Читать книгу Die eks-noodgeval - Cecilia Steyn - Страница 5

3

Оглавление

Onder in die straat waar Alana nou by ’n meenthuiskompleks ingedraai het, maak Braam ’n U-draai. Stadig ry hy weer verby die kompleks. Haar motorligte hou stil voor ’n motorhuis naby die ingang.

Sy is nie meer joune wat jy veilig moet hou nie, pel, skree sy gewete. Is daar iemand wat vir haar by die huis wag? Daarvan het sy niks gesê nie. Daar was nie ’n ring aan haar ringvinger toe hy netnou vir die tweede keer vandag skelm geloer het nie. Maar dit is nie te sê daar is nie iemand nie. Hy weet van baie dokters wat verkies om nie trouringe te dra nie omdat hulle heeldag hande was.

Terwyl hulle getroud was, het sy haar ring vir niks in die wêreld afgehaal nie, maar toe was sy nie soos nou heeldag in teater nie.

Wat ’n verrassing was dit nie toe sy vandag sommer netso weer in sy lewe ingeloop het nie! Sy is nog steeds die mooiste vrou wat hy ken. Die donkergroen teaterklere wat sy gedra het, het haar blou oë nog blouer laat lyk. Deur die klere kon hy sien sy is nog net so sexy gebou soos altyd. Sy dra teaterklere soos wat modelle ontwerpersrokke dra.

En daardie romp wat sy vanaand aanhet? Hy het hard probeer om nie te staar nie, maar hy is nie seker dat hy dit reggekry het nie.

Al was dit donker, is hy amper oortuig daarvan hy het haar behoorlik laat bloos. Goed so. En was dit huiwering wat hy elke keer in haar stem gehoor het wanneer sy oor Evie gepraat het?

Sy harde lag weergalm in die valhelm. Alana dink hy en Evie is ’n couple.

Hoe verkeerd is sy nie!

Hy is nie seker hoe vinnig hy haar gaan reghelp nie. Een van die verpleegsters sal wel vir haar sê dat hy enkel is. Hemel weet, hulle wil hom altyd vastrek wanneer hy hier kom werk.

Die twee jaar van hul huwelik maal in sy kop toe hy huis toe ry. Reëls vir kinderlose paartjies wat skei, is anders as vir dié met verantwoordelikhede. Hy en Alana is al vyf jaar uitmekaar en het nog nooit eens weer ’n woord met mekaar gepraat nie.

Sou sy hierheen getrek het as sy geweet het dit is waar hy ook dalk een van die dae gaan woon en werk?

Tydens hul egskeiding het hy deur hel gegaan. Sy wou hom nie glo dat hy haar nié verneuk het nie. Die troubeloftes wat hulle aan mekaar gesweer het, was nie genoeg vir haar nie.

Hul troudag is soos gister. Hel, hy dra nog ’n troufoto in sy beursie rond. Die ding het al so verweer omdat hy dit ten minste een maal per maand uithaal en dan daarna staar. Sy was vier-en-twintig en hy ses-en-twintig.

Sy was nog ’n intern. Hy het pas begin werk as paramedikus. Hulle was so verlief dat hulle nie kon wag om te trou nie.

Sy familie was kwaad omdat hulle sommer in die landdroskantoor getrou het sonder om iemand te sê. Hulle het natuurlik ’n groot makietie verwag. Hy, weer, het altyd vermoed Alana se ouers was verlig oor die weglopery. Ten minste moes hulle nie hul ryk vriende na hul jongste dogter se troue met ’n paramedikus nooi nie.

Daardie tyd was haar pa hoof van die Departement Neurologie by Stellenbosch Universiteit se Tygerberg-kampus. Die ou man het hom gehaat omdat hy Lana se belangstelling in trauma geprikkel het. En hy het haar pa gehaat omdat hy haar ’n helse groot probleem met vertroue gegee het.

Professor Frik de Koker kon sy hande nie van vroue afhou nie. Om dieselfde rede haat Alana se sus, Heleen, nou ook vir Braam. Sy het Alana aangehits om hom te los.

Haar seker oortuig dat hy net soos hulle pa is.

Met die instap sit Braam die sitkamerlig aan. Die meenthuis waar Alana nou bly, lyk na ’n kliniese gedoente. Hoe lyk haar slaapkamer daar? Seker als spierwit. Het sy van hulle meubels gehou of het sy alles vervang wat hulle saam gekoop het?

Alana het nog altyd ’n kalmerende omgewing probeer skep. Wat sal sy van die huis sê wat hy in ’n ouerige buurt gekoop het? Sal sy van al die verbeteringe hou wat hy self aangebring het? Hulle het altyd so gedroom oor wat hulle alles sal doen wanneer hulle eendag hul eie huis besit. Dit het toe nooit gebeur nie.

Met haar in sy gedagtes, het hy dié huis gekoop. Asof hulle ooit weer saam sou bly.

Hy skud sy kop. Wat ’n dag!

Selfs die verbeteringe wat hy aangebring het, is afwerkings wat haar goedkeuring sou wegdra. Sy was nog altyd mal oor suurbehandelde sementvloere.

Daarom gaan dit in elke vertrek in die huis wees. Hy is darem al so halfpad met die vloere.

Op die oomblik is die huis eerder ’n bouterrein as ’n blyplek. In die Kaap, waar hy eintlik woon, huur hy nog, maar hy kon dié huis nie weerstaan toe Evie hom daarvan vertel het nie.

Hy het darem eers doodseker gemaak dat Evie die eiendom nie self wil aanskaf nie. Sy was nie juis lus om verbeteringe aan te bring, in ag genome die ure wat sy werk nie.

Hy, aan die ander kant, het nie omgegee nie. Toe koop hy dit. Om besig te bly het hom nog altyd gehelp om nie te dink aan Alana en wat hulle verloor het nie.

Elke keer wanneer hy Melville toe moes kom om opleiding te gee, woeker en werk hy aan die ou geraamte.

Hande op die heupe staan hy in die huis en rondkyk. Hier is nie ’n televisie nie. Net ’n matras in sy kamer op die vloer. In die sitkamer staan een gemaklike stoel met ’n tafeltjie langsaan. Die bad is uitgekap en net die stort is klaar vervang. In die kombuiskaste is een glas, een bord, een beker en ’n mes, vurk, ’n lepel en een teelepel.

Pateties en eensaam.

Braam skop sy skoene uit en trek sy T-hemp oor sy kop. Vir ’n oomblik huiwer hy. Toe druk hy die hemp teen sy neus. Alana se reuk klou sowaar daaraan. Hy trek sy asem diep in voor hy mik om die hemp in die wasgoedmandjie te gooi.

Dan druk hy dit weer teen sy wang.

Dêmmit. Die vroumens het nog altyd die mag gehad om hom op sy knieë te dwing. Na vyf jaar kry sy dit sowaar steeds reg.

In die kombuis krap hy in die vrieshokkie en haal ’n bak kitslasagne uit vir aandete. Gewoonlik maak hy darem ordentlike kos, maar vanaand is hy sy eetlus kwyt.

Al waaraan hy kan dink, is dat Alana nie in die Kaap is nie, maar hiér! Ook nie eens so ver van waar hy bly nie.

Toe die kos warm is, sak hy in die enigste stoel neer. Hy vat ingedagte ’n hap en haal sy foon uit sy sak. Hy wens net hy het ten minste haar nommer gehad. Dan kon hy vir haar nag gesê het.

Alana se mond het soos eksotiese speserye gesmaak. Dit was heeltemal te lank vandat hy haar laas gesien het. En toe soen hy haar. Sy het hom ook nie gekeer nie.

Beteken dit nie iets nie?

Hy skud sy kop en lag. Haar stem was so ferm asof sy hom wou afskrik, asof sy haarself ook moes oortuig het dat sy hom nie wil sien nie.

Toe sy haar wenkbroue vir hom lig, wou sy hart gaan staan het. En hoekom ry sy miskien steeds met Bessie? Onthou sy ook hul warm gevryery op die agterste sitplek die dag toe hulle die kar gekoop het? Juis om daardie rede het hy gedink sy sou die kar lankal verkoop het.

Maar sy het nie.

Braam vryf oor sy kort geskeerde hare. Toe gly sy vingers na die nommer van Darius, sy oudste broer.

“Magtig,” kom Darius se stem. “Hier kom groot reën aan as jy my die dag bel.” Darius het nog altyd sy kant gekies en neem Alana kwalik omdat sy hul lewens so opgemors het. Daarom voel dit amper veilig om by hom af te pak oor hul herontmoeting.

“Komaan, dis nie so erg nie, is dit? Hoor jy werklik so min van my?”

“Ek het ’n maand laas iets van jou gehoor. As Ma my nie vertel wat jy aanvang nie, sal ek nie weet wat jy doen of waar jy rondloop nie.”

“Ja, jammer. Wanneer ek weer in die Kaap is, sal ons kuier. Ek belowe. Vir die volgende twee maande is ek eers in Melville.” Braam bly ’n oomblik stil.

“Wat is nuus?” vra Darius.

Nie hy of Darius draai graag doekies om nie, so Braam val met die deur in die huis: “Jy sal nie raai wie het vandag by die trauma-afdeling by Melpark begin werk nie.” Sy stem word hees toe hy net aan Alana in sy arms dink. “Dokter Alana de Koker.”

“No way.”

“Yes way. Ek het vandag my hand seergemaak. Evie het my Melpark toe gevat vir steke … en toe staan sy daar net soos ’n engel.”

Darius lag.

Sy broer is waarskynlik besig om sy kop ook te skud. “Sy is hier … vir twee jaar.”

“Hoe het jy die herontmoeting gehanteer? Wat is dit … vyf jaar vandat jy haar laas gesien het?”

Braam vee oor sy voorkop asof hy koorsig is. “Nie so goed soos sy nie,” lag hy.

Darius se gegrinnik weerklink deur die gehoorstuk. “Ek hoop nie jy het haar weer gevra om te trou nie.”

“Darem nog nie, maar ek het by haar kar gewag en haar toe uit haar skoene gesoen.”

“Braam,” Darius se gemoedelikheid laat sy bui ook nou sommer ligter voel. “Jy sal haar uit jou kop moet kry, my broer. Maar jy wil nie na my raad luister nie. ’n Paar goeie …”

“Nee,” keer hy Darius voordat hy hom weer omtrent die voordele van sinnelose seks wil probeer leer. “Kan jy glo sy ry nog steeds met Bessie?”

“Ek sou nie soveel daarin lees as ek jy is nie. Miskien het sy nie geld vir ’n ander kar nie.”

Oor die stetoskoop wat sy ook steeds gebruik, sê Braam eerder niks nie.

“Dis darem nie asof ek haar elke dag sal sien nie.” Hy vryf oor sy moeë oë. Eintlik hoop hy regtig hy sien haar elke dag. “Sy werk skofte, en ek is net nog twee maande hier voor ek terugkom Kaap toe.”

Vir sy familie het hy nog nie vertel dat hy beplan om ’n ambulansdiens saam met Evie hier te koop nie. Hulle is almal kapabel en trek agter hom aan.

Almal sal aanbied om iets te doen om hom te help.

“Wel, daar het jy dit. Jy het twee maande om haar uit jou sisteem te kry, pel. Dan gaan ek jou aan oulike dingetjies voorstel wat jou sal laat wonder wie Alana de Koker nou eintlik is.”

Braam sug. Wanneer gaan sy broer grootword?

“Jy is nog steeds lief vir haar, ek weet,” sê Darius.

Braam skud sy kop. Lana maak beslis gevoelens in hom wakker, maar of dit nog liefde is, daarvan is hy nie seker nie. Hy sluk die skielike suur smaak in sy keel af, maar slaag nie daarin nie.

Is Darius reg? Kan hy na al die tyd steeds vir haar lief wees?

Die antwoord brand op sy tong: Hy was nog nooit nié lief vir Alana nie.

“Ons almal weet hoe sy voel en wat sy glo.”

“Dis jammer, nè?” Dis asof Darius sy gedagtes kan lees. “Julle het my amper in die hele sprokie-idee laat glo, weet jy? Dat ware liefde tog bestaan.”

“Damn, Darius. Dis diep, man.” Braam kug en probeer die gesprek lig hou, maar sy broer se woorde is soos ’n mes in sy hart. Hy het ook nogal so gedink voor alles uitmekaar geval het. “Dankie dat jy geluister het. Ons praat weer,” sê hy omdat hy nie vanaand meer oor Lana wil gesels nie.

“Sure, kleinboet. Laat weet as ek daardie pop vir jou moet reël.”

Braam lag net. Hy het ’n pop. Sy lê ’n paar blokke van hier af in haar eie bed … hopelik alleen. Ten minste het sy vanaand met hom gepraat. Haar mond op syne voel beter as wat hy onthou het. Daar is ’n ander aura om haar. Dis nie net haar looks wat verander het nie. Ja, haar haarkleur is anders, maar sy voel vir hom vrouliker en meer selfversekerd. As so iets ooit moontlik was.

Hy wou haar oor sy skouer gegooi en huis toe gebring het waar sy hoort. Ten minste het sy hom nie weggestamp nie, en dit is ’n begin.

Hy weet nou al klaar hy gaan die hele nag rondrol. Dit is hoekom hy die res van die teëls in die badkamer begin afkap.

Toe Alana se skouers in die water wegsak, onthou sy dat sy Heleen belowe het sy sal haar laat weet hoe haar eerste dag gegaan het.

En wat ’n dag was dit nie!

Sy droog haar hand af en trek haar foon nader. Op die rand van die bad balanseer sy die foon en sit dit op luidspreker sodat sy haar hande vry het.

“Ek dog jy bel nooit nie.”

“Bedaar, sus,” sê Alana. “My dag was uitputtend en … interessant.” Alana wonder of sy vir Heleen van Braam moet sê. Na hul egskeiding moes sy net keer of Heleen het hom met ’n skerp voorwerp iewers om ’n donker hoek ingewag.

Na al hul pa se skandes kon mens haar seker nie kwalik neem nie.

“Jou dag kon nie interessanter as myne gewees het nie. Ek het ’n nuwe saak om op te los. Dalk ’n reeksmoordenaar.”

“Wel … ek wed jou dit was.” Alana bly ’n oomblik stil. Is ’n ontmoeting met haar eksman groter nuus as ’n reeksmoordenaar? Vir Heleen sal dit wees. “Is jy nog nie moeg vir moord en doodslag nie?”

“Sê die persoon wat nie kon wag om haar enigste sus te los om in ’n trauma-eenheid, kniediep in die skietwonde, te gaan werk nie.”

Alana lag en vat ’n sluk wyn. Die water streel oor haar seer lyf. Sy vryf oor haar teer nekspiere voor sy hard met haar vry hand daaraan druk. In die roomkleurige vertrek het sy kerse aangesteek met die hoop dat die stres van haar ontmoeting met Braam van haar sal afgly sodra sy in die bad klim, maar nou lyk die atmosfeer in haar stoombelaaide badkamer heeltemal te intiem vir ’n enkelpersoon.

“Bad jy?” vra Heleen. “En is dit ’n wynglas wat ek hoor?”

“Goeie speurwerk.” Alana sug, droog die waslap uit en sit dit oor haar moeë oë.

“Dan was jou dag seker erg. Vertel, laat ek hoor.”

Heleen gaan uitfreak, weet Alana sommer. “Dis nou nie ’n reeksmoord of so iets nie, maar ek het vandag ’n pasiënt gehad met ’n skietwond en …” Alana huiwer en byt die binnekant van haar wang. Sal sy vir Heleen sê? Wil sy regtig? Nee, maar sy sal moet. Heleen sal weet wat sy moet doen, want na vanaand se soen is Alana se kop te vlak om aan enige idees of oplossings te dink. “Jy sal nie raai wie het vandag by ongevalle ingestap nie.”

“Wie was dit? ’n Celeb of ’n politikus of die president?”

“Nee, man,” sug Alana. Sy sou enige van die genoemdes beter kon hanteer het as haar eksman, minstens sou sy hulle nie gesoen het nie. Braam se mond op hare laat haar hele lyf sommer weer tintel. Hoekom het die man nog steeds die krag om haar bene en gesonde verstand te laat swik?

“Ag nee, man. Sê my dan net. Ek is te moeg om te raai,” kom Heleen se outoritêre stem.

In haar werk moet sy seker so praat. Anders sal geen man wat onder haar sus moet werk dalk haar instruksies wil uitvoer nie. Heleen is ’n luitenant-kolonel in die Suid-Afrikaanse polisiediens. Sy was nie van plan om soos hulle pa en Alana in ’n mediese veld te gaan werk nie. Haar pa se ontrouheid het in Heleen weer ’n behoefte geskep om toe te sien dat reg moet geskied.

“Braam,” blaker Alana sy naam uit soos ’n pleister wat mens eenvoudig net afruk. Sy hoef nie eens sy van te sê nie. Daar is net een Braam wat haar so kan ontstel. En net een waaroor sy vir Heleen sal bel.

“Goeie donder,” sê Heleen. “Wag. Ek kry vir my ook wyn. Die gesprek kan nie daarsonder nie, of hoe?”

In die agtergrond hoor sy hoe haar sus swets. Heleen se voetstappe gaan vinnig heen en weer oor die teëls. Die klank van glas op ’n tafel en wyn wat ingegooi word.

Alana hoor self hoe Heleen verwoed sluk. Dit laat haar lag, want dit was omtrent wat sy lus was om te doen toe sy haar eksman vandag op die hospitaalbed gesien het.

Iets wat na vloeistof klink wat weer ingegooi word, roer in die agtergrond. Heleen het nie ’n grap gemaak toe sy gesê het die gesprek kort vloeibare versterking nie.

“Is jy nog daar?” vra Alana.

“Hier is ek. Oukei. Nou is ek reg om te hoor wat die hel hy nou weer gedoen het.”

Alana se wange word opnuut warm toe sy die soen in die parkeerterrein onthou. Nog warmer, toe sy onthou hoe vertroostend lekker dit was om die man te soen wat sy al vyf jaar lank mis. Dít mag sy tog net nie vir Heleen vertel nie.

“Hy het met ’n besering by ongevalle aangekom. Ek moes hom steke in die hand gee.”

“Ek hoop jy het hom goed seergemaak.”

“Heleen!”

“Wat? Die man het jou hart uit jou lyf geruk en dit nog nooit teruggegee nie, stry? In my oë is en bly hy ’n skurk. Nes Pa.”

Sy hoor hoe Heleen ’n sigaret aansteek en rook diep in haar longe trek. Wanneer het sy nou weer begin rook?

“Ek kan hoor hoe jy rook, weet jy?” raas Alana.

“Ja, wel. Old habits die hard.”

Alana knyp haar oë toe. Mag dit nie waar wees van haar en Braam nie.

“Jy is nie meer hier om met my te raas nie,” sê Heleen. “Maar moet nou nie die onderwerp verander nie. Wat doen hy toe daar en nie hier nie? Bly hy nou ook in Johannesburg? Ek hoop nie hy stalk jou nie!”

“Bedaar, Heleen! Die man is net hier om opleiding te gee, maar hy gaan dalk ook hierheen trek. Hy wil ’n ambulansdiens koop.”

“Ja. Seker noudat hy weet jy gaan twee jaar daar bly, die skurk! En as ek mag vra, hoe weet jy dit als? Jy het tog nie met hom oor die goeie ou dae gesels nie? Of het jy?”

Alana vee oor haar voorkop asof sy koorsig is. “Nee … ons het net ’n paar woorde gepraat.” Sy neem ’n lang teug van haar wyn.

“Oukei … maar jy is darem net daar vir twee jaar. Dan kom jy mos terug. En as die man nie aspris elke dag ’n nuwe besering opdoen om jou te kom spreek nie, behoort jy hom omtrent nooit te sien nie. Is die bliksem nog so mooi?”

Alana sluk haar lag. Heleen kon nog altyd so vinnig praat asof sy bang is sy kry nie ’n beurt nie.

“Dodelik,” antwoord sy eerlik. Mooier as wat sy onthou, voeg Alana in haar kop by. Die jare het Braam net goed gedoen.

“Wel, solank jy net nie weer in sy arms in tuimel nie, sal jy seker oukei wees.”

Alana bly ’n oomblik stil. As haar sus nou hier was, sou sy met een kyk geweet het wat Alana probeer wegsteek.

“Ag nee! Jy het nie?” hoor sy Heleen moedeloos sê. “Vloek.”

“Natuurlik nie.” Alana hoes effens toe die leuen uit haar keel skuur, die soen van ’n uur gelede nog vars in haar geheue. Ingedagte vat sy aan haar lippe.

“Jy hoes, dit beteken jy lieg, Lantjie,” sê Heleen. “Die man is moeilikheid. Hoe kon jy? Waar is jou selfbeheersing?”

“Ek weet … Ek weet nie. Dit was net …” Hoe verduidelik sy dit nou vir Heleen? Die lyf en reuk van die man vir wie sy lief is, was net so bekend en verwelkomend. “Dalk … voel ek nog iets vir hom.”

“Dis net lus, sus.” Heleen lag. “Hy voel niks vir jou nie. Anders sou hy jou nie verneuk het nie. Jy sal moet sterk staan. Moenie dat daardie man weer jou hart breek nie. As jy te swak is, sal ek kom kuier. Jou uit die kwaad hou.”

Alana haal diep asem voor sy in die water wegsak. Kop en al.

Toe sy weer opkom vir asem, hoor sy nog Heleen se stem: “Luister jy ooit?”

“Ja,” sê Alana, bly dat sy die grootste deel van Heleen se tirade gemis het. Al weet sy Braam Smit is moeilikheid, wil alles in haar weer, al is dit net nog een keer, hartstogtelik saam met hom van ’n afgrond aftuimel.

Dalk is Heleen reg. Sy is heeltemal te lank selibaat en alleen. Hopelik oorskry haar woede vir hom die begeerte na sy sexy lyf.

As sy net kon seker wees.

Daarom sal sy drasties iets aan haar liefdeslewe moet doen. Sonder Braam.

Die eks-noodgeval

Подняться наверх