Читать книгу Om Helena te hoor - Carolyn Morton - Страница 7

Оглавление

*

Drie

EK WAS VAN PLAN om my toonlere te oefen, maar Henk annek­seer al weer die klavier en worstel met sy stukke vir die kompetisie. Tipies. Hy kom altyd eerste daar. Altyd aan die oefen, oefen, oefen.

“Nerd,” brom ek en skop my simpel skoolsak eenkant toe. Ek wens dit was Henk.

Ek maak my hare los en trek ander klere aan; my skool­klere beland in die hoek saam met my sak. Die meeste van my klere lê op die vloer of onder my bed ingedruk of in ’n kas of laai waar daar plek is, maar ek vou my Calvin Klein T-hemp altyd netjies op en sit dit in my boonste laai waar ek dit vinnig kan bykom.

Dis my gunstelingtop vandat ek dit laas kwartaal skool toe gedra het op civvies-dag en almal my raakgesien en bewonder het. Selfs Konrad het jaloers gelyk. Dis eintlik net ’n dood­gewone wit Mr Price-hemp, maar ek het die CK-logo uit die tydskrif Seventeen versigtig afgetrek en dit toe vir R40 op die T-hemp laat druk, en niemand het die verskil agtergekom nie.

Wanneer ek dit dra, is dit asof my sproete verdwyn, en asof die hemp my arms en bene wat soos vuurhoutjies lyk, omtower met mooi kurwes. Dan lyk ek nes Marilyn Monroe op die plakkaat bokant my bed. Dis my droom om eendag nes sy te lyk. Sy was ook eers ’n rooikop. Ek het nog ’n foto agter my deur, die beroemde een van haar bo ’n luggat met haar rok wat bol staan, maar my gunsteling is die een bokant my bed, met haar gemmer krulhare wat in die wind waai en die see in die agtergrond. Sy lyk regtig gelukkig.

Ons het in die verlede baie na Humewood se strand toe ge­gaan. Ek het my dan op die sand uitgestrek, my oë toegemaak en my verbeel ek is Marilyn. Ons gaan nie meer strand toe nie.

“Miskien sal ek eendag soos jy lyk,” sê ek vir Marilyn. Die plakkaat is effens gekreukel net bokant haar oog en wanneer dit die lig weerkaats, verbeel ek my sy knipoog vir my.

Ek hoor Henk nog op die agtergrond speel. Hy oefen ’n Debussy-stuk, ’n nokturne wat begin soos die ligte swiep van ’n towerstaf terwyl sy hande verskeie oktawe in gebroke akkoorde met die klawers op sweef, en dan kom die ware wonder van die stuk: ’n hartseer maar pragtige melodie, wat Ma wil laat huil op die dae wanneer sy te moeg is om selfs hallo te sê.

“Dit gee my ’n kramp,” sê ek vir myself, maar eintlik is ek ook lus om te huil.

Pa het weer laat gewerk, so hy het Ma lank ná 7de Laan opgelaai en ek het die TV al afgesit en begin om die goed vir aandete reg te kry. Nie dat ek wil nie, maar ná so ’n lang dag sal sy seker die piep kry as ek dit nie doen nie. Ek haal ’n blikkie spaghetti uit, spoel tamaties en uie af, sny dit op en sit dit in die yskas saam met die maalvleis wat klaar ontvries het.

“Dankie, Helena-lief,” sê Ma en soen my skrams op die wang toe sy later inloop en reguit yskas toe gaan, die maalvleis, tamaties en uie werktuiglik uithaal en die stoof met haar ander hand aansit.

Ek is al klaar vyf sentimeter langer as sy, en op lang dae soos hierdie lyk dit asof sy krimp, eerder as dat ek groei. Haar hare, altyd reguit, lê dun en pap teen haar kop, ’n dowwe grys met ’n paar verbleikte rooi slierte tussenin. Ek sien haar werkhemp hang losser as gewoonlik aan haar soos sy moeg deur die kombuis strompel. Sy staan vir ’n oomblik, met die yskas se deur oop, terwyl Henk die laaste note van sy Debussy speel, en sug effens, asof sy vir ’n sekonde vergeet sy is ’n kassiere.

Toe kom my broer in.

“Klink goed, Henk,” sê Ma, half vir hom en half vir my pa, wat by die deur staan en die dik lae stof van sy skoene afslaan.

Pa vryf sy bles, sodat daar ’n wolkie van grys baksteenpoeier op sy oorpak val, en knik vir Henk. “Ons is trots op jou, Seun,” sê hy en sit sy hand op my kop om my te groet voor hy in sy stoel neersak. Ma het dit met plastiek oorgetrek, want dit maak nie saak hoe hard Pa probeer nie, hy los oral ’n spoor van stof wat by die leer se krake ingaan. Ek sal dit haat om elke dag op daardie stoel te sit en nie die koel leer teen my vel te kan voel nie, maar dit lyk nie of dit hom pla nie. Hy haal die koe­rant wat elke week verniet afgelewer word uit en maak asof hy dit lees, maar sy kop knik al klaar.

“Daar’s die vadoeke,” sê ek en wys na die netjies gevoude hopie op die werkblad.

Ma glimlag vlugtig; haar verlepte gesig verlig vir ’n sekonde met dieselfde mooi glimlag wat sy vir Henk gegee het toe hy hier ingeloop het. Dit laat haar soos ’n jong Mia Farrow lyk, eksoties en betowerend. Ek wil haar vertel waar ek die vadoeke gekry het, maar sy draai haar rug op my en soek in die kas na die braaipan.

Ek deel my pa se stoel vir ’n rukkie met hom en lees saam koe­rant tot ek die plastiek se kunsmatige gladheid nie meer kan vat nie. Toe gaan sit ek maar liewer op die mat langs hom.

“Ons doen ’n projek oor swangerskap en babas in die klas,” sê ek vir Pa, wat aanhou maak asof hy lees deur weer om te blaai.

Hy knik en krap my hare ingedagte deurmekaar om te wys hy het gehoor, al is ek seker hy het nie.

“Ek gaan saam met June werk. Henk, die meisie wat jy vanmiddag hier buite ontmoet het.”

“Dit herinner my, moet jy nog oefen, Seun?” vra Ma, wat opkyk. “Madame Pandora sê jy moet minstens twee uur ’n dag oefen.”

“Hoe lank het jy al?” Pa laat sak sy koerant vir ’n oomblik.

Henk draai om om te loop.

“Ek sal nog ’n halfuur of so oefen,” brom hy en voeg dan iets by wat klink soos: “Sal dit genoeg vir julle wees?”

Pa loer na Ma, wat haar skouers optrek en verder kos maak.

Die meesleurende musiek begin weer, die boonste note van die melodie klink elkeen soos ’n stem van sy eie wat iets probeer sê wat niemand hoor nie.

“So in elk geval, ek en June het saam huis toe geloop, en sy het nogal cool idees vir ons projek,” probeer ek bo-oor die mu­siek praat. “Ons gaan volgende week stadsbiblioteek toe, want die skool se internet is opgebruik vir die maand.”

Ek draai om om na my pa te kyk, maar sy kop is op sy bors, en my ma kan my nie hoor bo Henk se gespeel en die gesis van braaiende uie nie.

Sy glimlag in my rigting. “Wat sê jy, Helena?”

“My projek saam met June,” herhaal ek en gaan staan by haar. “Ons wil die biblioteek se internet gebruik.”

Ma gooi die spaghetti by die gebraaide uie en dan die maalvleis, terwyl sy lusteloos roer.

“Dalk kan ons eendag internet bekostig,” sê sy en kyk rond in die moeë kombuis terwyl sy droom van ’n moderne een vol gadgets. “Mens weet nooit hoe dinge kan verander nie.”

Wanneer Henk die kompetisie gewen en eendag sy eie prak­tyk het, dink ek.

“Wou Henk nog altyd ’n dokter word?” vra ek.

Ma gee die lepel vir my sodat ek moet roer en vee haar hande af.

“Ek onthou,” sê sy, “hoe hy as seuntjie alles in sig in verbande toegedraai het. Pa se arm, my kop, selfs die tafel se pote.” Ek glimlag beleefd sodat sy moet aanhou praat met my, al het ek die storie al genoeg gehoor om my van spaghetti bolognaise af te sit. “En toe jy jou kop gestamp het, het hy soveel verbande omgedraai dat dit jou hele mond toegemaak het en ons nie kon hoor wat jy sê nie.”

Ná aandete oefen Henk verder klavier en ek glip by sy kamer in. Die feit dat dit streng verbode is, maak dit nog meer opwin­dend. Sy kamer lyk soos ’n klaskamer by die skool. Sy mure is vol stellings wat hy vir die leerders by Maths Magicians moet verduidelik en baie daarvan het notas op wat sê Herinner aan Pithagoras of Moeilik–hersien om hom te help met sy lesse.

My broer is mevrou Meintjies, die eienaar, se assistent, maar ek is seker hy weet net soveel soos sy. Agter sy deur is daar prente van sirkels, met middellyne en radiusse en allerhande byskrifte wat kom uit die StudentTeacher, ’n tydskrif wat hy koop met die geld wat hy by Maths Magicians verdien. ’n Stapel van die voos geleesde tydskrifte lê langs sy bed, met afvalstukkies papier as boekmerke by sy gunstelingartikels.

“Hy’s mal om ’n deeltydse werk so ernstig op te neem,” sê ek kopskuddend, half vir myself en half vir die afwesige Henk.

Ek kyk onder die bed en haal van die mediese boeke uit wat my pa-hulle vir hom op uitverkopings by die biblioteek gekoop het. Ek blaas die dik laag stof daarop af. Henk moet regtig meer stofsuig. Ek moet ook, maar die klere op my vloer steek my stof weg. Partykeer wens ek dit was ook my droom om ’n dokter te word, net sodat ek ook sulke boeke wat so belangrik lyk onder my bed kan hou.

My boeke is meestal verslete biografieë oor aktrises se le­wens­: nie net my allerbeste gunsteling Marilyn nie, maar ook Julianne Moore en Ma se ikoon, die legende van die silwerskerm, Greer Garson. Ek sê altyd vir mense die beginletter van my tweede naam staan vir Gina, want niemand by die skool het al gehoor van die flieks Mrs. Miniver of Goodbye, Mr. Chips waarin sy gespeel het nie, maar my ma het oor en oor daarna gekyk toe sy my verwag het. Ek is op 6 April gebore, presies ’n jaar nadat die aktrise dood is, toe eindig ek op as Helena Greer Booysens. Ek hou eintlik daarvan, maar niemand sal verstaan nie. Hulle sal net lag, so ek bly liewer stil en bewonder haar in die geheim.

Ek is so diep ingedagte terwyl ek deur Henk se boeke blaai dat ek amper nie agterkom die musiek uit die vertrek onder in die gang het opgehou nie. Toe die stilte my tref, skuif ek die boeke vinnig terug onder die bed in en staan op.

Dis toe dat ek dit sien: ’n nota in funky ronde letters op ’n stukkie papier wat hy as ’n boekmerk in sy jongste uitgawe van Student Teacher gebruik.

“Beslis nie Henk se handskrif nie,” mompel ek en trek dit nuuskierig uit sonder om so skuldig te voel as wat ek seker moet. My oë rek toe ek die nota lees en ek druk dit gou in my sak.

Ek skiet vinnig deur toe en leun kastig ongeërg teen die raam, net buite my broer se kamer.

“Wat maak jy hier?” vra Henk agterdogtig toe hy inloop en sy bladmusiek op die vloer gooi voor hy op sy bed neerval. “Ek het jou gesê, bly uit my kamer.”

“Niks. En ek is nie in jou kamer nie.”

“Jy lyk baie tevrede met jouself,” sê hy.

Ek ignoreer sy stelling en vra selfvoldaan: “So, hoe was jou les by Madame Pandora, ná werk vandag?”

“Hoekom vra jy?” sê hy en maak ’n Student Teacher­ oop sodat hy nie vir my hoef te kyk nie.

“Sommer,” sê ek uit die hoogte en slenter weg, tevrede dat ek hom een voor is.

Ek kan skaars wag om my kamerdeur te sluit en die stukkie papier, wat ek in Henk se kamer gevat het, oop te vou.

Vandag se datum is bo-aan en ’n selfoonnommer wat ek nie ken nie, met blommetjies oor die 1’e. Onder dit is die woorde Sienjoulater –dalknawerk? en heel onderaan is ’n ry hart­jies wat definitief nie van Madame Pandora af kom nie.

Baie interessant, dink ek, en skryf die nommer neer.

Om Helena te hoor

Подняться наверх