Читать книгу Om Helena te hoor - Carolyn Morton - Страница 6

Оглавление

*

Twee

DIE SAGTE STEM herhaal die vraag.

“Loop jy huis toe?”

Ek kyk verbaas na June. “Ek loop altyd huis toe.”

Met Ma wat tot sesuur by die hardewarewinkel werk en Pa wat eers ná 7de Laan klaarmaak, het ek nie eintlik ’n keuse nie. Maar ek sê dit nie vir haar nie.

“Ek het weer aan die babaprojek gedink.”

Ek knyp my simpel sak onder my arm vas en dra die boeke wat ek moet huis toe vat onder die ander arm. “Ja?”

Ons loop saam by die skoolgebou uit en oor die parkeerterrein. June haal die toebroodjies wat sy nie geëet het nie uit en die reuk van salami herinner my aan hoe honger ek is. Ek probeer dit vir haar wegsteek deur my asem op te hou.

“Miskien kan ons saam in ’n groep wees? Dit lyk of jy meer as ons van die onderwerp af weet.”

Ek is op die punt om nee te sê; ek sien haar meer as genoeg in die klas, maar toe gewaar ek vir Konrad: hy is ’n entjie voor ons en waai ongemaklik vir haar. Hy loop gewoonlik huis toe, maar vandag het sy pa en dié se meisie hom kom haal. Jy weet altyd dis een van sy pa se meisies as sy ’n kort rokkie dra. Konrad sê hy noem hulle almal Mini.

Die nuutste Mini staan langs die kar en adverteer haar bene. Sy leun liefdevol oor na Konrad, maar kyk kort-kort na sy pa om te sien of hy beïndruk is met haar moederlikheid. Konrad se pa sit terug in sy sitplek, vryf oor sy cool stoppelbaard en probeer vyf en twintig lyk terwyl hy op sy BlackBerry tik. So Mini skakel haar sjarme af en gooi Konrad se skoolsak op die agterste sitplek.

Ek draai na June. “Wie’s sover in jou groep?” vra ek effens ge­slepe. “Moet ons nog iemand vra?”

“Joe sou saam met my gewerk het, maar hy’s nou by ander pelle van hom. Sal ek vir Konrad vra?” stel June so vinnig voor dat ek weet sy sou hom in elk geval gevra het, sonder dat ek haar probeer manipuleer. “Ek kan hom vanaand bel.”

“As jy wil,” sê ek effens té ongeërg. Ons oë ontmoet en al twee kyk vinnig weg.

Ek sê die eerste ding wat in my kop kom om die ongemaklike stilte te verbreek. “Jou toebies lyk lekker.” Praat van lame.

“Wil jy een hê?” vra sy skaam.

“Sure,” sê ek kastig traak-my-nie-agtig en hou my in om dit nie by haar te gryp nie.

Toe ons naby my huis is, kom my broer Henk op sy fiets by die oprit uit. Hy het soos gewoonlik eers huis toe gekom om ander klere aan te trek vir werk; hy is ’n leerling-assistent by Maths Magicians, ’n klein besigheid wat hoërskoolkinders help wat met wiskunde sukkel.

Al is hy in matriek het hy nog steeds knieë soos ’n blou­kraanvoël. Ma sê altyd hy sal nog eendag uitsit, maar al wat groter word aan hom is sy hare. Op die oomblik staan dit regop in die wind, helder orangoetang-oranje.

Ek is skielik selfbewus oor ons so baie na mekaar lyk en vat aan my gemmer poniestert; ek hoop tog net nie myne staan ook so wild nie. Ek waai vir hom, maar dis verniet. Hy sou verby my gery het as ek nie geskree en soos ’n aërobiese instrukteur op en af gespring het nie. Hy rem en frons.

“Jy’s lekker ongeskik!” roep ek oor die straat.

Henk stoot sy fiets oor na ons toe en kyk op sy horlosie. “Ek het jou nie gesien nie,” sê hy en frons nog steeds.

Deesdae sien hy niemand meer raak nie, behalwe vir Karen wanneer sy verby ons huis ry, wat tien teen een is hoekom hy sy fiets weer begin gebruik het. Sy is ook by die Musiekakademie in Millpark, nes Henk, maar haar ouers het die geld om haar soontoe te stuur, terwyl hy met ’n beurs daar ingekom het.

Sy musiekonderwyser, Madame Pandora, werk met uitgesoekte toppianiste by die Akademie, maar gee ook vir ’n paar van ons klas by my skool. Sy sê sy doen kontrakwerk by verskillende skole in Port Elizabeth uit die goedheid van haar hart – om talent te koester en vir kinders wie se ouers nie die Akademie kan bekostig nie ook ’n kans te gee, maar ek dink dis eintlik omdat sy daarvan hou om heeltyd van die een skool na die ander te jaag, want dit laat haar baie belangrik voel.

Nugter weet hoekom, maar sy het besluit ek verdien die ongelooflike eer om ’n student van haar te wees – nie dat dit ooit vir een oomblik lyk asof sy dink ek het enige talent nie.

“Die hart,” sê Madame Pandora altyd vurig vir my in haar vreemde aksent en stamp haar voet terwyl ek uitdrukkingloos na my bladmusiek kyk. “Dit moet, moet, moet van die hart af kom, nie die vingers nie!”

Haar wenkbroue is perfek gevorm en haar vel is so glad ek is seker haar laaie is vol leë Botox-spuite. Sy trek altyd soos ’n lid van ’n filharmoniese orkes aan, met lae swart chiffonvalle wat die aandag aflei van haar malvalekker-borste wat gewoonlik voor haar by ’n vertrek inkom.

Henk kyk steeds geïrriteerd na my en ek skud my kop om by te kom.

“Dis June,” sê ek en hy knik, maar ek weet hy sien haar nie regtig raak nie. Dis lekker vir ’n slag as ’n ou, al is dit ook my broer, se oë nie uitval as hy na haar kyk nie.

“Haai, June,” sê hy afwesig. “Helena, ek moet gaan werk. Het jy vadoeke gekoop soos Ma gevra het?”

Ek sug.

“Ek het vergeet. Kan Ma dit nie op pad huis toe kry nie?”

“PEP is dan al toe.”

Ek skop ’n paar stukkies gruis in die straatvoor, waar dit stadig wegsink in die mengsel van modder en vullis wat uit die mangat syfer. “Kan sy nie iewers anders heen gaan nie? Soos Clicks?” Ek weet wat die antwoord was nog voor ek gevra het.

Ons gekraakte sement-oprit, vol onkruid wat die krake nog groter maak, en die skewe ringmuur wat nog skewer gedruk word deur die bure se boom met sy dik wortels, bevestig die antwoord vir my.

Vandat my pa sy werk verloor het en by ’n konstruksiemaatskappy weer onder moes begin, kan ons net die goedkoopste van alles bekostig.

“Toemaar,” brom ek. “Ek sal dit kry. Hoe laat kom jy huis toe?”

“Weet nie,” antwoord Henk vaag.

“Daarna gaan jy seker vir die kompetisie oefen?” sê ek, vies dat ek weer die skottelgoed sal moet was terwyl Henk vir nog ’n les na Madame Pandora toe gaan.

“Watter kompetisie?” vra June belangstellend.

“Daar’s elke jaar ’n klavierkompetisie by my skool, vir al die graadelfs en -twaalfs in PE,” antwoord Henk. “Die wenner …”

Hy bly stil en lyk skielik baie ouer as sewentien.

“Die een wat wen, kry ’n hengse klomp geld,” sê ek. “Henk sal daarmee kan gaan medies swot; hy wou nog altyd ’n dokter word.” Ek kyk na die gekraakte oprit en die skewe muur en dink aan hoe Henk dit vir ons sal kan laat regmaak.

My broer sien waarna en kyk en spring op sy fiets. “Sien julle­!” roep hy oor sy rug, sy skouers gebuig oor die fiets se hand­­­vatsels.

“Ons het ’n klomp ekstra vadoeke wat my suster met haar troue present gekry het,” bied June aarselend aan. “Sy het dit nie nodig nie, en die goed neem net plek op. Jy’s welkom om hulle te vat.”

Ek kou onseker aan die los velletjie aan my lip.

“Jy sal ons ’n guns doen. Regtig.”

“Wel, as jy so daaroor voel …” Dit klink beter as om haar suster se oorskiet presente te kry.

“Moet jy eers vir jou ma sê jy kom na my toe?”

Ek skud my kop. Sy sal nie eens weet ek was nie by die huis nie.

“Jou broer moet baie goed klavier speel,” sê June.

“Soort van,” erken ek teësinnig. “Hy beter, want hy oefen aanhoudend. Ek kry skaars ’n beurt om te speel.”

“Jy moet ook talentvol wees,” sê sy ingedagte. “Anders sou Madame Pandora nie vir jou klas gegee het nie. Hou jy van klavier speel?”

Ek is nie seker wat om te antwoord nie; ek besef skielik niemand het my dit nog gevra nie. Selfs ek het myself dit nog nooit afgevra nie.

“Ek weet nie.” Ek probeer dink hoe dit sal voel as ek nooit weer klavier speel nie. “Ek doen dit soort van net. Sonder om te dink hoekom.”

Dis nie heeltemal waar nie, maar ek wil haar nie die waarheid vertel nie. Ek hoop in die stilligheid ek kan ook by Millpark se Musiekakademie inkom, nes Henk. In my meer optimistiese dagdrome verbeel ek my selfs ek steek hom verby en word die skool se sterstudent.

“Ahhhh, sy het die hart!” sal Madame Pandora uiteinde­lik uitroep in haar vreemde aksent, terwyl sy haar hande saamslaan en ek my weer soos altyd verkyk aan haar vingers vol juwele wat klikgeluide op die klawers maak, tot sy geïrriteerd raak en die ringe een ná die ander afhaal.

Niemand weet regtig waar sy vandaan kom nie. Party mense dink sy is in Iran gebore; Henk dink sy’s ’n Griek, maar Konrad hou vol haar aksent is alles net aansit en sy kom van Pofadder af. Maar ek dink sy is soos Mary Poppins – niemand sal ooit weet waarvandaan sy kom en hoe sy hier beland het nie, en sy sal ook nooit sê nie. En op ’n dag, wanneer haar werk hier klaar is, sal sy net weer soos mis voor die son verdwyn.

“Ek hou daarvan om klavier te speel wanneer ek kwaad is,” vertel ek vir June ’n halwe waarheid. “Ek hamer hard op die klawers en maak almal mal. Laas week het die bure twee keer gekla.”

“Klink my jy word baie kwaad,” antwoord sy geskok.

Ek word ongemaklik; dit voel of sy by ’n geheime hoekie van my gedagtes probeer inloer.

“Nee, die mure is maar net dun,” gooi ek vinnig wal.

“Ek sou verstaan het as jy vanoggend kwaad was.” June vroetel met haar toebroodjies se papier, onseker of sy die onderwerp moes ophaal. “Toe jou skoolsak gebreek het.”

“Wat? O, dit?” Ek lag en draai my gesig weg sodat sy nie my wange moet sien nie. “Ek het lankal daarvan vergeet.”

“Nie ek nie,” sê sy sag. “Almal het net so daar gestaan … Dit was aaklig.”

Wat gee jy om? wil ek skree. Dis nie asof dit jou al ooit oor­gekom het nie. Ek voel in twee geskeur. Aan die een kant is ek kwaad omdat June altyd so perfek is, maar aan die ander kant waardeer ek haar simpatie. Niemand anders gee om hoe ek voel nie.

“Dankie,” mompel ek.

June frommel haar toebroodjiepapier op en sit dit terug in haar kosblik. Ek draai my toebies nie in waspapier toe nie. Dis asof hare meer delikaat en aristokraties as gewone mense s’n is en ekstra sag behandel moet word, soos in die storie van die prinses en die ertjie.

“Ons het lank gelede hoenders gehad,” vertel sy toe ons by haar straat indraai. Dis nie ’n rykmansbuurt nie, maar daar is nie rommel op die sypaadjie nie en die straatvore is skoon. “Een van hulle was ’n bietjie anders as die res. Hulle was almal bruin en vet gevoer. Dié een was sagter, rooier en kleiner. Hy het nooit betyds by die voerbak uitgekom nie, so ek het altyd vir hom op sy eie mieliepitte gevoer. Maar eendag toe ek by die skool was, het hy seergekry en begin bloei. En die ander …”

“Wat het gebeur?” vra ek, al wil ek nie regtig weet nie.

“Hulle het aan hom gepik en gepik.” Dit klink of daar trane in June se stem is. “Toe ek by die huis kom, het hy net daar gelê.”

“Dood?” vra ek en voel skoon siek.

“Amper. Ek kon hom red, maar hy was nooit weer dieselfde nie. Ek het myself vreeslik verwyt dat ek hom nie beter be­skerm het nie. Hy het vir die res van sy lewe ’n lelike letsel gehad, en sy vere het nooit daar toegegroei nie.”

“Dis ’n bietjie soos ek vandag gevoel het,” sê ek skor. Ek kan nie glo ek erken dit teenoor haar nie. Ek vertel nooit vir Ma en Pa sulke goed nie, veral noudat hulle saans moeg en met moedelose gesigte huis toe kom, en ek sal te bang wees om dit met iemand by die skool te deel, want sê nou hulle gebruik dit teen my?

June haak haar arm by my in, soos ’n regte pel. Ek voel weer in twee geskeur. Geraak dat iemand vir my omgee, maar ook vies omdat sy my nooit regtig sal verstaan nie. Want sy hoef nie eens te probeer nie; almal sien haar raak en is mal oor haar.

Om Helena te hoor

Подняться наверх