Читать книгу Om Helena te hoor - Carolyn Morton - Страница 5

Оглавление

*

Een

MAANDAE IS SOOS wanneer jy gaan kamp en met ’n leeu in jou tent wakker word. Al hoe jy dit kan oorleef, is om onder die beddegoed weg te kruip en daar te bly lê sonder om enige skielik bewegings te maak tot dit Dinsdag is. Want as jy probeer opstaan, loer Maandag vir jou en lek sy lippe af in af­wagting.

Soos vandag.

My selfoon se wekker lui, ek kreun en druk my gesig met my arms toe. Ek wil dit afsit, maar die foon het iewers onder die bed ingeval, en ek is nie lus om op te staan en dit te soek tussen al die klere wat ek te lui was om weg te pak nie.

Ek druk my kussing oor my ore om die wekker se geraas stil te maak en knyp my oë styf toe totdat ek iemand aan my beddegoed voel trek.

“Opstaan, Helena! Ek het belowe ek sal jou by die skool kry.” My ouer broer, Henk, wat in matriek is in ’n ander skool as ek, ignoreer my gebrom en pluk die verbleikte kombers uit my hande sodat ek moet opstaan.

“Ek is siek,” kla ek en hoes onoortuigend toe hy by my kamer uitloop. Dit was partykeer genoeg om my ma te oortuig ek moet by die huis bly, maar vandat sy moes begin werk het, ry sy en Pa soggens al voor ek opstaan.

“Ek het koors,” roep ek flou agter Henk aan, en dan skree ek nog harder, ingeval hy nie gehoor het nie. “KOORS!”

Vyftien minute later beskryf ek nog my simptome terwyl ek by die voordeur uitgestoot word. My broer is so haastig dat ek eers by die skool besef ek het my kos by die huis vergeet. Eintlik het ek heeltemal vergeet om dit te maak. Voorheen het Ma dit altyd gedoen, maar nou het sy nie meer tyd daarvoor nie.

Hierdie Maandag is so blou soos ek verwag het. Ek is halfdood van die honger, dop amper ’n wiskundetoets en raak pouse so deurmekaar met die kombinasie van my sluitkas se slot dat die opsigter dit moet oopsaag.

Ek stop al die boeke in die sluitkas in my sak en strompel terug na my klas. Toe ek die swaar sak hard op my skoolbank neerplak, skeur die simpel ding se nate oop. Die bank kantel om en spoeg al my boeke op die vloer uit.

“Eina!” gil ek toe my wiskundeboek, wat seker deur ’n ge­wigopteller ontwerp is om sy spiere mee op te pomp, op my skoen val. Ek gryp my voet en spring op een been na die vensterbank om daarteen te leun sodat ek nie my balans verloor nie.

Deur die klaskamer se vensters sien ek die sportgronde. Dit lyk of die hele stad se leë tjips-pakkies daar tussen die venynige duwweltjies rondwaai. Vir kinders wie se ouers nie tekkies met dik sole kan bekostig nie, is sport by ons skool soos ’n episode van Fear Factor.

Sperare Hoër, my skool, is by die oorspronklike laerskool aangelas en het begin as opslaangeboue op die leë stuk grond langsaan. In ’n stadium het ’n hoof met ambisie genoeg geld by­mekaargeskraap vir meer permanente geboue en die hoofde ná hom het elkeen nog bietjie vir bietjie aangelas.

“Ons skool lyk soos Lego-blokkies wat nie bymekaar pas nie,” het ek eenkeer vir ’n onderwyser gesê en die hele klas het ge­lag. Mense sien my gewoonlik nie eens raak nie.

Die hoërskool deel nou nog die sportgronde met die laerskool, en ek kan sien hoe hardloop die kleintjies laggend daar rond, en stamp en pootjie mekaar soos hulle speel. Naby die kleintjies se swaaie is daar ’n houtbankie, effens eenkant en besig­ om te vrot, maar nog gemaklik, waarop ek gewoonlik pouses gaan sit.

Ek draai weg, hinkepink terug tot by my lessenaar en buk op my knieë af om my musiekboek op te tel. My klavierjuffrou maak my dood as daar een merkie op is.

“Helena Booysens,” hoor ek ’n stem agter my. Ek trek my skoolromp wat ek altyd oprol om dit korter te laat lyk vinnig af en voel hoe my gesig rooi word. “Wat maak jy? Jou bank is in my pad.”

Hoekom moet Konrad van alle mense my so sien! Hy tel my bank ongeërg op sodat hy kan verbykom en smyt die naaste boek net so ongeërg daarop neer. Die arme ding gaan nou permanent eselsore hê. Maar dis oukei, dink ek terwyl ek nog van my goed optel, solank hy nie agterkom my gloeiende wange pas perfek by my gemmer poniestert nie. Of dat ek van onder die bank na sy gespierde kuite geloer het nie.

“Wat soek jy op die vloer? Ekstra kleingeld?” vra hy lag­gend oor sy skouer terwyl party van ons graadneges by die klas begin inslenter ná die klok gelui het. Konrad se kleurbaadjie is die enigste een met erebalkies vir sport én akademie, en hy trek dit trots reg terwyl hy kyk hoe ek sukkelend regop kom.

Ek kyk af na my knieë en vee hulle vies af. “Ek het my boeke laat val,” mompel ek. My bene is skoon, maar nou is al die vullis aan my hande. Ek lyk soos ’n skoorsteenveër uit Mary Poppins.

Toe June inkom, rek Konrad hom tot sy volle lengte en praat harder om seker te maak sy hoor hom. Sy lyk soos ’n model op ’n loopplank in Parys of New York, met haar lang, elegante nek en hare wat tot op haar heupe hang. Haar bank is naby ’n groot plakkaatprojek ter ere van die swemmer Natalie du Toit wat al soveel keer goud gewen het. June wen vir alles in haar lewe goue medaljes, en mense soos Konrad is haar getroue bewonderaars.

“Kyk, ouens, ons het ’n nuwe skoonmaker!” bulder Konrad en ’n Meksikaanse laggolf spoel oor die klas. Dit voel of ek daarin verdrink. June lag nie, maar sy lyk altyd beeldskoon, selfs wanneer sy ernstig is. Sy laat Konrad partykeer toe om haar skoolsak te dra; ek stof my pa se gaar ou army-sak af en probeer dit skaam agter my bank wegsteek.

“Hei, Helena, sal jy ons huis kom skoonmaak?” vra Joe. Hy bly saam met sy ouma naby die industriële gebied en langs die slagpale. Konrad het eenkeer gesê toe hy vir hom gaan kuier het, kon hy skaars asemhaal, al was die vensters toe.

Sonder om twee keer te dink, vat ek die kans om die aan­dag van my af te lei. “Nie voor jou bure vegetariërs word nie,” kap ek terug.

June lag steeds nie.

Joe laat sak sy kop en kyk vinnig weg. Ek het hom nog nooit so seer sien kry nie. Laas jaar het my baba-nefie siek geword en ’n week later is hy dood. By die begrafnis het sy ouer broer met sulke krom skouers in die heel voorste bank gesit en geweier om vir enigiemand te kyk. Ek sien nou iets van hom in Joe en wens ek kan my woorde terugtrek.

Konrad glimlag smalend. “Jy dink jy’s slim, skoonmaker!” sê hy en kies Joe se kant.

My keel trek toe en dit voel of ek wil verstik of huil, maar nie kan nie.

Konrad flits sy knieknak-glimlag vir June. Steeds ernstig beweeg sy tot waar hy staan, maar loop dan verby hom terwyl sy liggies bloos. Hy haat dit wanneer sy nie vir sy grappe lag nie, maar dit laat hom net harder probeer om snaaks te wees. June tel die laaste twee boeke wat ek laat val het op, stof dit versigtig af en gee dit dan vir my.

“Reg, almal, sit asseblief.” Mevrou Vermaak het intussen ingekom en vat-vat aan die yslike groot leesbril wat om haar nek hang. Sy haal bordkryt uit en begin skryf met haar neus amper teenaan die bord.

“Wonder wat gaan Blindemol vandag alles gorrel?” brom Konrad.

Mevrou Vermaak is gewoonlik baie streng; as ons kla oor goed, soos te veel huiswerk, sê sy net ferm: “Dis die lewe,” en dan moet ons dit in elk geval doen. Maar wanneer Konrad sulke aanmerkings maak oor haar groot bril of hoe naby sy aan die bord staan, word sy bloedrooi en sê niks.

Ek voel altyd ongemaklik oor sy opmerkings, maar ek plak nogtans ’n glimlag op my gesig om weer in sy goeie boekies te kom. Dis verniet; sy oë glip verveeld verby my en ek weet na wie hy kyk.

Mevrou Vermaak wys met haar kryt na waar sy in groot letters op die bord geskryf het:

Swangerskap & Ouerskap

Die ouens knipoog vir mekaar en grinnik onderlangs. Mevrou Vermaak het haar skootrekenaar skool toe gebring en sy kliek op ’n video. Daar verskyn ’n grys, onduidelike beeld wat soos ’n klein, kloppende wurmpie lyk.

“Wie kan vir my sê wat dit is?”

Joe en Konrad fluister agter hulle hande en ek weet sommer dis allerhande onder-die-belt voorstelle. Mevrou Vermaak maak hulle met ’n kwaai kyk stil.

“Dit,” sê sy en wys met haar kryt na die beeld, “is jy. Vier weke ná bevrugting.”

“Dit lyk nie soos ’n baba nie,” brom Konrad onbeïndruk. “Meer soos ’n stokkie? Wat’s daai weird grys ding wat so aanhou beweeg?” Hy maak sy vuis oop en toe asof hy Twinkle Twinkle Little Star opsê.

“Dis die hart.”

Die ritmiese sametrekkings hipnotiseer my. Ek staar daarna, teen my sin gefassineer. Ek wonder of ek op vier weke so gelyk het. Min gepla oor enigiets of iemand, ongesteurd deur opmerkings of kritiek oor hoe ek lyk.

Teen die tyd dat ek al hierdie gedagtes afskud, trek mevrou Vermaak al by vitamienaanvullings en voorsorg vóór swangerskap.

“Watter inenting is absoluut noodsaaklik voor ’n vrou swanger raak?” vra sy.

“Griep,” kom dit met groot selfvertroue van Joe. Hy onthou die verpleegster wat met die Wêreldbeker by ons skool was om almal teen varkgriep in te spuit.

“Dink aan ’n siekte wat die baba kan skade aandoen,” pro­beer mevrou Vermaak help.

“Geelkoors,” grinnik Konrad, wie se pa hom verlede jaar Kenia toe gevat het vir die lang vakansie. Almal giggel.

June staar vir ’n oomblik voor haar uit en dink eers voor sy praat. Ek dink nie sy doen ooit iets impulsiefs nie.

“Masels?” stel sy voor.

Ek sien Konrad kyk na June soos my broer Henk na Karen kyk wanneer sy verby ons huis skool toe ry: sy oë is glaserig en sy mond hang effens oop asof sy ’n aarbei-smoothie is.

My hand skiet vinnig op.

“Duitse masels,” sê ek baie seker van myself. ’n Paar jaar gelede is al ons meisies daarteen ingeënt, vir ingeval ons dalk swanger raak, het die verpleegster gesê. “Anders kan jou baba eendag doof gebore word.”

Mevrou Vermaak knik.

“Of met flippen swak oë,” las Konrad by.

Ons onderwyser lyk skielik hartseer, en ek wonder of dit met haar gebeur het. In my verbeelding speel mevrou Vermaak se lewe terug tot waar sy net ’n pienkerige oranje jellieboontjie met ongevormde vingers en aan ’n lewegewende naelstring verbind is.

Ek verbeel my die Duitse masels lyk soos die groenhoring duwweltjies op die sportgrond, en hulle glip deur die plasenta soos spioene wat die vyand skelm aanval. Miskien sou ek ook stilgebly het as ek sy was en Konrad het my Blindemol genoem.

Ek het weer so gedagdroom dat ek nie agtergekom het ons moes in groepe opdeel om aan hierdie kwartaal se projek te werk nie, so ek eindig alleen op. Gewoonlik kom mevrou Vermaak dit agter en deel my by ’n groep in, maar vandag vee sy net oor haar bril sodat haar vingers vol kryt die lense besmeer. Sy wys vir Konrad om die instruksies vir die projek uit te deel.

Haar mond is styfgetrek terwyl sy hom dophou, en ek wens hy wil ophou met sy gespot. Die klok lui, maar voor ek kan ontsnap, roep iemand my van agter af. Ek draai om en sien die laaste persoon met wie ek nou wil praat.

Wat wil jy hê? dink ek.

Om Helena te hoor

Подняться наверх