hardop.

“Hoe bedoel jy?” vra Paternoster.

“Dis ’n San-gedig wat ons nou die dag in die klas gelees het. Hulle sê die sterre sê tsau.”

“Tsau,” proe Paternoster die woord.

Ek luister en luister, maar tsau is ’n woord iewers ver buite hoorafstand.

“Nee wat,” sê Paternoster, “in dié land sal jy nooit as te nimmer ’n ster hoor praat nie.”

Die queen staan in die skuifdeur. “MD het my gedwing om terug te skakel na die rugby toe. Die Bokke gaan verloor, vir dié wat omgee,” roep sy. “Ek persoonlik kan natuurlik nie worry nie.”

“Soos ek sê: dis ’n totale aanslag,” sug Paternoster en staan op van sy lilo af. “Kom ons gaan kyk die laaste paar minute van die game. Kry net eers vir my nog ’n bier.”

Skielik lyk dit of die krag wil afgaan. Vir ’n minuut of wat is alles dofgeel, maar dan kom dit weer reg.

“Sien,” sê Paternoster, “deel van die aanslag. Hulle tart mens selfs met brownouts.”

Vir ’n wonder sê MD ek hoef nie te bad nie omdat ek geswem het. Maar dis omdat sy weet ek sal nie vanaand in die queen se … in daai water bad nie.

Al is my hare nat, is dit steeds te warm om te slaap. Die queen rol ook nog rond.

“Onthou jy ons grappies met Nan oor Zim?” fluister ek vir haar.

“Ek wil nie daaroor praat nie. Los my uit.”

Dis oor Slurp deel is van dié storie en sy bang is vir piepie. Onthou is vir my om alleen te doen. En in stilte.

Blou is nie ’n kleur nie

Подняться наверх