Читать книгу Die eks-noodgeval - Cecilia Steyn - Страница 3

1

Оглавление

“Wit of swart?” vra Alana en hou die twee rompe om die beurt voor haar lyf.

Haar sus se mond trek op ’n plooi. “Het jy nie iets met ’n bietjie kleur nie? Jy weet, swart is nie eintlik ’n kleur nie.” Heleen lag.

“Ek het nie nou tyd vir kunslesse nie, Heleen. Ek kan nie bekostig om op die eerste dag laat vir my nuwe werk te wees nie.” Vies pluk Alana die vlootblou romp nader.

Waarom sy die moeite doen, weet sy nie, want by die hospitaal sal sy buitendien haar tekkies en teaterdrag moet aantrek. Sy wil darem net ’n goeie indruk maak wanneer sy die personeel ontmoet saam met wie sy die volgende twee jaar sal werk.

In ’n trauma-eenheid kan jy nie op wighakke rondhardloop nie, maar dit beteken nie sy kan die skoene nie daar uittrek nadat hulle haar klaar verwelkom het nie. O ja, en as sy nie self ’n pasiënt wil word nie, moet sy liewer daardie gemaklike tekkies onthou.

Alana draai die skootrekenaar sodat haar sus haar beter kan sien. Skype is nou hul sitkamer. Hopelik sal Heleen binnekort vir haar in Johannesburg kom kuier, want sy weet nie wat sy sonder haar sus sal doen nie. Sy is nog net ’n week uit die Kaap weg en sy mis al klaar hul lekker kuiersessies. Hul afpaksessies. Heleen is die een persoon met wie sy alles in die lewe kan deel.

“Dié een?” Alana hou ’n ander romp voor haar lyf.

“Ja! Dis mos beter. Dis noupassend en wys jou figuur.”

Alana rol haar oë. Dit is nie wat sy in gedagte gehad het nie. “Thanks. Ek moet wikkel.” Sy kyk op haar horlosie. “Ek laat weet jou vanaand hoe dit gegaan het.”

“Sterkte,” sê Heleen en soen haar rekenaarskerm. “Ek weet jy kan. Soet speel.”

Die laaste wat sy sien, is Heleen se hand in ’n groetgebaar voordat sy haar skootrekenaar toemaak.

Alana trek haar wit bloes saam met die vlootblou romp aan. Eenvoudig, maar elegant. Sy kyk weer ’n laaste maal in die spieël en stryk die kraag van haar wit jas met haar vingers plat.

In die portaal gryp sy haar smoothie en stetoskoop voordat sy die voordeur gou agter haar toesluit vir die dag.

“Vrydag gaan jy wens dit is weer Maandag, dokter De Koker.” Dit is professor Dirk Patterson, Alana se konsultant en nuwe baas, wat haar laat glimlag toe sy weer na die leë rye metaalstoele kyk.

Die TV-skerm wat moet wys watter ambulanse op pad is met watter noodgevalle, is ook net leeg.

Sy sug en stap na die triagevakkie. Daar is nie ’n enkele lêer in nie. Hoe kan dit wees? Buite staan die silwerskoon ambulanse en noodvoertuie gereed vir oproepe.

“Sê haar, dokter,” las die rooikopverpleegster met die kort krulhare laggend by. Karen, lees Alana haar naamplaatjie. Sy moet haar kollegas se name so gou moontlik memoriseer. Nie dat dit op die eerste dag al sal gebeur nie. Om dertig vreemdelinge se name te onthou wanneer almal soos miere iewers heen skarrel, is ’n moeilike taak.

“Sy gaan haar woorde gou sluk as sy nie meer kan byhou met al die gevalle wat by die deur inkom nie.” Die oë en stem van suster De Lange, die trauma-suster met die donker hare, skiet messe in haar rigting. Sy draal al om professor Patterson.

Die vrou het seker lankal haar kleim op hom afgesteek en nou is sy bang die nuweling sal in haar slaai kom krap. Alana sal haar moet gerusstel. Op die oomblik stel sy nie in mans of verhoudings belang nie. En veral nie in mans wat oud genoeg is om haar pa te wees nie.

“Ek het in my Zumajaar in die Khayelitsha Distrikshospitaal gewerk. Dit is ook ’n skop-skiet-en-donder-hospitaal. Het jy al in trauma in ’n staatshospitaal gewerk, suster?” vra Alana.

Suster De Lange skud haar kop.

Alana kan sien hoe sy haar vererg.

“Ek is hier om meer oor trauma te leer. Dit is my passie.” Alana glimlag. “Is daar nie eens op ’n blou Maandag ’n ongeluk in dié plek nie?” vra sy eerder laggend. “Johannesburg is dan berug vir sy haatlike verkeer.” Sy het uitgesien na ’n adrenalienbelaaide eerste skof en nou is die eenheid grafstil.

Toe Dirk Patterson haar ’n maand gelede via ’n Skype-onderhoud ingelig het dat sy die pos as senior kliniese assistent gekry het, kon sy nie gou genoeg trekreëlings tref nie. Haar begeerte om ’n trauma-chirurg te wees, het haar skuldgevoel om haar ma en sus alleen in die Kaap te los ver oortref.

Ten minste is haar ma nie meer so alleen nie. Twee jaar nadat haar ouers geskei is, het haar ma met ’n dierbare familievriend van baie jare getrou. Uiteindelik is haar ma gelukkig.

“Ek hoop julle is reg,” sê Alana. “Ek het nie alles in die Kaap prysgegee om nierstene en mangels hier te kom behandel nie.”

Die ander lag, want dis al noodgevalle wat hulle vanoggend gehad het. Almal weet maar te goed die stilte in ongevalle kan handomkeer verander.

Alana het haar huis op Stellenbosch verruil vir ’n huis in Melville, Johannesburg. Om op te staan en nie omring te wees deur wingerde en berge nie, daaraan sal sy nog gewoond moet raak. Vandag is haar eerste dag in die trauma-eenheid van die Melpark Hospitaal wat vier-en-twintig uur oop is.

Voor sonop vanoggend was sy al wakker. Sy en Zeus het gaan draf om die opgewondenheid in haar are net ’n bietjie te demp. Die hond was so bly om ook die buitekant van die meenthuismure te siene te kry.

Professor Patterson se woorde van die vorige week klink weer op in haar kop. Sy het die finale papierwerk kom afhandel toe hy haar deur die eenheid geneem het.

“Hier werk ons soos ’n geoliede masjien, dokter,” het hy gesê. “Dit is nie net jy wat jou opleiding hier ondergaan nie. Ons het kliniese assistente wat hul interns in chirurgie ook oplei. Die meeste gevalle wat jy hier gaan sien, is soortgelyk aan dié in ’n oorlogsone, maar daar is die alledaagse ongevalle ook, soos ou mense wat geval het, psigiatriese pasiënte en so aan. Om in ’n trauma-eenheid te werk verander ’n mens. Is jy reg daarvoor?” het hy gevra.

“Ek is ’n gekwalifiseerde chirurg,” het sy kalm gesê, al was sy skaars ’n jaar gekwalifiseerd.

“Maar jy is nog nie ’n trauma-chirurg nie, dokter. Onthou dit,” het hy teruggekap.

Sy weet, wou sy vir hom sê, maar sy het net geknik. Geen rede om op die verkeerde voet met die man te begin nie. Dit is dan hoekom sy hier is. Al het sy net in haar Zumajaar by die hospitaal in Khayelitsha gewerk, was dit genoeg tyd sodat die trauma-gogga haar kon byt. Nadat sy as chirurg gekwalifiseer het, was endoskopiese prosedures en mantelvliesbreuke nie meer genoeg om die duiwels uit haar kop te hou nie. Daarom het sy gespring toe die geleentheid kom om te subspesialiseer in trauma-chirurgie.

Dié trauma-eenheid is die eerste privaat hospitaal in die land met ’n toegewyde multidissiplinêre trauma-span. Die eenheid het selfs sy eie trauma-teater en intensiewe eenheid. Daar is wel navorsing en uitreiking na die gemeenskap betrokke by die aanvaarding van die vennootskap, maar dit is nie vir haar struikelblokke nie.

As ’n gekwalifiseerde instrukteur in gevorderde trauma- lewensondersteuning sal deel van haar werk wees om opleiding aan paramedici en verpleegpersoneel te gee. Buitendien sien sy ook daarna uit om meer oor rampgereedheid te leer.

Natuurlik sal sy op ’n rotasiebasis tussen Melpark en twee staatshospitale in Johannesburg moet werk. Dáár sal dit seker meer soos in ’n oorlogsone gaan as hier. Om as trauma-chirurg te kwalifiseer moet sy nog ’n verhandeling skryf. Na die twee jaar skryf sy eksamen by die Raad van Chirurgie.

“Ek gaan vir my ordentlike koffie by die koffiewinkel kry. My kafeïenvlakke aanvul. Wil iemand anders ook iets hê?” vra professor Patterson. “Voor ons nie tyd het om te sluk nie.” Hy kyk na Alana en glimlag.

Daar is grys strepies in die bruin hare langs sy slape. Hy het dowwe oë wat lyk asof hulle al te veel gesien het. Sover het hy nog glad nie sy reputasie as kwaai gestand gedoen nie. Sy het al gehoor dat personeellede hier hom “Gaddafi” noem.

“Nee dankie,” sê sy, al is sy eintlik lus vir ’n vars sjokoladecroissant.

“Ek stap saam.” Suster De Lange mik in professor Patterson se rigting.

Hy draai na haar. “Dit is nie nodig nie, suster. Ek ken die pad, dankie,” knip hy haar toenadering kort.

“Wat kyk julle?” vra suster De Lange. “Dis nie Binnelanders dié nie, julle almal het seker werk om te doen?” Sy voel aan haar hare voordat sy besig raak om notas op ’n knipbord te skryf.

Soos enige ander hospitaal, versprei skinderstories hier seker ook soos ’n veldbrand en daarom sal Alana nie durf vra wat pas gebeur het nie. Was haar observasie van suster De Lange reg? Hou sy van professor Patterson?

Alana is skaars terug in die kantoor toe sy stemme by ontvangs hoor. Daar was geen loeiende sirene nie, maar sy hoop nogtans dit is ’n ordentlike noodgeval.

“Dokter,” roep die rooikopverpleegster. Karen, as sy die naam reg onthou.

“Ek is op pad,” sê sy hoopvol toe sy by die kantoordeur uit draf.

“Lyk my ons het ’n pasiënt. Be careful what you wish for, dokter.” Karen se vrolike lag weergalm in haar ore.

Hier staan ’n histeriese ma met ’n kleuter op die heup, ’n donkerkopseuntjie uit wie se neus reënboogkleurige slym loop.

Agter Alana giggel die verpleegpersoneel te lekker.

“Daar’s nou nie bloed nie, maar as dit nie ’n vuurdoop is nie, dan weet ek nie wat is nie,” praat Karen weer, haar skouers rukkend.

Die ander twee dokters staan ook met ondeunde oë, hande in die sakke na haar en kyk. Skielik voel dit net soos ontgroening op hoërskool.

Dis nou nie die krisis waarvoor Alana stilletjies gebid het nie, maar taai trane blink op die kind se wange, en haar hart smelt.

“Hy het my jelly beans skelm in sy neus opgedruk,” sê die gestresde ma. Die vrou se hare is gekoek. Die klere wat sy dra, lyk asof sy dit dalk al ’n paar dae aanhet.

“Foeitog.” Karen vat die kind se hand.

“Dis nie snaaks nie, is dit Ben?” vra die ma.

Die seuntjie op haar heup giggel en skud sy kop heen en weer.

“Ek wou dit nog eet,” sê die ma.

Almal lag.

“Bring hom sommer hier na ondersoekkamer een toe.” Alana draai om.

“Ek was te bang om die ‘moeder se soen’ toe te pas,” sê die vrou. “Ingeval die lekker in sy keelgat afgly en in sy longe beland.”

Alana knik. Sy weet in elk geval nie hoe ma’s dié tegniek kan toepas nie. Besef hulle nie hoe gevaarlik dit is om hul mond oor die kind se mond te plaas terwyl jy die een neusgat toedruk en hard blaas nie? Dít, met die hoop dat wat die kind ook al in sy neus gedruk het by die ander neusgat sal uitstoot.

Sy lig met die flitsie in die seun se nasale opening. “Jy was reg om dit nie te doen nie. Dit is gevaarlik.”

Ben ruk sy kop heen en weer toe sy aan hom vat. Dan vee hy oor die gekleurde snotterigheid op sy bolip. Hy gryp na haar blonde hare wat oor hom hang en klou dit vas.

“Los die mooi tannie se hare, Ben,” maan sy ma.

Alana kan die lag in haar stem hoor.

Gehoorsaam los die kind haar hare net om sy vuil handjie aan haar wit jas af te vee.

Suster De Lange kom staan langs die bed.

“Môre, Mariët. Wat het klein Ben nou weer aangevang?”

Is Mariët en klein Ben wat noodpersoneel ’n “regular” noem?

“Vandag het hy jelly beans in sy neus opgedruk.” Mariët skud haar kop moedeloos.

Suster De Lange staan met haar arms gevou, en is daar ’n flikkering van vermaak oor haar gesig? Verdomp! Sy geniet dit natuurlik.

Alana vat sommer gaas en vee die kind se vuil neus goed skoon voordat sy weer probeer kyk of sy iets sien. Na die episode sal hy ook ’n bad nodig hê.

“Moet ek help?” vra suster De Lange glimlaggend.

“Dis nie nodig nie,” keer Alana skerp. Dit is nie asof sy met ’n messteek of ’n skietwond te doen het nie. Die kind se neus loop, dis al. Sy sal die suigpomp eerder as ’n verlostangetjie moet gebruik.

“Die verkoue wat hy het, help nou nie juis nie,” sê ma Mariët.

“Dit gaan bietjie ongemaklik voel, Ben,” waarsku sy hom.

Die kind kyk na haar met betraande blou ogies.

“Miskien kan jy hom net mooi vashou dat ek hom nie seermaak nie,” sê sy vir Mariët.

Die vrou knik en vou haar hande om Ben se kop om dit in plek te hou.

Suster De Lange hou Ben se arms vas sodat hy die suigbuis nie wegstamp nie.

Nadat sy uiteindelik die pap, gekleurde lekkergoed uit die kind se neus het, is Alana verlig toe Karen om die gordyn loer.

“Is dokter amper klaar?”

“Ek is.” Alana streel oor die kind se kop voor sy die steriele handskoene afpluk en hulle in die drommetjie gooi.

“Hier is ’n beter geval vir dokter,” sê Karen met ’n ondeunde kyk. “Belowe.”

Is dit nou haar dag vir eienaardige gevalle?

“’n Treat net vir dokter.” Stoutigheid flikker in die rooikop se groen oë. “Dokter kan my later bedank.”

Alana sal jok as sy moet sê dat dié gedrag haar nie nuuskierig maak nie.

“Ek kom,” sê sy hoopvol. Sy tel klein Ben op en gee hom vir sy ma aan.

“Eet eerder volgende keer die jelly beans, hoor.”

“Dankie, dokter.” Mariët glimlag verlig en soen die kind se koppie.

Alana stap agterdogtig na die toegetrekte gordyn waar sy Karen hoor praat.

“Rus jy nooit nie?” hoor sy Karen met die pasiënt raas.

“My ego het seerder as my hand gekry,” kom die antwoord van ’n manstem.

Alana verstil. Daardie sjokoladestem sal sy enige plek herken. Of is sy nou laf? Dis seker haar verbeelding. Baie mans het mos stemme wat selfs staal kan laat smelt.

Karen pluk die gordyn oop.

Alana se mond is oop om te praat, maar sy kry nie ’n woord uit nie.

Dit is wragtig hy!

Op die bed lê die laaste persoon op aarde wat sy verwag het om ooit weer te sien. Nog net so gebiedend en aantreklik op sy sorgelose manier soos wat sy onthou.

Die laaste keer wat hulle mekaar gesien het, het hulle gemene woorde soos handgranate rondgegooi. Dit is ’n wonder dat nie een van hulle tóé ’n ambulans nodig gekry het nie.

“Ek dink nie ek het steke nodig nie …” Toe sy oë in hare kyk, bly hy skielik stil. Sy grys oë verklap dat hy net so verras soos sy is.

Kyk hy afkeurend of goedkeurend na haar? Of is dit vermaak wat sy in sy intelligente grys oë sien? Dan glimlag hy sy sexy glimlag, die glimlag wat sy vyf jaar laas gesien het.

Haar hart klop heeltemal te bly, net soos ’n troeteldier wat lanklaas sy eienaar gesien het. Bedaar tog, hart, in hemelsnaam …

Haar eksman se hare is steeds donker, net baie korter. ’n Netjies getemde baard en snor omraam sy aantreklike mond. ’n Mond wat sy al ontelbare kere gesoen het.

Sag blaas sy haar asem uit.

Die baard en snor pas by hom. Ook die korter hare.

Nie een van hulle sê ’n woord nie.

’n Verpleegster mik in sy rigting om te kom koer. Alana wil haar soos ’n lastige brommer wegjaag. Soos altyd maak hy steeds die knieë van vroue landwyd lam. Sy betrag hulle deur skrefiesoë.

“Dokter?” vra Karen.

Alana besef sy staan steeds op die plek gevries. Toe sy haar bene uiteindelik geroer kry, stap sy nader. Sy trek haar skouers reguit en hoop sy lyk nie te verskriklik ná die pasiëntjie wat sy pas behandel het nie.

Eers toe ’n hand om hare vou, sien Alana die vrou langs hom raak. “Hallo. Ek is Evie.” Sy glimlag vriendelik vir Alana. “En dis Braam Smit.”

Sy oë op haar voel soos ’n ou bekende aanraking. Haar asem ontsnap sag uit haar longe. Bly net kalm, Alana. Na vyf jaar het haar lyf nog nie die memo gekry nie. Braam Smit is definitief nie die man vir haar nie, maar haar lyf het ander idees.

Toe sy haar hand na hom uitsteek, merk sy die bloed wat deur die verband om sy linkerhand in ’n vangbakkie drup.

Evie hou die bakkie kranig vas. Sy sit die hand waarmee sy Alana pas gegroet het op Braam se skouer. Albei is in hul uniform as paramedici. Is Evie net ’n kollega? Of dalk meer? Nie dat dit saak maak nie, raas sy met haarself.

Braam staar steeds woordeloos na haar.

“Aangename kennis,” sê Alana toe die stilte tussen die drie van hulle te lank duur. “Ek is Dokter de Koker.” Sy probeer haar stem professioneel hou.

Braam lig sy wenkbrou verras net soos sy gedink het hy sal. Hy vou sy hand om hare. “Aangename kennis, dokter,” sê hy kalm. Hy hou haar hand ’n sekonde te lank vas voordat hy dit uit sy greep vrylaat.

Karen knipoog vir Alana asof sy ’n verskuilde agenda het.

Natuurlik het hy ’n paar bewonderaars onder die personeellede. Werk hy vir die hospitaal se nooddienste?

Hemel tog, besef Alana, as dit die geval is, sal hulle ook moet saamwerk. Sy moes geweet het Braam sal nie van ’n vlak-een-trauma-hospitaal kon wegbly nie, maar wanneer sou hy ook hierheen getrek het?

Dit is seker enige ongevalledokter se nagmerrie om iemand te moet behandel wat jy nooit weer wou gesien het nie. Daarom strek sy haar nek na die gang om te kyk of professor Patterson nie al op pad terug is nie, maar hy is nêrens te sien nie.

Alana kan Braam se blik op haar voel. Vervlaks! Laas toe hy haar gesien het, het sy baie anders as nou gelyk. Haar hare is platinumblond in teenstelling met die vorige vaalbruin. En danksy ’n baie streng dieet- en oefenroetine het sy nou kurwes op al die regte plekke.

Net jammer hy sal dit nie kan raaksien in dié vormlose teaterdrag nie. Nie omdat sy wil hê hy moet dink sy lyk mooi en dat hy haar weer moet begeer nie, nee! Sy wil hê hy moet besef wat hy weggegooi het.

Karen trek die gordyn om die bed toe. Sy vat die knipbord en begin Braam se inligting neerskryf.

Hy balanseer sy beseerde hand steeds in die bakkie op sy bobeen. Die uniform span styf oor die gebeitelde bobeenspiere wat sy goed ken.

Dit laat herinneringe soos ’n vloed in Alana se geheue terugstroom.

Haar wange word warm.

Langsaam trek sy ’n paar steriele handskoene aan om tyd te wen sodat haar hart intussen tog net kan bedaar. Alana konsentreer op haar hand sodat dit nie bewe nie toe sy Braam s’n oplig en die verband begin afdraai.

Sy oë fokus ook op haar hand. O ja, hy kyk natuurlik na haar ringvinger! Kan hy deur die handskoen sien dat dit steeds leeg is? Ná hom kon niemand haar ooit weer beïndruk nie.

Hoe pateties is dit nou nie?

“Evie, is hy jou kêrel of kollega?” vra Karen ernstig.

Alana se oë flits na die voorbarige verpleegster, maar dié maak of sy baie hard op die vorm voor haar konsentreer. Sy sluk haar lag weg. Natuurlik staan die vraag nie op die vorm nie. Wat sal Karen sê as sy moet weet dat Alana vir Braam eintlik baie goed ken. Heeltemal té goed.

“Ek en Braam?” vra Evie en lag. “Jy kan skryf dis complicated.”

Natuurlik is dit.

Evie se swart bob hang op haar skouers. Sy dra nie grimering nie, want sy het dit nie nodig nie. Van nature is sy ’n baie mooi vrou.

“Wat het gebeur?” vra Alana.

“Hy het gedink hy is Superman. Toe word hy die pasiënt.” Evie sit haar hand weer op Braam se skouer.

Alana moet haar voete verskuif. Sy is oor hom. Lánkal.

“Ek sê mos dis net ’n skrapie.” Braam se kaak span styf. “Dit lyk erger as wat dit is, belowe.”

Alana lig haar wenkbroue vir hom. Beloftes het nog nooit veel vir hom beteken nie. “Ek en die nail gun het ’n misverstand gehad, oukei,” sê hy. “Ek wou net die raamwerk klaar bou.”

Evie lag. “Dis nie ’n kompetisie nie.”

Toe Karen en Alana vraend na haar kyk, sê sy: “Ons is besig met reddingsopleiding. Net hier naby.”

Dit maak sin. Reddingswerk is nog altyd Braam se passie. Dis natuurlik gevaarlik. Hulle bou stellasies om die area te beveilig waar hulle redding moet toepas. Al kom hul eie veiligheid eerste, doen reddingswerkers alles in hul vermoë om die pasiënte lewend uit gevaarlike situasies te kry.

Hy het altyd met ’n skraap of twee by die huis aangekom wanneer hy met opleiding besig was.

“Kom ek help, dan trek ons jou uniform uit,” sê Karen.

Alana lig haar wenkbroue. “Dis nie nodig nie, dankie. Net die pasiënt se hand is mos beseer.”

Braam beur orent. “Ek dink tog dokter moet na my skouer kyk,” sê hy. “Dis seerder as my hand. Die manual jackhammer het sy tol geëis.” Plesier dans in sy grys oë.

Bliksem.

Sy stoot hom weer plat teen die kussing. “Kom, ek maak net eers jou hand klaar,” sê Alana strak.

Nadat die wond deeglik skoon is, kan sy dit behoorlik bekyk. Dit voel snaaks om die bekende hand weer in hare te hou. Selfbeheersing verhoed dat sy daaroor streel. Die sterk kontoere, die fyn donker haartjies en die bekende are waaroor sy nog altyd mal was. Hoe het die hand haar lyf nie al geliefkoos nie?

Sy kyk skielik weg toe sy Braam se blik op haar betrap. Dink hy ook waaraan sy dink?

Natuurlik nie.

“Jy is reg. Dis darem net ’n oppervlakkige wond,” sê sy en hoop nie die kraak in haar stem verraai hoe oorweldig sy voel nie. “Ek gaan dit nietemin met steke heg. Steristrips sal loskom wanneer jy woel. Netnou skeur die sny groter.”

Alana glimlag, want Braam haat naalde. ’n Paramedikus wat naalde in ander mense steek, maar nie kan toekyk hoe dit aan hom gedoen word nie!

Toe Alana die inspuiting met die verdowing regkry, sien sy hoe kleur uit sy gebeitelde gesig verdwyn. Goed so.

“Dit gaan bietjie ongemaklik voel.” Sy maak seker hy kan die druppel vloeistof sien wat teen die lang, skerp naald afloop.

Braam se adamsappel beweeg op en af.

Sy is sommer dik van die lag.

“Ek kan seker bly wees dokter kom nie met ’n skalpel naby my keel nie,” mompel hy.

Die ironie dat net hulle twee weet wat hy daarmee bedoel, gaan nie ongesiens verby Alana nie.

Toe sy die naald indruk, kyk hy weg. Sy kneukels bal spierwit soos wat hy sy ander hand om Evie s’n vou.

Die rede vir hul egskeiding brand weer soos gal in Alana se keel. Hoe gouer sy die man uit ongevalle kry, hoe beter.

Nadat die steke in is, verdwyn Karen agter die gordyn met die afvalmateriaal en gebruikte inspuiting.

Braam sit regop. Hy maak sy vuis oop en toe asof hy haar handewerk wil evalueer.

Evie se foon begin lui. Sy verskoon haar en stap na ontvangs.

Hoekom moes almal nou pas verdwyn het? Alana wil nie ’n minuut alleen saam met haar eksman wees nie. Sê nou hy kom agter hoe hy haar nog affekteer?

“Nou my skouer,” sê Braam. Daar is weer kleur in sy wange en duiweltjies dans in sy oë.

Voordat Alana kan protesteer, het hy die uniform oor sy sterk skouers uitgetrek. “So … De Koker?” vra hy.

Sy het gewonder hoe lank dit hom gaan vat, maar antwoord hom nie. Hy weet hoekom sy haar nooiensvan teruggeneem het.

Sy torso is gespierd, nes sy onthou, die blokkies op sy maag steeds duidelik herkenbaar en die donker haartjies net onder sy naeltjie verdwyn nog in ’n aanloklike lyn by die band van sy onderklere in.

Alana sluk sag. “Watter skouer?” Sy is te bang om aan sy kaal bolyf te raak, want hoe sal haar hart nie dan reageer nie?

Hy draai skuins op die bed. Op sy breë rug begroet die getatoeëerde Star of Life haar soos ’n ou vriend. Haar vingers het al so baie daaroor gestreel, lank gelede.

“Linker,” sê hy.

Alana vat aan sy skouer. Sy lig sy arm op om dit te roteer, maar haar asem steek in haar keel vas.

Wat op aarde?

Op sy ribbes, oor sy hart, staan dit in vet, swart, kursiewe letters: Lana.

Sy vingers kry die stetoskoop beet wat steeds om haar nek hang. Sy duim gly na die plek waar haar voorletters gegraveer is. Toe hy dit kry, glimlag hy. Hy het vir haar dié stetoskoop present gegee toe sy graad gevang het: L.S. vir Lana Smit.

Dit was in gelukkiger dae.

Sy pluk die stetoskoop uit sy hand. Skielik is sy vies vir haarself omdat sy so sentimenteel is en nog elke dag die vervlakste ding gebruik.

“Wie sou kon raai dat ons mekaar weer sou raakloop?”

Alana hoor sy stem, maar besef sy kan nie ’n woord uitkry nie. Vir die eerste maal in jare het Braam haar weer sprakeloos gelaat. Dit is omdat die tatoeëermerk haar so onkant betrap het!

Wanneer het hy die tatoe gekry?

“Wat de hel, Braam?” kry sy uiteindelik die moed om te vra.

“Verrassing,” fluister hy.

Met verrassings is hy mos goed. Sal sy ooit kan vergeet?

Alana skryf vir hom ’n voorskrif vir antibiotika en ’n anti-inflammatoriese middel. Sy hand moet beslis nie infeksie kry nie, want dan gaan hy terugkom. Die pen in haar hand gly toe sy begin skryf, want haar palm is skoon natgesweet.

Naderende, loeiende sirene kan haar nie eens van die brandmerk op haar eksman se lyf laat vergeet nie.

“Hier is jou eerste behoorlike noodgeval, dokter De Koker.” Dit is professor Patterson se stem wat haar terugruk hede toe. Hy loer om die gordyn. “Abdominale skietwond.”

“Nee wat.” Braam draai sy skouers ’n paar maal in die rondte. “Dit was seker net my verbeelding. Ek is fine. Gáán,” sê hy hees, asof hy weet hoe graag sy eerder die volgende geval wil hanteer.

Alana voel hoe sy bloos toe Braam sy bekende glimlag vir haar flits: “Totsiens, Lana,” sê hy. “Dit was lekker om jou weer te sien.”

Sy knik net en hou die voorskrif na hom uit: “Vir jou hand en skouer.” Verlig vlug sy na die resussitasie-area. Net betyds om die paramedici die pasiënt te sien instoot.

“Kom, mense!” skree professor Patterson. “Dit is nie McDonald’s se drive-thru nie. Hier gaan ons vinnig te werk!”

Alana drafstap langs die bed. Sy fokus op die oorhandiging wat die paramedikus doen.

“Pasiënt is George Fraser. Ses-en-dertig. Dis ’n abdominale skietwond, vermoedelik deur ’n kleinkaliber-handgeweer toegedien. Bloeddruk is vyf-en-tagtig oor nege-en-sestig. Pols is honderd-nege-en-twintig. Saturasie is negentig persent. Asemhaling twaalf. Sy vel is koud en klam; hy is waarskynlik reeds in gekompenseerde skok. Bilaterale lyne klaar in. GCS is sewe.”

Haar pasiënt sal nou al haar aandag nodig hê. Met ’n telling van sewe uit vyftien vir bewussyn, besef Alana haar pasiënt se lewe is reeds in gevaar. Sy en hierdie span maak nou die verskil tussen sy lewe of dood.

Die eks-noodgeval

Подняться наверх